
Athol Fugard (foto: Elkarien Fourie)
........
“Het jy in jou skryfwerk al by die essensie van jou diepste waarheid uitgekom?” Ons het al twee geweet wat die antwoord is. Ek het op die ingewing van die oomblik die foto hiernaas ter illustrasie van sy aandrang geneem om my te herinner om die vrees te voel, maar nie toe te laat dat dit my verlam nie.
........
Pieter-Dirk Uys vertel in ’n huldeblyk aan Athol Fugard (11 Junie 1932 – 8 Maart 2025) dat sy ou medewerker in die senutergende tyd van middernagtelike klopjagte vir hom gesê het: “Never lose the blade with which you cut your throat.” Hoewel dit hom onkant gevang het, het Uys geweet Fugard bedoel: Moenie dat die vrees jou verlam nie, maar besweer die vrees met jou humorsin. Kortom, wees dapper in die aangesig van die vrees. Uys het bygevoeg ons almal besit een of ander vorm van kreatiwiteit, maar dat vrees dikwels die uitlewing daarvan keer.
Hoe jammer dat ek die dramaturg nie uitgevra het oor die hantering van sy vrees aan die verkeerde kant van ’n onregverdige gereg nie. Uys se vertelling het my teruggevoer na die dag toe Athol Fugard met my oor skrywerskap gepraat het, en my baie streng aangekyk het met sy vinger in die lug. Hy het ernstig gevra: “Het jy in jou skryfwerk al by die essensie van jou diepste waarheid uitgekom?” Ons het al twee geweet wat die antwoord is. Ek het op die ingewing van die oomblik die foto hiernaas ter illustrasie van sy aandrang geneem om my te herinner om die vrees te voel, maar nie toe te laat dat dit my verlam nie.
Daar is weinig by te voeg oor die lewenswerk en invloed van Fugard. Wat hom nog meer merkwaardig as ander veel geroemde kunstenaar maak, is dat hy homself nie so ernstig opgeneem het dat daar nie tyd of plek in sy lewe was om by te dra tot ander se selfverwesenliking nie. Daardie kenmerkende empatie vir mense het gespreek uit die respek waarmee hy almal behandel het, van gelykes tot kelners en mense op straat.
In huldeblyke is vertel hoe ’n vuurvreter hy in sy jong dae was wat, gehul in pypdampe met sy regisseurshoed op, akteurs aangemoedig het om hul eie interpretasie aan ’n rol te gee. Hiermee het hy medewerkers aangemoedig om na hul eie innerlike waarheid te delf.
Minder is bekend oor sy liefde vir die natuur, veral voëls, en dat hy in later jare die kalklig gehaat het. Hy het sy verjaardae liefs geïgnoreer en verwag dat die mense naby hom dit ook moes doen. Tot op die einde was hy ’n outydse gentleman wat vroue hoog geag en hulle met sjarme oorrompel het.
As die ouers van sy vrou Paula, dus streng gesproke sy onwaarskynlike skoonouers, het ek en my man, Tienie, dikwels saam met hulle in restaurante geëet, altyd sonder om ons oor die rekening te bekommer. Sy eerste vraag aan kelners (as hulle dit nie as aanknopingspunt gebruik het nie) was: “Wat is jou naam?” Dan het hy hulle op die naam bly noem en oorvloedig bedank vir goeie diens, hoewel hy as gasheer een keer onstuimig begin raak het toe ons darem te lank moes wag vir ons kos. Tienie is steeds beïndruk omdat hy die enigste van sy skoonseuns was wat formeel ouers kom vra het toe hulle planne begin maak om te trou.
Hy het kort tevore uit Amerika na sy geboorteland teruggekeer. Tydelik tuis in ’n gastehuis in Stellenbosch, het hy nie meer motor bestuur nie en eendag geduldig saam met ’n swart vrou met swaar inkopiesakke by ’n voetgangeroorgang gewag vir ’n kans om oor te stap. Na ’n ruk het hy sake in eie hande geneem en voor die aankomende motors gaan staan sodat die straat veilig oorgesteek kon word. Toe eers, het hy vertel, het hy geweet hy het tuis gekom.
