Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

Die Groot Wit Hoop. Gerrie Coetzee en die siel van die swaargewig.

$
0
0

Gerrie?

Ja, boet. Die man met die lang sekel sny oral, selfs tussen die grotes. Die woud van dik bome word uitgedun. Een van die dae is daai woud leeg, te oordeel aan die treurige stand van swaargewigboks.

Of eintlik net boks in’t algemeen. The Manly Art het ontaard. Die Soet Wetenskap het suur geword. Boks wankel.

Noem byvoorbeeld ’n naam wat jy ken.

Is daar ’n hedendaagse Joe Louis, Rocky Marciano of Sugar Ray Leonard in jou geheuebank? Of selfs net ’n Vic Toweel, Arnold Taylor of Brian Mitchell?

Daai name steek vas. Hulle was wêreldkampioene.

Maar in moderne tye, met meer boksbeheerliggame as vingers en tone aan jou lyf, word ’n ieder en elk een of ander tyd tot koning verklaar.

Boks het in feudalisme verval. Elkeen dra ’n kroon in sy eie klein prinsdom. Overgesetsynde het boks die era betree wat dekades gelede deur Andy Warhol voorspel is: “Eendag sal almal vir 15 minute lank beroemd wees.”

Warhol was reg, behalwe dat die Kardashians hul 15 minute lankal verby breekpunt gerek het.

Boksers? Helaas, nee. Hulle kom en gaan soos verskietende sterre.

******************

Professionele boks het nog nooit ’n enkele verenigde outoriteit gehad nie. Sedert die embrio-stadia van beheerliggame, rofweg ’n eeu gelede, was daar altyd twee of meer. Almal wil munt slaan uit hul eie siening van die boksorde. Almal wil geld maak uit gevegte wat deur hulself bekragtig is.

En tog was daar tot en met die 1980’s ’n redelike mate van universele erkenning oor wie nou eintlik die ware wêreldkampioen in elke gewigskategorie is.

Met die vorming van 1983 se International Boxing Federation (IBF) as ’n derde vername liggaam naas die WBA (World Boxing Association) en die WBC (World Boxing Council) het dinge egter begin kraaines. En hoe later, hoe kwater.

Merendeels was daar drie verskillende kampioene in elke gewigskategorie. Die reëls verskil selfs van land tot land en dikwels, soos in die VSA, van deelstaat tot deelstaat.

G’n wonder dat wêreldkampioenstatus nie meer is wat dit was nie.

Ons onthou byvoorbeeld vir Baby Jake Matlala want daar’s altyd ’n sagte plekkie vir ’n beskeie, nederige outjie wat 1,48 m (of dan 4'10" in die ou taal) in sy sokkies staan; boks se kortste wêreldkampioen nog.

Maar Baby Jake was nie net ’n wenner nie. Hy’t dikwels ook verloor. Voorts het die sirkus waarin die sport ontaard het, hom tot voordeel gestrek. Titelgevegte het soos paddastoele opgespring. Oor die laaste kwarteeu het sowat 80 Suid-Afrikaanse boksers ’n wêreldkroon van een of ander aard gedra.

Dis belaglik.

Hoeveel van die volgende – en dis maar net ’n paar van die meer bekendes – onthou jy in ieder geval: Thulani “Sugarboy” Malinga, Welcome Ncita, Dingaan Thobela, Lovemore N’dou, Jacob Mofokeng, Silence Mabuza, Phillip N’dou, Philip Holiday, Mbulelo Botile, Cassius Baloyi, Piet Crous, Peter Mathebula, Vuyani Bungu en Hekkie Budler?

Hier’s ook vier swaargewigte wat dalk die geheueliggies nog floutjies laat flikker: Corrie “Die Skerpskutter” Sanders, Francois “Die Wit Buffel” Botha, Mike Bernardo en Kevin Lerena.

Kan jy glo dat al vier die een of ander titel gewen het, Lerena sommer net nou die dag nog?

