Familielede, vriende, talle skrywers, akademici en ander persone uit die Afrikaanse media-, taal- en letterkundewêreld het hul skok, hartseer en medelye uitgespreek oor die nuus dat die geliefde Hans du Plessis Vrydagnag oorlede is.
Die huldeblyke wat van oraloor aan die familie gestuur is, is namens die gesin deur Susan Lombaard van Maroela Media beskikbaar gestel, die foto’s wat hier gebruik word ook.
Louis du Plessis, Hans se seun:
As jy vra hoe ons vir pa onthou, is die antwoord eintlik maklik. Op elkeen van ons, kinders, kleinkinders en almal wat hom goed geken het, het hy ’n blywende afdruk gemaak wat jy nie hoef te onthou nie, maar net te wees. Kleinboet Tjaard het dit so goed opgesom: Pa se lewe het uit woorde bestaan, en nou het ons nie genoeg woorde om sy bydrae in ons lewe te beskryf nie.
Tjaard du Plessis, Hans se seun:
My pa was ’n baie wyse man, met diep-diep kennis. Maar ten spyte van dit het hy ’n eenvoudige lewe gelei, sonder enige tierlantyntjies. Ek sal altyd sy ongelooflike humor en kreatiwiteit onthou, wat ’n reuse inspirasie vir baie was.
Hansie du Plessis, Hans se seun:
As ek aan my pa dink, dink ek aan potjiekos. Dit was sy gunstelinggereg, en dis ook hoe hy sy lewe geleef het. Iets wat bestaan het uit ’n verskeidenheid bestanddele. Die hele proses van potjiekos-maak was vir hom belangrik – die vuur, die Afrikapot, elke bestanddeel. Die vleis was nie meer werd as die groente nie; elke spesery en elke ander bestanddeel was vir hom belangrik. Dis ook hoe hy Afrikaans gesien het, dis ook hoe hy sy lewe gesien het. Elke stukkie en elke gedeelte het sy plek gehad. Alles saam het die geheel gevorm.
Met vier seuns in die huis, was ons grootwordjare maar rof. Ons het van die een rugbyoefening na die kooroefening gejaag, teruggejaag vir ’n Springbokwedstryd, dan ’n motorfiets vinnig herstel en olie getap, dan gejaag na ’n teaterstuk toe. Dis hoe dit was in ons huis. ’n Belangrike les wat hy en my ma vir ons geleer het, is dat kuns is hóé jy dit doen, nie wát jy doen nie. Bly by jou geloof, doen wat reg is, en doen dit goed, en die res sal vir hulself sorg. Kuns is nie een of ander genre nie, dis die manier hoe jy die lewe sien.
My pa se sig was nie goed nie, maar hy het sy humor behou deur die hele sage waartydens hy sy sig verloor het. ’n Spesifieke staaltjie is waar hy die oogdokter gaan sien het en die oogdokter vir hom gesê het: “Oom, ek skryf vir jou ’n bifocal lens voor, kyk of dit werk.” Die volgende dag stuur my pa die volgende boodskap vir die dokter terug: “Dokter, as ek bo kyk, sien ek focal; as ek onder kyk, sien ek ook focal. Ek dink nie hierdie bril gaan werk nie.”
My pa het altyd tot groot vermaak van die kleinkinders oor Desember vir elke kleinkind R100 belowe. Die voorwaarde was dat hy vir elke Engelse woord wat hy hoor, R10 aftrek. Nodeloos om te sê die moderne selfoongenerasie het hom nie juis baie geld uit die sak gejaag nie. Wat hy wel gedoen het, is om die liefde vir suiwer Afrikaans by hulle aan te kweek. Soos hy altyd gesê het: praat Engels of praat Afrikaans, maar asseblief tog, nie albei gelyk nie.
Marthlé du Plessis, Hans se skoondogter:
My skoonpa met al sy toekennings en erepenning was eintlik ’n doodgewone man wat die wonderlike vermoë gehad het om met woorde te kon toor. Daar is ’n paar oomblikke wat altyd vir my sal uitstaan, en een van hulle is die laataandgesprekke op Eersterivierstrand se stoep. Ek sal onthou hoe hy in die buite-studeerkamer by Alkantmooi gesit en skryf het aan sy boeke of sy gedigte, en hoe hy ons geroep het om te kom kyk na die foto’s en die posisionering van die teks. Ek onthou Sondagoggende se Kersboodskappe en hoe ons as familie saam op die harde bankies gesit het, en dan rondom die vure Kersfees gevier het. Hy was ’n naby-mens en hy het absoluut 100% ingeklim in wie ek as ’n individu is, en 100% deel gevorm van wie my gesin is vandag, en hy gaan altyd ’n groot deel wees van wie ons in die toekoms gaan word.
