...
“In letterkunde is daar baie reëls. Maak seker dat jy die reëls ken, en dan verbreek jy dit.” ~ Hans du Plessis
...
Ek ontmoet Hans du Plessis op 22 September 2023 in Cradock by die Etienne van Heerden Veldsoirée. Natuurlik, soos dit met goeie skrywers gaan, weet ek van hom, lees ek sy boeke en gedigte en het selfs sy verhandeling gelees. Wat ’n voorreg was dit om hom te ontmoet!
Ek het van Hans du Plessis as skrywer bewus geword deur sy reeks verhale wat in die Vredefortkoepel afspeel – een van my gunstelingplekke in ons land. Daarna het ek baie van hom en oor hom gelees, en besef dat hy, beide as skrywer en as akademikus, ’n geweldige belangrike bydrae tot Afrikaans lewer. Om die skryfskool by te woon wat hy in Cradock aangebied het, was derhalwe vir my ’n groot persoonlike voorreg en ongelooflike ervaring.
Baie gou was hy vir my oom Hans en sy vrou tannie Magdaleen, en saam met Bernard Odendaal het ons deur Cradock se strate gery en baie gelag. Oom Hans se humor is so natuurlik deel van elke gesprek dat dit net ’n plesier was om na hom te luister. In hulle kamer in die hotel het hy ’n bottel wyn uitgehaal en kon ek op die hoek van die bed sit en na hom en tannie Magdaleen se stories luister. Sekere oomblikke vergeet mens nooit – daardie was een so ’n oomblik.
Kosbaarhede uit sy skryfskool wat ek opgeteken het, sluit in:
- ’n Storie begin in jou kop as ’n idee. Gee daardie idee ’n naam soos Koos of Sarie en begin met hom of haar te gesels – vind uit hoe die idee fiksie wil word en maak dit kuns deur dadelik te begin skryf.
- Storm jou leë skerm en skryf wat die idee vir jou sê om te skryf – vergeet van spel- en taalreëls, moenie dink aan wat reg of verkeerd is nie, gebruik Engelse woorde as jy nie aan die regte Afrikaanse woord kan dink nie; skryf net.
- ’n Storie is ’n string krale aan een toutjie geryg, gebruik plotpunt na plotpunt as krale om die storielyn te skep en te laat vloei. Hoe meer krale, hoe meer spanning en hoe lekkerder lees jou leser.
- Die storie is ’n bouprojek en woorde is die gereedskap. Leer om met min woorde baie te sê. As die storie geskryf is, gebruik jy die hamer en beitel van taal- en skryfkuns om die storie te redigeer.
- In letterkunde is daar baie reëls. Maak seker dat jy die reëls ken, en dan verbreek jy dit. Skep jou eie stem, jou eie kreatiwiteit.
- Hou jouself uit die boek uit! Die storie weet wie die verteller moet wees, nie jy nie – jou werk is om te skryf wat die verteller wil vertel.
- As die storie klaar is, is hy klaar; skryf die slot. Die leser moet weet: Fluit-fluit, die storie is uit.
...
“Die grappe was nooit ver van sy mond af nie.” ~ Jayden Kukari
...
Dis maar enkele van die kosbaarhede wat hy met ons “wanna-be” skrywers gedeel het. Ek het vanjaar ’n student en opkomende skrywer, Jayden Kukari, saam met my na die skryfskool gevat. Op pad terug het hy vertel hoe “Meneer Hans” na sy idees geluister het en “sonder wag” die idee vorm gegee het: “Meneer Hans het my gedagtes bymekaargeskraap,” het hy vertel, “hy het my gewys ek dink verkeerd sonder dat hy gesê het ek dink verkeerd.” Oom Hans se humor het hy baie geniet. “Die grappe was nooit ver van sy mond af nie,” het Jayden vertel toe ek hom oor die kursus uitvra. Dit is hoe ons oom Hans sal onthou: sy opregtheid, sy liefde vir sy taal en met grappe altyd naby sy mond.
Oom Hans wou my storie lees wat ek nie klaargeskryf kry nie. Al het hy gesukkel om te sien, het hy aangebied om na my hoofstukke op sy spesiale rekenaarskerm te kyk en advies te gee. Ek sal my boek sonder oom Hans moet voltooi, maar die kosbare tye in sy geselskap sal ek altyd onthou.
Lees ook:
Persverklaring: Huldeblyke stroom in ná Hans du Plessis se afsterwe
The post Hans du Plessis, ’n huldeblyk first appeared on LitNet.
The post Hans du Plessis, ’n huldeblyk appeared first on LitNet.