Om die waarheid te sê, was daar veel beter en bekender plaaslike boksers wat nooit die hoogste louere kon inoes nie, soos Mike Holt, Norman “Pangaman” Sekgapane, Elijah “Tap-tap” Makhathini, Pierre Fourie, Harold Volbrecht, Charlie Weir, Brian Baronet, Kallie Knoetze, Johnny du Plooy en selfs Pierre Coetzer, wat op 32-jarige ouderdom sou uittree nadat ’n 44-jarige George Foreman hom met ’n tegniese uitklophou gestuit het.

Daar’s geen skande daaraan om te boks en nooit wêreldkampioen te word nie. Fisiek en geestelik is dit ’n brutale sport.

Dink aan al die jare van sweet en uitputting en pyn; al die skermoefeninge en skaduboks, die ure op ’n slaansak en spoedbal, die touspring en gewigte en boomkap met ’n byl, die maagbal en myle se hardloop met swaar stewels en trappe heeldag lank op en af soos ’n rot.

En dán eers kom die geveg en die houe en die gesigskending en die lyfstraf . . .

Dis hel.

En tussen dit alles deur is daar, in Suid-Afrika, een naam wat sedert die middel-1970’s in goue letters uittroon.

Die Groot G.

Gerrie.

******************

Gerhardus Christian Coetzee is op 8 April 1955 in Boksburg op die Oos-Rand gebore. As kind het hy erg met asma gesukkel. In die ouderdom van 67 beswyk hy op 12 Januarie 2023 aan longkanker.

Gerrie was gelukkig. Baie boksers maak dit nie tot in hul sestigs nie. Corrie Sanders het op 46 gesterf, doodgeskiet tydens ’n gewapende roofaanval. Arnie Taylor en Pierrie Fourie het albei op 36 gesterf, Taylor nadat hy op sy motorfiets raakgery is en Fourie in ’n motorongeluk. Kanker het Charlie Weir op 35 neergevel en op 27, drie dae ná ’n boksgeveg waarmee voortgegaan is ten spyte van ’n motorongeluk wat hom vier dae voor einste geveg bewusteloos sou laat, het Brian Baronet beswyk.

Nes Gerrie het Joe Frazier darem 67 gehaal, terwyl Muhammad Ali ná jare van aftakeling deur Parkinson se siekte die handdoek op 74 moes ingooi.

Hulle was deel van boks se Goue Era, die Louisville Lip en Smokin’ Joe.

Die derde lid van die koningstrio was George Foreman. Big George staan nog sterk op 74. Hy’t die titel in 1973 gewen deur Frazier in Kingston, Jamaika, in twee rondes te vermorsel. Smokin’ Joe is ses keer platgeslaan; drie keer in die eerste ronde, drie keer in die tweede ronde.

Big George was ’n monster. As tiener, het ’n vriend vertel, sou Foreman ses ouens met die eerste hou in kroeggevegte uitvat. In 1984, toe Greg Page in Johannesburg voorberei het vir sy titelgeveg teen Gerrie, het ek een van Page se skermmaats, Marty Monroe, oor Groot George uitgevra.

Ek kon sweer Marty het effe bleek in die gesig geraak.

“He’s an awesome man,” het Monroe verklaar, sy oë stokstyf in hul kaste. “George can kill with a single punch from either hand.”

Foreman het sy titel in 1974 teen Ali in Zaïre verloor. Agt rondes lank het die 32-jarige Louisville Lip teen die toue ge-“rope-a-dope” om met die 25-jarige kampioen se kop te smokkel terwyl hy hom uitput deur sy TNT te absorbeer.

“That all you got, George?” het Ali spottend gevra nadat Foreman amper sy ribbekas vergruis het. “That all you got?”

En toe zap, zap.

Big George het soos ’n boom geval.

******************

Vir Foreman was die “Rumble in the Jungle” ongekende terrein. Hy’t Frazier en Norton verwoes. Nou’t hy self harpuis geruik. Drie jaar later het hy ná ’n nederlaag teen Jimmy Young uitgetree.

Intussen het Ali en Frazier mekaar in hul derde kragmeting geruïneer.

