
Anastasia de Vries (Foto: Menán van Heerden)
In die kort tydjie wat ek vir Anastasia de Vries leer ken het, was daar twee kenmerkende gevoelstoestande wat ek elke maal beleef het tydens interaksies met haar – ’n heersende kalmte wanneer jy haar sien of na haar luister, en uiterse respek vir haar eerlikheid oor enige onderwerp onder die son.
In 2020 op Facebook kry ek ’n boodskap van haar om te hoor of my debuuttoneelstuk, In Slavenhuis 39, beskikbaar is vir haar studente om in haar klas te lees. Ek laat weet haar onmiddellik dat ek tans skryf aan die verwerking van die toneelstuk vir ’n dramaboek wat deur Protea Boekhuis uitgegee sal word. Sy laat weet terug: “Okay, ons wag tot dan.” Dit was op daardie stadium steeds oorweldigend dat my eerste toneelstuk – ’n drama oor vier bruin manstudente op Stellenbosch – mense kon aanraak en laat nadink. Haar versoek was die grootste kompliment wat ek vir myself gehou het.
’n Jaar later was die boek uiteindelik gepubliseer en op Facebook laat weet ek haar. Sy sê hulle soek altyd werke wat sy kan voorskryf en sluit haar boodskap af met “Baie geluk en dankie”, wat ek weer vir myself hou. Ek het voor hierdie boodskappe nooit vir Anastasia ontmoet of iewers raakgeloop nie. Ek het geweet van haar, en met die terugkoms van Vrye Weekblad as aanlyn publikasie baie van haar rubrieke gelees. Ek was dus ’n fan van haar, sonder dat sy geweet het.
Nadat haar studente die boek in die hande gekry het, praat ek en Anastasia weer – sy nooi my vir ’n aanlyn praatjie met haar studente. Ek onthou dit was iewers in Oktober 2021 en ek was toe vas aangestel by my huidige werk, en dankie tog vir die grendelstaat se werk-van-die-huis-af, want toe kon ek vroeg opstaan en die praatjie doen terwyl die e-posse instroom.
Uiteindelik sien ek haar vir die eerste keer in die Zoom-gesprek – fyn, tenger, kalm en spitsvondig. Met al die chaos van die inperkings wat almal se lewens omver gegooi het daardie tyd, het Anastasia de Vries steeds seker gemaak haar studente bly doenig met literatuur en Afrikaans. Ek het gedink wow, ek wens sý was my dosent op universiteit gewees. Ek was behoorlik jaloers op haar studente!
En nadat ek die afgelope week of twee almal se huldeblyke en herinneringe gelees het, is dit haar studente s’n wat my die meeste raak. Hoe ongelooflik om te lees van haar impak as mens, “juffrou”, akademikus en joernalis, en haar nalatenskap wat steeds binne elkeen van haar studente leef.
Anastasia het my laat voel my idees en hoe my plattelandse Afrikaans klink en lees, is genoeg. Ongeag of dit gewild is vir keurders en die literati.
Vroeër die jaar kruis ons paaie weer met haar deelname op die Fiësta-paneel – sy is opgewonde en sien daarna uit om deel te vorm van die paneel. Ek sien haar by ’n paar kunstefeeste en voor en na vertonings maak ons geselsies oor boeke, teater, oor haar nuwe gunstelingwoord, fantalla, en ons lag en maak ’n skyf soos ou pelle wat mekaar vir jare ken.
Sy het steeds nie geweet ek is ’n fan van haar nie, want dit sou nie saak maak nie. Anastasia wou praat oor die verwikkeldheid van dinge, haar studente, die lewe, mense, en was plat op die aarde. Sy wou hê ek moet weer skryf, en toe ek haar vertel van ’n spesifieke boek wat ek tans lees en hoop ek eendag vir die verhoog kan verwerk, het sy sonder om te blik of te bloos gesê: “Doen’it.” Nes ’n dosent wat hul student aanpor ongeag hoe baie vrees of twyfel binne hulle druis, het sy my in daardie oomblik laat voel dat ek alle reg het om ’n ou boek te verplaas in die hede vir ’n nuwe toneelstuk. En aan die einde van ons gesprek sluit sy af met: “Want wat ka’ hulle aan jou doen.”
Lees ook:
Hoe Juffrou se woorde my lewe gered het: "Djy doenit’ie vi my nie, Troubles."
The post Ek wens sy was my dosent ook gewees – dankie vir als, Anastasia first appeared on LitNet.
The post Ek wens sy was my dosent ook gewees – dankie vir als, Anastasia appeared first on LitNet.