Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

Stacey, die gange is nou stil

$
0
0

Ek het nooit gedink dat ek eendag sal moet sit skryf ter nagedagtenis aan Anastasia de Vries (Stacey, soos ek haar kom leer ken het op UWK) nie.

Toe ek in my eerste jaar vakke moes kies, is daar aanbeveel dat ons vakadvies by die Cassinga Lab moet neem. Ek besluit toe om vakke te neem waarin ek goed gevaar het op skool, en is toe reguit na die kort vroutjie agter die Afrikaans en Neerlandistiek-tafeltjie. Ons gesels toe en ek sê vir haar ek stel belang daarin om Afrikaans te doen, maar “ek kannie reg Afrikaans praatie”. Dadelik het sy my ideologie van my eie taalgebruik beïnvloed deur te sê dat ek eintlik mooi praat en dat daar niks fout is met my manier van praat nie – amper soos ’n ma wat haar kind bemoedig.

Kort voor lank het ek tot die besef gekom dat die Departement Afrikaans en Neerlandistiek by UWK meer as net ’n departement is, en nog altyd was. Ons is familie. Weet jy daai waar jy net by jou anties en ouma-hulle se huis kan instap met al die neefs en niggies wat lawaai maak en onmiddellik voel jy tuis? Dit is hoe dit altyd is en was, veral met Stacey in die omtes. Ons UWK-ma. As jy ’n geroesmoes in daardie gange hoor, dan moet jy weet: Stacey is vandag op kantoor. As jy daardie deur oopmaak, sien jy studente oral. Selfs op die mat soos hulle kan sit en klets! Dan hoor jy net: “Kom in. Maak toe’rie deur.” Maar die geklets stop nie net daar nie. Trouens kon jy ook vir Stacey enige tyd in die aand bel vir raad oor jou navorsing of om bloot net te gesels – as jy jou weer kom kry, praat julle al ’n uur lank op WhatsApp.

(Ek kry sommer nou ’n lag. Diegene wat vir Stacey ken, weet dis eintlik baie melk en vyf sykers innie koffie!)

As ek aan Stacey dink, dan duik daardie gospellied nogal by my op: “Way maker, miracle worker” deur Leeland. Dit was wie sy is. Sy het deure oopgetrap en oopgehou vir ons as studente, tutors en junior dosente. Sy het vir haar studente geleef. ’n “Way” gemaak vir ons almal.

Stacey het geweet dat daar studente is wat swaarkry. Sy het ’n tipe sopkombuis met een van ons nagraadse studente begin waar daar vir die eerstejaarstudente in die koshuise kos uitgedeel is – ’n “way” gemaak is. Daardie swaarkry het ek óók raakgesien, en ek het toe besluit om vanjaar te begin vrugte koop vir my voorgraadse studente. Toe Stacey daarvan hoor, toe kom vertel sy my: “Djy’s soes ek. Djy remind my baie aan myself. Ôs wiet waa’deurie studente gaan. Ôs ken daai struggle coz ôs kô vannie Cape Flats.” Later het sy finansieel bygedra om te help met wat ek doen. En dis net daai vir my – ek wil nie net ’n gewone dosent wees nie. Ek wil, net soos Stacey, ’n dosent wees wat vir ons mense en studente omsien en hulle opbou, en ’n “way” maak sodat hulle kan presteer in die lewe.

Stacey, jý het as ma vir ons almal opgetree, as ma in ons geglo, en as ma jou huis vir ons oopgemaak. Kyk wat sê jou studente:

  • “Sy was nie net ’n dosent nie, maar ook ’n moederfiguur ... Anastasia het my nie net gehelp om akademies te groei nie, maar sy het ook ’n diep impak op my selfwaarde en selfvertroue gehad.” – Johan Burger (honneursstudent)
  • “Ana het elke naweek gesê: ‘Julle gaan my nie boodskap dié naweek nie’, maar dan is sy die een om te boodskap. Opgewonde oor jou skripsie.” – Nina-Rose Clark (honneursstudent)
  • “Sy het in my geglo toe ek nie in myself geglo het nie. Haar kantoor is die plek waar almal bymekaar gekom het of dit nou vir werk, gesels of eet is ... Dinsdagoggend kom ons weereens in haar kantoor bymekaar – dié keer om te huil.” – Emmarentia Baartman (meestersstudent)

Stacey, die gange is nou stil. Ons huis is stil. Dis tekenend dat jý, liewe Stacey, verhuis het.

Rus sag, onse Stacey.

The post Stacey, die gange is nou stil first appeared on LitNet.

The post Stacey, die gange is nou stil appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472