Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

Hoe sê ’n mens totsiens aan ons geliefde prof Jacques?

$
0
0

Prof Jacques van der Elst en sy vrou, Betsie (Foto: Anne-Marie Beukes)

“Prof Jacques is pas oorlede,” hoor ek vroeg Vrydagoggend 25 Maart.

Wat ’n manier om ’n Vrydag mee te begin. Hoe kan dit wees? Prof Jacques (soos prof Jacques van der Elst in die omgang bekend was) is nie meer daar nie. Dit is moeilik om dit selfs net te tik, want prof Jacques was áltyd daar – dikwels aan die voorpunt en so dikwels ook agter die spreekwoordelike skerms, daar waar aktiwiteite en bedrywighede vir en oor Afrikaans aan die gang was. En nou moet ons in die Afrikaanse akademiese wêreld aangaan sonder hom. Bykans ondenkbaar.

“Wie gaan nou ’n plan maak as jy nie self weet hoe vorentoe met die een of ander projek of probleem nie?”

Wie gaan nou ons probleme oplos? Wie gaan nou die sagte woord spreek om grimmigheid te laat bedaar? Wie gaan nou die stem van redelikheid wees in hete debatte oor Afrikaans? Wie gaan nou ’n plan maak as jy nie self weet hoe vorentoe met die een of ander projek of probleem nie? Wie gaan nou mense met mekaar laat praat as hulle nie met mekaar wil praat nie? Wie gaan nou mense in die Afrikaanse wêreld help om saam moeilike brûe oor te steek? Wie gaan nou help om boeke te laat realiseer, soos die Suid-Afrika Akademie se boek oor die geskiedenis van Suid-Afrika, Geskiedenis van Suid-Afrika: van voortye tot vandag (2014, red F Pretorius, Kaapstad: Tafelberg)?

In huldeblyke oor sy rol en bydrae kom die woorde “taalreus”, “taalstryder”, “taalaktivis”, “ikoon”, “seder”, “vlymskerp intellektueel”, “passievol oor Afrikaans”, “kampvegter vir Afrikaans en moedertaalonderrig” na vore. Dit is alles baie waar, en ook inderdaad ’n goeie beskrywing van sy besonderse rol in die Afrikaanse proses, in die besonder in die proses om vir Afrikaans ’n permanente voetspoor in die land moontlik te maak. Dit is ’n bevestiging dat hy hom in sy lang loopbaan, selfs ná sy formele aftrede aan die NWU in 2001, steeds aktief besig gehou het met Afrikaans, as HUB van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns (2005–2012), die Afrikaanse Taalraad (die stille agter die totstandkoming van die ATR – hy het gesorg dat die proses vir die volgende geslagte gedokumenteer word; hy was die een wat vergaderings gereël het, die een wat fondse gaan soek het), en in sy latere jare ná sy aftrede by die Akademie asook die ATR steeds besig gebly het by die Akademie as projekleier van Akademie-publikasies. So was hy besonder trots op sy bestuur van die Akademie se boekereeks wat hulde bring aan Hertzogpryswenners, en hy het self tot twee weke voor sy heengaan een van die boeke finaal versorg. Toe eers het hy sy pen neergelê.

Wannie Carstens en prof Jacques van der Elst tydens ’n bekroningsgeleentheid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (Foto: SAAWK)

’n Lewenswyse en lewenstaak

Vir hom het Afrikaans en die posisionering van Afrikaans inderdaad ’n lewenswyse en lewenstaak geword, nie net om navorsing te doen (waarvan sy talle publikasies in sy CV getuig) en te inisieer nie, maar ook om Afrikaans se band met die Lae Lande te versterk en uit te brei deur skakeling tussen die lande in die boikotjare steeds lewendig te hou, selfs al is hy by geleentheid by van die kongresse as “ongewens” verklaar. Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het hy ondanks hierdie moeilike tye “die band tussen Afrikaans en Nederlands lewendig help hou, Afrikaans as taal help groei en die hoëfunksiestatus daarvan op ’n vaste fondament help plaas” (Forum Nuus).

As gebore Nederlander was sy assosiasie met sy geboorteland vir hom op ’n persoonlike vlak belangrik, soos ook blyk uit sy jare as dosent in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite, waarvan die laaste 30 jaar aan die voormalige PU vir CHO (sedert 2004 die NWU). Hy was bekend as ’n spesialis van die Nederlandse letterkunde, soos ook blyk uit sy betrokkenheid as een van die mederedakteurs en as skrywer (in 1988 saam met Heinrich Ohlhoff en HJ Schutte) van die gesaghebbende Momente in die Nederlandse letterkunde (JL van Schaik). Hy het ná die boikotjare die eerste internasionale kongres oor Neerlandistiek in 1992 in Suid-Afrika geïnisieer en ook georganiseer – op Potchefstroom. Daaruit het die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) sy beslag gekry en dié vereniging staan vandag steeds as sigbare monument van sy ywer en visie oor die rol wat die Neerlandistiek in die wêreld van Afrikaans gespeel het en steeds speel.

