
Foto van Ronel Nel: Naomi Bruwer, https://www.litnet.co.za/fotos-boekejol-2016/
Dit voel vir my ek skryf deesdae net flertse van onthou. Oomblikke vasgebrand in tyd, soos foto’s op film. Van mense wat ek nooit sal vergeet nie, al maak ek ook wat. Genote wat ’n blywende indruk op jou gelaat het, al vergeel van die herinneringe soos ’n ou kiekie. Al krul die hoekies van gesprekke om, en al trek die gom die permanentheid van verbintenisse los.
........
As ek oor jou praat, Ronel, kan ek tog nie anders as om oor foto’s te praat nie. Want my foto’s van jou, maar ook jou bundel met die onvergeetlike titel* slaan vandag ’n blerrie bliksemstraal regdeur my hart en baie ander harte. Nie nét oor Vanderbijlpark is dit grys en troebel nie.
........
As ek oor jou praat, Ronel, kan ek tog nie anders as om oor foto’s te praat nie. Want my foto’s van jou, maar ook jou bundel met die onvergeetlike titel* slaan vandag ’n blerrie bliksemstraal regdeur my hart en baie ander harte. Nie nét oor Vanderbijlpark is dit grys en troebel nie.
Van my lekkerste memories van jou se klankbaan is baie pertinent. Valiant. Zoid. Anton. Want ons was saam by só baie gigs – by Steak & Ale, Café Barcelona, Oppikoppi. Weet nie waar nog orals nie. Wat ek wel weet is, daai wonderlike, befokte jare van maklik twee tot drie maal ’n week gaan musiek luister saam met die likes of die Nagagent, Putu, Steppenwolf, Dirk, Sofie Stoof (en die ander makkers wat mekaar op die Bloublad bygedam en oor musiek gesels het), was altyd helderder ingekleur deur jou teenwoordigheid. Hand om die lyf voor ’n verhoog aan’t dans, ons twee. Baie aande van my lewe, déstyds, in Pretoria.
Ons was kollegas ook. Saam klas gegee by ’n kollege in Centurion. Daar het ons lang sigarette gerook buite ons klasse terwyl ons wag vir studente om op te daag. Planne gemaak vir die naweek se gigs en gelag oor ons vir Wolf in 30 Seconds gewen het.
Maar kom ons wees eerlik, daar was moeilike tye ook, want jy was tog nie nét vrolik nie. Die lewe het maar sy dinge. Sommige kiekies sal altyd uit fokus wees. Die komposisie swakkerig en die subjects in question salig onbewus van die fotograaf aan diens. Dis ook oukei. Vandag soek ek daai geblurde foto’s en pak dit uit langs die kiekies met die mooiste glimlagte.
’n Lieflike in-fokus oomblik was die launch van jou éinste digbundel, twintig jaar gelede. Kan jy glo? Karen de Wet het van die gedigte voorgelees, Anton Goosen en Beeskraal het musiek gemaak. Dit was ’n rumoerige besigheid, het Maritha Snyman later in ’n brief in die Beeld oor dié bekendstelling geskryf. “Afrikaans en Afrikaanse poësie lewe daar waar dit hoort – onder en tussen die mense.” Jóú mense.
Jy het voor in my bundel geskryf, en my bedank omdat ek jou aanvaar vir wie jy is. “Vir die brandende bos van gemoedsvryheid,” het jy ook geskryf. En vandag, toe ek hoor jy is dood, kan ek maar net hoop dat jou gemoed wel vry was, liewe Nella. Dat daai bos tot op die laaste bly brand het.
Jou bundel eindig met drie kort sinnetjies. Ek kan nie eintlik anders as om jou aan te haal nie:
en na hierdie reis
is mens altyd bietjie homeless
en tog orals tuis.
Mag jy ewig, vredig rus, kollega, en tuis voel. Nét daar waar jy nou is.
*[en die here het foto’s geneem oor vanderbijlpark]
Lees ook:
The post In memoriam: Ronel Nel appeared first on LitNet.