Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

Joha van Dyk (27 Februarie 1997 – 2 Februarie 2025)

$
0
0

Joha van Dyk (foto verskaf); boekomslae: Branderjaer, Vuurvreter en Kanniedood deur Joha van Dyk (Uitgewer: Human & Rousseau)

Joha van Dyk het haar droom om ’n skrywer te word in 2020 verwesenlik toe haar bielie van ’n debuut, Branderjaer, op 23-jarige ouerdom gepubliseer is. Twee jaar later volg haar tweede boek, Vuurvreter, en net ’n jaar later haar derde, Kanniedood. Uit die staanspoor sou daar vyf boeke oor die Branderjaers wees – een vir elke Branderjaer. Joha se lesers sou elke Branderjaer beter leer ken en verstaan namate elkeen se storie in sy eie boek vertel word – kompleet met die tyd wat aanstap en soos hulle ouer word en nuwe en ou karakters in hulle lewens inkom en in- en uitgeskryf word. Maar vroeg Sondagoggend 2 Februarie 2025 is Joha oorlede. En ek en die res van Joha se lesers ken nog nie Jak en Ellis se stories agter hulle stories en rolle in Branderjaer, Vuurvreter en Kanniedood nie. Benewens, uiteraard, ’n oorweldigende gevoel van verlies van ’n pragtige, slim en ambisieuse jong vrou met ’n belowende skrywersloopbaan voor haar voel ek, as ’n reuse aanhanger van hierdie reeks, ook beroof. Ontneem daarvan om die jongmense wat sy so treffend aan my bekendgestel het, beter te kan leer ken. 

Joha het graag vertel dat die Branderjaers se storie geïnspireer is deur ’n woord wat sy op haar 21ste verjaardag op ’n rooibustoer saam met haar gesin gehoor het. Die toergids het na branderryers as branderjaers verwys; die woord het vir haar uitgestaan en sy het dit in haar notaboekie neergeskryf. ’n Paar maande later het sy die woord weer raakgesien, in ’n blokkiesraaiselwoordeboek rondgeblaai vir inspirasie, en op die woord ekstremis afgekom. Die woorde wat sy hier gevind het, naamlik kanniedood, vuurvreter, stokebrand, bittereinder en klipvreter, het aanleiding tot die noemname van haar vyf hoofkarakters gegee: Louw, Malherbe, Ben, Jak en Ellis word onderskeidelik Bitter, Vuur, Kannie, Stoke en Klippies.

In ’n resensie in November 2020 beskryf ek Branderjaer as ’n tsunami van ’n leeservaring. Hierdie 312-bladsy-boek was anders as enige iets anders in die mark – ’n telefoongids vol karakters, maar almal met ’n rol om te speel. Daar was geen ekstras nie. Niemand was om kosmetiese redes daar nie, en al kon Joha kreatief met Afrikaans speel, het al haar karakters, in al drie haar boeke, deurgaans eg en natuurlik geklink en oorgekom.

........
Joha van Dyk kon skryf – soms byna poëties, soms filmies, altyd in ’n Afrikaans waarmee haar lesers kon identifiseer en waarmee hulle gemaklik was.
........

Hoor hoe raak is die volgende: “No offence, maar as jy deel van die ding wil wees, grawe jy jou eie gat. Ek gaan nie die graaf vashou nie.” Sy pas die uitdrukking “om ’n gat vir jouself te grawe” of “om jou eie graf te grawe” kreatief aan en brei dit uit om iets soos “ek was my hande in onskuld” ook tussen die reëls by te voeg – in geloofwaardige, byna ongeërgde tiener-Afrikaans. ’n Voorbeeld van hoe mooi die baie tipiese “whatever … you do you”, wat báíe gereeld deur traak-my-nieagtige jongmense gebruik word, in Afrikaans “vertaal” kan word. Joha van Dyk kon skryf – soms byna poëties, soms filmies, altyd in ’n Afrikaans waarmee haar lesers kon identifiseer en waarmee hulle gemaklik was.

