
Johann de Lange (foto: verskaf)
As ’n gewaardeerde digter sterf, is een van ’n mens se impulse, na die skok en die algemene agge nee daarvan, om sy werk op te som, die boek toe te maak en in die regte vakkie te gaan sit: groot digter, mineur groot, major minor, minor maar ...
In Johann de Lange se geval is die antwoord: Hou hom langs jou bed vir nog ’n ruk; dit maak nie saak nie. Pure woordplesier is wat jy vir weke nog daaruit gaan kry, soos by min ander skrywers. Maar dis ook die antwoord omdat ek vermoed so ’n soort beoordeling het allermins vir Johann self getel.
Ek het hom net in ons studentedae goed geken, as Daniel, soos ons hom genoem het. Dit was so ’n klein deel van sy diep geleefde lewe dat dit te betwyfel is of ek regtig iets kan bydra tot wat tot dusver oor hom geskryf is, en dis aansienlik. Tog staan dit vir my uit hoe verskillend hy toe was van die mens wat hy geword het en wat ek verder net skrams geken het, dog helder omlyn was in sy gedigte en die storietjies oor hom, die skinder wat ’n mens bereik soos met enige ander mens.
Daniel het aangedoen as ’n skugter student, ietwat onseker van homself, toe hy by ons literêre groepie by Tukkies in die laat 1970’s aangesluit het. Dit was gou duidelik hoekom: Om uit te kom as gay daardie tyd was ’n waagmoedige stap; die onverdraagsaamheid was hoog en gevaarlik. Goeie maniere het meestal gegeld, maar daar was gereeld nuus oor gay mense wat aangeval en in hospitale ingeslaan is.
........
Om uit te kom as gay daardie tyd was ’n waagmoedige stap; die onverdraagsaamheid was hoog en gevaarlik. Goeie maniere het meestal gegeld, maar daar was gereeld nuus oor gay mense wat aangeval en in hospitale ingeslaan is. Daniel het gou in die moeilikheid beland by die literêre owerhede ook.
........
Daniel het gou in die moeilikheid beland by die literêre owerhede ook. Ons het ’n blaadjie Vlieg uitgegee – vandag kan ’n mens net jou kop skud oor hoe skraal en eina dit was, maar dit was nog voor die dae van faksmasjiene en het behels dat ons ’n afrolmasjien wat ’n vriend toevallig besit het, in ’n buitekamer by my ouerhuis moes installeer, waarna jy net ’n handvol bladsye kon druk voor jy die drom weer moes inksmeer.
Koos Prinsloo het ’n verhaal in Vlieg III gehad waarin die p-woord verskyn het, en Daniel ’n stukkie homo-erotiek. Op die voorblad was ’n skets van ’n kaal meisie, groot van lyf maar beeldskoon. Ek het ’n voorwoord geskryf waarin ons as vereniging ons distansieer van die Ruiterwag-beheerde studenteraad se aksies. Die universiteit was ’n bietjie in ’n hoek gedryf – verbied hulle die blaadjie weens Koos se “gevloek”, sou dit lyk of hulle dit doen oor my voorwoord. Gelei deur die rektor, Eddie Hamman, het hulle Vlieg III toe aan ’n nasionale publikasiekomitee laat voorlê, wat dit nasionaal verbied het, hoewel verspreiding behels het dat ons dit op ’n toonbank van ’n simpatieke personeellid van die biblioteek neergesit het.
Die hele redaksie is aangekla dat ons die goeie naam van die universiteit in die gedrang gebring het deur ’n verbode publikasie te produseer – dink aan die logika hiervan! – en is voorlopig geskors. Gou het dit tot verdeling onder ons gelei, en onder andere Johann L Marais het hom van ons gedistansieer. (Hy het agterna verskoning gevra daarvoor en alles is gou vergewe.) My 23-jarige gewete was nie bestand hierteen nie en uit pure Calvinistiese skuld omdat ek my medestudente laat skors het, het ek ’n reëling agter die skerms aanvaar: Hulle sal ons opskortings effektief vir die volgende jaar maak, wanneer ons almal klaar is met ons studie, in ruil vir my onderneming om nie met die pers te praat nie.
In die daaropvolgende tugverhoor het ek aangevoer dat ons nie Tukkies se naam in die gedrang bring nie, maar dit inteendeel bevorder, gegewe die positiewe reaksie op ons armsalige blaadjie. Voorts het ek in ’n Sokratiese trant die paneel gevra wat hulle bedoel met die “gemeenskap” wat kwansuis benadeel sou word.
Dit het hulle net vies gemaak. Hulle het by ons reëling gehou en ons “opgeskorte skorsings” gegee, maar my verbied om vir die res van die jaar aan enige studentepolitiek deel te neem, wat die redakteurskap van Vlieg ingesluit het.
Dit was toe nie genoeg vir hulle nie. Die meeste van die redaksie het eintlik skotvry daarvan afgekom; dit was selfs opwindend, goed vir ons CV’s. Die mense wat dit ontgeld het, was Koos en Daniel: Hulle onderwysbeurse is teruggetrek, en ek praat onder korreksie, maar hulle moes wat reeds betaal is, teruggee. Veral Daniel het dit nie breed gehad nie.