“It will be a killa and a thrilla and a chilla, when I meet the gorilla in Manila,” het Ali vooraf gerym. En dit wás “a thrilla and a chilla”, maar merendeels ook “a killa”.

Nie een van die twee was ooit weer dieselfde nie.

Op 36-jarige ouderdom het Ali byvoorbeeld in 1978 teen die middelmatige Leon Spinks verloor. Vir voortgesette erkenning deur die WBC was Spinks genoodsaak om teen die nommer een-uitdager, Ken Norton, te baklei.

Norton was ’n taai kalant met ’n moeilike styl. Uit drie gevegte teen Ali het hy een gewen en die ander twee net-net verloor. Al moes Spinks die WBC-deel van sy titel gewonne gee, het hy dus ’n veel makliker en meer winsgewende herontmoeting met Ali verkies.

Ali het derhalwe net die WBA- en IBF-titels teen Spinks teruggewen, terwyl Larry Holmes en Norton mekaar in 1979 oor 15 genadelose rondes om die WBC-titel sou takel. Larry het die knoop met die dikte van ’n skeermeslem deurgehaak.

In 1980 veg hy en Ali dus, maar The Greatest was gaar. Die einde van boks se Goue Era het aangebreek.

Smokin’ Joe, Big George en die Louisville Lip se tyd was verby.

******************

Al drie was natuurlik swart boksers. So ook destyds se nuwe WBC-kampioen, Larry Holmes, en sy ewe taai teenstanders. Oor die vorige 20 jaar was Sonny Liston, Floyd Patterson, Doug Jones, Zora Folley, Ernie Terrell, Cleveland Williams, Jimmy Ellis, Ron Lyle en Earnie Shavers swart. In 1979 was nog twee belowende jong bakleiers, John Tate en Mike Weaver, swart.

Oor die jare heen, o ja, was daar ’n paar gerekende wit uitdagers ook: George Chuvalo, Jerry Quarry, Oscar Bonavena, Joe Bugner, Duane Bobick en Gerry Cooney.

Maar nie een was ongekwalifiseerde titelmateriaal nie.

Teen die tyd dat Holmes oorgeneem het, was die laaste wit kampioen dus Swede se Ingemar Johansson. Hy’t die kroon in 1959 teen Floyd Patterson gebuit, voordat Patterson dit ’n jaar later sou terugwen.

Vóór Patterson was daar natuurlik Rocky Marciano (1952–1956). Die Brockton Blockbuster, van Italiaanse herkoms, het op die hakke gevolg van die eerste swart golf in die swaargewigklas: Joe Louis, wat die titel in 1937 verower het, gevolg deur Ezzard Charles en Jersey Joe Walcott.

Vóór hierdie trio – onderskeidelik die Brown Bomber, die Cincinnati Cobra en Jersey Joe – was die swaargewigtitel ’n witmansprerogatief. Aan’t einde van die kaalkneukel-era, toe 1838 en 1853 se London Prize Ring Rules nog betrekking had, was John L Sullivan die swaargewigkampioen. Rofweg van 1890 af het die Markies van Queensberry-reëls bokshandskoene verpligtend begin maak.

’n String wit kampioene het gevolg voordat die Brown Bomber sou oorneem.

Maar daar was een uitsondering. Tussen 1908 en 1915 het Jack Johnson geheers.

Die reaksie op sy sege oor James J Jeffries was ’n skokkende manifestasie van Amerika se diepe rasseverdeeldheid. Geweld, waarin ten minste 20 mense sou sterf, het regoor die VSA uitgebreek. Baie stede en deelstate het dit selfs verbied om ’n film van die geveg te vertoon.

Wat wit Amerika selfs nog meer ontstig en gebelg het, was die string wit vroue aan die Galveston Giant se sy, sommige van hulle as sy wettig getroude vrou.

Sedert die vroegste tye was boks dus intiem met die rasfaktor vervleg. Joe Louis se storie loop met ’n draai deur die Duitser Max Schmeling, wat weer Nazi-Duitsland en daarmee saam die Ariese ras in’t prentjie sou sleep.

