Imam Muhsin Hendricks is Saterdagoggend in Gqeberha tydens ’n beweerde sluipmoordaanval vermoor.
Dit was seker 25 jaar gelede dat ’n gemeenskaplike vriendin my aan Muhsin Hendricks voorgestel het. Ek onthou daar was heerlike Kaaps-Maleise kos, geure en kleure, en my aangetrokkenheid tot andersheid is onmiddellik geprikkel. Iets het tussen ons geresoneer in ’n vergelykbare verwysingsraamwerk, agtergrond en roeping. Tog het ons uit wyd uiteenlopende agtergronde gekom, geloof-, ras- en kultuurgewys. Muhsin kom uit ’n imam se huis, ek uit ’n NGK-dominee s’n.
Vroeg in ons vriendskap – een van die Bushe moes toe in die Withuis gewees het en was oorlogsugtig aan die opbou na een of ander van die Golfoorloë (teen weapons of mass destruction of in weerwraak teen Saddam Hussein of 9/11, wie weet) – het hy my saam gery na ’n groot optog in Kaapstad teen een of ander vorm van Amerikaanse ekspansionisme.
Muhsin het in statuur toegeneem met sy studies in Pakistan en sy beliggaming as die wêreld se eerste openlike gay imam. ’n Eerste dokumentêr, waardeur sy lewe wêreldwyd opslae begin maak het en LGBTQIA+-Moslems uitgebeeld het, was getiteld A jihad for love (2007). Later het The radical (2022) gevolg wat net op Muhsin gefokus het. In die week van die plaaslike bekendstelling van die fliek het die Muslim Judicial Council ’n fatwa uitgevaardig waarin homoseksualiteit (weer) veroordeel is. Muhsin se bediening het duidelik ’n impak gehad.
Ek het sy denke, sy geloof en sy menswees oor die jare sien ontwikkel. Hy het dit verfyn tot die konsep van “’n deernisvolle Islam” (a compassion-centred Islam) wat, vir dié wat die openheid kon hê om te luister, die grense van seksualiteit, genderidentiteit en -uitdrukking begin oorskry het. Dit het die visie voorgehou van ’n inklusiewe geloof en spiritualiteit wat diversiteit omarm en vier en bydra tot ’n vreedsame en respekvolle wêreld.
Aanvanklik het hy die geloofsgebaseerde organisasie The Inner Circle begin; later het die Al-Ghurbaah Foundation gevolg. Al-Ghurbaah se impak op ons vasteland was veral deur die opleiding van geloofsleiers wat Muhsin jaarliks gelei het, en het wêreldwye resonansie gevind. Muhsin het aan paneelbesprekings oor die wêreld deelgeneem, soms in kontekste wat nie vir hul queervriendelikheid bekend is nie.
Muhsin het vroueleierskap en -bemagtiging in Islam voorgestaan en bevorder. Hy was altyd gereed vir intergeloofsamewerking en ons het die afgelope jare in die Queer Faith Collective saamgewerk. Sy spiritualiteit het oor geloofsgrense gestrek en geïnspireer, en mens was altyd aangeraak deur sy warmte, sy liefde en sy humor. Soos die beste “heilige” sou hy met homself spot, en laas het ons nog half spottend gepraat oor wanneer mens eendag alkohol by ’n Al-Ghurbaah-funksie sou kry. En funksies was daar baie, onder andere met die beëindiging van die vas (iftar) tydens Ramadan. Een van die roerendste ervarings wat ek onlangs gehad het, was toe die South African Jews for a Free Palestine einde verlede jaar ’n sabbat teen die Gaza-volksmoord in Muhsin se queermoskee gehou het. Hier het gemarginaliseerde Jode wat nie ’n sinagoge kon vind om in byeen te kom nie, en queer Moslems wat uit die meeste moskees uitgesluit word, ontmoet deur na die stemme van queer Palestyne en na genderinsluitende vertalings van die Hebreeuse Bybel (die Christelike Ou Testament) te luister.
Muhsin sou nog komende Sondag by ’n byeenkoms van die Queer Faith Collective praat oor die opkomende anti-LGBTQIA+-klimaat in die wêreld … Nou sal ons sy lewe herdenk – sy sagte maar deurdringende stem vir geregtigheid; sy deernisvolle aktivisme; sy warm broerskap oor baie jare. Hy was inderdaad ook mý imam!
-
Skermgrepe uit hierdie video.
The post Ook mý imam Muhsin first appeared on LitNet.
The post Ook mý imam Muhsin appeared first on LitNet.