Fanus Bothma is oorlede. In die oggend van 17 Mei het ’n aantal van ons vergader in Ons Huisie by die waters van Bloubergstrand. Dit was Fanus se wens dat daar nie ’n troosdiens moes wees nie, maar dat almal saam ontbyt moet geniet. Dit was ook ’n geleentheid om ons herinneringe op te roep.
Soos Esther Bothma, sy weduwee, dit gestel het:
Goeiemôre
Dankie dat ons almal saam kan wees om Fanus se lewe te vier. Elkeen van ons gaan iets besonders van hom onthou.
Hy was iemand wat al van sy skooldae af gewys het dat hy iemand is met deursettingsvermoë, soos toe hy onderhoofseun geword het.
Ná skool is hy weermag toe; hy was in Swakopmund gestasioneer.
Daarna begin hy aan Tukkies te swot en hy werk ook deeltyds by ’n hotel. Hy het heerlike stories vertel van mense en dinge wat alles daar gebeur het.
Hy het sy dramagraad behaal en by Truk begin werk. Dit was vir hom ’n groot voorreg om soveel akteurs, sangers, dansers en artieste te ontmoet en ook om onderhoude met hulle te voer. Hy het ’n draai by Oggendblad gemaak, waar hy subredakteur was en saam met Koos du Plessis gewerk het, vir wie hy baie respek gehad het.
Hy het ook deeltyds verder studeer en ’n graad in kommunikasiekunde behaal. By Telkom was hy hulle skakelbeampte en was hy verantwoordelik vir toesprake skryf en video’s vervaardig.
Hier het hy dan ook afgetree.
Sy passie was die uitvoerende kunste. Ná sy aftrede kon hy dit ten volle uitleef. Hy het heelwat aanbiedings bygewoon. Het aangesluit by Afrikaanse en Engelse skrywersgroepe. Hy was ’n lid van Milnerton Players, waar hy Mari Mocke leer ken het.
Hy sluit aan by ’n poësiegroep en bevorder die Afrikaanse woordkuns.
Sy liefde vir Afrikaans was welbekend. Jy kon hom maar vra na wat ’n woord beteken.
Hy het boeke geredigeer. Dit het hy baie stimulerend gevind en ook uitdagend. Dié voorliefde het hy met sy goeie vriend Danie Botha gedeel.
Vir sy kleinkinders wou Oupa baie graag Disney World en Graceland toe neem, want hy het mos baie gehou van Elvis Presley se sang. Maar watter een was nou sy gunsteling? Oupa besluit toe hy hou baie van almal. Wanneer jy dan ’n Elvis-lied hoor, sing dit vir Oupa!
Aan almal wat deel van Fanus se lewe was: Dankie, julle het sy lewe verryk soos hy ons s’n.
Ek wil hierdie gedagte met julle deel: It’s hard to forget someone who gave us much to remember.
Ek het die Bothmas in Kaapstad ontmoet toe ek rondom 2000 betrokke was by Tafelberg-Uitgewers, die Akademiespelers en teater-, en boekresensies vir byvoorbeeld Die Burger gelewer het. Veral met Fanus kon ek amateurtoneelopvoerings bywoon. En onhandige ek het ’n paar maal hulp by hom gekry om ’n nuwe tuiste goed in te rig.
In 2023 verskyn Mari Mocke (gebore Doubell) se Lewensreis deur die teater sit in my bloed. Danksy die Here. ’n Memoires. In my LitNet-bespreking het ek dit vir teaterliefhebbers aanbeveel.
Die boek gee indrukke van Fanus se prestasies. Sy suksesvolle redigering, navorsing, toneelkennis, boekuitleg en skakeling met ’n uitgewery (Ebenhaezer-uitgewers) en bemarkers. Dit getuig van sy en Mari Mocke se vriendskap en wedersydse onderskraging. Ook kry ons ’n beeld van sy Esther, wat ook Sterretjie genoem word.
In November 2007 is Mari regisseuse van Athol Fugard se Sorrows and rejoicing. Ek haal aan uit Mocke se memoires.
Milnerton Players se samewerking was prima. Hulle het vir my ’n assistent aangestel, Fanus Bothma, en hy sou in baie opsigte my regterhand word. Hy was dit ook. Hy sou my ook na en van repetisies vervoer. (bl 145)
Kreatiwiteit en doelmatigheid met reklame vir amateurtoneel is ’n kuns, want jy moet bepaal waar jy samewerking gaan kry. Hierdie sy van sake was in die bekwame, ervare en blymoedige hande van Fanus Bothma. (151)
In September 2010 bied Milnerton Players Athol Fugard se The road to Mecca aan.
Hoe nou gemaak met die “uilhuis” waarin die spel plaasvind? Ek kon nie vir ’n meer bekwame feetowerstaf gewens het nie! My kunssinnige ouddramastudent Tammy-Anne Clarke het sowaar ná twee besoeke aan die ‘uilhuis’ my voorsien van meer as genoeg foto’s wat sy daar geneem het. Tammy-Anne het al die beelde vir ons stel nougeset gebou en sy is deur Fanus Bothma entoesiasties bygestaan. Ons treffende dekorstel is deur Fanus Bothma ontwerp en gebou, bygestaan deur Fin McCormick. Fanus en Tammy-Anne het ook die verfwerk gedoen. Tammy-Anne het by die Universiteit van Kaapstad haar BKuns verwerf en Fanus by die Universiteit van Pretoria sy BDram (Hons). Fin McCormick is ’n ingenieur van beroep en het baie ondervinding in die bou van dekor.
Esther Bothma, verantwoordelik vir rekwisiete, het die repetisies getrou bygewoon sodat die spelers oefening gehad het in die hantering van hulle rekwisiete wat die spel naatloos kon laat verloop. (175)
Lees ook:
Lewensreis deur die teater sit in my bloed deur Mari Mocke: ’n lesersindruk
The post Fanus Bothma is oorlede first appeared on LitNet.
The post Fanus Bothma is oorlede appeared first on LitNet.