In die amperse halfeeu ná Louis was dit boonop net Marciano en Johansson wat as wit boksers ’n titelindruk kon maak.

Maar toe, in 1977, verskyn ’n 22-jarige jong Suid-Afrikaner se naam onderaan die gesaghebbende Ring-tydskrif se ranglys vir die top-10-swaargewigte.

Die Groot Wit Hoop was op pad.

******************

Dis van gener belang watter velkleur die swaargewigkampioen van die wêreld is nie.

Maar in Amerika tel dit. ’n Mens sien dit deesdae met die aanhang wat Donald Trump geniet. ’n Groot deel van die VSA verag Barack Obama en nie net oor sy politiek nie.

Dit was hierdie versugting na ’n wit kampioen wat die kollig amper ’n halfeeu gelede op Gerrie Coetzee en ’n wit Suid-Afrikaanse konkurrent genaamd Kallie Knoetze laat val het.

Kallie had buffelagtige krag in sy regterboulhou. Van kleins af was hy en Gerrie Coetzee krytvyande. Hul ses amateurgevegte het drie seges elk gelewer.

As professionele boksers sou Gerrie hul enigste kragmeting naelskraaps met punte wen. Bygesê dat die Boksburg Bomber twee jaar jonger as die Bek van Boomstraat was.

Laasgenoemde is die bynaam wat die bekkige Knoetze verwerf het toe hy as gewese polisieman en rugbyspeler homself in Pretoria se Boomstraat vir ’n Suid-Afrikaanse boksaanslag sou voorberei.

Die Bek was nie juis Suid-Afrika se weergawe van Amerika se Louisville Lip soos Ali na aanleiding van sy geboorteplek en spraaksamigheid gedoop is nie. Kallie was ’n bakleier, Ali ’n bokser.

Einste is Gerrie as ’n wetenskaplike eksponent van die krytkuns voorgehou. Sy regter kon jou droomland toe stuur. Maar beweeglikheid en ’n goeie linkersteekhou was die fondamente van ’n stewige arsenaal.

Met superieure bokstegniek het Gerrie dus vir Kallie in 1976 om die “wit” Suid-Afrikaanse swaargewigkroon geklop, nadat Coetzee die titel twee maande vroeër by Mike Schutte afgeneem het.

’n Maand later het Coetzee die SA-titel verenig deur die “swart” kampioen, James Mathatho, uit te slaan.

Dit het Gerrie en Kallie as die land van apartheid se twee wit boksreuse gevestig.

******************

In 1977 skiet Knoetze, toe nog ’n polisieman, ’n swart 15-jarige tydens ’n oproerigheid in albei bene. Die mannetjie het glo die motor waarin Kallie was met klippe bestook. ’n Teenbeskuldiging was dat mede-polieste die jeugdige aangesê het om sy eie bloed te drink toe hy weens dors om water sou pleit.

Knoetze is aan getuie-peutering skuldig bevind.

Die uiteinde van die saak was, eerstens, dat Kallie uit die polisie bedank het en, tweedens, dat sy Amerikaanse werksvisa in 1979 teruggetrek is.

Dit het ’n demper op Knoetze se boksloopbaan geplaas. Sy laaste agt gevegte was almal in Suider-Afrika. Die doodsangel was egter dat Kallie vier van daai agt verloor het; drie per tegniese uitklophou (teen John Tate, Jimmy Abbott en Robbie Williams) en een via ’n prôperse uitklophou (Mike Koranicki).

Boksgewys is Die Bek op 28-jarige ouderdom finaal toegeslaan.

Gerrie was feitlik die omgekeerde van Kallie: Stil, skaam, teruggetrokke, introverties, privaat en amper passief. Hy was ’n sagte man met ’n harde regter.

En uiters familievas.

Sy pa het hom afgerig. Sy ma was sy rots. Sy vrou, Rina, was sy trots en lewenslank ’n enigste kys. Die res van Gerrie se univers is deur drie kinders – seun Gerhard en dogters Lana en Tana – plus diere gevul, die beroemdste waarvan sy hondjie genaamd Wendy.

