
Hans du Plessis op Rebokkop in die Vredefortkoepel (2007). (Foto: Franci Greyling)
I
As kind het Hans du Plessis in die grondstrate van Silverton, teen die hange van die Magaliesberg, grootgeword. Die veld en koppies, tussen die bome, klippe en voëls, was sy speelplek. In latere jare het hy die land vir sy navorsing en skryfskole deurreis en die Kalahari-omgewing in sy Griekwapsalms getransponeer. By Eersterivierstrand kon hy op Alkantmooi se ruim stoep ure lank na die see kyk en in die rustige omgewing skryf. Maar dit is in Potchefstroom en omstreke waar ek Hans du Plessis leer ken het. Dit is ook die wêreld wat hy op soveel maniere in sy skryfwerk vasgevang en verewig het.
Met my aanstelling in 2002 as skryfkunsdosent by die Potchefstroomse Universiteit, het ek ’n lessenaar in die ATKV-Skryfskool se teekamer langs Hans se direkteurskantoor gekry. ’n Jaar of wat later het ek elders in die gebou ’n heenkome gevind, maar vir ’n dekade lank was ek gerus in die wete van sy teenwoordigheid by die suidoostelike ingang van die Frans du Toit-gebou. Hans was deel van die talegebou, die kampus, die dorp – ’n hoeksteen as’t ware.
Van die kampus af het Hans aanvanklik ’n kortpad geneem na hulle gesinshuis in Molenstraat op die Bult. Dit is die Bult-omgewing waar sy jeugroman, Dis ’n flippende stukkende wêreld dié, my ou (1991), afspeel. Met sy verswakkende sig het hy later langs Meyerstraat om huis toe gestap sodat hy die strate veiliger kon oorsteek.
Volg ’n mens die Schoemansdriftpad suidwaarts uit Potchefstroom, draai jy by ’n reeks rantjies regs af na die universiteit se plaas, Nooitgedacht. Hier, op die oewers van die Vaalrivier, het mense van heinde en verre oor die jare saamgekom om skryfskole onder leiding van Hans du Plessis by te woon en inspirasie uit die samesyn met skrywers, kursusleiers en medekursusgangers te put.

Koffietyd: PG en Hans du Plessis saam met ’n kursusganger tydens ’n Lenteskool op Nooitgedacht (2009). (Foto: Franci Greyling)
’n Paar kilometer van Nooitgedacht af lê die laagwaterbrug by Schoemansdrift. Aan die oorkant van die rivier, die Vrystaatkant van die Vredefortkoepel, het die Du Plessis-gesin vir etlike jare ’n stukkie grond tussen wildsplase en lappies gesaaides besit. Onder Rebokkop se kuierstoep, met ’n uitsig oor die koppe, het die Vaalrivier breed verby gevloei.

Vier digters op die grondpad naby Rebokkop: Annelies Verbeke, Mustafa Stitou, Hein Viljoen en Hans du Plessis (2005). (Foto: Franci Greyling)
Hans was geboei deur die gelaagdheid van die wêrelderfenisgebied in die driehoek tussen Potchefstroom, Parys en Vredefort. Hy het graag die omgewing aan besoekers bekendgestel: die geologie, die berglandskap met die bosveldagtige biodiversiteit, die reste uit verskillende tydperke, en die ryk kultuurgeskiedenis. Hy was lief vir hierdie wêreld. Dit is dan ook hierdie unieke omgewing en sy bewussyn van die kwesbaarheid daarvan wat as agtergrond dien vir sy vier koepelromans: die eietydse Verbrande paradys (2009) en Inkommers (2022) en die twee historiese Groot Trek-romans, Die pad na Skuilhoek (2012) en As die wind kom draai (2013).