Bernard Odendaal, akademikus, digter en voormalige hoof van die ATKV-Skryfskool ná Hans se aftrede:
Hans du Plessis was geen enkelvoudmens nie.
Lankal reeds pryk hy in my galery van bewonderenswaardige Afrikaanse literêre figure. Daar was hy al klaar ’n veelsydigheid: gebundelde rubriek- en kortverhaalskrywer; digter van ses bundels (waaronder van die grootste verkopers in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis); bekroonde skrywer van drie jeugboeke en tien romans; skepper van materiaal wat in 10 verhoogproduksies gebruik en kruis en dwars in Suid-Afrika opgevoer is ...
As onmiskenbaar geliefde dosent en flinke navorser was hy iemand in wie se voetspore ek maar net kon droom om in te trap. Digby 200 vakkundige publikasies uit sy pen het die lig gesien, en oral by kongresse, werkswinkels en ander sulke geleenthede het ek opgemerk hoe opgewonde oudstudente van hom was om hom weer raak te loop. En toe, sowaar, kom dit my oor: Ek moet hom in 2012 opvolg as Skryfkunsdosent en direkteur van die ATKV-Skryfskool aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.
Steeds kry ek dié gedagte nie heeltemal klein nie.
Ook as Christen-gelowige was hy vir my tot voorbeeld. Nederig; nooit beterweterig nie. Maar van hart en verstand uit oortuigd. Sy bundels Bybels begronde digbundels in Griekwa-Afrikaans getuig klinkklaar hiervan.
Ook wat skeppende skryfwerk betref, was hy dus ’n begeesterende faktor in my lewe. Toe ek laas getel het, was daar digby 50 herhaaldelik gepubliseerde Afrikaanse skrywers wat kon getuig dat hulle vroeg in hulle skryfloopbane werkwinkels van dié skryfskool bygewoon het.
Dan was ek ook nog so gelukkig om Hans du Plessis as vriend te ken. Behalwe tydens ons daelange gesamentlike rondreise, soms ook met wyle JC (Jaap) Steyn en Christo van Rensburg in die bussie, het ons ook meermale oor en weer aan huis kon gesels en kuier. Niks minder as stimulerend en verkwiklik nie, só was sy geselskap. En nou moet ek dit leer mis.
Maar wat is mý gemisgevoel in vergelyking met dit wat sy allernaastes nou moet ly? Want ook gesins- en familieman – dit was hy op voortreflikste wyse. Sy wederhelf – ja, so! – Magdaleen; sy vier seuns en hulle gesinne; ander familielede ... my hart gaan, saam met soveel ander mense s’n, uit na hulle.
Didi Potgieter, medeskrywer en aangetroude familielid:
Hy was ’n pa vir almal. Vir my man was hy ’n tweede pa. My man se pa is oorlede toe hy vyf was; hy is die een wat my pa op sy eerste dag skool toe gevat het. Hy het net altyd opgedaag – dis net wie hy was. Vir my was hy ’n mentor. Ek sou nie ’n skrywer gewees het as dit nie vir hom was wat agter my gestaan het en vir my gesê het ek moet gaan daarvoor nie. Al die kennis wat ek het; alles is te danke aan hom.
Awie van Wyk, voormalige dirigent van die Puk-koor:
My innige simpatie met die skielike dood van Hans du Plessis. Ek sal altyd dankbaar bly vir Mientjie le Roux by die Puk wat my destyds bekendgestel het aan Hans du Plessis se Griekwapsalms en hom as mens. Die ontmoeting met hom was hemels. Die Griekwapsalm Ek slaat my twee oge op het die Puk-koor eerste gesing; my vrou Sucille van Wyk was die solis. Die mense het baie daarvan gehou. Hans du Plessis, ek groet jou met ’n saluut, uit respek vir jou gawes om te skrywe. Jy was so sag en so nederig. Wat ’n voorreg om jou te kon ken. Dankie vir jou bydrae.