Gerrie was g’n agitator of kampvegter nie, maar hy’t ook geen geheim van sy renons in apartheid gemaak nie.

Dit het natuurlik baie van sy landgenote, die regering inkluis, ontstig. Terselfdertyd was Gerrie en Kallie, as wit Afrikaanssprekendes uit die land van apartheid, die volmaakte teenpool vir swart Amerikaanse boksers.

Wie dan beter om ná Ali se uittrede by ’n uitkloptoernooi te betrek? Die rassekaart wat sedert Jack Johnson soos ’n sweer in die bokskryt geprut het, kon weer opvlam.

Dit vanuit die Yanks se gesigspunt.

Vanuit die plaaslike hoek sou sulke gevegte ’n nool kon gooi vir die wêreld se sportboikot teen Suid-Afrika. Gary Player en Jody Scheckter het hul internasionale ding gedoen, maar die planeet se beste krieket- en rugbyspelers – wat ons was, dan nie? – moes droëbek eenkant sit en kyk hoe ander lande die louere inoes.

Ten minste sou Gerrie en Kallie kon wys hoe die Boere kan baklei. Nie verniet was kragdadigheid so min of meer ons land se nasionale leuse nie. Teen die tyd dat Knoetze bestem was om John Tate om die vakante titel te klop, kon ons einste kragdadigheid sommer ook wêreldwyd op TV uitgesaai word.

Of so het ons gedink. Maar toe slaan Big John Boomstraat se Bek toe.

******************

Die ander helfte van die toernooi sou in Monaco, van alle plekke, tussen Gerrie en Leon Spinks uitspeel.

Neon Leon, met ’n lyfwag genaamd Laurence Tureaud, was darem ’n man wat ’n jaar vantevore ’n punteoorwinning teen Ali behaal het – en dit in net sy agtste professionele geveg.

Tureaud, terloops, het sy naam wettiglik na Mr T verander. Op dié manier, het hy verduidelik, kon wit mense hom nie meer as “boy” aanspreek nie. Hulle is gedwing om hom “mister” te noem – veral nadat hy in die 1980’s gehelp het om The A-Team gewild op TV te maak.

Ali het Spinks heeltemal onderskat. The Greatest was onfiks en oorgewig. ’n Maand voor die geveg het hy 244 pond (111 kg) geweeg. En ja, Spinks het kort daarna weer teen Ali verloor, soos hy eintlik maar moes. Teen minder as 200 pond (91 kg) was hy te lig om ’n ware moderne swaargewig te wees.

Te veel motors, pelsjasse, partytjies, drank, dwelms en vroue het Neon Leon ook gekos. Monaco was daarom die allerverkeerdste plek vir hom om te baklei.

Die geveg het op die aand van 24 Junie 1979 plaasgevind. TV was nog ’n jong bedryf in Suid-Afrika en sport op ’n Sondag was taboe; die geveg sou eers ná middernag uitgesaai word. Beeldsending van Knoetze se Tate-geveg is self met drie dae vertraag.

Vir die Spinks-geveg het ’n paar vrinne middernagtelik kom kuier. Die bier en wyn was gereed vir ’n lang oggend, maar as openingskoot is koffie opgelyn.

So, ja, die ketel het nog gekook toe Neon Leon soos ’n vrot vel tussen die toue eindig.

Die Yank het vinnig begin, soos ’n luiperd wat prooi bespring. Maar toe Gerrie se bioniese hand hom die eerste keer skoon tref, het die neonligte in Leon se kop uitmekaar gespat. ’n Paar mokerhoue later was alles donker.

Die tafel was gedek vir ’n titelgeveg tussen John Tate en Suid-Afrika se Gerry, of alternatiewelik selfs Harry, Coetsea-ah, soos die Yanks sou sê.

******************

Tate se Knoetze-geveg was in Mmabatho. Dit moes Bophuthatswana op die kaart plaas, maar al wat dit gedoen het, was om Kallie van die kaart te vee.

