
Foto: Izak de Vries
“Jy het my hart teen hulle van die haat ontdaan
en al hul bitter strewes het in ons vergaan.”
Met hierdie twee reëls open Adam Small se eerste digbundel, Verse van die liefde.
Sy ware krag as digter sou later kom: Die bundel sê sjibolet is nie net tegnies veel beter nie, dit is ook ’n harde, politieke bundel wat teen die vergrype van die magshebbers geprotesteer het. Meer nog, sê sjibolet was ’n bundel wat skaamteloos Kaaps gebruik het as medium. Nooit meer sou enige een kon beweer dat Kaaps ’n mindere taalvariant was nie, want Small het, soos in sy dramas, gewys dat hierdie variant hoër funksies kon omarm op dieselfde wyse as die sogenaamde Standaardafrikaans.
Ons onthou ook Adam Small as die man wat later stil geword het, wat teruggetrek het. Vir baie jare het Small nooit in die openbaar verskyn nie.
Dalk was dit die “bitter strewes” van ander wat hom so seergemaak het dat stilte sy enigste antwoord was, maar Adam Small was te alle tye “van die haat ontdaan”.
Toe hy uiteindelik sy stilte verbreek het, was daar weer ’n vriendelike, gryskopman wat amper verbaas was dat hy nog onthou word. Vir jonk en oud was daar ’n glimlag en ’n tyd vir ’n geselsie.
Dit was vir die ATKV ’n groot voorreg om deel te kon hê aan Kô laat ons sing, ’n huldiging van Small as digter, wat op Donderdagaand 10 Maart by die US Woordfees opgevoer is onder leiding van die Delta Soetstemme en die Delta Langbroeke. By hierdie geleentheid is Small genooi om self die verhoog te betree. Hy het ’n gedig voorgelees, nie ’n lang toespraak nie. (Foto’s van die geleentheid is hier, op ’n onafhanklike webwerf, beskikbaar.)
Die ATKV dink veral aan sy vrou Rosalie en familie in hierdie tye.
The post ATKV: Adam Small is oorlede appeared first on LitNet.