
Hans du Plessis (Foto verskaf: LAPA Uitgewers)
Hans du Plessis, ’n hoeksteen in LAPA se uitgewershuis, sterf
Met groot hartseer en ’n gevoel van diep verlies neem ons afskeid van Hans du Plessis, wat op 25 Oktober 2024 skielik oorlede is. Sy heengaan laat ’n groot leemte by LAPA Uitgewers, maar ons is ook oneindig dankbaar vir die rykdom van gedigte, verhale en ander werke wat hy aan ons nagelaat het. Hans sal voortleef in die bladsye van sy boeke en in die harte van sy lesers.
Hans du Plessis was sedert die ontstaan van LAPA een van die hoekstene van ons uitgewershuis. As voorsitter van LAPA se direksie het hy nie net ’n leidende rol gespeel nie, maar hy was ook ’n bron van inspirasie en wysheid vir almal rondom hom. Sy visie en toewyding het ’n blywende invloed op die uitgewersbedryf gehad. As skrywer was hy ’n geliefde lid van die LAPA-familie, bekend vir sy warmte en menslikheid. Hy het ’n besondere band met sy uitgewers gehad, veral met Cecilia Brits, wat in 2019 oorlede is, en Marida Fitzpatrick, sy huidige uitgewer.
Sylvia de Wet, uitgewersdirekteur van Penguin Random House SA en voormalige besturende direkteur van LAPA, sê: “Hy het gereeld sy boodskappe met ‘Liefde’ afgesluit, wat die groot hart weerspieël het waarmee hy elke mens en taak benader het. Hy was ook die ewige gentleman!”
Hans se skeppende werk is ’n skatkis van Afrikaanse letterkunde. Sy oeuvre sluit ses digbundels, drie jeugromans en tien romans in, wat elkeen ’n unieke bydrae tot die Afrikaanse literêre landskap gemaak het. Sy gedigte, rubrieke en kortverhale het talle lesers geraak en geïnspireer. Verder is ses dramas en musiekspele uit sy pen by verskillende kunstefeeste opgevoer, wat sy veelsydigheid as skrywer beklemtoon.
Sy talent en toewyding is met verskeie toekennings bekroon, insluitend die CR Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, ’n erepenning van die SA Akademie en die CBSA-prys vir godsdienstige werk. Sy digbundel, Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte, het meer as 65 000 eksemplare verkoop, ’n bewys van sy vermoë om die siel van sy lesers aan te raak.
Hans se laaste roman, Klein wonderwerk, sal postuum in Februarie 2025 verskyn, en ons sien daarna uit om hierdie finale geskenk van hom met die wêreld te deel. Sy werk sal bly voortleef en toekomstige geslagte inspireer.
Ons sal Hans onthou as die skrywer met die groot hart, ’n ware meester van sy kuns, en ’n geliefde vriend en kollega. Ons gedagtes en gebede is met sy familie en geliefdes in hierdie moeilike tyd.
Rus in vrede, Hans du Plessis. Jy sal altyd in ons herinneringe en harte wees.
Stof tot stof – Psalm 9
Uit: Karos orie dyne (LAPA)
Vannie voortyd af is u my takkraal
innie nag,
vorie berge gebore het en vorie
wêreld da was,
ja, nog lank vorie heel voorste
voorgeslag,
tot altyd toe en van altyd af was U
Jirre gewas.
U sê virrie mens hy moet loop dood:
"Stoffie," sê U, "worre maa wee stof!"
Duisend jaar se span is vi ons groot,
ma vi U smaak dit dis net een skof.
Ons dage is gras wat jy smoors groen sny:
ma hom lewe is tenie aand velep en veby.
Ons koes as ons U kwaad maak,
want U sien onse sondese raak –
ook dies wat ons wil wegsteek.
Onse dage vlie sos dagbreek,
sos kwartels by onse ore veby
sonner lat onsie wysheid kry.
Lat U se groot liefde nou oor ons spoel
solat ons vi altyd jyg en bly kan voel.
Ons is lank gevedrik, en ons het gely.
Maak ons tog net soveel jare wee bly!
Spelle U se planne vi ons dytlik yt,
lat ons ennie kjinnerse U kan dien,
ennie Jirre se hele goetlikheid sien!
Kyk agter onse hanne se werklikheid!
Lees ook:
Persverklaring: Huldeblyke stroom in ná Hans du Plessis se afsterwe
The post Persverklaring: Huldeblyk aan Hans du Plessis (1945–2024) first appeared on LitNet.
The post Persverklaring: Huldeblyk aan Hans du Plessis (1945–2024) appeared first on LitNet.