Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

Martie Retief Meiring: ’n huldeblyk

$
0
0

Martie Retief Meiring (foto: Izak de Vries)

Iewers in die vroeë oggendure van Sondag het ek wakker gelê en deur Facebook geblaai met die hoop dat dit my sou help om gou weer aan die slaap te raak. Totdat ek afkom op ’n plasing van Anet Pienaar-Vosloo (vrou van Ton, oudvoorsitter van Naspers) met ’n lieflike foto van Martie Retief Meiring. Ek lees vinnig en wonder vir ’n oomblik hoekom Anet nou so mooi skryf oor Martie. Met die tweede lees sien ek die “RIP” raak. Dis tog onmoontlik. So skielik en so sonder waarskuwing. Helder wakker lees ek dit ’n derde keer.

.........
Ek begin soek na ander plasings of berigte wat dit kon bevestig. Maar dis Sondagoggend twee-uur en alle joernaliste slaap, lyk dit my. My kop wil nie vatplek kry aan die gedagte nie. Martie Meiring kon ons tog nie verlaat het nie. Later let ek op uit die ontploffing van huldeblyke in die media en uitstorting van medelye en hartseer, ook op die socials, ek is nie die enigste een wat gedink het sy gaan vir altyd leef nie.
...........

Ek begin soek na ander plasings of berigte wat dit kon bevestig. Maar dis Sondagoggend twee-uur en alle joernaliste slaap, lyk dit my. My kop wil nie vatplek kry aan die gedagte nie. Martie Meiring kon ons tog nie verlaat het nie. Later let ek op uit die ontploffing van huldeblyke in die media en uitstorting van medelye en hartseer, ook op die socials, ek is nie die enigste een wat gedink het sy gaan vir altyd leef nie.

Wat om te skryf oor die joernalis wat kon huppel met woorde? Wat hulle kon krimp, rek, buig en laat lag. En wanneer sy dit nodig gevind het, ook te laat piets. Maar altyd, altyd onopgesmuk gebruik het. Eerlik. Pretensieloos.

En hier struikel ek al langer as ’n dag oor my woorde. Worstel ek met die pyn van die verlies, die spyt dat ek in onlangse jare nooit ’n goeie gesprek met haar gehad het nie en dat ek nooit vir haar dankie gesê het vir wat sy alles beteken het as voorste vaandeldraer vir vroue in die joernalistiek sedert haar begin by die Oosterlig in 1955 nie. Amper, amper 70 jaar lank ’n beoefenaar van die joernalistiek, ’n dolosgooier van woorde.

Die ding is, Martie het nooit oud geword nie.

’n Mens kyk terug oor die foto’s in sosiale media, die laastes op die Woordfees geneem, die onlangses geplaas deur haar dogter Kabous en haar ligte gespot met “Marta” se doen en late.

Op 14 September by ’n foto van Martie in ’n cool baadjie en handsak voor ’n vol boekrak: “Marta is ’n rockstar. Op pad na haar afvalaand. Min dinge maak haar so bly soos afval. Baadjie-komplimente van die hipsters.” En op 11 Augustus: “Sondag-debris met familie.” ’n Leë tafel met leë rooiwynbottels, glase, koffiekanne en water, skilderye, tekeninge en afdrukke teen die muur. En op 26 Desember verlede jaar: “Happy birthday Marta. Jy’s super cool. Dankievirals. Ek hou dit understated ten spyte van myself. :)”

..........
“Daar was maar een soos Martie. Sy wat ’n sweefstok so goed kon balanseer,” skryf ’n jare lange vriendin, Hettie Scholtz, op Facebook.
En dit is die groot nalatenskap van Martie Retief Meiring. Die balanseertoertjie, die energie, die sjarme en die onbevooroordeelde manier waarop sy mense en hulle doen en late omhels en omarm het.
..............

“Daar was maar een soos Martie. Sy wat ’n sweefstok so goed kon balanseer,” skryf ’n jare lange vriendin, Hettie Scholtz, op Facebook.

En dit is die groot nalatenskap van Martie Retief Meiring. Die balanseertoertjie, die energie, die sjarme en die onbevooroordeelde manier waarop sy mense en hulle doen en late omhels en omarm het.

“Omdat Martie altyd net haar unieke self was – uitgesproke, helder, wellewend – was sy die perfekte gas aan ’n etenstafel, maar ook die “kingpin” om ’n raadstafel. Die een wat jy kon vertrou om haar steps te ken vir die regte uitkoms met haar unieke versnit van begrip, insig en humor. Meermale ’n fyn balanseringstoertjie,” borduur Hettie Scholtz voort op my vraag oor haar Facebook-inskrywing.

“Ook tuis kon sy die balans kalibreer. Sy maak een aand die voordeur van hulle huis in Brooklyn oop met ’n vadoek oor die skouer en ’n hartlike groet: ’Kom in, kom in! Hannes en ek is nie op speaks nie, maar ons gaan nie dat dit die aand bederf nie.’ Asof ’n aand by die Meirings ooit iets anders as hoë note sou hê.

