James Matthews stands as the symbolic figure of the situation of black writing. His book Cry rage! is the first book of poems ever to be banned within South Africa. – Nadine Gordimer[1]
Matthews is regarded as the doyen of the new black writers, because he provides a link with the writers of the previous period when he was writing short fiction, and because of his fearless expression of opposition to repression through the years, weathering bannings, withdrawn travel documents and imprisonment. – Ursula Barnett[2]
“James is nou in ’n slegte tyd; hy herken ons nie meer nie.” Dis Fadli Wagiet. Ek het pas geparkeer om die begrafnisdiens van Anastasia de Vries in die Immaculate Conception Katolieke Kerk in Parow by te woon. Ja, dis moeilike tye. Ek skakel die foon af. James was die afgelope tyd bedlêend. Ek het hom juis die vorige Saterdag gaan besoek na die troosdiens vir Abraham de Vries.
“Hy slaap, maar jy kan inkom,” het sy versorger, Marilyn, gesê.
“Liewer nie, ek wil hom nie steur nie.”
“Die huis is koud, en hy bly koud. Sy lyf is koud, maar ons hou die verwarmer heeltyd aan. As hy kan, stoot ons hom uit om in die son te kom sit. Hy verkyk hom aan die tuin.” Dis die nuwe inheemse tuin wat ’n paar jaar gelede geplant is deur Zain Matthews, ’n gids van Kirstenbosch Botaniese Tuin, ’n klomp vriende en ’n groep skoolkinders van omringende skole – Athlone, Lotus, Silverleaf, South Peninsula en Windermere – wat nou in volle bloei staan. Ons het vir nog ’n halfuur by die hek gesels oor palliatiewe versorging en die ongeduld en onrustigheid van haar pasiënt.
’n Uur later skakel Marilyn. “Hy’s nou wakker, jy kan nou kom as jy naby is.”
“Ek is 70 km van die Kaap. Sê vir James ek maak ’n draai in die week.” Ek het nie my draaie gekry nie. Na Anastasia se diens skakel ek my foon aan, en die eerste WhatsApp-boodskap is ’n aankondiging van Fadli: “It is with sadness that we announce the passing of the renowned writer and poet James Matthews. James passed peacefully in his sleep today. From God we come and to God we return.” Sy dood was nie onverwags nie. Die verlies van dié merkwaardige man bring diep hartseer vir baie mense.
*
Karige feite van sy lewe is bekend. Hy is gebore op 24 Mei 1929 teen die hange van Bo-Kaap, die oudste kind van Maria en James sr. Hy begin sy skoolloopbaan by Prestwich Laerskool in Groenpunt en woon daarna Trafalgar Hoër in Distrik Ses by, destyds een van slegs twee hoërskole vir niewit leerlinge in Kaapstad. Vroeg in sy standerd 8-jaar doen hy ’n kopbesering op wat hom vir drie maande uit die skool hou. Daarna sukkel hy om by te bly met wiskunde en skop uit frustrasie op. Hy begin as ’n koerantverkoper werk; daarna word hy ’n bode, vanslewe ’n “office boy” genoem.
Later word hy ’n klerk in die Cape Times-redaksiekantoor en ’n korrespondent vir die Johannesburgse Golden City Post. Tydens ’n geskil oor salarisse lei Matthews die eerste staking by ’n koerant. Hy word ’n nagtelefonis by die Cape Times, maar word later vir dronkenskap afgedank: “There, for the first and only time in my life I was fired for being drunk. It was beautiful! And the guy who fired me, his name was Judge.”[3]
Vanaf die vroeë 1960’s werk hy saam met imam Abdullah Haron by Muslim News en omvorm dit tot ’n belangrike antiapartheid publikasie: “It became the most political paper in the Cape. We were the only people that supported the struggle then.”[4]
Reeds vroeg ontdek ’n onderwyser die skryftalent wat James se lewensloop sou verander.
