Hennie van Deventer skryf op sy blog:
’n Brandpunt van welsprekendheid, ’n fees van keurige Afrikaans en ’n jubelkoor van gevleuelde woorde – dit was die historiese NG Kerk Durbanville vanoggend met die dankdiens vir kerkleier en Kerkbode-redakteur Frits Gaum.
In waardige huldeblyke is onder meer gewag gemaak van Frits se vlotte formulering, gespierde skryfstyl en puntenerigheid oor spelling en interpunksie.
Wel, vir Frits sou dit bepaald ’n vreugde gewees het as hy kon ervaar het hoe voortreflik elkeen wat aan die woord gekom het, aan sy hoë standaarde voldoen het. Vir my was dit ’n voorreg gewees om, somberheid ten spyt, die stylvolle geleentheid mee te maak. Ek lig my hoed hoog vir een en almal wat opgetree het.
Die “almal” was die seuns, Laurie en André, dogter Lina Hattingh, en eggenote Henda, asook mense van buite die gesinskring, Chris Jones en Freek Swanepoel. Kleinkinders Fritz Johann Gaum en Judi en Gerlo Hattingh het die Skriflesing netjies behartig en Henda het gesorg vir ’n klein kamee aan die einde met haar eiesoortige, impromptu bedankings. (Ek moet ook Willem Luitingh se orrelspel noem.)
Dit was Freek Swanepoel wat in sy treffende woorde van waardering hoog ingesit het oor Frits se altyd korrekte weergawes van alles wat op skrif moes kom, as redakteur van Kerkbode en scriba van die algemene sinode. Nooit in al die jare dat hulle saamgewerk het, kon hy sy kollega en vriend ooit op selfs die geringste spelfout wys nie.
Ook André het na Frits se besonderse taalgevoeligheid verwys. Hy is die program vir die diens met ’n fynkam deur, sodat tog nie ’n spelfout insluip nie, het hy laat vertel!
Freek het ’n merkwaardige brokkie geskiedenis meegedeel. Dit is dat Frits op 12 Oktober 1994 scriba van die sinode geword het – dag en datum presies 30 jaar tevore. Hy self (Freek) is by dieselfde sinode as moderator aangewys en Kobus van der Westhuizen, wat ook vanoggend teenwoordig was, as assessor. Hulle het ’n hegte kerklike driemanskap gevorm.
Nelson Mandela het daardie sinode toegespreek: die eerste en tot dusver enigste staats- en regeringshoof wat by ’n algemene sinode van die NG Kerk opgetree het. (Mandela het in sy rede onder meer erkenning aan dié kerk gegee vir sy rol in die vreedsame oorgang na ’n nuwe bedeling in Suid-Afrika.)
Op Frits, wat daardie sinode tereg die “sinode van versoening” gedoop het, het die taak geval om die President by die deur te gaan verwelkom en die sinodesaal in te begelei.
Toe verloor die President sy skoen. Frits het geen oomblik geweifel nie, op sy knie gesak en die skoen aangetrek.
Frederick Malherbe Gaum was waarlik ’n man vir wie jy jou ou skoene kon agterna gooi, en sy sobere, maar treffende dankdiens het sy waarde weerspieël.
Sien ook:
The post Elders gesien: Selfs Frits Gaum sou saam kon juig first appeared on LitNet.
The post Elders gesien: Selfs Frits Gaum sou saam kon juig appeared first on LitNet.