Marlies Taljaard en Hans du Plessis met die bekendstelling van Die pad na Skuilhoek (2012). (Foto verskaf deur Kobie van Aswegen)
Die Rysmierbult-distrik noord van Potchefstroom was ook vir Hans ’n bron van stories. Dit is immers hier waar hy en sy goeie vriend PG du Plessis, wat langs die Mooirivier geboer het, kopstukke gesels het. In sy familiesage, Drie vroue en ’n meisie (2017), het hy die eertydse delwerye, boerdery en die Noordweshoëveldse omgewing tot lewe gebring. “Vir my is die natuur, die skepping, nog altyd ’n karakter, eintlik ’n medemens wat jou slyp.”
II
Hans du Plessis was vir soveel mense en op soveel maniere ’n mentor. ’n Geleentheidskepper en deuroopmaker, soos wat Annaretha Grobler hom onthou:
Vroeg in my twintigs gesels ek en prof Hans eendag onder ’n kameeldoringboom naby Upington oor konsepte soos identiteit, hibriditeit en liminaliteit. Dit ontkiem in ’n meestersgraadstudie, en later ’n doktorsgraad.
Ek dink vandag met diep dankbaarheid aan prof Hans, en sal hom onthou as ’n geleentheidskepper en deuroopmaker. Hy, onder andere, het my blootgestel aan die wêreld van gemeenskapseie woordkuns.
Prof Hans het nooit “afgepraat” nie; ’n mens is as’t ware saam op reis geneem deur ’n ervare toergids. Hy het altyd die onervarenes saamgenooi, en so het ek my as skryfskoolassistent dikwels in bekende skrywers se geselskap bevind – waar ek baie geleer het en waarskynlik min van waarde gesê het. Ek het die geleentheid gehad om deel te wees van skryfskole van Upington tot Port Elizabeth, en ook van die Herfs- en Lenteskole van die ATKV-Skryfskool.
In my hart het ek gedink prof Hans sal vir altyd leef, omdat hy vir my ’n legende was. Hy was ’n inspirasie: die wyse waarop hy verby sy sigbeperkings geleef en floreer het; sy liefde vir Afrikaans, woorde, Potchefstroom, die Vredefortkoepel, die natuur ...
Ek is dankbaar dat ek ’n deel van die reis kon meemaak.

Anneretha Grobler (née Combrink), Hans du Plessis en Adri Breed op ’n laatmiddagstappie te Nooitgedacht (2009). (Foto: Franci Greyling)

“Hy het almal gelykwaardig behandel, ongeag status of ouderdom.” (Kobie van Aswegen, Hans se jare lange regterhand by die Skryfskool) (Foto verskaf)
III
Selfs ná sy aftrede het Hans steeds belangstelling in ons doen en late behou. In 2015 het ons by Skryfkuns ’n projek as deel van die Woordkunsprogram by Aardklop geïnisieer. Die idee was om ’n interaktiewe leeservaring te bied deur plekspesifieke digitale literatuur. Een van die subprojekte wat ons vir die Byderhandprojek gekonseptualiseer het, was ’n jeugverhaal wat by die Hoër Tegniese Skool ervaar kon word. En vir hierdie projek het ons ’n skrywer nodig gehad.
In dié tyd het Hans en Magdaleen ’n straatblok van my in ’n meenthuis langs die konsentrasiekampkerkhof gewoon. “Dit is stil bure,” het hy altyd vertel.
Hans was dadelik aangetrokke tot die konsep om konkrete plekke en digitale tegnologie te kombineer en om saam met ons die moontlikhede daarvan te verken. Hy het die taak aanvaar om die jeugverhaal vir ons te skryf. Soos altyd het hy die plek leer ken deur self op die terrein rond te loop, met mense te gesels en navorsing oor die geskiedenis te doen. Die skool is op die terrein van die voormalige konsentrasiekamp opgerig. Hans het verder ontdek dat die oudste gebou, wat vandag as die Krugerhuis bekend staan, pas ná die oorlog deur kampweeskinders gebou is, en dat daar ’n ou spookstorie bestaan van ’n soldaat uit die Anglo-Boereoorlog wat steeds snags op die plankvloere ronddwaal. Hans het die verhaal (spook en al) geskryf, en dit is in samewerking met die skryfkunsstudente en die produksiespan ontwikkel tot ’n interaktiewe dwaalverhaal – ’n volg-die-verhaal wat teks met kort videogrepe en ’n klankbaan kombineer. Die QR-kodes wat toegang bied tot die inhoud, is oor die skoolterrein versprei, en besoekers kon die spore van die storie volg en dit fisies ervaar.

Ontwikkeling van die dwaalverhaal: Hans du Plessis, Jaco Lubbe en Marcé Bester bedink praktiese moontlikhede op die skoolterrein van die Hoër Tegniese Skool, Potchefstroom (2015). (Foto: Franci Greyling)
’n Tyd later het ons ’n opvolgprojek by die skool onderneem waartydens leerders die dwaalverhaal op die skoolterrein kon ervaar, ’n skryfkursus onder Hans se leiding bygewoon en self hul eie plekspesifieke stories skryf – ’n ervaring wat almal terdeë geniet het.