In sy eie woorde tydens die toekenning van ’n eredoktorsgraad:
I was almost 14 and in standard eight (grade 10) when we were asked to write a composition. It is now termed creative writing. I will never forget the name of our English teacher – Miss Meredith. She announced to the class that I had written a short story and not a composition. She marked it 21, one mark above the accepted 20 and informed the class that I was a writer.[5]
Skryf en lees loop hand aan hand, en vir Matthews was dit ook die geval. Die armoede van sy gesin was nie net materieel nie, maar die kinders is ook nie kultureel blootgestel nie. “I grew up in a household where there were no shelves filled with books.”[6] Hy ontdek per toeval ’n boekery, en soos vir Peter Abrahams in Tell freedom open dit ’n totaal nuwe wêreld:
My introduction to a library was one of wonderment. I was a messenger at the Cape Times and a reporter asked me to take her books to the library. I was confronted by row upon row of stalls stacked with books. My eyes travelled along the lines of names and titles. None of them were known to me. My reading at that stage was limited to James Hadley Chase. Tentatively I asked the reporter if I could take out a book for myself when I returned her books the following time. She agreed and a new world opened to me because public libraries were then exclusively for the benefit of whites.[7]
Matthews was ’n outodidak. Oral in sy huis in Silvertown, Athlone was daar boeke, sy boekrakke tot oorlopens vol. Daar was stapels op die vloer, op die sofa en op stoele, onder en bo-op tafels, in die kombuis, in die slaapkamer tussen sy gewigte en oefenapparate, nog stapels boeke langs ’n dubbelmatras op die vloer.
Ek was telkens verbaas oor sy belesenheid. Ek onthou dat ons eenkeer onder die reuse moerbeiboom in sy ou tuin gepraat het oor Pablo Neruda en Ernesto Cardenal. Op ’n ander keer het hy uitgebreid uitgewei oor die karakterisering in Fontamara, Ignazio Silone se bekendste roman, wat hom herinner het aan armoede en ontbering in Suid-Afrika. Dit was nie ongewoon dat hy met die oog van ’n skrywer kon praat oor die tekste van Tolstoi, Balzac, Gorky of Maupassant nie. “I’ve a far broader knowledge of writing than just English writers,” verklaar hy in ’n onderhoud wat ek 25 jaar gelede met hom gevoer het.[8]
Die James wat ek jare gelede leer ken het, was ’n bohemien wat hom min aan sosiale konvensies gesteur het. Van sy kennisse en vriende sal baie stories kan ophaal oor die jonger James wat min gepla was oor stand en prestige, en pretensie verag het. Richard Rive onthou hulle ontmoeting so:
[W]hile Barney [Desai] was on the line a small, aggressive, unshaven young man slightly older than I was, looking ostentatiously working-class, shuffled in, nodded vaguely at Barney, ignored me completely, and sat down in an opposite chair sinking his face into a magazine. For a brief moment Barney stopped the telephone conversation, clapped his hand over the receiver and said, “Let me introduce you, Richard Rive, James Matthews.” So there was James Matthews, whose stories I had read in the Weekend Argus; the telephone operator who wrote fiction in his spare time. I knew him, from the articles I had read about him, that he came from a slum area above Bree Street, as beaten up as District Six, and that he had the merest rudiments of a secondary education. I had also heard that he was a member of a powerful gang. I realised immediately that he saw in me everything he despised. I not only looked Coloured middle class, but I spoke Coloured middle class and behaved Coloured working class. I was also a teacher with a Bachelor of Arts degree. In spite of this initial setback we overcame our mutual suspicions and our friendship cemented.[9]
Toe ek kort na die verskyning van Rive se outobiografie vir James vra wat sy reaksie is, was sy kort antwoord: “Richard is a such pompous arse”; en later: “Richard was a sonofabitch in many ways.”[10] Desnieteenstaande het hulle respek vir mekaar gehad, soos gesien kan word dié keer toe James in die openbaar verklaar het: “Two people I must give credit to for enhancing my appreciation of the arts: Peter Clarke ... helped my understanding of art. Richard Rive encouraged literature and classical music.”[11]
Dan is daar die kostelike storie van James wat, nadat hy vir 13 jaar nie ’n paspoort kon kry nie, op sy eerste oorsese reis vertrek het. In Duitsland sorg sy gasheer vir ’n hotel met al die luukse katoeters, onder meer ’n yskassie vol drank teen hemelhoë pryse. Voor sy latere geheelonthouding het hy hom mildelik aan dié gawes gehelp sonder in ag neming daarvan dat iemand daarvoor moes opdok, tot die ergerlike misnoeë van sy gasheer.
Sy ruim stipendium het hy op ’n ander manier gebruik. In sy lewe het hy nooit voorheen soveel harde kontant op een slag gehad nie. Nie ver van sy hotel nie het hy ’n bedelaar of twee of drie – die oorvertellers het die getalle altyd aangepas – raakgeloop, hul armoedigheid gesien en onmiddellik sy stipendium met hulle gedeel, tot die bewende verslaenheid van sy gasheer.