Ek het nog doodseker gemaak, Hans, van jou gebed, die Gebed van Jabes. Dit kom uit Innie Skylte van die Here:
(1 Kronieke 4:10)
Jirre, stier tog nou U se wolklikheit,
en goi U se drippelse op onse koppe yt.
Gjee onse weidingse meerderer gras
en hou ons tog oener U se vlerkense vas.
Keer die beerlou van onse lyfte af weg
en draai tog net onse lewe wee bietjie reg;
lattie hyl ons nie innie nagte so maklik slattie,
ennie trane ons nie oppie mirrag skierlik vattie.
Rus sag, Hans. Mag die engele jou op die hande dra.
Prof Marlene Verhoef, registrateur van die NWU:
Hans du Plessis was ’n reus van ’n mens.
As linguis het hy diep spore in die Suid-Afrikaanse akademiese wêreld getrap.
As variasietaalkundige het hy die diversiteit van Afrikaans gevier.
As skrywer en digter het hy met die fyn net van die woord vir ons blink en vet visse in Afrikaans uitgehaal.
Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap is sóveel armer sonder hom.
Ons eer Hans se nagedagtenis.
Prof Adri Breed, adjunkdirekteur van die NWU se Skool vir Tale:
Ek was – nes baie ander – bevoorreg om in my voor- en nagraadse studiejare nóú saam met Hans du Plessis te kon werk. In hierdie vormingsjare as jong taalkundige het hy by my ’n grondige insig in Afrikaans gekweek en my waardering vir taal as draer van identiteit verdiep. Hans het ’n onuitwisbare bydrae gelewer tot die bevordering van Afrikaans as akademiese taal en as studieveld. Sy nalatenskap leef voort, nie net in die talle werke wat hy agterlaat nie – soos Variasietaalkunde en Sintaksis vir Eerstejaars, wat steeds binne bereik op my lessenaar lê, en die meer as 120 taalkundepublikasies wat op die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde gekatalogiseer is – maar ook in die werk van sy studente en kollegas, wie se loopbane deur sy toewyding en integriteit blywend beïnvloed is. Sy heengaan laat ’n groot leemte. Ons gaan hom intens mis.
Tobie van Dyk, voormalige kollega aan die NWU se Skool vir Tale:
Nie net laat Hans se afsterwe ’n leegte in die groter Afrikaanse gemeenskap se harte nie, maar ook in die van oud-studente en akademici wat die voorreg gehad het om paaie met hom te kon kruis. Hy was ’n gerekende variasietaalkundige, gewaardeerde skrywer, mentor, vriend en ’n inspirasie vir vele. Sy passie vir die taal- en letterkunde, asook onderwys was aansteeklik. Hy het sy studente, en ander met wie hy te doene gehad het, nie net geleer oor sy vakgebied nie, maar hulle ook aangemoedig om krities te dink en om die wêreld om hulle beter te verstaan. Dit alles altyd met ’n stewige stukkie humor daarby. Sy bydrae tot die voormalige PU vir CHO en uiteindelik die NWU was van onskatbare waarde. Buiten sy akademiese en openbare profiel was Hans ’n man met ’n warm hart. Hy het altyd ’n geduldige oor gehad en was bereid om raad te gee en uit te help waar hy kon. Sy liefde vir sy familie en sy vriende het ’n onuitwisbare merk op almal gelaat. Ons herdenk nie net sy lewe nie, maar ook sy nalatenskap op vele terreine. Sy passie, vriendelikheid en toewyding sal in die herinneringe wat ons koester, voortleef.
Heilna du Plooy, digter, skrywer en voormalige kollega:
Dit is ’n hartseer dag vir almal wat Hans geken het. Wat ek van hom onthou, is sy vermoë om altyd die regte woord te vind en iets op ’n unieke manier te verwoord. Daarin was hy digter met ’n bykomende spesiale taalvermoë uit sy linguistiese skoling. Hy het die beste verduideliking van wat poësie is wat ek ken vir kursusgangers en studente gebruik.
Jy kan sê:
Ons twee is lief vir mekaar
maar ons sal nooit bymekaar uitkom nie.
Of jy kan skryf:
Ek en jy se huis
is die suiderkruis,
maar ek is in Alfa
en jy in Beta tuis.
Die eerste is ’n stelling, die tweede poësie.
In sy woorde en in sy geliefdes se harte sal Hans voortleef.
