Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

Elders gesien: Stalmaat en boekeman, George Louw

$
0
0

Foto’s verskaf

Hennie van Deventer skryf op Facebook:

Die bome tuimel nou vinnig in die bos van kollegas in die 80-plus-kategorie. Die jongste is George Louw (84), ’n uitgewer, digter, dramaturg en joernalis van formaat, wat in die Milnerton Mediclinic aan ’n hartaanval oorlede is.

George sal by uitstek vir sy lewe as boekemens onthou word.

Ons paaie het gekruis in die dae toe hy ’n joernalis was. Hy was ’n beurshouer van Die Burger in die tyd dat ek ’n beurshouer van Die Volksblad was. Ons was as’t ware stalmaats.

Sy loopbaan het begin by Die Burger waar hy later ’n kranige subredakteur was. Daarna is hy na Huisgenoot. In die 80’s was hy ’n ruk lank ’n sub by Die Volksblad.

My hart gaan uit aan Dorette wat nou alleen oorbly in hul woonstel in Bloubergstrand met die skouspelagtige uitsig op Tafelberg en Tafelbaai – ’n gesellige plek waar ook ons en die gasvrye Louws heerlik saamgekuier het. Hul prikkelende geselskap was altyd ’n verfrissing.

George het op 1 Maart sy 84ste verjaardag gevier.

Sy vader was Bismarck von Moltke Louw, broer van NP van Wyk Louw en WEG Louw. Boeke was van vroeg in sy bloed. Hy word hoof van fiksie by die uitgewery Tafelberg. In 1981 is hy aangestel as uitgewer by NG Kerk-uitgewers, later Lux Verbi. In 1992 het hy die pos as hoofbestuurder van Van Schaik-uitgewers in Pretoria aanvaar. In Maart 1998 het hy afgetree – net drie maande ná my.

Met sy skryfwerk het hy jonk ontluik. As dertienjarige al verower hy die eerste prys vir poësie in ’n landswye skryfwedstryd vir kinders onder agtien jaar. Hy debuteer in 1957 as agtienjarige met Die trekpad, ’n bundel wat hy aan Ingrid Jonker opdra as huldeblyk vir haar mentorskap met sy digkuns. Later volg die bundel Koggelstok waarmee hy in 1965 die Eugene Marais-prys verower. Na ’n digterlike stilswye van amper veertig jaar verskyn die digbundel Kraai, wat ’n hoogtepunt in sy oeuvre verteenwoordig, in 2006.

Van sy gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende Groot verseboek en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.

Onder sy dramas is ’n Skip is ons beloof wat in 1970 met die WA Hofmeyr-prys bekroon is. Dit is ook vir skole voorgeskryf.

’n Gedugte, oorwoë, besadigde, hoflike en betroubare man gewees – dié George.

The post Elders gesien: Stalmaat en boekeman, George Louw appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>