
Frikkie Lombard (foto: Naomi Bruwer)
Die hartseer nuus van Frikkie Lombard se heengaan kom op ’n perfekte herfsdag in die Boland. ’n Dag – in die woorde van NP Van Wyk Louw – van “goue akkerblare”, “wingerd wat verbruin”, “witter lug” en “eerste blare” wat “so stilweg in die rookvaal bos en laan (val)”. En vir ons as woordmense vir wie Frikkie jare lank kollega en vriend was, is dié beelde van stroping en verganklikheid, maar ook heiligwording, op ’n vertroude manier vertroostend.
Dr Frederik Johannes Lombard, of Frikkie soos ons hom almal ken, het op 1 April 1982, ná drie jaar as onderwyser by Paul Roos Gimnasium, as mederedakteur by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal in diens getree. Hy het van vroeg af ’n passie vir taal, boeke en nuwe woorde en uitdrukkings gehad, en ’n loopbaan in die leksikografie was nie ’n moeilike keuse nie. Een van die eerste woorde of lemmas wat hy vir die WAT bewerk het, was kruit. En dit was heel gepas, nie as bedekte toespeling daarop dat hy ’n kort lont het nie, maar vanweë sy militêre agtergrond – hy was immers tydens sy dienspligjare ’n luitenant in die weermag. En soos hy almal laat verstaan het, was dit ’n rang kort duskant dié van die weermaghoof. Verder het hy ook ’n hele arsenaal grappies en anekdotes gehad waarmee hy sy kollegas in die personeelkamer vermaak het.
............
Verder het hy ook ’n hele arsenaal grappies en anekdotes gehad waarmee hy sy kollegas in die personeelkamer vermaak het.
..............
’n Sitaat uit CJS Strydom se boek Afrikaners in die vreemde, wat in die artikel van kruit gebruik is, is juis op Frikkie van toepassing: “Woorde verspil hy nie; sy kruit en lood weet hy tot op die juiste oomblik te bewaar” (CJS Strydom, Afrikaners, 1976:148).

Frikkie Lombard en Willem Botha (WAT-argief)
Op 1 April 1993 is Frikkie tot senior mederedakteur bevorder. Dié pos het hy beklee tot hy op 1 Januarie 2002 in die pos van eindredakteur aangestel is. As daar ’n eienskap ten opsigte van woordeboekmaak is waaroor Frikkie by uitstek beskik het, was dit sy vlymskerp insig om betekenis akkuraat, helder en bondig te verwoord. Verder kon hy sitate moeiteloos knip en rangskik sodat hulle die definisie netjies ondersteun. Vanweë sy breë algemene kennis het die mederedakteurs hom met groot vrymoedigheid geraadpleeg – veral wanneer dit oor geskiedenis, weermagsake, fotografie, motorterme of sport gehandel het – en almal is altyd met empatie en begrip, maar dikwels ook ’n goeie skoot humor, behandel. Hy het boonop nie geskroom om erkentlikheid te bewys waar dit geregverdig was nie.

Frikkie Lombard (foto: Naomi Bruwer)
Vir 25 jaar, van 1995 tot 2020, het Frikkie in die Taalkommissie gedien, die eerste 15 jaar as sekretaris en by geleentheid as waarnemende ondervoorsitter. As een van die langsdienende Taalkommissielede het hy ’n betekenisvolle bydrae daartoe gelewer om die Afrikaanse spelreëls te help standaardiseer. Hiervoor is hy ook deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met twee toekennings vereer.
Wat die WAT betref, was Frikkie betrokke by nege van die 16 boekdele, en ook die T-trajek, wat slegs aanlyn bekendgestel is. Die laaste WAT-artikel wat Frikkie kort voor sy aftrede in Oktober 2023 vir redigering onder oë gehad het, was dié van die lemma trek, ’n polisemiese lemma met nie minder nie as 149 betekenisonderskeidings. In daardie stadium het ons nie gedink dat dit profeties sou wees nie. Vir sy aftrede het trek potensieel beteken “van huis, woning, kantoor of werkplek verander” en ook “’n tog wat met onderbrekings gepaard gaan, aanpak of onderneem”. Dit was hom egter nie beskore nie. Uiteindelik het dit beteken dat hy finaal moes “versit of verskuif”.

Lede van die WAT-redaksie by die bekendstelling van T. Voor: Naomi Bruwer, Ilse Harteveld, Tanja Harteveld, Dané Claassen, Marike Snyman, Frikkie Lombard, Alet Cloete, Perlin Manewil, Carin Lawrie, Charléne de Kock. Agter: Gerda de Wet, Dylan Hess, André du Plessis, Jana Luther, Gerda Odendaal, Phillip Louw en Gerhard van Wyk. (Die foto is uit die WAT-argief en verskyn met toestemming.)
Ons het net die hoogste waardering vir die 42 jaar waarin Frikkie die Woordeboek van die Afrikaanse Taal met onderskeiding gedien het. Hy was ’n knap leksikograaf wie se woordvaardigheid en toewyding letterlik boekdele spreek. Ons sal sy menslikheid, kollegialiteit en veral sy humorsin baie mis. En die mooi herinneringe herfs ná herfs met deernis koester.
- Alet Cloete, Senior mederedakteur, Woordeboek van die Afrikaanse Taal
Lees ook:
Foto’s en video’s: WAT stel T bekend op luisterryke T-partytjie
Toespraak gelewer by die WAT-bekendstelling van U: 14 Oktober 2024
The post In memoriam: Frikkie Lombard first appeared on LitNet.
The post In memoriam: Frikkie Lombard appeared first on LitNet.