“Daar lê ’n diep verlange voor na sulke onvergeetlike tye waar mens sommer weer lief geword het vir mense, lief vir die lewe,” skryf Hettie.

’n Goeie joernalis is iemand wat oneindig nuuskierig is, het Piet Cillié ons in ons joernalistiekklas voorgesê, tot ontsteltenis van die stilleres onder ons. Martie het aan al die vereistes voldoen. Sy was die volmaakte joernalis, tot haar dood op 89 waar sy in die hospitaal nog bekommerd was oor hierdie week se saktyd vir haar rubriek in Die Burger. (In een van die talle huldeblyke skryf iemand sy het oudword gesystap. Sy was nooit broos en sieklik nie.)

“Sjoe, toe kraak die donderweer oor ’n lang gesetelde instelling in ons Afrikaanse letterkunde.” So begin haar rubriek oor die ontmaskering van die LitNet-rubriekskrywer Crito. “Ene prof Mellet Moll het dit ontketen ná ’n (myns insiens) ietwat histeriese reaksie van ’n man met ’n regte Crito-snor se resensie van sy resensie van Riku Lätti se bundel Taboek.”

Soos met die ander heldin van die joernalistiek, Rykie van Reenen, interessant genoeg, sal Martie veral vir haar rubrieke onthou word. Sy het selfs in die laaste paar jaar nog by die joernalistiekdepartement oor rubriekskryf gaan doseer. Maar in ’n ander generasie sou Rykie redakteur van Rapport geword het en Martie waarskynlik aan die spits van Huisgenoot, Insig, Die Burger. Met haar ligte én ernstige aanslag, haar kontakte en mensekennis en vreesloosheid sou sy ’n groot sukses daarvan gemaak het.

Terloops, sy wás die redakteur van die eerste tydskrif gerig op die swart vrouemark, met die vreemde naam Bonanza. En soos dikwels in die vyftiger- of sestigerjare toe die mans nie geweet het wat om met ’n vrou in die redaksie te doen nie, het hulle haar vroeër én sowaar weer later in haar loopbaan ná haar terugkeer uit Fleet Street in Londen in beheer van die vroueblad geplaas. Al sou die veronderstelde inhoud ook enige intelligente mens soms teen die mure uitgedryf het. Soos toe sy op 20 oor babasorg moes skryf, of met ’n paar wit handskoene en ’n hoed in die laai gereed staan vir die deftige teepartytjies waarheen sy as vroueredakteur genooi is. En liewe leser, dit, glo my vry, was die pynlikste ervaring ooit, om as jongeling sulke teepartye van die Marias, die Dinamiekers en die watsenamers by te woon. Soos Martie dit gestel het: “... die eindelose hoeddraende vroueorganisasies”. Net omdat jy ’n paar sosiale foto’s moes neem en aan die hooftafel die “media” moes verteenwoordig. En bewaar jou siel as jy met jou karige begroting nie die geskikte klere aangehad het nie. Iemand sou by jou baas se vrou gaan kla het. Martie het dit duidelik vroeg geleer.

Soos wat sy ook die “smile en wave”-les geleer het om die mans van Naspers te betower met haar kennis, intelligensie en humorsin. Net haar eerlikheid, sou ek skat, was soms te veel vir hulle.

Ek het eintlik regtig eers van Martie kennis geneem toe ek in 1986 by De Kat in Johannesburg begin werk het. Die stigterredakteur, Johan van Rooyen, het my baie stories vertel van hierdie joernalis wat laat in haar lewe getrou het (met die argitek Hannes Meiring) en in Fleet Street gewerk het. Eers vir die BBC en later as Naspers se verteenwoordiger in Londen. Sy’t teruggekom en is by Beeld, die nuwe dagblad in die Noorde, aangestel. Maar toe sy vra om in die parlementêre redaksie te dien, is sy glo afgelag deur Piet Cillié. En dit ondanks die feit dat sy uit die Engelse parlement verslag gedoen het. Nooit as te nimmer ’n vrou in die persbank van Naspers nie. Ek dink deels was dit omdat daardie garde nie geglo het vroue kan dieselfde politieke kontakte opbou as mans nie. En deels, en dis werklik net my persoonlike mening, het Piet Cillié se geslag nie gehou van Martie se politiek nie.

...........
In die sewentiger- en tagtigerjare het sy meer aktief by organisasies soos Women for Peace betrokke geraak en later vir die Sunday Times ’n rubriek geskryf. Soos ook Madeleine van Biljon senior, vir wie daar toe nie plek was in die Afrikaanse koerante nie. In 1991 stel Max du Preez haar aan as mederedakteur van Vrye Weekblad. Max skryf in sy huldeblyk aan Martie oor hoe sy, nadat Vrye Weekblad in 1994 toegemaak het, geskryf het: “Vrye Weekblad het ons Afrikaners se knellende borstrok van skuld, apartheid en pynlike, plegtige korrektheid darem wragtig goed en solidly geknak.”
..............