Henk Schalekamp, familievriend:
Hans was altyd opreg belangstellend in my doen en late en altyd gereed met ’n fyn berekende kwinkslag. Vir ’n seun, wat as maatjie gereeld by hulle huis gekuier het, was hy soos ’n pa van die gemeenskap.
’n Lang pad, vanaf kindsbeen was oom Hans die pa van my groot maat Hansie en deel van my pad.
Wonderlike tye, met oom Hans as een van die pa’s van ons gemeenskap. Ons het in Potch maar so by mekaar grootgeword. Meestal was dit grappe, soms was dit raas, maar altyd was dit met liefde. Ons was altyd veilig, al het ons selfs per ongeluk oom Hans met waterbomme op die Bult raakgegooi.
As man het ek en oom Hans ons liefde vir Afrikaans gedeel en saam gekuier daaroor, altyd half vinnig, maar altyd opreg. Dit het saamgevloei in die universiteitslied wat hy vir Akademia geskryf het.
Oom Hans, ek eer jou nalatenskap en sal daarop voortbou.
Dirk Hermann, familievriend:
Oom Hans, só het ons hom geken. Nie ’n prof of voorste skrywer nie. Ek was goeie vriende met sy seun, Louis. Ons het gereeld daar gekuier, gewone huis en gewone gesin. Hy was ’n goeie pa en net ’n gewone mens. Dit was wat oom Hans ’n voorste skrywer gemaak het. Hy het gewone mense wat ons taal praat verstaan. Hy was lief vir almal wat ons mooi taal praat, die volle rykdom daarvan. Ek onthou hoe hy die unieke Afrikaanse gemeenskap van die Vredefort-koepel se unieke dialek kom opskryf het. Op ons plaas, Jakkalsdraai, met Apie, Henru en Lena. Hy was nie bo enigiemand nie, maar tussen hulle. Hy kon hulle praat en emosie oordra. Omdat hy net gewoon was, was hy buitegewoon. My hart is seer saam met my vriend Louis, sy gesin en Afrikaans. Ons het almal ’n gewone mens, maar ’n groot reus verloor.
Franci Greyling, Hans se voormalige kollega en mededosent aan die ATKV-Skryfskool:
Ek sal altyd dankbaar bly vir die rigtinggewende invloed wat Hans du Plessis op my lewe en loopbaan gehad het. Ongeveer 30 jaar gelede het hy my, destyds ’n onderwyser in Pretoria, by ’n kongres genader om te hoor of ek belang sou stel in ’n nagraadse kwalifikasie in Skryfkuns. Dit was ’n voorreg om die studie onder sy leiding te kon doen, en die kwalifikasie het grootliks daartoe bygedra dat ek in 2002 as Skryfkunsdosent by die destydse PU vir CHO aangestel is. As direkteur van die ATKV-Skryfskool het Hans baanbrekerswerk in skryfopleiding in Suid-Afrika verrig; die vestiging van Skryfkuns as akademiese vak was een van die belangrike uitvloeisels van die Skryfskool. My aanstelling by Skryfkuns was ’n besondere loopbaangeleentheid, en ek en Hans kon vir tien jaar as kollegas saamwerk en mekaar oor en weer by Skryfkuns en die Skryfskool bystaan; ek kon letterlik aan die voete van Gamaliël sit en uit sy uitgebreide ervaring leer. Selfs ná sy aftrede het hy steeds met belangstelling en entoesiasme aan ons kreatiewe en navorsingsprojekte deelgeneem, en sy insig en skeppende bydraes het diepte aan ons werk verleen. Ek eer sy nagedagtenis – ook namens talle ander mense wie se lewens deur Hans du Plessis aangeraak is. Mentor, kollega, vriend: Hans du Plessis.
Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media:
Hans du Plessis was vir my ’n mentor; ’n wyse grysaard aan wie se voete ek kon sit vandat ek as jong student my hart op Afrikaans verloor het. Dit was my voorreg om vir drie jaar lank sy assistent by die ATKV-Skryfskool te wees. Selfs om sy boeke af te stof of vir hom tee aan te dra, was ’n eer; vir hierdie gewillige dade van diens is ek gewoonlik beloon met ’n boek om die naweek te lees, of ’n gesprek wat my altyd sou bybly. Soms het ek die voorreg gehad om een van sy Griekwagedigte, wat hy op sy rekenaarskerm geskryf het maar weens sy sigprobleem nie kon deurlees nie, vir hom te lees, en hier en daar op sy opdrag wysigings aan te bring.