Spook! Hans en leerders van die Hoër Tegniese Skool op die Krugerhuis se stoep (2016). (Foto: Franci Greyling)
Vir die Byderhand Tuinverse, wat ook deel van ons Woordkunsprojek by Aardklop was, het Bernard Odendaal, Hans se opvolger by die Skryfskool, digters uit die omgewing genader om gedigte by te dra vir die installasie in die NWU Botaniese Tuin. Die gedigte is aangevul met musiekverwerkings, animasies, en geleidelik ook vertalings in ’n verskeidenheid tale. Hans het “Botaniesetuinsonnet” vir die projek geskryf:
jy ruik eg na wit jasmyn
klink nat na nuwe reën
klop ’n dons-dons voëltjie
in die mik van my hande
proe so groen soos groei
op die tippie van my son
sit hier neffens my
en wag ’n wyle
op ’n sonnetjie somer
want sonder sy soene
vrot herfs bros in blare
en wintersplinters ys
verkil kamma-kamma-tuine
wat net lente-lente speel.
Die tuinverse is sedertdien ’n permanente installasie in die NWU Botaniese Tuin, waar besoekers rustig op Hans se bankie kan sit en luister hoe hy self die sonnet voorlees.

Sit hier neffens my: Hans op sy bankie in die NWU Botaniese Tuin (2015). (Foto: Franci Greyling)
IV
Hans het graag sy kragte met ander saamgesnoer om skeppende moontlikhede oor dissiplinegrense heen te verken. Dit was veral musikale en opvoeringsmoontlikhede wat hom aangetrek het, en verskeie verhoogproduksies het uit sy skryfwerk voortgespruit. Hy het die saamskeppingsproses geniet, sowel as die ervaring om te sien hoe ’n projek as’t ware ’n eie lewe kry.
Bernard Odendaal vertel een en ander oor die Kruis van liefde-projek:
In Junie 2017 is ’n verkennende werkswinkel oor die Afrikaanse kunslied by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus gehou. Na aanleiding daarvan gesels ek en Hans toe oor toonsettings wat, onder meer, Randall Wicomb van sy digterlike omsettings in Griekwa-Afrikaans van Bybelse materiaal gemaak het. ’n Keuse uit dié omsettings is in 2008 gepubliseer in die bundeltjie Kalahari Krismis. ’n Kersspel, om saam te val met ’n verhoogproduksie deur Randall Wicomb met dieselfde titel.
Hans sê toe hy bemerk dat daar veel meer gedigte, selfs liedere, in Afrikaans bestaan oor die Kersgebeure (die geboorte van Christus) as wat geskep is oor die Paasgebeure (die dood van Christus). En net daar vra hy of ek saam met hom ’n projek in dié verband sou wou aanpak. Ons besluit op iets wat sowel op die verhoog as byvoorbeeld in die opelug opgevoer kan word – iets soos ’n passiespel. Ons werk toe uit wie oor watter momente van die Paasgebeure gedigte gaan skryf, maar wat ook sou kon dien as liedtekste.
Toe ons al ver daarmee gevorder het, sê hy hy dink ons moet ook dialooggedeeltes byvoeg om die gedigte/liedtekste tot ’n hegter gebeure-eenheid te bind. Ek vra hóm toe om dit te behartig, aangesien hy al voorheen verhoogstekste geskep het.
Uit die staanspoor is besluit dat dit daarom gaan dat ons die indiwiduele gedigte/liedtekste én die Paasspel as ’n geheel beskikbaar wil maak vir gemeentes, groepe en indiwidue om vryelik te gebruik. Ons wou nie enige vergoeding daaruit put nie, en het daarom self ’n plan gemaak om wat ons saam-saam geskep het in 2020 gepubliseer te kry by Naledi as Kruis van liefde. ’n Paasspel. Ons het al met vreugde verneem dat gemeentes hier en daar gedeeltes uit die Paasspel gebruik het in eredienste, en nie altyd net gedurende Paastyd nie.
En toe die musiekkunstenaars Lizanne Barnard en Franco Prinsloo by Hans aangeklop het vir gedigte om te toonset, kon ons dadelik sê dat hulle welkom is om die tekste in Kruis van liefde te gebruik. Beide kon herhaaldelik uitvoerings van hulle toonsettings hiervan lewer en in opnames vaslê.

