Nog nooit kon ek my so ver bring om vir Anastasia “jy” of “jou” te sê nie. Dis net nie hoe ek grootgemaak is nie en my eie ma sou my die volle gewig van haar pofferhandjies laat voel het as ek dit sou waag om ’n grootmens te “jy” en “jou”. So, ek sal ook nie nou begin nie … Verdra maar asseblief nog hierdie een keer die sogenaamde sydelingse aanspreekvorm.
Anastasia se dood het ons almal heeltemal gepootjie. Sien, ons praat soms oor die dood, sien die dood om ons en in ons huise – maar steeds kan niks en niemand ons voorberei op die dag wanneer ons iemand geliefd moet groet nie.
Ek besef egter hierdie week opnuut hoe bevoorreg ek was om iemand soos Anastasia op my pad te kon ontmoet. Want dit is in D-34 waar ek besef het dat, ten spyte van die storms van die lewe, ten spyte van die lelik en die swaarkry, ten spyte van die verdrukking en onderdrukking, is daar ’n plek waar goedheid geen perke ken nie … ’n mens wie se goedheid geen perke ken nie.
Sien, Anastasia het net daardie manier gehad om mens te laat glo dat niks onmoontlik is nie, dat ons vir niemand hoef terug te staan nie, dat die wêreld ooplê vir ons.
“Wil djy oppie TV wies?”
Ek onthou hoe ek stomverbaas in die gang van die Afrikaanse-departement, waar Anastasia my tóé al “huiskind” gedoop het, gestaan het. Alhoewel ek nooit ’n student in die departement was nie, het ek in 2016 by die UWK se Afrikaanse Debatsvereniging aangesluit, en het Anastasia se kantoor en die departement vir my, soos vir baie ander studente, ’n veilige vesting kom word.
“Wil djy oppie TV wies?”
Hierdie keer het dit gevoel asof Anastasia by my wil weet hoekom ek nie wil of kán op die TV wees nie. Soos iemand wat vir jou skud en sê dat jy genoeg is en dat jy nooit ooit in jouself durf twyfel nie!
“Almal wil seker op die TV wees, so ek sal seker ook wil,” het ek geantwoord. Steeds uiters kontverstom.
’n Paar maande later sou ek, te danke aan Anastasia, as gasaanbieder op DEKATv verskyn.
“Jy moet vir Die Student skryf,” sou ek ’n hele paar keer hoor voordat ek uiteindelik tot die versoeking ingee en my eerste meningstuk in 2019 verskyn het. Anastasia was só trots. Ek dink dis omdat Anastasia beter as enigeen verstaan het en ons laat besef het hoe belangrik dit is om ook ons stemme daar buite te kry. Die onsienlikes. Die ongehoordes.
“Dies wat met soveel selfvertroue vir Die Student skryf, kan by jou leer (of die Jirre help ons!). Dit gee my soveel hoop dat ’n jongmens nie slegs uit emosie argumenteer en die ad hominem- en strooipopargumente die wêreld instuur nie. Baie dankie, onse huiskind. xxx,” het sy op my Facebook-muur geskryf.
Ons het groot verloor, Anastasia. Hulle wat voor my gekom het. Hulle wat ná ons gekom het. En so ook hulle wat nog móét kom. Die jongmense oor wie Anastasia altyd gesê en geskryf het dat Anastasia tussen hulle wil wees vir wie Anastasia gekom het. Nader aan die waarheid kon dit nie wees nie. Want soos elke ander jongmens met wie Anastasia paaie gekruis het, het ek Anastasia se kantoor en die gange van die departement altyd meer gewaardeerd, meer geliefd en meer geïnspireerd verlaat.
Dankie dat ek, afvlerk en al, by Anastasia kon leer dat hoop alomteenwoordig is, dat daar altyd twee kante aan ’n storie is, en dat om slaaf te wees van ons omstandighede, kwalik ons lot sal verander. Dat ons nou getaak is om die weg vir hulle wat na ons kom te baan … Dat die linkerhand nie hoef te weet wat die regterhand doen nie.
Dat ons moet “wakker pies eet” vir tropdenke en die blindelingse navolg van diegene vir wie ons toelaat om mag oor ons uit te oefen. Ook, dat dit oukei is om ander kriewelrig te maak en om ook kriewelrig gemaak te word … Dis juis dan wanneer die dink in ons losgemaak word.
Inderdaad “kan [mens] maar teen die karre skop, maar die liewe Here sal [mens] altyd sit waar Hy jou nodig het”. En, dis so, ja. Die liewe Here het vir Anastasia aan ons geleen in verskillende tydperke en om verskillende redes toe ons Anastasia só nodig gehad het … Om party van ons se oë oop te maak; party se harte; ander se denke; die ore en monde van sommiges.
Niks wat Anastasia gedoen het, was ooit vir aansien en prys nie. Die grootste dank wat ons egter aan Anastasia kan gee, is om terug te ploeg daar waar ons geplaas is, in ons komvandaan.
Rus sag, Anastasia. Eendag, dalk, hoef ons nie meer so baie “a luta continua” te skree nie. Tot dan, kap ons aan.
“Huiskind”
Lees ook:
Hoe Juffrou se woorde my lewe gered het: "Djy doenit’ie vi my nie, Troubles."
The post Ons het groot verloor, Anastasia first appeared on LitNet.
The post Ons het groot verloor, Anastasia appeared first on LitNet.