My skryfseltjies in sy Skryfkuns-klas is altyd ontvang met mooi, simpatieke terugvoer en opbouende kritiek. Nooit het hy afgebreek nie.
In my honneursjaar het ek ’n studentewoonstel by hom en tannie Magdaleen gehuur, op die erf langs hul huis in Molenstraat, Potchefstroom. Soggens het hy met sy mandjie oor die arm in die oprit opgestap gekom om vars tamaties in die groentetuin agter ons woonstel te kom pluk; as my deur oop was, het ons ’n paar vroegoggend-woordjies gewissel of ’n grappie gemaak.
Deur die jare het ek met hom kontak gehou, want hoe dan nou anders. Hy was een van my grootste rasieleiers toe Maroela Media in 2011 as ’n piepklein mediahuisie tot stand gekom het – hy het eenvoudig geglo in wat ons besig was om in Afrikaans te doen. Hy het ook nie gelag vir my droom om eendag ’n skryfskool te begin nie. Inteendeel, toe die tyd ’n paar jaar gelede ryp is vir ’n nuwe Afrikaanse skryfskool, het hy ons met raad, wysheid en insig bygestaan om Skryfnet te ontwikkel en ’n kurrikulum vir ’n eerste kursus saam te stel.
Prof Hans, dankie dat jy in my geglo het. Jy was ’n rots toe ek dit nodig gehad het. Ons sien mekaar eendag weer, en dan gesels ons verder.
Janita Low, redakteur van Hans se laaste boek wat in Januarie deur Penguin Random House uitgegee word:
Ek het Hans as ruimhartige mentor ontmoet tydens ’n skryfwerkswinkel in my skooldae. Hans het sy liefde vir alle vorms van Afrikaans uitgeleef. Sy dood is ’n groot verlies, maar ons dankbaar vir die rykdom verhale, gedigte en ander werke wat hy aan ons nagelaat het.
Frieda le Roux, reklamekoördineerder by Penguin Random House:
Ons almal by Lapa is baie geskok oor Hans se skielike dood – ons was nog verlede week in kontak om te praat oor ’n bekendstelling vir sy nuwe roman, Klein Wonderwerk. Dit word in Februarie bekend gestel en hy wou baie graag iets spesiaal by die aftreeoord hou.
Hans se geskiedenis met Lapa gaan baie ver terug – lank voor ek hom ontmoet het – en hy was bekend en geliefd by almal.
In ’n kort V&A met Hans vir die Jan/Feb-uitgawe van ons tydskrif, Penguin Post, het Hans oor sy 80ste verjaardag, wat in Januarie sou wees, gesê: “Ek is vanjaar tagtig en dankbaar vir die genade om te wil en te kan skryf.”
Ettienne van Heerden, hoofredakteur van LitNet:
Hans het in September vanjaar by die Veldsoirée in Cradock die ATKV-slypskool vir prosaskrywers aangebied, as deel van die skrywersfees. Die lof oor sy bydrae was agterna volop. Hy het ook op die LitNet25 Skrywersberaad, wat by die dieselfde Veldsoirée aangebied is, oor Griekwa-Afrikaans ’n boeiende lesing gegee. Dit was na my wete sy laaste openbare lesing. Gelukkig het ons ’n video-opname daarvan. Hans was een van die mees geliefde mense in die Afrikaanse lettere. Sy afsterwe is baie hartseer.
Jaco Jacobs, kinderboekskrywer wat as 17-jarige seun vir die eerste keer ’n ATKV-skryfkursus van Hans bygewoon het:
My hart is baie seer oor prof Hans. Ek het hom nog so ’n maand gelede by Etienne van Heerden se Veldsoirée gesien. Dit was wonderlik om te sien hoe hy daar nog skrywers afrig. Dit het my laat onthou hoe ek as sewentienjarige seun vir die eerste keer by die Herfsskool vir Skrywers was, nadat ek ’n prys van die ATKV gewen het.
Dis eintlik ongelooflik om te dink wat hy destyds vir kinder- en jeugliteratuur gedoen het. ’n Mens vergeet so ’n bietjie van Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou, ’n jeugverhaal wat hy jare gelede geskryf het. Ek onthou wat ek destyds daaruit geneem het, is dat ’n mens kan skryf soos jy praat. Met die Griekwapsalms, waarvoor hy later meer bekendheid verwerf het, het hy dié skryfstyl nog meer gevestig.
