My pad het in die tagtigerjare met dié van Danie Odendaal gekruis toe ek vir hom as speler in ’n ateljee in die Johannesburgse middestad op die agtste verdieping nogal opgetree het in sy reeks Fransiena Vark en die Dagbreek Hotel. Ek onthou nog hoe lekker ons almal gelag het as ek en Wilna Snyman uit volle bors in animasiestemme moes sing in elke episode. Toe het sy reeds eendag teenoor my opgemerk, terwyl ons tekste voorberei, dat Danie “baie noukeurig en nougeset” oor sy tekste was, en dat die produksie altyd tip-top moes wees”.
Danie was deeglik en selfs puntenerig, alles om die teks en produksie te dien. Hy sou nooit oorhaastig opgeneem het nie, en selfs vir die lang animasiereeks het hy deeglik met ons elkeen oor ons karakters gepraat en afgerond laat speel.
Daarna was ek die teksredigeerder van sy TV-reeks Galery, wat miskien nie so goed by kykers aanklank gevind het nie, want ’n kunsgalery was nie eintlik die teelaarde vir ’n lekker reeks nie.
Toe het ons paaie weer by Egoli gekruis toe ek saam met Franz Marx daaraan geskryf het, en die tekste deur Danie goedgekeur moes word as hoofskrywer. Ek vermoed Danie het baie by Franz geleer, soos ons almal, want Franz was meedoënloos. Elke reël dialoog moes tel en die storie vorentoe neem, veral in die beginjare.
Daar mog nie gestop word (geen padding wees) nie, en ek en Danie het altyd gelag wanneer Franz sou uitvaar teenoor dialoog soos: “Ons moet praat.” Franz sou voor Danie teenoor die betrokke skrywer uitroep: “Nou wat anders doen ons dan?! Ek wil daardie woorde nooit weer sien nie!”
So het ons gaandeweg geleer en gaandeweg ons eie style en paaie gevind met daardie grondslag, basis en fondament.
Elke karakter moes ’n stewige persoonlikheid gehad het met wie die kykers kon identifiseer (soos Nenna en Nora), of soos wie hulle wou wees (soos Bienkie en Louwna).
Hier reeds het ek baie gesprekke tussen Danie en Franz gehoor, soms ook argumente, oor hoe ’n storielyn moes verloop en watter veranderings aangebring moes word. Daar kon ’n mens agterkom dat Danie honger was vir sy eie sepie, want hy het toe al sy eie kop en stewige idees gehad wat nie altyd met Franz s’n ooreengestem het nie.
.........
Elke karakter moet ’n sterk en stewige persoonlikheid hê, sy of haar eie manier van ’n ding sê, die kyker se nuuskierigheid prikkel. Dit moes beslis boeiend wees, en daar moet altyd, áltyd iets sinvol gebeur.
.........
Dit in die dae toe vele TV-reekse “paragraafdialoog” gehad het, dus een karakter wat sommer ’n halwe bladsy se dialoog “gebesig” het wat net sowel ’n roman of boekvoorlesing kon gewees het. Die arme akteurs wat daardie woorde moes leer!
Ek onthou ook die dae toe karakters ure lank oor niks gekekkel het en daar baie min storie was. Koffiedrinkery, snertpratery en ’n gesukkel om ’n deur oop te maak wanneer iemand klop, het bladsye en bladsye sinloos gevul. Selfs sommige karakters was destyds in die jare her nie juis interessant nie, en soms was slegs een gewilde karakter die rede vir die betrokke reeks se sukses. (Natuurlik nie alle reekse of radioverhale nie! Maar baie van dié waarmee ek te doen gehad het lank gelede.)
Ek onthou dat ek opdrag gekry het om in die vroeë tagtigs sepies te herontwerp met Wolwedans in die skemer, en dat ek daar geleer het wat Danie instinktief sou weet: Elke karakter moet ’n sterk en stewige persoonlikheid hê, sy of haar eie manier van ’n ding sê, die kyker se nuuskierigheid prikkel. Dit moes beslis boeiend wees, en daar moet altyd, áltyd iets sinvol gebeur.

Danie Odendaal (Foto: Annelize van der Ryst)
Die vermaaklikheidswaarde, het Danie geweet, was net so belangrik soos hoe die storie van “beat” na “beat” beweeg het, iets waaroor ek en hy destyds by Egoli ook sou praat indien ’n toneel nie sy loop wou kry nie.
En dit is wat Danie by uitstek in die legendariese Sewende laan reggekry het in wat bekendgestaan het as die Danie Odendaal-era. Toe hy elke teks en toneel deur en weer deur sou gaan. Ook ure aan ’n episode sou spandeer.
Die karakters was elk stewig omlyn en weldeurdag geskryf. Die skrywers wat saam met Danie gewerk het en aan hom moes rapporteer, moes hul storie ken! Elke teks het deur verskeie fases gegaan alvorens Danie tevrede was, en is met ’n fynkam deurgewerk voordat die finale teks uiteindelik goedgekeur is.
Sepies was, veral vanaf die vyftigerjare, eintlik mense se daaglikse vermaakkoerant of hul kuiertyd by die karakters wat vir hulle soos bure geword het. Hulle wou vermaak word, maar nie, soos in die destydse Springbokradio-dae met sommige sepies gebeur het, met ’n halwe oor luister en tussenin blokraaisels invul nie. Sepies het ’n lewenswyse geword, ’n manier waarop mense hul eie vervelige lewens kon opvrolik, hulle in ’n ander soort lewe kon in-fantaseer, of bloot kon ontspan en deel word van ander se lewens. Dit was die sukses van enige goeie sepie, en veral Sewende laan.