In die sewentiger- en tagtigerjare het sy meer aktief by organisasies soos Women for Peace betrokke geraak en later vir die Sunday Times ’n rubriek geskryf. Soos ook Madeleine van Biljon senior, vir wie daar toe nie plek was in die Afrikaanse koerante nie. In 1991 stel Max du Preez haar aan as mederedakteur van Vrye Weekblad. Max skryf in sy huldeblyk aan Martie oor hoe sy, nadat Vrye Weekblad in 1994 toegemaak het, geskryf het: “Vrye Weekblad het ons Afrikaners se knellende borstrok van skuld, apartheid en pynlike, plegtige korrektheid darem wragtig goed en solidly geknak.”

Ek onthou ’n ATKV-Prosaprys-aand in Martie en Hannes se groot en interessante huis in Pretoria. Dit het ’n heerlike houtstoep gehad, as ek reg onthou. Hoe geïntimideer was ek nie. Gelukkig loop ek my toe vas in hierdie nuwe skrywer wie se eerste boek ek pas gelees het en wat benoem was vir die prys: Deon Meyer. Hy’t ook nie baie mense geken nie en was ewe geïntimideer as ek.

Jare later word Hannes en Martie van die grootste ondersteuners van Insig toe ek daar beland het. Hulle het al ons gesellighede bygewoon en tot laaste gekuier en gesels. Ek was nog steeds maar skugter en skaam en “in awe”. Maar toe maak ek so ’n groot jongelingflater. Ons vra vir Martie om vir ons te skryf oor Afrikaanssprekendes wat aanbeweeg, moderner word en hoe die beeld van selfs rugby minder van ’n stoerheid oor hom kry. En ek sit vir Bobby Skinstad op die voorblad. En nog erger: Ek las by Martie se storie by om die storie te plooi en sit my naam ook in die byline. Dit was nou wragtig jeugdige arrogansie gewees. En desperaatheid om die beeld van Insig te moderniseer én die bottom line in ’n beter toestand te probeer kry met meer lesers onder die druk van bo.

Martie het nooit iets daaroor gesê nie. Maar al die jare het ek nog skuldig gevoel. En nooit het ek ’n glas wyn saam met haar gaan drink en verskoning gevra nie.

Die laaste woord behoort aan haar Pretoriase vriendin, Thea Nigrini (ma van die kunstenaar Michèle): “Martie en ek was agt jaar vennote in ’n kunsgalery en teetuin by haar huis op ’n kleinhoewe in Pretoria.

“Beste vriendskap ooit.

“Nooit gedink my immergroen vriendin sal voor my gaan nie.

“Spitsvondig, baie intelligent, veelsydig, kunssinnig, skerp en altyd so goed geklee dat wanneer sy haar klere op die destydse ’jumble sales’ verkoop het, het ek gereeld alles opgekoop.

“Het vir niks gestuit nie. Ons was eenmaal genooi vir ’n skrywersberaad, Langebaan toe by Klub Mykonos. Sy het daarop aangedring dat ons dit ’n ’roadtrip’ maak in plaas van om af te vlieg. Sy het letterlik die hel uit die aarde gery, soveel so dat haar motor dieselfde aand by ons terugkeer in Pretoria gedurende die nag uitgebrand het. Kyk, dit was Martie daai.

“Haar etes wat sy so gereeld rondom haar lang geelhouttafel aangebied het, was altyd kulinêre meesterstukke, en die gastelys het die hele spektrum van Pretoria se interessantste persoonlikhede gedek. En as sy dan van die kombuis te voorskyn gekom het met altyd ’n skreeusnaakse kwinkslag, het die son vir al die gaste opgekom.

“As beoordelaar van boeke vir menige gesogte instansie was haar leeskennis verstommend en het dit aanleiding gegee tot nimmereindigende gesprekke oor boeke.

“Ek kan aan Martie net terugdink in die beskrywende Duitse term: ’ein Gesammtmensch’.

“Gelukkig het sy haar maaksel Kabous vir ons nagelaat. ’Soos de ouden zongen, so piepen de jongen.’”

Voorwaar ’n rockster was Martie Retief Meiring. Sy leef inderdaad voort.

Dalk kan die een of ander stigting ’n Martie-rubriekbundel borg. Daar is ’n versameling, Op die randakker, van Rykie van Reenen se Rapport-rubrieke, een wat steeds ’n spesiale staanplek op my boekrak het en deur die jare as verwysing gedien het. Ek dink Martie verdien ’n ereplek daarnaas.

***

(Dankie vir Lizette Rabe se uitstekende en volledige huldeblyk in Die Burger, Murray La Vita se onderhoud van 2009, en ook die huldeblyke van Renée Rautenbach Conradie en Nadine Petrick.)

Lees ook:

Voorlopervroue in die Afrikaanse joernalistiek: Een eeu, drie baanbrekers, drie generasies

Die “gees” van Dakar leef voort (ook met verskille)

Boekresensie: Een nag en ’n bietjie deur Hester Kruger

Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering – ’n resensie

Waarom kunsmuseums of waarom hoegenaamd kuns?

Martie Retief Meiring: In memoriam

The post Martie Retief Meiring: ’n huldeblyk first appeared on LitNet.

The post Martie Retief Meiring: ’n huldeblyk appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>