My paaie kruis met dié van Martie en Karen Newman by die eerste Suidoosterfees. Hulle nooi my om die bestuurder te wees vir die groep wat Kanna hy kô hystoe van Adam Small sal opvoer. Hulle gaan die eerste keer in die geskiedenis die stuk met ’n hele bruin rolverdeling opvoer.
Dís ’n verhaal vir elders.
Met Martie is die ervaring boheems. Ek weet van haar omdat ek haar rubrieke lees – tot nou toe nog, die laaste een dae voor haar dood. Sommige rubriekskrywers se rubrieke loop ek nooit mis nie.
Maar ek was ook bewus daarvan dat sy selfs in die politiek was. Toevallig het ons siening ooreengestem, en ek het haar politieke dapperheid van die tyd ook respekteer.
Ek het ook geweet dat sy connected is. Name wat maklik sou opdoem in haar gesprekke, was dié van Salie de Swart en Ton Vosloo. Sy sou praat van “Ou Salie”.
Soos orals in die lewe, is daar politiek in die media en in die kunste ook. Maar Martie sou seil deur onmoontlike kraaineste.
As jonger man het ek self my sterk opinies gehad. Ek het dit eienaardig gevind dat Kunstekaap se teaterkompleks nie deel is van die Suidoosterfees nie. En dit gesê. Een mooi dag is ek en Martie en Karen Newman daar uit – dis nou uit die Media24- of Naspers-gebou op die foreshore. Soos ons stap – met die Kaapse stadsaal in die oog – het ek passievol beduie hoe ek dink daar areas toegemaak moet word en tente moet opgaan, en uiteindelik het ons die marmerbeklede stadsaal van hoek tot kant bekyk. Hier is die klassieke uitvoerings tog, het ek laat hoor. Martie het saamgestap, saamgesels, en geduldig geglimlag en selfs gelag – met daai gemaklike lag van haar.
Die toringagtige lemon meringue, en ander terte uit die Media24- of Naspers-stal waarmee sy ons geselskap afgesien het na die KKNK toe, en die sawwe toesprakie daarmee saam, sal ek nooit vergeet nie. “Sawwe toesprakie”, want dit was mooi, selfs amusant om te luister hoe sy pleisters plak en die pad vorentoe wax met dié wete: Tussen vuurvreters en kunstenaars en politiek sal ’n paar kluite iewers teen mekaar skuur.
Sedertdien het ek soms Martie en haar oorle man, die dierbare Hannes, ’n argitek, raakgeloop by Distell-funksies of dergeliks. Hy was altyd verwelkomend met ’n glasie wyn wat hy na jou toe uithou, en lekker geselsies. Hulle was lekker mense.
Ek sê al die jare: Ek sal nog graag saam met Martie ’n whiskey wil drink. Laas nog by die Breytenbach Sentrum, verbaas oor hoe goed sy lyk. Maar ek het geweet dit sal nie gebeur nie. Ons woon bloot te ver uitmekaar uit. En sy is duidelik knus in ’n reuse vriendekring. Dalk het sy nie eens genoeg van my gehou nie, maar mens sou nie weet nie. Haar diplomasie en uitstraling van erkenning en aanvaarding en liefde was allesoorheersend.
2004 het gekom en gegaan. Kanna het gekom en gegaan. So is dit een of ander tyd ons almal se beurt. Hannes en Martie het ’n mooi nalatenskap in hulle knap dogter, Kabous. En die kleinode wat sy glimlaggend, of hard laggend, mildelik versprei het, kring nog uit, van dag tot dag, en sal lank nog aanhou, lank nadat ons vergeet het dis van haar dat die vreugde kom.
Lees ook:
The post Herinneringe aan Martie Meiring first appeared on LitNet.
The post Herinneringe aan Martie Meiring appeared first on LitNet.