Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

Momente met Braam de Vries

$
0
0

In Junie 1996 het Hannie en Braam de Vries by ons in Nijmegen gekuier. Hulle het Nijmegen, vlak by die grens met Duitsland, glad nie geken nie. Waarvan hulle ewe min geweet het, was die aanwesigheid van heuwels en skerp afdalings as jy rigting Duitsland fietsry. Om fiets te ry, dit was nou ’n mooi plannetjie, het Braam gedink. Hoewel hy 30 jaar daarvóór vir die laaste keer fiets gery het (sy vroom versinsel?), sien hy geen beswaar teen ’n fietstog nie. Braam was nie te oortuig van argumente teen sy hernude fietsryery nie. Op die fiets van my vrou, Reina (weens die gerieflike opstap en afstap), het Braam die straat uit gery en met my as beskermengel koers gekry rigting die heuwels.

Wonder bo wonder het ons ongeskonde in die dorpie Berg-en-Dal aangekom, maar daar sit ons met die gebakte pere. Ons moes klim op ’n sogenaamde Holle Weg en na enkele meters was dit loop met die fietse aan die hand. Twee fietsryspanne ry ons klimmend verby. Op die top van die heuwel hoor ons een van die sportfietsers teenoor ’n lid van die ander span sê, terwyl hy met sy kop na Braam wys: “Hoort die kerel bij jullie?!” Ondanks sy asemnood moes Braam hartlik lag.

Die afdaling was eenvoudiger, en so beland ons in die moerassige natuurgebied van die Geldersche Poort. Gelukkig was die wilde Limousin-beeste van daardie gebied op ’n ander plek en was besorgdheid om Braam se moontlike reaksie op die angsaanjaende diere met hul horings oorbodig. Wel het Braam hom glad nie lekker gevoel nie, met die gevolg dat ons in ’n klein winkeltjies soetgoed moes koop om sy suikervlak te laat styg. Teen die aand was Braam flink soos altyd, terwyl ek dodelik moeg (maar dankbaar) was.

Uit die opdragte aan my en my vrou in Braam se boeke, en met behulp van foto’s wat Hannie ons stuur, kan ek die gevolgtrekking maak dat Hannie en Braam ook in 1996 en 1998 by ons gebly het. Vermoedelik was daar ’n verband met die gaslesings wat Braam aan sy vertroude Universiteit van Amsterdam gegee het.

Vertroud was Braam sonder twyfel met die stad Amsterdam. Nie net vertroud nie. Hy was mal oor Amsterdam, soos blyk uit sy boek Joernaal uit ’n gragtehuis wat in 1968 verskyn en wat sy Amsterdamse ervarings in 1965 en 1966 beskrywe.

Baie meer indrukwekkend as die Amsterdamse gragtehuise is vir Braam die Amsterdamse mense wat prontuit antwoord gee. Die begin lê by die baasspelerige hospitas en die primitiewe badkamers: “Die badkamer was nooit in gebruik nie om die eenvoudige rede dat daarnatoe nie water aangelê was nie, maar die stortbad is in die kombuis, dis ’n hokkie wat afgeskort is met vier plastiekgordyntjies. Die warm water kom met ’n tuinslang uit die wasbak se kraan.”

Dan ontdek hy die karakteristieke besoekers van Amsterdamse kroeë. Dikwels is dit vaste klante van byvoorbeeld die buurtkroegie Lucas Bar. Onder die naam staan op die venster: “Hier geen fietsen plaatsen”. Braam was besonder gevoelig vir sulke snaakse toevallighede of gelyktydighede. By die eienaar, Lucas, sit en praat hy, maar gelyktydig luister hy na die stories wat die besoekers vertel. Die verhale kan op versinsels berus, maar dit maak hulle nie minder interessant nie.

Hierdie verhale is op hulle beurt weer aanleiding tot ander verhale. Die verhale lyk oppervlakkig en vol gemeenplase, maar hulle openbaar verlangens, verborge emosies en talente wat buite die wêreld van die kroeg nie tot hulle reg gekom het nie. Braam sien die motiewe van mense om die lewe ondanks alle teenspoed te koester, om selfs gedurende wanhoop nog te bly lewe. Verhale is vir hom deurslaggewend, ook verhale wat ’n eenheid met musiek vorm, byvoorbeeld die “smartlap”: “’n Smartlap vertel gewoonlik die treurigste verhaal waaraan jy kan dink, hoe treuriger, hoe beter.”