Branderjaer (2020), Vuurvreter (2022) en Kanniedood (2023) deur Joha van Dyk (Uitgewer: Human & Rousseau)

Al drie Joha se boeke is vanuit twee hoofkarakterperspektiewe geskryf. Branderjaer ontvou om die beurt vanuit Louw (Bitter) en Deidre se perspektief, en lesers leer die ringkoppe van Stormbaai en hoe dinge daar werk of nie werk nie, ken. Die Branderjaers word as ’n adrenalienverslaafde bende, vasgevang in die geheime en geraamtes in die kaste van vorige generasies, voorgestel. Vriendskap, jong liefde, dwelmmisbruik en gesinskonflik as duidelike temas is in al drie boeke die dryfveer agter baie storielyne. Boeliegedrag is ook ’n deurlopende hooftema en word bevestig deur die vyf noemname wat voortspruit uit die manier waarop elke hoofkarakter geboelie is, hulle vrese, en karakterisering. In Branderjaer fokus Joha sterk op die groot klasseverskil tussen Louw (Bitter) en Deidre en die waarde van vertrouensverhoudinge binne vriendskappe, en laat haar lesers met nuttige en betekenisvolle agtergrond en gereedskap om Vuurvreter aan te pak.

Vuurvreter verskyn in 2022 en is met 352 bladsye dikker as Branderjaer. Malherbe, oftewel Vuur, en Mieke is as perspektiefkarakters aan die beurt, en alhoewel Joha hierdie keer meer op die romantiese fokus, skram sy weer nie weg van die moeilike en tipiese onbeholpenheid of lewenslompheid van haar karakters (en lesers) nie. Sy hou vir haar lesers ’n spieël op. ’n Spieël wat sy geglo het baie jongmense sou kon help – wat sy en haar vriendinne op daardie ouderdom sou waardeer het. Ongemaklike, maar relevante kwessies soos geestesgesondheid, eetsteurnisse en ’n ongesonde of verwronge liggaamsbeeld, of liggaamsdismorfiese steuring, kom onder die loep. Joha het hierdie kwessies by haar storie ingeskryf en gehoop dat dit tot meer gesprek daarrondom sou lei.

Kanniedood verskyn vroeg in 2024 en is toe nóg dikker, met 448 bladsye. Joha is gekritiseer oor die lengte van haar boeke en oor die aantal kwessies en/of intriges wat sy in een boek aanspreek. En daar wás baie kwessies en intriges. Haar kommentaar hierop was dat die feit dat Afrikaanse boeke meestal vir haar as tiener te dun na haar smaak was, en sy om dié rede nie juis Afrikaans gelees het nie, sy juis die teenoorgestelde wou probeer regkry.

........
Joha wou vir tieners en jong volwassenes lang en lekker en volgepakte stories gee. Sy het verduidelik dat haar karakters mense is en dat mense morsig is.
........

Joha wou vir tieners en jong volwassenes lang en lekker en volgepakte stories gee. Sy het verduidelik dat haar karakters mense is en dat mense morsig is. Boonop gebeur daar baie, veral wanneer jy ’n tiener is, en so dus ook in en rondom Stormbaai. Daar het al so baie dinge in haar karakters se lewens gebeur wat beïnvloed hoe hulle lewe, watter keuses hulle maak, en hoe hulle binne verhoudings optree. Terselfdertyd is daar só baie eksterne stories en invloede wat húlle beïnvloed, plus nog hulle toekomsdrome en wense, hulle vriendskappe, die Branderjaers se broederskap en die familie wat hierdie tieners in mekaar gevind het. Joha moes aan al hierdie faktore lugtyd gee. Dit sou, volgens haar, ’n onreg wees om alles in 100 of 200 bladsye te probeer inpas. Dit sou ook nie vir haar soos ’n realistiese storie voel nie. Dit het nooit vir my gevoel asof Joha te veel verduidelik nie; vir my het sy, met al haar intriges en oënskynlik lukrake stukkies dialoog en vertellinkies, juis meesterlik gewys eerder as om te vertel.

