Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

Wentzel van Huyssteen (1942–2022)

$
0
0

Die internasionaal gevierde teoloog Wentzel van Huyssteen is op 18 Februarie 2022 in die ouderdom van 79 oorlede. Danie Veldsman bring hulde aan hom. (Foto: verskaf)

Om op versoek van LitNet namens die Suid-Afrikaanse akademies-teologiese gemeenskap – en hieropvolgend spits ek my spesifiek toe op die akademiese gemeenskap – enkele woorde saam te bundel oor Wentzel van Huyssteen (79) wat Vrydag 18 Februarie 2022 in die Kaap oorlede is, is iets wat ek graag doen, maar met groot versigtigheid. Met versigtigheid omdat hy oor so baie jare vir so baie van ons as akademici, maar ook vir baie ander mense wat hom geken het, in baie opsigte so ’n besonderse persoon was.

Ek sou veel eerder oor al hierdie ander “baie opsigte” wou skrywe: sy innemende menswees, die belangrikheid van al sy lewensrelasies waarvoor hy met oorgawe gelewe het; sy swaar dra aan die dood van sy seun Daniël; maar dan ook oor sy besondere voorliefde vir musiek, veral die Duitse komponis Richard Wagner en die New Yorkse Filharmonie. En ook sy geniet van baie goeie “single malt” whiskeys. Maar ek staan vandag stil by sy akademiese nalatenskap. Dit doen ek dan in die selektiewe keuse van vierende woorde van onthou wat ek vertrou reg sal laat geskied aan hierdie ruim veelkantigheid van sy besondere bydrae as akademikus. En tog sal ek net enkele hoofmomente kan deel.

Hierdie seun van Burgersdorp in die Oos-Kaap wat aan universiteite in Stellenbosch, Amsterdam en München studeer het en grade in teologie en filosofie behaal het, is na my wete aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth (nou NMU) aangestel as hoof van die Departement Bybelkunde, die jongste professor in teologie in Suid-Afrika. En skaars tien jaar later volg sy eerste besondere akademiese bydrae in Teologie as kritiese geloofsverantwoording (1986). Hierdie boek het die grondslag gelê vir sy voortgaande, verbredende en verdiepende ontginning van die wetenskapfilosfiese status van teologiese nadenke – tot vandag toe nog ’n klassieke teks in die teologiese veld en later bekroon met die Andrew Murray-prys.

Die publikasie, wat kort na verskyning in Engels vertaal is, het Wentzel se akademiese pad gebaan vir die aanstelling in 1992 in die James I McCord-leerstoel aan Princeton Theological Seminary in Princeton, VSA. Dit was die eerste teologiese leerstoel in die wêreld wat spesifiek op die gesprek tussen die natuurwetenskappe en teologie gefokus het. Alhoewel verskeie ander publikasies (boeke en artikels) hierna van Wentzel verskyn het en hy by etlike universiteite in Amerika en Europa openbare lesings aangebied het oor sy verdere teologiese verkenning van die teologie-wetenskap-debat, verteenwoordig die Gifford-lesings (2004) aan die Universiteit van Edinburgh in Skotland ’n uitstaande akademiese hoogtepunt. Hy was nie alleen die eerste Suid-Afrikaner (en tot nou toe nog die enigste) wat hierdie baie beroemde lesingsreeks aangebied het nie. Nee, hy was ook die eerste Princetonian wat die lesingsreeks aangebied het. Die lesingsreeks is twee jaar later gepubliseer as Alone in the world? Human uniqueness in science and theology – ’n standaardteks wêreldwyd vir die betrokkenes by die teologie-wetenskap-debat. Van hierdie boek, en in sy reaksie op die afsterwe van Wentzel, skryf die president van die Princeton Theological Seminary, Graig Barnes, dat Wentzel ’n pionier was in die akademiese veld van teologie en wetenskap en dat Alone nog steeds wyduitkringend koersaanduidend en invloedryk is. Ook hierdie boek is later in Suid-Afrika met die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys bekroon.

Benewens etlike vertalings van die boek, aanstellings by verskeie teologies-wetenskaplike verenigings in Amerika en Europa, asook verskeie ander toekennings wat sy internasionale teologies-wetenskaplike bydae deeglik gevestig het, word dit hieropvolgend indrukwekkend bevestig met twee feesbundels wat aan hom opgedra word, te wete The evolution of rationality (2006) en net meer as tien jaar later, Human origins and the image of God (2017). In beide word in gesprek getree met sy besondere bydrae tot die ontginning en verbreding van ’n geloofwaardige rasionaliteitsmodel vir teologiese nadenke, maar nou ook veral ten opsigte van sy indrukwekkende interdissiplinêre oopbreek van die uniekheid van Homo sapiens se beliggaamde menswees (“embodied personhood”) as imago Dei. Tereg word hy in beide bundels beskryf as ’n internasionaal erkende “pioneering scholar-mentor”.

Na sy aftrede het Wentzel en Hester na Suid-Afrika teruggekeer. As emeritusprofessor van Princeton Theological Seminary het hy hom in die Kaap gevestig as A1-gegradeerde NRF-navorser, as buitengewone professor in die teologiese fakulteit van die Universiteit Stellenbosch en as navorsingsgenoot van die teologiese fakulteit van Pretoria.

Vir sy 80ste verjaarsdag, wat op 29 April 2022 sou gewees het, is vir hierdie viering nog ’n feesbundel gedurende 2021 deur 17 Suid-Afrikaanse akademici voorberei. Dit is nou afgehandel en in druk, amper gereed om aan hom oorhandig te word. Dit sal nou nie meer kan nie, maar gaan in sy onverwagse afwesigheid en hartseer gemis beslis die eerste akademiese viering wees van voortgaande herinneringe aan en besinnings oor ’n merkwaardige Suid-Afrikaanse teoloog. In die feesbundel (wat by Verbum et Ecclesia gaan verskyn) word sy nou afgehandelde akademiese weg aan die hand van baie meer gedetailleerde akademiese momente en in baie meer woorde beskrywe.

Alhoewel sy lewenstaak afgesluit is, ervaar ons as akademiese gemeenskap sy diepdeurdagte wetenskaplik-teologiese koersaanduidinge nog as onafgehandel.

The post Wentzel van Huyssteen (1942–2022) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>