Een van die besoekers van die kroeg is Dik. “Dik het net die stem vir smartlappen en hoewel hy groot en geset is, het hy ’n hartjie wat in enige jenewerglasie sou pas. Partymaal gebeur dit dat hy self ook ’n traan wegpink onder sy bril uit of sy kop wegdraai en uitkyk na buite, waar die donker hierdie tyd van die jaar stadig om die iepe en die gewels toesak.”

Die debuut van Braam de Vries lê vóór sy Amsterdamse jare. Binne sy ontwikkeling na steeds verfynder verhale met subtiele leitmotiewe en psigologiese diepgang is Amsterdam een blyplek van die geheue, en die Nederlandse taal ’n toevlug, ’n vryplaas om tot verhaal te kom en eie emosies verhullend te openbaar.

Die gebruik van Nederlandse idiome in die werk van Braam de Vries is ’n moontlikheid om jou te verskuil as die lewe te opdringerig word, om van identiteit te wissel en om die aandag te rig op die woord as bousteen van die konstruksie van werklikheid. Die sitate uit Nederlandstalige letterkunde wat Braam veelvuldig gebruik, soos van Vondel of Kloos, of rympies op Amsterdamse gewels, is ’n vorm van legitimasie van sy aanwesigheid in die Lae Lande. Miskien is dit vergelykbaar met sy groot gevoeligheid vir die taal van die mense in sy geboortestreek, die Klein Karoo. Braam was geseën met ’n sensitiewe oor vir subtiele, klein nuanses. Die taal maak die mens. Sy liefde vir die Kaapse Afrikaans en sy waardering vir skrywers soos Adam Small en Patrick Petersen sluit aan by die plek van Nederlands in sy werk, afkomstig uit boeke en opgetel uit die alledaagse lewe.

Humor is essensieel deel van die werk en van die lewenshouding van Abraham de Vries; bitter ironie of sinisme is nie die kern van Braam se werk nie. Na my gevoel is dit milde humor, selfs dan, wanneer daar sprake is van leed en verdriet. Humor is ’n moeilike begrip om te verduidelik. Dit gaan by humor nie in die eerste plek om wat snaaks is nie. Dit is ook deel van Braam se werk, maar baie  belangriker is humor as aktiewe aanvaarding van die teenstrydighede en onthutsende ervarings van die menslike bestaan. Humor het die laaste woord by die afwesigheid van sin. Humor is die oorkoepelende sin van ondanks en ten spyte van. Hierdie sin in weerwil van die onsin, of skynbare onsin van die lewe, is die diep grond van die verhale van Abraham de Vries.

Verhale kan ’n mens neerhaal of verkleineer, maar verhale kan jou ook ophelp en lewensmoed verskaf. Sulke stories het die vermoë om te ontroer. Daarby staan vir my, uit die volheid van hierdie ryk oeuvre, die stories oor Kersfees voor die gees. In “Kerssang by pitlamplig” uit 1965 vra die verteller: “Ken jy die Klein Karoo op ’n Oukersnag?” Die leser hoor dan van die tradisie dat die plaaswerkers en hul gesinne in die Kersnag by die plase langs gaan en die Kersgesange sing. Die eerste weergawe van hierdie verhaal eindig met: “Vir almal wat, bekend of naamloos, Kersfees in die Klein Karoo ’n kosbare besit gemaak het, maak ek hierdie herinnerings wakker. En ons dra dit op aan die wat reeds op die ope velde anderkant die sterre is waar sorge nie meer bestaan nie omdat alles verbygegaan het en alle beloftes waar geword het.”

Dertig jaar later publiseer Braam ’n nuwe storie onder dieselfde titel. Hierdie nuwe storie eindig met: “Wie, o wie, dink ek later, voor ons inslaap met om ons die vriendelike geluide van die huis wat wentel in die koeler nanag in, wie het soveel deernis met die mens om ons so aan mekaar uit te lewer? Mekaar se geskenke in hierdie geskenkenag. Ondanks, in weerwil van, nietemin.”

Ons hier in Nijmegen gedenk dankbaar en vol ontroering ’n dierbare vriend, ’n “friend of friends” wat van mense gehou het en ook goed was vir mense wat hy nie geken het nie.

  • Hans Ester, 29 Augustus 2024

The post Momente met Braam de Vries first appeared on LitNet.

The post Momente met Braam de Vries appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>