Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

In memoriam: Zandra Bezuidenhout onthou vir MM Walters

$
0
0

’n Jong MM Walters (Foto: Wikipedia)

Die lang, stil woordman is heen. Die skrywer met die sagte bry in sy gemoduleerde stem, die een wie se taal in sy geskrifte bly terg, glans en leef – onverskrokke maar trefseker, soos in die snydende satiriese verse waarmee hy die samelewing van die dag aan die nekhare beetgekry het. Gevestigde idees, tradisies en gebruike, dikwels omgeef van pretensie, moes dit ontgeld, tot die argwaan van gesagsfigure en superbehoudende landsburgers. En dit alles deur die gedurfde dog speelse woordkuns van die sagsinnige reus, Matthys Michielse (MM) Walters.

Maar onderliggend was daar deernis, want Thys Walters, soos hy alombekend was, het sy medemens geken en deurskou, en as digter-skrywer op ’n eiesoortige wyse met sy landgenote se aardse onvolkomenhede en idiosinkrasieë omgegaan. Uit die verskeidenheid genres wat hy skerpsinnig en met presisie beheers het, was dit by uitstek die poësie waarin sy uitsonderlike gawe as literêre jongleur gestalte gekry het, en waarvoor hy onthou sal word.

My eerste kennismaking met Walters was net voor ek destyds sy tweede digbundel, Apocrypha (1969), met ’n leeskring sou behandel. Ek was oorgeesdriftig en het dit gewaag om telefonies met die digter in verbinding te tree, hopende dat hy geneë sou wees om gedagtes te wissel oor sy werk wat in ’n totaal nuwe register geskryf is. Hy was tegemoetkomend en hoflik teenoor die jong vrou wat hom uit die bloute genader het om haar eie taak te vergemaklik, en hy het die vrae met groot geduld beantwoord. So was hy: ’n meester en opvoeder wat beskeie maar met erudisie, dog nie sonder 'n beskaafde entoesiasme nie, met ’n vreemdeling oor sy eie werk sou gesels.

Kort daarna het hy tydens sy deelname aan ’n buitemuurse lesingreeks oor die Afrikaanse literatuur wat deur die Universiteit Kaapstad aangebied is, my eerste waarneming bevestig. Hier was ’n kundige, welsprekende dosent aan die woord, bedaard en sonder ’n sweem van akademiese meerderwaardigheid of vertoon. Nog later het dieselfde eienskappe gespreek uit die wyse waarop hy by sosiale geleenthede teenoor kennisse en tafelgenote sou optree: ’n ouderwetse heer wat sowel sy minderes as sy eweknieë met respek behandel het – belangstellend, bedagsaam en opreg, maar terselfdertyd met humor en ’n sjarmante vonkel in die ligte oë. Aan diepgang het die gesprekke egter nie ontbreek nie, daarvoor was Walters te veel van ’n denker, ingelig en belese. Daarby kon hy moeiteloos tussen erns en die komiese beweeg, waarmee hy jou dikwels onkant gevang het. Was hy ’n closet nar? ’n Filosoof? ’n Bedeesde plattelandse ou met baie geleerdheid en ’n ongewone humorsin? Ja, maar hy was meer, en sou hom nie maklik laat ken nie; daarvoor was hy te teruggetrokke, te uitgeslaap. Miskien was die spreker in sy gedigte ’n manifestasie van sy innerlike, of minstens ’n faset daarvan. Iemand wat fyn waarneem, krities kyk en sy insigte sonder skroom verwoord, genoeg om die leser te laat skater, te laat skaamkry, of in ontkenning te laat vuur spoeg. Hy kon sekuur formuleer en poësie maak uit mense of groepe se alledaagse onbesonnenheid, waarvoor hy as kunstenaar sy eie vorm sou vind – oorspronklik, maar tegnies afgerond. Stilisties het hy egter weggeskram van die oorbekende, en verseg om hom deur die verwagtinge van lesers en literatore te laat inperk. Dit is waarskynlik een verklaring vir die feit dat sommige kritici aanvanklik traag was om sy werk na waarde te skat.

In die Afrikaanse letterkunde was daar maar één MM Walters, enig in die manier waarop hy met sy deurdagte aanpak en noukeurige vakmanskap aktuele temas sou invoer, dit in diens van die digkuns sou uitbuit, en met sy volstrek eie toonaard bekendheid sou verwerf. Hy het uit die staanspoor sy literêre kleim afgesteek en is nooit nageskryf nie, daarvoor was sy eie stem en benadering te uniek.

’n Huldeblyk kan nie reg laat geskied aan MM Walters se oeuvre nie. Lesers kan sy skrywersprofiel op LitNet raadpleeg vir meer besonderhede oor sy lewe en skrywersgeskiedenis, aangevul deur resensies oor sy werk. Maar veral die lees en herlees van sy bundels sal ’n gepaste en tydige huldeblyk wees aan hierdie sonderlinge seun van die Swartland.

Sy afsterwe laat ’n leemte wat kwalik gevul kan word, en die Afrikaanse taalgemeenskap betreur sy heengaan, maar ons is dankbaar vir sy kulturele nalatenskap. ’n Mens wonder hoe sy digterlike respons op hierdie prosaïese woorde sou klink. Skerp en net so effens moedswillig? Of gedemp, met ’n angel in die stert? Albei, waarskynlik, maar dan ook met verrassend nuwe perspektiewe op die wêreld en haar mensdom. As ons dit maar te lese kon kry!

Lees ook:

MM Walters (1929–2020)

The post In memoriam: Zandra Bezuidenhout onthou vir MM Walters appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>