Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

Elders gesien: Danie Odendaal was briljant op ’n onvolprese wyse

$
0
0

Danie Odendaal (Foto: Henry Mylne via Facebook)

Sonja Loots skryf op Facebook:

Ek plaas maar die persfoto’tjie van Danie Odendaal, want nadat ek gister wakker geword het met die nuus van sy afsterwe, het ek nog nie kans gesien om te kyk deur die foto’s van al die goeie tye saam met hom nie.

Ek was ’n japsnoet van nog nie dertig nie toe ek vir hom begin werk het. Hy het my vaderlik onder die vlerk geneem. Eers was ek sy ontvangsdame en PA of sorts, maar nadat ek weke lank al sy oproepe afgesny en met vele flaters en blabse sy geordende lewe omver gewerp het, het hy stilweg langs my kom staan en met hooggetrekte wenkbroue gevra of ek dalk enige ander talente het? Altyd ’n mengsel van sag en streng.

Dit was lank voor die eerste episode van 7de laan op lug was en toe ek prewel dat ek so bietjie kan skryf, het hy my met onvoorstelbare gulheid genooi om in die vertrek te kom sit en ’n sessie by te woon waar hy, Annie Basson, Linda Scheepers en Kate Williams (nou du Randt) besig was om karakters vir ’n nuwe reeks te breinstorm.

Dit was ’n goue geleentheid en ek het dit aangegryp.

Ek het draaiboekskrywer geword, en Danie my baas en mentor vir baie jare, asook lewenslange vriend. Hy bly tot vandag die mees onberispelike, fynbesnaarde, afgeronde en gekultiveerde mens wat ek ooit geken het. Onbesproke in handel en wandel. Hy was briljant op ’n onvolprese wyse. Hy het aan die Sorbonne in Parys studeer (Franse letterkunde) en het vir ontspanning Tolstoi se Oorlog en vrede kafgedraf, maar hy het sy geleerdheid en vlymskerp verstand lig gedra, op ’n byna geheimsinnige wyse. Hy was immer stylvol, ’n frankofiel met onberispelike smaak, en ’n fynproewer en wynkenner saam met wie ek onvergeetlike etes mog geniet, maar dit alles het hy sonder pretensie en fanfare uitgeleef en met ander gedeel.

Ek sal hom nie net onthou vir sy gigantiese intellek nie, maar ook vir sy ondergrondse, aweregse, skamper, wolf-in-skaapklere-soort-humorsin. Ek onthou dat ek in daardie jare soms gaan slaap het met ’n seer maag omdat ek so hard en so baie gelag het tydens ons storiesessies.

Danie het nie met hom laat sukkel nie en het maniere gehad om iemand wat met hom skoor soek, met smoke en mirrors in ’n tailspin te sit tot hulle gedisoriënteerd vir die maan tjank en deurtrek is van jammerte, maar hy was ’n vrygewige en vergewensgesinde mentor wat vir my bodemloos goed was. Ek het ontsettend baie oor verhale, karakters en menswees by hom geleer en my bewondering vir hom is grensloos.

Hy was meer invloedryk as wat die meeste mense besef: Met 7de laan het hy die televisie- en Afrikaanse kultuurlandskap verander en van sy maaksels is nou nog deel van die alledaagse idioom.

Sy liefde vir en lojaliteit aan Annie het almal van ons wat in hul omtes was, ontroer. My hart breek as ek haar sonder hom probeer voorstel. Ons groet ’n reus.

Lees ook:

Die sepiewêreld is armer sonder Danie Odendaal

Elders gesien: RIV, Danie Odendaal

The post Elders gesien: Danie Odendaal was briljant op ’n onvolprese wyse first appeared on LitNet.

The post Elders gesien: Danie Odendaal was briljant op ’n onvolprese wyse appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>