
Foto: https://www.litnet.co.za/author/leopold-scholtz/
Leopold Scholtz, wat gister in die ouderdom van 74 jaar die stryd teen leukemie verloor het, was ’n merkwaardige koerantman en historikus.
As seun van nog ’n bekende joernalis en historikus, Gert Scholtz (eertydse redakteur van die Johannesburgse dagblad Die Transvaler en hegte geesgenoot van oudpremier Hendrik Verwoerd, oor wie hy ’n hagiografiese biografie geskryf het) is hy vernoem na die Duitse historikus Leopold von Ranke, met wie se geskiedkrywing sy eie styl vele eienskappe gedeel het.
Toe Leopold Scholtz besluit dat hy, doktorsgraad en al, vir hom ’n loopbaan in die joernalistiek wil uitkap, het die destydse Nasionale Pers vir hom ’n spesiale salaris-nis geskep, want hoewel ander met doktorsgrade (DF Malan en Albertus Geyer by Die Burger, onder andere) al in die hoë gestoeltes aangestel is, was daar nie voorsiening in die salarisskale vir ’n gewone joernalis met ’n doktorsgraad nie. Ton Vosloo het ingegryp, en Leopold Scholtz se sonderlinge joernalistiek het sy wyd gewaardeerde staanplek in die Afrikaanse joernalistiek gevind.
Scholtz was op sy gelukkigste as hy hoofartikels en ontledende of meningsartikels kon skryf oor die grootse kwessies van die dag, of dit nou plaaslik of internasionaal was. Wat plaaslike kwessies betref, was hy veral lief daarvoor om te interpreteer hoe dit Afrikaners, Afrikaanssprekendes en Afrikaans raak. Hy was op sy vaardige beste wanneer hy internasionale verwikkelinge aan die Afrikaanse leserspubliek kon verduidelik. As joernalis het hy dan ook ’n hoë sport as adjunkredakteur van Die Burger bereik.
..........
Scholtz was op sy gelukkigste as hy hoofartikels en ontledende of meningsartikels kon skryf oor die grootse kwessies van die dag, of dit nou plaaslik of internasionaal was. Wat plaaslike kwessies betref, was hy veral lief daarvoor om te interpreteer hoe dit Afrikaners, Afrikaanssprekendes en Afrikaans raak. Hy was op sy vaardige beste wanneer hy internasionale verwikkelinge aan die Afrikaanse leserspubliek kon verduidelik.
...............
Scholtz het met ’n doktorsgraad in die geskiedenis aan die Universiteit van Leiden in Nederland gepromoveer. Daar het hy sy eggenote, die ewe kundige en wellewende Ingrid Scholtz, ontmoet. Leopold is uiteindelik oorlede in Delft, Nederland.
As historikus was Scholtz stylgewys in ’n groot mate ’n onderskrywer van die positivistiese styl van die man na wie sy ouers hom as baba vernoem het, Van Ranke. Soos Van Ranke het hy argivale navorsing grootliks bo ander navorsing gestel en dit nie graag met persoonlike onderhoude opgevolg nie.
Dit het tot ’n mate van ongenaakbaarheid in sy skryfwerk gelei, wat weliswaar deur sy gemaklike skryfstyl versag is, maar soms die genuanseerdheid van gebeure en betekenis verbloem of gemis het.
Scholtz se doktorale tesis het gehandel oor Christiaan de Wet as krygsgeneraal. Dit het sy ander groot liefde weerspieël, naamlik die militêre. Hy was baie jare lank aan die weermag verbonde.
Leopold Scholtz was ’n sonderlinge kollega. Hy was persoonlik regtig baie behoudend, veral in sy verwagting van die gedrag van alles en almal wat Afrikaans is. Dit het beteken mens het dikwels prinsipieel met hom verskil – soms reëlreg.
.............
Die grootste kompliment wat mens hom kon gee – en ek het darem ook gereeld so gemaak in die baie jare dat ons kollegas was – is dat hy dit hoegenaamd nie teen jou gehou het as jy met hom verskil het nie, solank jy dit ordentlik kon doen, en nie stompsinnig nie. Dit is die merksteen van die ware intellektueel, en van beskaafdheid.
................
Die grootste kompliment wat mens hom kon gee – en ek het darem ook gereeld so gemaak in die baie jare dat ons kollegas was – is dat hy dit hoegenaamd nie teen jou gehou het as jy met hom verskil het nie, solank jy dit ordentlik kon doen, en nie stompsinnig nie. Dit is die merksteen van die ware intellektueel, en van beskaafdheid.
Leopold Scholtz was ’n beskaafde intellektueel wat as sulks onthou sal word deur almal wat met hom saamgestem en met hom verskil het. Mag hy in vrede rus.
Lees ook:
Vroom of regsinnig?: Europese storm ook op pad na Suid-Afrika
Die Slag van die Chambinga, 9 en 11 November 1987: ’n taktiese en operasionele ontleding
The post In memoriam: Leopold Scholtz appeared first on LitNet.