Maar vir soveel van ons was hy net prof Jacques, die sagte mens, die mens met deernis vir ander, die mens wat ’n oop hart gehad het en probeer help het waar hy kon, die mens wat wou help regstel aan die komplekse verlede van Suid-Afrika (waarvan die toeken van die Hertzogprys aan Adam Small vir sy oeuvre ’n persoonlike hoogtepunt tydens sy dienstydperk as HUB van die Akademie was omdat dit ’n onreg help herstel het), die een op wie staatgemaak kon word vir orde, die een op wie se knoppie ’n mens kon druk om ’n onvoorsiene probleem uit die weg te ruim. Vir soveel van sy oudstudente was hy net prof Jacques, die geliefde en toegewyde dosent vir wie hy die wêreld van letterkunde oopgemaak het, die mens wat bereid was om vir soveel van hulle die spreekwoordelike tweede myl te stap in die ontwikkeling van hulle menswees en hulle loopbane. As hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die PU vir CHO en later as dekaan van dié universiteit se Fakulteit Lettere en Wysbegeerte (1995–2001) het hy hom op verskeie wyses toegewy aan die ontwikkeling van sy personeel ten einde vir hulle verdere loopbaangeleenthede moontlik te maak.

“Nee, Wannie, dit gaan nie werk nie”

Vir my was hy iemand wat opgetree het as mentor en wat my toegelaat het om my foute te maak, alhoewel hy my dikwels gewaarsku het om weer te dink. Maar ook iemand wat daar was om my weer op te tel in teleurstellings. In ons vennootskap was ek die dromer, die idealis, en hy weer die realis, die een wat nugter moes wees, wat my terug aarde toe moes bring met: “Nee, Wannie, dit gaan nie werk nie”; maar hy was ook te alle tye bereid om saam met my die grense van die Afrikaanse wêreld te toets.

Toe ek destyds in 1990 bekend gemaak het dat ek ’n pos aan die PU vir CHO gaan aanvaar, is ek uit Kaapse geledere gewaarsku dat die “bedonnerde Hollander” my lewe moeilik gaan maak. Maar van die begin af was ons gesinkroniseer in ons denke en optredes, soos ons werk in die ingewikkelde totstandkomingsproses van die Afrikaanse Taalraad (ATR) (2008) getuig het, toe daar in ’n negatiewe politieke klimaat hard gewerk moes word om die Afrikaanse gemeenskap te versoen. Saam het ons verskeie moeilike brûe in die opbou- en inwerkstellingsproses moes oorsteek. Toe hy in 2005 HUB van die Akademie geword het en ook bereid was om saans die ATR-werk te doen, kon ons saam die wa deur die drif trek toe daar nie altyd trekkers vir die versoeningsproses was nie. Vandag is die bestaan van die ATR ’n verdere monument van sy lewenswerk, maar in die besonder van sy ingesteldheid as mens wat so sy Christelike opdrag van uitreik na ander (as toegewyde lidmaat van die Gereformeerde Kerk) uitgeleef het. Vir my was hy selde die “bedonnerde Hollander” – net soms! – maar meestal die verskilmakende Hollander, die een wat bereid was om sy nek uit te steek vir sy beginsels en vir die taal waarvoor hy so lief geraak het.

Hoe som ’n mens werklik so ’n besonderse en unieke mens se bydrae op? Hoe neem mense nasionaal en internasionaal afskeid van so iemand? Woorde ontbreek, alhoewel daar hier bo probeer is om ’n kort aanduiding te gee van besondere hoogtepunte in sy lewe en werk. In ander huldeblyke is besondere aspekte van sy lewe uitgesonder: sy talle prestasies, sy bekronings, sy deurbrake omdat hy gedoen het wat hy geglo het reg is om te doen, sy besondere menswees, sy onfeilbare toewyding aan die “Van der Elst-vrou”, sy geliefde Betsie, die een sonder wie hy nêrens heen wou gaan nie. Dit was so besonders om sy liefde vir sy gesin te ervaar en geïllustreer te sien tydens die fees toe hy 80 geword het. Daarom gaan ons harte uit na Betsie en hulle kinders en kleinkinders. Ons as Afrikaanse gemeenskap bid hulle die krag en sterkte toe om die verlies van prof Jacques as man, pa en oupa te verwerk.

Wannie Carstens saam met Betsie en Jacques van der Elst (Foto: SAAWK)

’n Groot gaping in ons almal se harte

Dat ons wat baie met hom te doen gehad het (gesinslede, familie, vriende, kollegas, kennisse), hom óntsettend baie gaan mis, is egter ’n onbetwisbare feit. Ons kan hom nou nie meer gou bel en advies vra nie. Ons sal wel ons herinneringe aan hom lewend hou en hom eer deur alles in stand te hou wat hy op soveel vlakke help daarstel het.

Rus sag, liewe prof Jacques. Jou heengaan laat ’n groot gaping in ons almal se harte. Ons gun jou die rus, maar jou voorbeeld as gedeë akademikus, geesdriftige planmaker, grensverskuiwer, en jou innemende menswees bly agter en dit gaan ons troetel in die jare wat kom. In jou 82 lewensjare (1940–2022) het jy inderdaad die wêreld ’n baie beter plek gemaak.

Dat ek hom nou groet met ’n stukkie poësie, sou hom oneindig plesier besorg het, omdat hy “besorg” was oor my kennis van die Afrikaanse letterkunde. Maar uit my hart uit: “Stil, broers, daar gaan ’n (ware) man verby, hy groet, en dis verlaas. Daar’s nog maar één soos hy; bekyk hom goed” (Jan FE Cilliers).

 

Verwysings

Forum Nuus. 2022. Die Afrikaanse wêreld is armer ná afsterwe van prof Jacques van der Elst. 25 Maart 2022.

Herselman, Marita. 2022. Afrikaanse taalreus prof Jacques van der Elst oorlede. 26 Maart 2022.

 

Lees ook:

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns huldig Jacques van der Elst (30 Januarie 1940 – 25 Maart 2022)

The post Hoe sê ’n mens totsiens aan ons geliefde prof Jacques? appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>