Bernard Odendaal en Hans du Plessis luister na die toonsetting van “Botaniesetuinsonnet”, musikaal verwerk deur Gerrit Jordaan en vertolk deur Antoinette Olivier met begeleiding deur Tinus Botha (2015). (Foto: Franci Greyling)
V
Ek sal altyd dankbaar wees vir die rigtinggewende invloed wat Hans du Plessis op my lewe en loopbaan gehad het. Bykans 30 jaar gelede het hy my, destyds ’n onderwyser in Pretoria, by ’n kongres genader en gevra of ek belang sou stel in ’n nagraadse kwalifikasie in skryfkuns. Dit was ’n voorreg om onder sy leiding te studeer, en hierdie kwalifikasie het grootliks tot my aanstelling by die universiteit bygedra en ’n opwindende nuwe loopbaan ingelui.
Ná my onlangse aftrede na twee dekades by die universiteit kon ek my weer verdiep in historiese storievertelling – ’n belangstelling wat ek en Hans gedeel het. Destyds het ’n jeugromanmanuskrip oor die Boerekrygsgevangenes in Bermuda deel van my proefskrif uitgemaak, hoewel dit nooit gepubliseer is nie. Die historiese gegewe het egter steeds my belangstelling behou, en in 2023 het dit neerslag gevind in ’n kunstenaarsboek wat ek saam met Hennie Greyling en Adri Benade geskep het. Krygsgevangenes se ervaring van die seereis na die onbekende eilandgroep, soos in hulle dagboeke en herinneringskrifte aangeteken, vorm die kern van Na Bermuda.
En, soos altyd, het Hans belangstelling in die projek getoon en was hy gretig om dit te sien. Ek het hom en Magdaleen by Huis Eikelaan, wat die afgelope paar jaar hul tuiste was, ontmoet. Op die Bult het ons by die Meyerstraat-hek van die Noordwes-Universiteit ingedraai, voor die Frans du Toit-gebou stilgehou, en saam na die Ferdinand Postma-biblioteek en die galery gestap. Dit was werklik ’n voorreg om vir hulle die boek te wys en saam oor die mense en hulle stories te gesels.

Na Bermuda. Magdaleen en Hans du Plessis en Franci Greyling (2023). (Foto: Franci Greyling)
VI
Uit Verbrande paradys, bladsy 385:
Toe hy al die laaste hek voor die rivier links van hom sien, lê die laagwaterbrug lank voor hom. Links die wit water wat oor die keerwal val, oor die groot klippe waarop duikers in die laaste son sit. ’n Enkele rooireier. Regs die stil rivier wat wyd lê voordat dit tussen die hoë bome in weer amper noord draai.
Hy onthou toe hulle klein was, het sy ma altyd gevra hulle moet al die vensters afdraai as hulle oor die brug ry.
Hy draai die ruit weer af.
“En julle moet doodstil bly, sodat ons kan hoor wat Vaalrivier vandag vir ons wil sê.”

Schoemansdrift (Foto: Franci Greyling)
Bronne
Du Plessis, Hans. 2009. Verbrande paradys. Pretoria: LAPA Uitgewers.
—. 2013. Die skep van ruimte in ’n roman, met verwysing na die drie koepelromans van Hans du Plessis. LitNet Akademies, 10(3). https://www.litnet.co.za/die-skep-van-ruimte-in-n-roman-met-verwysing-na-die-drie-koepelromans-van-hans-du-plessis.
Du Plessis, Hans en Naomi Meyer. 2017. Drie vroue en ’n meisie: ’n onderhoud met Hans du Plessis. Skrywersonderhoude, LitNet. https://www.litnet.co.za/drie-vroue-en-n-meisie-n-onderhoud-met-hans-du-plessis.
Greyling, F, HGW du Plessis en G Tempelhoff. 2017. Verweefde netwerk van ’n plekspesifieke dwaalverhaal. Stilet, 29(2):1–25. https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/EJC-f8a2eb798.
Terblanche, Erika. 2019. Hans du Plessis (1945–2024). ATKV-Litnet-Skrywersalbum. https://www.litnet.co.za/hans-du-plessis-1945.
Lees ook:
Persverklaring: Huldeblyke stroom in ná Hans du Plessis se afsterwe
The post Spore: Hans du Plessis (1945–2024) first appeared on LitNet.
The post Spore: Hans du Plessis (1945–2024) appeared first on LitNet.