Hennie van Deventer skryf of Facebook:
Niël Barnard, hoof van nasionale intelligensie in die kritieke dekade 80, was nie lief vir die pers nie. Lees maar sy boek!
Tog het hy Die Volksblad ’n wonderlike wereldscoop besorg, en in die algemeen met persmense ’n hartlike persoonlike verhouding gehandhaaf.
Die 75-jarige Barnard is pas op Gansbaai aan kanker oorlede.
Die scoop waarna ek verwys, is die foto’s van die eerste ontmoeting tussen PW Botha en Nelson Mandela in Tuynhuys.

Die scoopfoto. Barnard staan in die middel. (Foto: Ters Ehlers, via Hennie van Deventer)
Die foto’s is deur PW se private sekretaris, Ters Ehlers, met ’n gewone mik-en-drukkie geneem. Dit het lank in ’n laai stof vergaar. Toe vertel Niël my van die bestaan daarvan. Natuurlik kon die koerantman geen rus of duurte kry nie. Ten einde laaste oortuig ek vir Botha en, via Kobie Coetsee, ook vir Mandela in die gevangenis.
Die res van die land se koerante was maar afgehaal toe die Vrystaatse dagblad in die kleine Bloemfontein hulle scoop dat hulle stilstaan.
Barnard was altyd openhartig met ons redakteurs van die Nasionale Pers. Ek onthou spesifiek ’n middagbraai by Ton Vosloo se huis in Wynberg met die naam Spy Glass Hill. Onder ander Ebbe Dommisse en Alf Ries was ook teenwoordig. Barnard het ons ingelig dat hy bekommerd is oor Mandela se gesondheid. Die man se enkels swel kwaai. Dit was twee dekades voor sy dood!
Ek onthou ook ’n onderhoud met Barnard in sy kantoor in Pretoria waarin hy my waardevolle agtergrondmateriaal oor Mandela verskaf het. Op grond daarvan het ek ’n ingeligte Willem-rubriek kon skryf en ook ’n hoofartikel waarin geskimp is dat dit tyd is om Mandela vry te laat. Dit was nog voor Willem Wepener se oproep in Beeld wat oor die aardbol weerklink het.
Niël en politieke beriggewer Alf Ries was as’t ware boesemvriende. Hulle het op dieselfde dag verjaar en het dit meermale saamgevier. ’n Keer het Barnard Ries vir middagete na sy kantoor genooi. Kelners dra toe op skinkborde bedek met ronde blink deksels die gereg in: kreefsterte. Ries was allergies vir kreef. Eers weifel hy, maar toe besluit hy tog om Barnard in te lig.
Geen probleem nie, antwoord Barnard. Hy tel die telefoon op. Na ’n lang ruk kom die plaasvervangende maal: hamburgers!
’n Laaste persoonlike herinnering is van pogings om my in die jare 90 vir ’n pos by die Departement van Inligting te werf. Die laaste gesprek hieroor was in Barnard se kantoor in Pretoria saam met Roelf Meyer. Gelukkig het Ton Vosloo ’n stokkie daarvoor gesteek. So ’n loopbaansprong sou nie vir die kanniedoodkoerantman gedeug het nie. Barnard was egter vieserig.
Met sy dood betuig ek graag my persoonlike respek en waardering vir die man Niël Barnard wat as jong hoogleraar in staatkunde by die Vrystaatse Universiteit deur Botha raakgesien is en met die groot verantwoordelikheid van die land se veiligheid beklee is. In die uitvoering van sy gedugte taak het hy ook internasionale respek verwerf.
Al het Niël nie van die pers gehou nie, was hy ’n gewaardeerde vriend.
The post Elders gesien: Herinneringe aan wyle Niël Barnard first appeared on LitNet.
The post Elders gesien: Herinneringe aan wyle Niël Barnard appeared first on LitNet.