
Foto: Izak de Vries
PEN Afrikaans groet vandag met groot weemoed die literêre reus, Adam Small. Mag hy sag slaap en sy geliefdes troos vind in die wete dat hy hierdie wêreld beslis nie onaangeraak gelaat het nie.
PEN Afrikaans groet vandag met groot weemoed die literêre reus, Adam Small. Mag hy sag slaap en sy geliefdes troos vind in die wete dat hy hierdie wêreld beslis nie onaangeraak gelaat het nie.
Kerneels Breytenbach, PEN Afrikaans se voorsitter:
Adam Small is naas Breyten Breytenbach die laaste van die geslag van Sestig wat nog aktief was as woordkunstenaar. Sy afsterwe laat nie alleen 'n groot leemte nie, maar ontneem ons literêre toneel van 'n minsame, trotse figuur. Iemand wat, soos hy dit self gestel het, met sy verse sy gehoor "singend" gelei het. Sy skryfwerk in die Kaapse tongval het 'n sleutelrol gespeel om die waardering vir alle Afrikaanssprekers se bydraes tot ons kultuurerfenis gevestig te kry. Daarbenewens het hy enduit die kruis vir die kunste gedra met sy "dienende digterskap", om JC Kannemeyer aan te haal. Almal wat hom deur die jare leer ken het, sal nooit kan vergeet hoe innemend as mens, en ferm as kunstenaar hy was nie – veral in tye waarin sy siening nie altyd met die modes van die tyd geklop het nie.
Bettina Wyngaard, PEN Afrikaans se ondervoorsitter:
Dis maklik om Adam Small te beskryf as die baanbreker wat Kaaps toeganklik gemaak het as kreatiewe skryftaal. Maklik, en waar. En onvoldoende. Hy was veel meer. Vir baie mense was hy die simboliese pen wat magtiger as die swaard is. My eerste kennismaking met sy werk was as jong kind, omdat my pa gaande was oor sy gedigte, oor die stille verset daarin, oor die waardigheid waarmee hy soveel indignities wat mense moes deurgaan, verwoord het. Vir baie mense was sy woorde die enigste bewys dat hulle nie alleen is in wat hulle deurmaak nie. Vandag is nie net 'n hartseer dag vir Afrikaans nie, dis 'n hartseer dag vir my. 'n Seder het geval.
Danie Marais, PEN Afrikaans se bestuurder:
Adam Small was 'n skrywer wat literêre grense verskuif het, en ook vir lank 'n stil, waardige herinnering aan die skreiende onreg wat apartheid binne die Afrikaanse taalgemeenskap meegebring het. Sy werk het die krag gehad om mense te oortuig dat hulle moreel verplig is om anders te dink en te lewe. My ma het by verskeie geleenthede vertel in watter toestand sy was nadat sy "Kanna hy kô hystoe" die eerste keer gesien het. Familie en vriende het haar tot bedaring probeer bring, maar sy kon nie en wou nie daarna tot bedaring kom nie. Small se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde kan moeilik oorskat word.
The post PEN Afrikaans: Huldeblyk aan Adam Small appeared first on LitNet.