Hy was so ’n ongelooflike warm mense-mens. By elke skryfskool, elke kunstefees, elke boekefees waar mens hom raakloop, was dit ’n ongelooflike voorreg om hom te kan sien. Hy was so onbaatsugtig – dit het altyd gevoel of dit vir hom ’n plesier is om sy kennis met skrywers en ander mense te deel. Ek dink sy grootste nalatenskap is wat hy vir jong, ontluikende en deesdae gevestigde skrywers beteken het. Ek eer sy nagedagtenis.
Sophia Kapp, skrywer:
Ek het Hans leer ken as ’n jong student op Bloemfontein toe hy en Christo van Rensburg aan die Griekwa-Afrikaans-projek gewerk het. Daardie projek het vir my as ’n produk van ’n Apartheidsopvoeding geleer wat Hans altyd gesê het: Afrikaans het nie ’n kleur nie. Dit het vir my as ’n individu horisonne oopgebreek wat ek nie eens besef het vir my verborge was nie. Maar ek dink die grootste bydrae wat Hans gelewer het tot die Afrikaanse taalgemeenskap is die feit dat hy sulke harde akademiese kennis, navorsing, kon vat en dit vir ons almal toeganklik kon maak deur die geestesgoed wat hy geskep het. Hy het die Griekwapsalms geskryf op grond van die navorsing wat hy gedoen het. Daardie vermoë om kennis te omskep in iets liefliks, is ’n kuns wat ek hom só beny het. Ek is vandag armer, en die taalgemeenskap is armer, omdat hy nie meer met ons is nie.
Ilse Salzwedel, samesteller en aanbieder van Skrywers en Boeke op RSG:
’n Groot boom het vandag in Afrikaans se bos geval. Hans du Plessis was byna 80, maar steeds onder almal wat ek ken bekend as prof Hans. Nie omdat hy daarop aangedring het nie – inteendeel. Hy was een van die mees onpretensieuse mense wat ek geken het. Slimmer as baie van ons saam, uitgesproke oor sy liefde vir Afrikaans en die dinge wat vir hom saakgemaak het, maar ook ’n warm mens met ’n lieflike sin vir humor. Ek glo nie hy het enige vyande gehad nie, en was ’n man met ’n oop hart. Hy het af en toe ’n Whatsapp gestuur om te sê as hy iets op Skrywers en Boeke geniet het, en as ons die slag gesels het, het sy opregte belangstelling in my doen en late my altyd opgeval.
Lekker kuier met jou groot vriend PG, en weet net: baie van ons gaan jou baie mis. Dankie vir jou groot bydrae tot ons taal en letterkunde.
Johnny Davids, sanger, en die laaste persoon wat van die Griekwagedigte (soos getoonset deur Randall Wicomb) vertolk en opgeneem het:
My innige simpatie en medelye met die familie, vriende en kollegas van Hans du Plessis. Mag julle in hierdie tydperk vertroosting vind in God. Dieselfde Here wat die slag geslaan het, is ook in staat om die vertroosting te bring. Ons verstaan nie nou hoekom nie, maar God weet. Dis so belangrik dat ons in hierdie tyd ons sal berus in God se perfekte wil en plan met alles.
As dit kom by prof Hans – sjoe, daai Griekwapsalms is iets wat my na aan die hart lê. Ek onthou toe ek hom die eerste keer gekontak het en vir hom gesê het ek wil graag sy Griekwapsalms soos dit deur Randall Wicomb getoonset is, opneem, en só die nalatenskap laat voortleef. Hy het nie geaarsel om vir my sy seën daarop te gee nie. Wat ’n voorreg om dit te kon doen. Ek kon dit met groot welslae opvoer, tot in Namibië.
Ek het onlangs met die skryf van my mémoire, Boytjie, ontdek dat my oupa- en oupagrootjie-hulle stamhoofde van die Griekwamense was. Nou verstaan ek hoekom ek so aanklank gevind het by die Griekwavolk sonder dat ek geweet het van daardie deel van my geskiedenis.
Hans du Plessis, ek salueer jou. Nou dat ek weet daar vloei Griekwabloed deur my are, sal ek seker maak dat daardie Griekwapsalms van jou die wêreld ingaan met die talent wat God my gegee het.