Die Coetzee-geveg sou ’n paar maande later in Pretoria se Loftus Versfeld-rugbystadion oor 15 rondes woed. Dit was die eerste keer sedert die begin van apartheid dat ’n sportgeleentheid met ’n rasgemengde skare wettiglik aangebied is.

Weens ernstige betoog uit die monde van veral die tennis-legende Arthur Ashe en die Amerikaanse prediker en politikus Jesse Jackson was die Suid-Afrikaanse regering onder druk om die geveg as vertoonstuk van verandering in die land aan te bied. Meer as 80 000 rumoerige ondersteuners het op Loftus toegesak, PW Botha en sy kabinet inkluis. Minder as 10% van hulle was swart.

Die Boere het laer getrek. Kon Gerrie – met sy wit sokkies en blou broek met oranje strepe – dit alles hanteer? 

Die druk het soos ’n olifant op die Boksburgse tandtegnikus gerus. In die dag, het Gerrie altyd vertel, het hy tande opgebou en in die nag het hy dit weer uitgeslaan.

Om sake te vererger het dit vroeër die dag in Pretoria gereën. Op pad na die kryt ploert ons man toe in sy boksskoene oor die nat rugbyveld. Tate se mense bind plastieksakke om sy skoene.

Was dit ’n voorbode tot wat sou volg? Amerikaanse professionalisme versus blinde Boere- en brandewynhoop? Of het die amateuragtigheid van Gerrie se afrigters eers in die latere rondes deurgeskemer, toe ons man stoom verloor het?

Ieder geval was daar geen blitzkrieg soos teen Spinks nie. Die grote, sware Tate het op sy tone uitgekom en vir ’n paar rondes lank net gedans. Hy was die bokser, Gerrie die mokerman. Die Boksburg Bomber het vorentoe beweeg, die Yank het teruggeval.

En Gerrie se voete het telkemale onder hom uitgegly.

Van die vyfde ronde af het dinge stadig maar seker begin omswaai. Nie een van die twee had die ander in’t moeilikheid nie, maar Tate was nou die ou wat vorentoe sou beur. En nog iets: Geen van die twee het juis die linkersteekhou gebruik om ’n pad vir die regter oop te spleet nie. Elk het die ander met appelswaaiers probeer straf en troef.

Met amper twee-derdes van die geveg verby was die telkaarte nog gelyk.

Maar van die 10de ronde af het Tate begin dikteer. Van die 12de af het hy gestoomroller.

Tussen die 13de en 14de het pa Flip vir seun Gerrie gesê: “Net hierdie twee rondes, dan het jy die titel.”

Maar die Suid-Afrikaner se fut was uit. Die Stem het stil geraak.

Teen die einde van ’n teleurstellende geveg het daar van oranje en blou net blanje oorgebly. Die groot swart Yank – lomp op die oog af en ’n held in die townships – het Gerrie nie met krag geklop nie, maar deur beter te boks.

Metodiese boks, ja. Masjienmatige boks. Swoegende boks. Ploeterende boks.

Maar hy’t geboks.

En dit was juis Gerrie se ding, dat hý die bokser was.

Of so het ons gedink.

******************

Big John – 6'4" in die ou taal (1,93 meter) en ’n goeie 240 pond (109 kg) – het nie net in die kryt opslae gemaak nie. Mercedes Kornfeld, ’n welbedeelde blonde Oostenrykse meisie wat toentertyd ook ’n hoogs-betaalde model in Suid-Afrika was, het beweer dat sy daai aand in Tate se hotelkamer deurnag het.

Sy’t haar passievolle tyd saam met “King Kong” verskriklik geniet, het Mercedes gehyg.

Tate het die bewering ontken. Tydens sy verblyf in Suid-Afrika het hy ’n telefoonrekening van amper R10 000 losgebel. Meer as helfte daarvan was in gesprekke met sy meisie, Claudia, met wie hy ’n jaar later sou trou.

Kornfeld, terloops, is kort ná haar “onthulling” in hegtenis geneem, nie omdat seksuele kontak tussen wit en swart in daai jare teen die wet was nie, maar kwansuis weens ’n paspoortoortreding.