’n Sepie soos die destydse radioverhaal Die Du Plooys van Soetmelksvlei het nie eintlik ’n storie gehad het nie, en dit was oom Kobie, tant An, Hybie en Bartel was oor wie se sêgoed mense voor my as tjokkertjie sou praat, eerder as om te praat oor wat gebeur het. Danie sou dit heeltemal verander.
Sepies was kitsvermaak, oorspronklik geskep om seeppoeier te verkoop – vandaar die term sepie. Persil-waspoeier se produseerders sou ’n sepie borg en die seepbelle sou spat gedurende die advertensies, maar nie altyd tydens die langdradige en dikwels niksseggende radiotonele waar die tekste dikwels te kort geskryf was en ons as spelers al stadiger en stadiger moes speel om darem 18 minute uit ’n halfuur vol te maak nie.
Soms het ’n skrywer ’n episode nog sit en skryf gedurende opnames, dan moes iemand bladsy vir bladsy in die ateljee inhardloop en in ons hande stop om te lees. So was dit.
So sou dit egter nooit in ’n Danie Odendaal-produksie wees nie.
........
Danie het presies verstaan hoe om die regte akteur vir ’n rol te kry, praatbare, gemaklike, dikwels spitsvondige dialoog vir daardie akteur te skryf (of te laat skryf), en die karakters deurgrondelik deel van die volkskultuur te maak. Afrikaanse televisie sou soveel armer gewees het sonder Sewende laan.
........
Geen teks van hom het die kyker ooit so misken of onderskat of verveel nie. Net ’n karakter soos Oubaas wat sy sêgoed en idiome so gemeng het (“van die jas op die os”, ens), het hom deel van die volksmond gemaak. Danie het presies verstaan hoe om die regte akteur vir ’n rol te kry, praatbare, gemaklike, dikwels spitsvondige dialoog vir daardie akteur te skryf (of te laat skryf), en die karakters deurgrondelik deel van die volkskultuur te maak. Afrikaanse televisie sou soveel armer gewees het sonder Sewende laan.
Dit het ’n kultuur gevestig en die karakters soos vriende, familie of selfs gesagsfigure vir die sepieverslaafdes gemaak. Danie het sepies verhef en weer ’n goeie naam gegee. Hy het die stereotipering weggeneem. Geen teks is sommer “vinnig afgerammel of gefly nie. Elkeen is met groot sorg en toewyding uitgedink, beplan, geskryf, oorgeskryf en weer oorgeskryf, en toe na Danie toe gestuur wie se skerp oog daaroor gegaan het vir die finale weergawe. Die teks wat dan in die regisseur se hande geland het, kon net so geskiet word.
Tydens ’n besoek aan Rusland ry ek en Pierre van Pletzen (Oubaas) in ’n bussie tussen die stede Sotsjie en Polyanna, en hy praat met groot waardering oor Danie, en wat die reeks vir hom, Pierre, beteken het. Pierre het gelag: “Hulle het eendag ’n kompetisie gehou van wie die mees eksentrieke persoonlikheid in die ateljee en op stel was. En Danie het loshande gewen. Ek was tweede!”
Pierre het ongeveer 800 episodes van Sewende laan geregisseer, en hy het lank en volledig oor daardie proses gepraat. Hoe Danie ’n kostuum sou afkeur tydens verfilming en onmiddellik deur ’n nuwe sou laat vervang. Hoe hy met sy regisseurs en spelers omgegaan het, was ook welbekend.
Ek sien juis Annie Malan praat met groot lof van Danie en gebruik die woord “onvergelykbaar” met betrekking tot sy talent en aanvoeling vir wat vir ’n akteur werk en wat ’n teks laat slaag. Dit is ook van toepassing op vele van sy akteurs wat met my oor hom gepraat het.
Soos Franz Marx, het Danie sepies deur en deur geken en verstaan en deel van sy lewe gemaak as ’n soort volksmondkunsvorm. Dus nooit geminag of daarop neergesien nie.
Op radio sou ek (as speler) dikwels in die sewentigs al sugtende na ’n teks kyk, die dialoog verander om dit speelbaar te maak, en gedwonge ’n karakter probeer vorm met te veel woorde en te min sinvolle handeling. By Danie het die teenoorgestelde gebeur. Elke reël het saak gemaak. Was selfs heilig, en is met sorg vertroetel en op papier geplaas.
Die sepiewêreld is armer sonder Danie. En daar sal nooit weer ’n sepie met dieselfde sjarme en gewig as Sewende laan wees nie. Een wat ’n kultuur geskep het en die kyker altyd eerste gestel het.
Ja, daar is natuurlik tans uitstekende sepies op kykNET, maar Sewende laan, waarin so baie gebeur het en wat so keurig versorg en afgerond is, het ’n voorbeeld gestel vir die sukses waarop vandag se sepies mildelik kan voortbou.
Lees ook:
The post Die sepiewêreld is armer sonder Danie Odendaal first appeared on LitNet.
The post Die sepiewêreld is armer sonder Danie Odendaal appeared first on LitNet.