’n Ander storie wat sprekend van dié James is, was die keer toe hy uitgenooi is na een van die ryksmansbuurte in die Kaap waar Nonracial Parties en Culture in hoofletters gevier is. Op soek na een van die geriewe in die huis, kom James af op ’n badkamer met rakkies vol botteltjies, roompies en sepies. Toe die gasheer hom later soek, tref dié hom tot sy ontsteltenis in sy bad aan met ’n dik laag skuim tot onder sy keel. “It was such a beautiful bathroom,” sou James later onthou.
*
Cry rage!, met Gladys Thomas (1934–2022) as sy medeskrywer, is die eerste bundel poësie wat kort na publikasie in 1972 verban is. “Freedom’s child” is sprekend van dié eerste gedigte:
Freedom’s child
You have been denied too long
Fill your lungs and cry rage
Step forward and take your rightful place
You’re not going to grow up
Knocking at the back door
For you there will be no travelling
Third class enforced by law
With segregated schooling
And sitting on the floor
The rivers of our land, mountain tops
And the shore
It is yours, you will not be denied anymore
Cry rage – freedom’s child![12]
Die verbanning van die bundel het verreikende gevolge gehad. Spro-Cas, wat Cry rage! gepubliseer het, het ’n groot verlies gely. Nadat Spro-Cas geweier het om verder betrokke te raak, gee Matthews op eie houtjie Black voices shout!, ’n bloemlesing van nege swart digters, uit. Sy voorwoord in dié BLAC-publikasie is onverskrokke en onwankelbaar in ’n era toe onderdrukking hoogty gevier het:
I will defend my country to the death when it is in the right but will rebuke it severely when in the wrong. To each citizen must be accorded the right to full citizenship, and this right shall not be denied him because of the colour of his skin or religious belief or ethnic group. Freedom of speech and movement is an integral part of citizenship, as well as participation in open elections. A citizen shall have recourse to the courts of law and shall not be imprisoned without trial. The State shall be subject to the citizen and not the citizen subservient to the State.[13]
Black voices shout!, ’n demonstrasie van ontluikende, selfs militante Swart Bewustheid-poësie, is onmiddellik verban en ongewens verklaar. Dié gedig is sprekend:
I
am the liberator
no
white man can liberate me
only
a black man can free himself
from
white exploitation and oppression
rid
himself of self-imposed inferiority
refuse
to take second-class status
realise
the power of his blackness
destroy
the edifice of white supremacy
I
am the liberator.[14]
Die publikasie het hom met ’n hoop geldelike skuld gelaat, “gelykstaande aan twee jaar van sy salaris” as redaksielid van Muslim News.[15] Sy reputasie was gevestig as die draer van “the black ethos as challenger, confronting the white ethos on black ground”,[16] maar sy uitspraak behels ook ’n omvattender begrip van ongebondenheid en vrymag. Hoewel hy in die 1970’s met Black Consciousness verbind is en in die 1980’s by byeenkomste van die United Democratic Front (UDF) opgetree het, sou hy nooit aan enige politieke party behoort nie, want “I [only] pay allegiance to freedom.”[17]
Dit was vir swart skrywers in die 1950’s en 1960’s uiters moeilik om in Suid-Afrika uit te gee, met die gevolg dat die meeste hulle noodsaaklikerwys na buitelandse uitgewerye gewend het. Dié publikasies is dikwels verban en die skrywers binnelands monddood gemaak. Van Matthews se eerste kortverhale verskyn in Quartet, ’n versamelbundel geredigeer deur Richard Rive en uitgegee in die VSA. Sy debuut, Azikwelwa (1962), het in Sweeds verskyn en is eers jare later plaaslik as The park and other stories (1974) uitgegee; so ook sy Die Träume des David Pattersons (1986), later gepubliseer as The party is over (1997). Elders het ek oor die belang van dié Azikwelwa-oomblik[18] geskryf, onder meer dat Matthews met sy debuut op sy skoot nie ’n woord daarvan kon lees nie.
