
Beau Brummell en Marietjie. Met ’n rugbybal op ’n strategiese plek het Die Transvaler se fotograaf, Gert Hattingh die nodige gedoen.
’n Legende sterf in Bronkhorstspruit
Die land se eens veelbesproke kaalbaskoning, Beau Brummell, is onlangs skielik aan ’n hartaanval dood. Vandag se jongmense sal heelwaarskynlik nie sy naam eien nie, maar vir baie van ons oudjoernaliste wat tydens die ‘80’s en ‘90’s gewerk het, sal dit moeilik wees om die kleurvolle persoonlikheid te vergeet.
Gereeld op koerantvoorblaaie
Vir nagenoeg ’n dekade het Brummell gereeld op koerantvoorblaaie verskyn oor die nudiste-oord, Beau Valley, wat hy en sy vrou Cecilia duskant Warmbad, nou Bela-Bela, bedryf het.
Aksie Morele Standaarde en die SA Vrouefederasie
Beau Valley het uit die staanspoor onder fel kritiek deurgeloop en sommige predikante het Brummell selfs as “’n kind van die duiwel” bestempel. Organisasies soos Aksie Morele Standaarde en die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie het ook hul stemme by dié koor gevoeg.
Blatante uitsprake en kaal in die openbaar
Sy blatante uitsprake oor die terapeutiese waarde van kaalloop en naaktheid oor die algemeen het menige konserwatiewe burger in daardie jare erg ontstel. Hy het ook ’n paar keer agter tralies beland omdat hy kaal in die openbaar verskyn het.
In die laat tagtigs is ek op ’n sonnige oggend deur die destydse Transvaler in Pretoria getaak om ’n onderhoud met Brummell te gaan voer: Nadat hy gedreig het om tydens ’n internasionale rugbywedstryd naak oor Ellisparkpark se veld te draf, was Suid-Afrika in rep en roer en joernaliste van oral het vir die storie op Beau Valley toegesak.
Eerste kennismaking met kaalbaskoning
Dit sou my eerste kennismaking wees met die legendariese kaalbaskoning en sy vrou – ’n ongewone maar insiggewende ervaring wat my vir ’n lang tyd sal bybly. Na ’n periode van amper 33 jaar is dit moeilik om alles te onthou, maar ’n storie oor nudisme se terapeutiese waarde, sy hegte vriendskap met professor Phillip Tobias, die wêreldbekende paleontoloog, en enkele ander gebeure is steeds helder in my geheue.
Sjarmante en ten volle geklede Brummell
Ek onthou ’n sjarmante en ten volle geklede Brummell het my by Beau Valley se ingang gulhartig ontvang. Cecilia het hierna by ons aangesluit en uit die staanspoor was dit duideik dat die Brummells verfynde en opgevoede mense is wat ’n unieke lewenswyse nastreef met ’n besigheidsmotief.
Onderhoud skop af
Ná die nuttig van tuisgemaakte verversings het die gesprek beweeg in die rigting van die omstrede Beau Valley en nudisme. Brummell het onder andere die geskiedenis gedeel van ’n Duiste psigiater wat in die 1800’s nie hond haaraf kon maak met ’n groep gespanne en depressiewe pasiënte nie. Hy het vertel dié terapeut het die mans en vroue na ’n afgesonderde eiland geneem waar almal van hul klere moes ontslae raak en gedwing is om kaal te loop. Die meeste se angs en depressie het oornag tydens die oefening verdwyn, wat volgens Brummell ’n bewys was dat klere mense se emosies onderdruk.
Ondersteuner van Darwin en vriendskap met Tobias
Uit ons gesprek het dit geblyk dat hy ’n vurige ondersteuner van Charles Darwin se evolusieteorie is en deur dié passie bevriend geraak het met wyle Phillip Tobias. Brummell het tydens die onderhoud klem gelê op “reg leef” en dat nudisme nie met sedeloosheid gepaard gaan nie. Hy het ook lekker gelag oor die negatiewe kommentaar en die immoraliteit waarvan hy beskudig is.
Op dié noot het Brummell hom verskoon om te gaan “verklee” vir die fotosessie. Met ’n rugbybal op ’n strategiese plek het die fotograaf, wyle Gert Hattingh, die nodige gedoen en só het ons onderhoud en kuier ten einde geloop.
* Beau Valley het na 20 jaar in 1998 sy deure finaal gesluit weens finansiële oorwegings.
* Brummell is as Michael Bush gebore en het die naam Beau Brummell in Engeland aangeneem om sy sangloopbaan in die jare ‘60 te bevorder.
* Volgens Brummell se dogter, Cheyanne Bush, het sy verbintenis met Tobias daartoe gelei dat sy en haar pa in 2000 deelgeneem het aan sy televisieprogram, The whole evolution cycle. Net voor die uitsending is die naaktonele deur die sensuurraad se skêr bygedam en die aflewering daarsonder gebeeldsaai.
The post ’n Onderhoud met die land se kaalbaskoning – ’n oudjoernalis onthou ... appeared first on LitNet.