In Kanniedood span Joha vir Ben (Kannie) en sy suster, Kalla, as perspektiefkarakters in. Hierdie keer verken lesers die gemeenskap “aan die verkeerde kant van die treinspoor” in Breekwater, waar Ben en Kalla se ouerhuis is, en bendes regeer en lesers reeds weet die Branderjaers in die Arena baklei. In hierdie verhaal skryf Joha uitdagings in armer gemeenskappe en bendekultuur en bendebedrywighede eerlik en insiggewend dog met deernis oop. Een van Ben se uitlatings (tipies kort in sy vertellerteks) stel dit onomwonde: “Daar is nie tyd om ’n kind te wees as jy grootword in ’n gang nie.” Iets wat vir seker in ’n paar lesers se klere sou gaan sit het.

Ander temas, soos seksualiteit en boeliegedrag, word ook sensitief hanteer. Verskillende Afrikaanse aksente speel byvoorbeeld ’n betekenisvolle rol as bron van diskriminasie en boeliegedrag. Ook die verskille tussen gemeenskappe wat daagliks genavigeer moet word, word treffend geïllustreer. Kalla stel haar voor dat dit in Stormbaai baie maklik moet wees om tussen reg en verkeerd te onderskei. In Breekwater is dit nie so eenvoudig nie. Kalla weet: “Die wêreld issie so swart en wit nie. Meeste van die tyd is dit grys.”

Die belangrike rol wat vroue in bendegemeenskappe speel, word ook in Kanniedood duidelik, maar die leser moet self die drade knoop om daarby uit te kom, want Joha sou nooit haar lesers met ’n lepel voer nie. Sy sou byvoorbeeld flikkerings van menslikheid in verfoeilike karakters en optredes wys en van haar lesers verwag om tussen die reëls te lees.

Benewens heerlike, boeiende, treffende stories is die takeaways van Joha se boeke, ongeag die ouderdom van die leser, altyd verrykend en verruimend.

........
Joha se erfenis is inderdaad meer as drie lekker dik boeke. Sy het ’n groot bydrae tot ’n meer inklusiewe Afrikaanse jeugfiksieversameling gelewer.
........

Joha van Dyk het met die Branderjaer-sage ’n wêreld oopgeskryf wat aan die meerderheid van haar teikenmark, voorheen en dalk steeds, onbekend was. Haar mark sou immers hoofsaaklik wit, bevoorregte Afrikaanse tieners en jong volwassenes wees. En sy het dit moeiteloos en natuurlik gedoen – waarskynlik juis danksy haar ouderdom en die feit dat haar skryfwerk soos egte, persoonlike daaglikse belewenisse in ’n meer geïntegreerde samelewing, eerder as nagevors, voel. Sy noem inderdaad ook in ’n LitNet-onderhoud dat dit vir haar natuurlik en vanselfsprekend is dat haar karakters al die sosio-ekonomiese groepe en bevolkingsgroepe van ons samelewing moet verteenwoordig, omdat sy grootgeword het met mense van verskillende rasse en kulture in haar lewe. Presies die kategorie Afrikaanse skrywers wat ons baie nodig het. Joha se erfenis is inderdaad meer as drie lekker dik boeke. Sy het ’n groot bydrae tot ’n meer inklusiewe Afrikaanse jeugfiksieversameling gelewer.

En nou is sy weg. Wat ’n ongelooflike verlies. En ons ken nog nie Jak en Ellis se stories nie. Ons sal nooit al die drade wat deur al drie boeke loop, kan knoop nie. Die Branderjaers-sage mag asseblief nooit ’n trilogie genoem word nie. Daar moes vyf boeke gewees het. 

Lees ook:

Joha van Dyk (1997–2025)

’n Huldeblyk aan Joha van Dyk

Cliff-hanger: Joha van Dyk het haar siel in haar woorde vasgeskryf

Elders gesien: Dit was ’n voorreg om Joha se werk uit te gee

Elders gesien: Joha se afsterwe is ’n reuseverlies vir Afrikaans

23-jarige student Joha van Dyk se debuutroman landswyd gepubliseer

Branderjaer deur Joha van Dyk: ’n resensie

Branderjaer deur Joha van Dyk: ’n lesersindruk

The post Joha van Dyk (27 Februarie 1997 – 2 Februarie 2025) first appeared on LitNet.

The post Joha van Dyk (27 Februarie 1997 – 2 Februarie 2025) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>