Maar toe begin sekere lektore soos Piet Haasbroek en Rena Pretorius aanvoer dat Daniel plagiaat gepleeg het. Daniel het erken: Hy het ’n passasie uit ’n William Goldman-roman geneem en dit verander in gay-erotiek. Vir my was dit genoeg; dis sodanig aangepas dat dit heeltemal verskil het en was dus pastiche, parodie of bloot kommentaar. Maar die storie oor moontlike plagiaat was ontstemmend, veral komende van mense na wie jy opgesien het.
.......
Ek het baie beskermend teenoor Daniel/Johann gevoel, ook omdat ek vier jaar ouer was, maar het gou agtergekom dat hy dit nie nodig het nie. Die hele affêre, soos ook met Koos, het die staal in hulle na vore gebring.
.......
Ek het baie beskermend teenoor Daniel/Johann gevoel, ook omdat ek vier jaar ouer was, maar het gou agtergekom dat hy dit nie nodig het nie. Die hele affêre, soos ook met Koos, het die staal in hulle na vore gebring. Dis in daardie tyd dat Johann ’n nuwe persona begin aanneem het, een wat alles krities benader het, ook homself. Hy het besluit dat hy as digter op die verkeerde pad is, net nie goed genoeg nie. Dit was ’n voorbeeld wat ons almal kon volg; die rolle het omgekeer begin raak.
Dit het my dwars in die krop gesteek dat hy in die jare hierna ’n noue vriendskap met Rena Pretorius aangeknoop het, ’n apartheidsapologeet wat haar van ons gedistansieer het as “beskermvrou”, hoewel sy dit nie meer was nie en die studenteraad voorgehou het as model vir ons toekomstige operasies. Maar die proef is in die poeding: Die digkuns van Johann de Lange wat ons so verkwik het in die dekades hierna, was gewortel, onder andere, in die tegniese terugvoer wat sy as voormalige wiskundige aan hom kon gee.
As Johann de Lange het ons paaie net sporadies hierna gekruis. Ek onthou egter een lang gesprek by sy werksplek, Exclusive Books, met groot genot, een van die leersaamste wat ek nog met enigiemand gehad het. Ek het hom begin aanprys oor sy jongste bundel en hy het geantwoord met ’n skeptiese: “Dink jy regtig so?” Ek het ’n effe onthuts iets gesê, soos maar Daniel, jou gedigte is wel net klein masjientjies, maar hulle tower hele wêrelde op.
.......
Natuurlik was die digkuns allerbelangrik vir Johann, maar nie belangriker as die lewe self nie. Sy soeke was altyd na die plesier en bevrediging wat die lewe self soveel beter kan verskaf.
........
Ag nee wat, het sy argument verloop, dis niks vergeleke met musiekvideo’s nie, wat in daardie tyd weens die voortstomende tegnologie kwantumspronge in gehalte gemaak en hulle werklik as ’n nuwe kunsvorm gevestig het. Ek kan nie onthou watter video’s ons bespreek het nie (Michael Jackson? Dire Straits? Pink Floyd?) maar in sy beskrywing van die ingevlegte narratiewe, animasie, kunsontwerp, kinematografie en natuurlik die musiek het ek weer die vas-op-die-aarde Daniel herken wat sy eie stand en statuur met groot akkuraatheid en beskeidenheid kon vasstel.
So ’n soort les kan vandag ook net goed wees vir die digters, romansiers en filosowe wat hulself so ernstig opneem. Natuurlik was die digkuns allerbelangrik vir Johann, maar nie belangriker as die lewe self nie. Sy soeke was altyd na die plesier en bevrediging wat die lewe self soveel beter kan verskaf.
Alle skrywers het groot selfgeloof nodig – ander sou dit narsisme of egoïsme, of deesdae neurodivergensie noem – om die onvermydelike terugslae te hanteer, en in my geval het daardie gesprek tussen ons my dikwels aangemoedig om die werklikheid omtrent myself in die oë te kyk en te gebruik as basis vir die volgende ding.
Dankie Daniel/Johann.
Lees ook:
Seen elsewhere: Johann de Lange, eternally dedicated and devoted
LitNet Akademies-resensie-essay: 'n Hunkering se grein deur Johann de Lange
Die digkuns van Johann de Lange met spesifieke verwysing na Nagsweet
Die man met die spuitnaald/vulpen – Johann de Lange se Die algebra van nood
As die woorde begin droom: 'n Bundel vir die poësieliefhebber en versamelaar
Deur die loergat: ’n Ondersoek na die voyeuristiese elemente in Johann de Lange se "Olympia"
Die laaste wals – Hennie Aucamp se keuse uit sy verhaalkuns: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Weerlig van die ongeloof spreek van tematiese verskeidenheid en geslaagde natuurbeelding
I wish I’d said ... Vol 1, edited by Johann de Lange and Mantoa Matonyane: a review
The post ’n Huldeblyk aan Johann de Lange first appeared on LitNet.
The post ’n Huldeblyk aan Johann de Lange appeared first on LitNet.