Jy het die goeie stryd gestry, die wedloop voltooi, die wenstreep bereik en enduit toegewyd gebly!
“Larger than life!” Dit was Conrad Sidego. Ek het hom die eerste keer ontmoet toe hy my vir ’n onderhoud in Julie 2005 vir die vakature vir uitvoerende hoof van die SBA (Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans) genooi het. Sy aansteeklike lag, vriendelikheid en die rustige wyse waarop hy en sy kollegas die onderhoud met my gevoer het, sal my altyd bybly. Na die onderhoud het hy my gebel en gelukgewens met my aanstelling. Hierdie geleentheid wat hy my gebied het om die uitvoerende hoof van die SBA te word, het ek met albei hande gegryp. Met Conrad as voorsitter van die direksie, mentor, raadgewer en skakelpersoon het die SBA van krag tot krag gegaan. Wat ’n pad het ons nie saam geloop nie!
Afrikaans en die breër Afrikaanse gemeenskap was sy passie. Hy was die argitek van al die planne wat ons deur die SBA tot uitvoering gebring het. Derduisende skoliere, volwassenes en vele Afrikaanse gemeenskappe het voordeel uit die projekte van die SBA geput. Sy geliefde Afrikaanse slagspreuk “Knus Afrikaans” het neerslag in al ons aktiwiteite gevind. Bemagtiging was die dryfveer en die SBA se aktiwiteite is dienooreenkomstig belyn. Die lees- en ontwikkelingsprojekte wat deur die SBA in skole en in gemeenskappe van stapel gestuur is, is verder uitgebrei. Sien verslag aangeheg. ’n Stewige grondslag is in dié verband deur my voorgangers, Karel Prinsloo, Christa van Louw en Ria Olivier, gelê.
Ons werksaamhede was egter nie net beperk tot die Afrikaanse gemeenskappe nie. Conrad was ’n brugbouer en het geglo in die rol van Afrikaans as ’n taal van versoening. Die XhosAfrika-netwerk is in die lewe geroep om samewerking tussen Xhosa- en Afrikaanssprekers te bevorder. Bemagtigingsprogramme wat daarop afgestem was om weerbare gemeenskappe met vaardighede te bemagtig, is ook in Botshabelo, Khayelitsha en vele ander gemeenskappe van stapel gestuur.
Sy rol as mentor en raadgewer was van onskatbare waarde. In ’n politieke omgewing waar Afrikaans dikwels as die sondebok en vyand geag word, het Conrad nie geskroom om standpunt in te neem nie. Vir hom was taal veel meer as ’n kommunikasiemedium. Dit was ook ’n instrument van kulturele, opvoedkundige, ekonomiese, maatskaplike, spirituele en godsdienstige bemagtiging. Sy denke in dié verband het die grondslag gevorm vir die filosofiese basis waarop die SBA sy visie en missie gefundeer het. Denkers soos Neville Alexander, Jakes Gerwel en leidende akademici aan van ons voorste universiteite, soos Charlyn Dyers, Wannie Carstens, Michael le Cordeur, Gxilishe Sandile, Hein Willemse, Vic Webb en vele ander, het byval gevind by hierdie insigte. Sien skakels verderaan.
- Michael le Cordeur: https://www.dailymaverick.co.za/opinionista/2019-02-01-poverty-and-education-success-the-odds-are-against-us.
- Susan deMartino: https://digitalcollections.sit.edu/cgi/viewcontent.cgi?referer=https://www.google.com/&httpsredir=1&article=1637&context=isp_collection.
- XhosAfrika-netwerk: https://argief.litnet.co.za/article.php?news_id=109686.
Verder was Conrad toegewyd tot die professionele ontwikkeling van jongmense uit sy gemeenskap. Daarvan kan ek en vele ander getuig. Conrad het geleenthede vir soveel van ons mense help ontsluit. Wat ons daarmee gedoen het, was ons saak. Maar hy het nooit geskroom om kontak te maak en ons met sy insigte tot nuwe perspektiewe te oortuig nie. My aanstelling as uitvoerende hoof van die SBA het die basis vir my gelê om die korporatiewe omgewing te verken en verdere loopbaangeleenthede te ontgin. Dit was vir ons ’n onbekende omgewing en ’n politieke “no go”-area! Maar met Conrad se insigte kon ons ons eie ideologiese sieninge en radikale standpunte stelselmatig aanpas in belang van die groter prentjie. In belang van Suid-Afrika en al sy mense.
Hy was ’n Mandela in alle opsigte en ’n toonbeeld van versoening en bemagtiging.
Ons innige medelye aan Amy, die seuns en die groter familie. Ons dra julle op in ons gebede. Sterkte!
Dankie, mater, vir dit wat jy in my en soveel ander se lewens beteken het. Die Afrikaanse gemeenskap is soveel armer, maar jou nalatenskap sal bly voortleef. Rus sag!
The post Rus sag, Conrad Sidego appeared first on LitNet.