Sy rol in Muslim News, sy poësie en sy uitgesproke antiapartheid uitsprake het daartoe gelei dat hy herhaaldelik aangehou is, maar dit het hom nie daarvan weerhou om sy stem te laat hoor nie. In 1976 het hy die gedigte wat later opgeneem is in Pass me a meatball, Jones (1977), in die doeke van sy eerste kleinkind uitgesmokkel. Ook dié bundel is verban op grond van een gedig, “their wailing was”. Die Direktoraat van Publikasies regverdig hulle besluit op gronde wat min met literêre waarde te doen het en eerder die vergrype van die staat beskerm:
Since these are observations Matthews made while in the Victor Verster Prison, it can be concluded that he is referring to conditions in that prison. These conditions include torture chambers – subterranean hellholes – inhabited by wailing, squirming and screaming inmates. Even allowing for poetic language and imagery, this poem goes too far in undermining the administration of law and prisons in South Africa. It is the sort of poem that can be readily taken up in underground resistance anthologies together with other poems playing on the alleged torture theme in South African prisons so avidly propagated by the communists and the militant left. As such it is prejudicial to the peace and good order …[19]
No time for dreams (1981) en Poisoned wells and other delights (1990) is soos sy vorige bundels tekenend van sy kritiese ingesteldheid ten opsigte van armoede, uitbuiting, uitsluiting en die breë gemeenskap se hunkering na maatskaplike geregtigheid en politieke bevryding. Sy poësie ná 1994, veral dié in Flames and flowers (2000), betrek steeds hierdie kwessies, maar nou ook die onvervulde drome, sy verset teen vreemdelingehaat en die politiek van uitsluiting van die nuwe regering. In Age is a beautiful phase (2008) en Gently stirs my soul (2015) ontdek hy opnuut die vreugde en verwondering van die liefde, en beskou onvermydelik veroudering en die naderende dood.
*
James Matthews was ’n toonaangewende literêre figuur wat aanvanklik internasionaal en later ook plaaslik erken is.[20] Vir opeenvolgende geslagte skrywers was hy die toonbeeld van ’n verbonde kunstenaar met ’n beginselvaste verbintenis tot vryheid. Vir die leerlinge en studente wat hy in poësieskryf onderrig het, was hy “Uncle James”, en vir sy gemeenskap rondom hom “Mr Matthews”. Vir sy kinders was hy “the old man” wat hulle as enkelouer grootgemaak en sy kleinkinders met vreugde om hom vergader het.
Die verlies is groot, maar die einde was nie onverwags nie. Hy het immers reeds in 2008 geskryf:
in the stillness of my garden
i am aware of the sibilant whisper of the wind
as it moves its way through the branches of
towering trees standing sentry on
the outside
[…]
soon i
shall be encased in my sandy tomb
my flesh a bouquet for worms to nurture
another spring.[21]
Eindnotas
[1] Nadine Gordimer, 1973, The black interpreters, Johannesburg: Spro-Cas/Ravan, bl 70.
[2] Ursula Barnett, 1983, A vision of order. A study of black South African literature in English (1914{1980), Londen: Sinclair Browne; Amherst: University of Massachusetts Press, bl 68.
[3] Peter Clarke, James Matthews, Kayzuran Jaffer and Hein Willemse, 2000, “Living through a chunk of the century,” in Hein Willemse (red), More than brothers. Peter Clarke & James Matthews at 70. Kaapstad: Kwela, bl 43.
[4] Clarke ea, bl 43.
[5] James Matthews, 2016, How reading can change your life, Mail & Guardian, 13 April, https://mg.co.za/article/2016-04-13-how-reading-can-change-your-life.
[6] Matthews, 2016.
[7] Matthews, 2016.
[8] Clarke ea, bl 41.
[9] Richard Rive, 1981, Writing black, Kaapstad: David Philip, bl 11.
[10] Clarke ea, bl 46.
[11] Matthews, 2016.
[12] James Matthews, [2005], Cry rage! Odyssey of a dissident poet, Athlone: Realities, bl 94.
[13] James Matthews (red), 1974, Black voices shout! An anthology of poetry. Athlone: BLAC Publishing House.
[14] Matthews (red), 1974, bl 59.
[15] Clarke ea, bl 40.
[16] Gordimer, bl 64.
[17] Clarke ea, bl 43.
[18] Hein Willemse, 2022. A living tribute to James Matthews, writer and man of the people, Daily Maverick, https://www.dailymaverick.co.za/article/2022-07-21-a-living-tribute-to-james-matthews-writer-and-man-of-the-people.
[19] Peter D McDonald. “Documents”, The literature police, https://theliteraturepolice.com/wp-content/uploads/2018/07/censors-report-on-matthewss-pass-me-a-meatball-1978.pdf.
[20] Linda Fischer, 2022. Living human treasures. James Matthews. A dissident poet, Publishers, bl 12.
[21] James Matthews, 2008. Age is a beautiful thing, Athlone: Realities, bl 11.
- Photograph of James Matthews by the Open Book Festival
See also:
The post James Matthews (1929–2024) first appeared on LitNet.
The post James Matthews (1929–2024) appeared first on LitNet.