Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

Martie Retief Meiring: In memoriam

$
0
0

Martie Retief Meiring en haar dogter, Kabous (Foto: Izak de Vries)

*

Dis ’n reusegees wat pas hierdie planeet verlaat het.

Martie Retief Meiring was vir 52 jaar vir my ’n vriendin en ’n mentor. Van kardinale proporsies. Maar hierdie verlies strek wyd en raak vele mense en vlakke aan. Tot op hede nog (sy sou op Boxing Day 90 geword het) skerpsinnige (altyd net duskant skunnig) rubriekskrywer vir Die Burger en prominente burger en raadgewer van Stellenbosch.

Oor al die jare het ek voet by stuk gehou dat sy die mens is wat die vlugste van verstand is wat ek ooit ontmoet het. Daarby het sy wysheid, mense-insig en ’n verstommend ratse humorsin gehad. Sy kon iemand vinnig opsize en nie gebluf word deur vertoon of vermaak nie.

In my hele volwasse lewe het Martie deel gevorm van gebeure en besluite. Martie en Rykie van Reenen was kennisse van my ouers en deur hul toedoen het ek in 1972 by Die Burger begin werk. Martie was toe by Die Huisgenoot en pas terug uit Fleet Street – met ongelooflike stories oor die lewe en ondervindings in Londen. In die onlangs verskene Draaie, swaaie en afdwaalpaaie (saamgestel deur Corlia Fourie en Annelize van Rooyen) verskyn daar juis hieroor ’n briljante storie uit haar pen.

Die Kaap in die vroeë sewentigs was basies klein en almal het so half mekaar geken. Maar Martie het álmal geken. En deur Martie is ’n hele groot gemeenskap vir vele oopgemaak.

Dit was bloot logies dat sy as rubriekskrywer ingespan is toe Beeld in Johannesburg begin is. Vir almal van ons wat destyds in Hannes Meiring se gebou in Doornfontein saamgeveg het om die koerant te laat loop, was dit soos ’n bloedband wat ná 50 jaar nog daar is. En dis ook daar waar Hannes en Martie se romanse begin het. Voor Hannes was Martie die vrou met die meeste huweliksaansoeke waarvan ek geweet het. Was nogal altyd bietjie naywerig daaroor. En sy het die mooiste hande en voete gehad, wat deel gevorm het van haar eiesoortige elegansie.

Martie en Hannes is getroud ’n paar maande ná ek met Leo getroud is – soos sy gesê het, met ons beste maar komplekse vriende. Ons lewens was weer vervleg toe hulle en ons in Pretoria beland het en saam kinders grootgemaak het. Vir my Soois en Sophia was die Meirings soos eie familie en Kabous ook soos my ander kind. Die band tussen die volgende geslag is waarvoor mens in hierdie stadium dankbaar is. Die boeke wat sy onlangs vir my kleinseun gegee het, is ’n kleinood.

Martie en Hannes se paarties daar by Olympus was tekenend van haar vermoë om mense bymekaar te kry. Sy kon met gemak totaal uiteenlopende karakters aan ’n tafel laat sit en met genoeg wyn die hele lot laat lag. Sy het saam met Thea Nigrini ’n winkel op die werf (Op die Werf, juis) begin, ’n draai in die plaaslike politiek gemaak en was ’n sterk figuur in die destydse Kontak, ’n organisasie vir verbeterde verhoudings wat in die middel-tagtigs nie oral goed ontvang is nie. Maar weer eens het almal op Martie se insig en humor staatgemaak om die wa deur te trek.

Hul tyd op Vredenburg (“die lelikste dorp ná Witbank”) was ’n interimperiode voor baie gelukkige tye op Stellenbosch – Hannes terug in sy grootworddorp en Martie asof sy nog altyd daar gewoon het.

Ek gun Martie hierdie oorgang – dat sy nog besig was om te doen waarvan sy die meeste gehou het en dat sy nie iewers verswak het en versorg moes word nie.

Groot saluut aan een formidabele joernalis en wyddenkende, wyse mens met ’n hart wat vir almal plek gemaak het. Kabous, jy dra hierdie besondere krag vorentoe.

Lees ook:

Voorlopervroue in die Afrikaanse joernalistiek: Een eeu, drie baanbrekers, drie generasies

The post Martie Retief Meiring: In memoriam first appeared on LitNet.

The post Martie Retief Meiring: In memoriam appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>