Johny Klein, akteur:
Prof Hans het altyd reg gestaan om my met enigiets te help; vir my gesê ek kan hom enige tyd iets vra. Sy stories sal vir altyd bly leef. Ek is so dankbaar ek kon hom ontmoet en ’n bietjie beter leer ken. Ons het elke keer lekker gesels wanneer ons mekaar gesien het, of oor die foon of op WhatsApp gesels het. Hy het ’n hart vol liefde gehad. Ek is so dankbaar dat ek van sy stories kon voorlees. Rus in vrede, Prof. En baie dankie vir al die lekker stories wat Prof vir ons gelos het. Liefde, altyd.
Giep van Zyl, nasionale koördineerder van Afrikaans 100:
Hans du Plessis was ’n gewaardeerde vriend van die Afrikaans 100-veldtog. Hy was destyds een van die eerste mense wat die Afrikaans 100-manifes onderteken het. Hy het verskeie bydraes op Afrikaans 100 se webblad en Facebook-blad gelewer en gereeld ons plasings gedeel. Ek het ook ’n paar keer by hom kers opgesteek oor die verskillende variëteite van Afrikaans en hoe ons dit in die Afrikaans Amptelik 100-veldtog moet hanteer. Hy was ’n absolute voorstander en kampvegter vir Afrikaans se variëteite en die diversiteit en geskiedenis van die taal, waarvoor ons baie waardering het. Dit is ’n groot verlies vir Afrikaans. Ons beplanning was om nog baie by hom kers op te steek en veral oor Griekwa-Afrikaans by hom bydraes te kry.
Op ’n persoonlike noot het ek destyds vir Hans van Aardklop se kant geken. Ek het baie met hom kontak gemaak en raad gevra. Sy humorsin sal mens altyd bybly.
Sterkte aan die familie. Dis ’n reusagtige bydrae wat Hans gelewer het, nie net in die letterkundige wêreld nie, maar in die algemene wêreld van Afrikaans.
Willie Burger, hoof van die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria:
Hans du Plessis was by verre die beste voorgraadse dosent wat ek op universiteit gehad het. Hy kon in ’n klas instap en ons oorrompel met sy energie en kennis. Sy manier van praat het ons almal betower. Dit het my sodanig geïnspireer dat ek later in my honneursjaar verder studeer het in sintaksis – eintlik net omdat ek nog by Hans wou klas hê. Hy was ’n ongelooflike dosent. Later het ek hom ook leer ken as mens en as skrywer. Hy het vir my ’n voorbeeld gestel van hoe ’n mens kreatiewe skryfwerk kan aanbied. Ek dink dit is ’n model wat ek in my lewe nagevolg het as dosent, voorgraads sowel as nagraads, in kreatiewe skryfwerk. Hy het ’n baie groot indruk op my gemaak. Sy afsterwe laat ’n ongelooflike leemte. Dit is so droef dat ons vir Hans nou verloor het.
Diana Ferris, skrywer, digter en aktivis:
Ek sal prof Hans onthou vir die skryfwerkswinkel wat hy aangebied het in Paternoster by die tweede Swart Afrikaanse simposium. Dit was een van my eerste werkswinkels wat ek ondervind het. Hans was ’n gemoedelike mens wat sy kuns en kennis met so baie gedeel het. Hy los ’n nalatenskap van onskatbare waarde. Mag sy siel in vrede rus.
Louis Jacobs, woordvoerder van NWU:
Dit is met groot hartseer dat die NWU van Hans du Plessis se afsterwe verneem het. Hy was nie net ’n legende by die universiteit nie, maar die bydrae wat hy tot die ontwikkeling en uitbreiding van Afrikaanse literatuur gelewer het, sal vir altyd onthou word. Hy sal vir seker gemis word. Ons innige meegevoel aan sy familie, vriende en almal wie hy deur sy merkwaardige talent aangeraak het.
’n Gedenkdiens
Ons versoek dat u die familie se privaatheid in hierdie tyd van rou sal respekteer. Meer inligting oor ’n gedenkdiens sal later bekend gemaak word.
Lees ook:
SteedsDink in die Karoo met LitNet Akademies: Hans du Plessis
The post Persverklaring: Huldeblyke stroom in ná Hans du Plessis se afsterwe first appeared on LitNet.
The post Persverklaring: Huldeblyke stroom in ná Hans du Plessis se afsterwe appeared first on LitNet.