Sy verhouding met ’n jong Afrikaanse PhD-student het net ’n buitekans op sukses gehad, maar hy het later vertel dat toe sy hom die eerste keer op versoek van haar promotor na ’n musiekkonsert vergesel het, hy geweet het sy lewe sou nooit weer dieselfde wees nie. Dit het ook saamgeval met die terugkeer na sy wortels, soos dit beslag gegee is deur sy sterk Afrikaanse ma wat die broodwinner van die gesin was. Sy oudste dogter Lisa, wat in die VSA woon, is vandag dankbaar dat hy vir haar die brug terug na Suid-Afrika gebou het. Dit was Athol se wens dat Paula met haar agtergrond in koorsang die ou Afrikaanse koorgunsteling, die “Magaliesburgse aandlied”, by sy begrafnis moes sing.
........
My wens is dat elkeen wat hier lees, nie uitstel om die Fugardiaanse oproep tot die delf na jou diepste waarheid te volg nie, ongeag hoe moeilik, pynlik of vreesaanjaend dit is.
........
Toe ons Athol in 2013 ontmoet het, het sy betrokkenheid as vurige woordkunstenaar wat die hande van ontheemdes in die lug gehou en die wette wat rasse geskei het, in die teater uitgedaag het, die politieke klemverskuiwing in die land weerspieël. Daar was egter steeds verontregting en haweloses om onder bevoorregte gehore se aandag te bring. En hoe ouer hy geword het, hoe meer het sy liefde vir mense na vore gekom. Hy en Adriaan Vlok, voormalige minister van polisie, het eendag op ’n lughawe so lekker gesels dat hulle amper hul vlug verpas het.
Moenie dat haat jou motiveer nie, skryf eerder uit liefde, want dan is die boodskap sterker, het hy in soveel woorde gesê. Mannie Manim, Athol se lewenslange vriend en kollega, onthou sy byderwetse interpretasie van die ou spreekwoord dat die pen magtiger as die swaard is. Athol het ’n klip en ’n woordeboek vasgehou en gesê in die een hand het hy net een woord (of wapen) maar in die ander ’n hele woordeskat om mense se harte mee te bereik. Dit blyk ook uit sy laaste dramas, wat tekenend is van ’n sensitiewe na binne gekeerdheid, of dit die storie van ’n ongerekende kunstenaar, ’n weggooibaba langs die Eersterivier of die fyn skaduwee van die kleinste voëltjie in die diereryk is.
Toe ons hom leer ken het, kon hy nog vurig raak in ’n enkele woordestryd wat ek met hom oor godsdiens gehad het, maar die jare van vrees vir arrestasie en klopjagte het reeds in die mistigheid van die verlede vervaag. Vir die meeste van sy rasgenote in Suid-Afrika en die Engelssprekende wêreld het hy die fakkel van regverdigheid vooruit gedra, deeglik bewus dat die vlam hom kon brand.
Sy rigtinggewende oproep, dink ek nou, kan net so voor die deur van elke skrywer, bekend of nie, met een talent of vyf, gelê word. My wens is dat elkeen wat hier lees, nie uitstel om die Fugardiaanse oproep tot die delf na jou diepste waarheid te volg nie, ongeag hoe moeilik, pynlik of vreesaanjaend dit is. Hy het dit self bly doen tot op die laaste dag in die laaste van sy menigte notaboeke, al het sy sig so verswak dat hy dit net met sy laaste kragte reggekry het.
Lees ook:
Press release: A tribute to Athol Fugard from the Market Theatre Foundation
Uit die argief:
Athol Fugard and the Serpent Players: The Port Elizabeth years
Playwright Athol Fugard receives award for lifetime contribution to theatre
The post In memoriam: Athol Fugard delf na sy innerlike waarheid tot op die laaste dag first appeared on LitNet.
The post In memoriam: Athol Fugard delf na sy innerlike waarheid tot op die laaste dag appeared first on LitNet.