Aldus die Suid-Afrikaanse polisie.

Oor gerugte van verdere amoreuse kontak tussen Kornfeld en King Kong, soos ’n samekoms sommer daar iewers langs die pad in die ou Oos-Transvaal, of vandag se Mpumalanga, was die SAP tjoepstil. Vir verdere verheldering moes ’n mens maar na die Beatles se “Why Don’t We Do It in the Road?” op hul sogenaamde White Album luister.

Kornfeld was nie die enigste wat in hegtenis geneem is nie. Met verloop van tyd het Tate ’n kokaïen-verslaafde geword en meer as een keer in die tjoekie beland. Dis ’n tragiese verhaal van verval wat met ’n noodlottige motorongeluk sou eindig.

Big John was 43 jaar jonk.

******************

Die laaste Groot Wit Hoop voordat Gerrie en Kallie op die toneel verskyn het, was Chuck Wepner. Ná sy 1970-geveg teen Sonny Liston het sy gesig 70 steke benodig. Die Bayonne Bleeder had hope hart maar min talent.

In ieder geval was sy loopbaan aan’t einde van die 1970’s verby. Sy grootste nalatenskap was die inspirasie wat Sylvester Stallone uit Wepner se 1975-geveg teen Ali sou put om die Rocky Balboa-karakter te skep.

As Wit Hoop was Wepner egter ’n nul op ’n kontrak. So Chuck was chucked aside.

Wat dan van Gerry Cooney, ’n reus van ’n man wat Ken Norton in 1981 in minder as ’n minuut opgefrommel het?

Buiten dat hy veel vinniger kon praat en vir ’n hameragtige linkerhaak eerder as ’n verwoestende regter bekend was, het Gerry effe aan Gerrie herinner: ’n Groot, gelowige jintelman met ’n sagte stem.

En ja, wit.

Die Amerikaanse president, Ronald Reagan, het byvoorbeeld ’n foon in Gerry se hotelkamer laat installeer om hom te bel, sou hy dalk vir Larry Holmes op 11 Junie 1982 kon klop.

Daar was geen foon in Larry se kamer nie.

Promotor Don King: “Hierdie is ’n swart teen wit geveg. Cooney is wit, Iers en Katoliek. Jy kan dit nie verander nie.”

En Cooney se mense: “Holmes is ’n gemorsmens.”

Eintlik was daar min boksers, en mense, wat meer respek as Larry verdien het. Maar hy’t boodskappe oor sy huisfoon begin kry soos: “Don’t start your car tomorrow, n****r.”  

Wit heerssugtiges het gedreig om hom te skiet, sou hy waag om teen Cooney in die kryt te klim.

Die Trump-ding kom van ver af. Borge en promotors moes skerpskutters plaas op die dakke van geboue rondom die parkeerarea van Las Vegas se Caesars Palace-hotel, waar die geveg sou plaasvind.

Die ironie is dat Holmes en Cooney glad nie rassiste is of was nie. Die twee het inderdaad groot vriende geword.

******************

Kallie het ná sy verloortjie teen Tate uit boks se kollig verdwyn. Die terugtrekking van sy Amerikaanse visa was feitlik ’n doodskoot.

Gerrie het, effe hinke-pink, van krag tot krag gegaan.

Ten spyte van ’n uitklopnederlaag teen Mike Weaver en nog ’n verloortjie teen Renaldo Snipes het die Boksburg Bomber ’n paar seges ingeryg, totdat ’n gelykopuitslag teen die talentvolle Pinklon Thomas ’n titelgeveg teen Michael Dokes sou baar.

Dokes was ’n flambojante kêrel. Voor gevegte het hy rose uit die kryt na die skare gegooi. Tot en met sy geveg teen Coetzee het hy ook net teen een bokser van naam baklei: Mike Weaver.

Die res was palookas. Dis hoekom sommiges na Dokes as Michael Jokes verwys het. Hy was vinnig met die hande en voete en kon indrukwekkende kombinasies en sarsies gooi, maar selfs ná Gerrie het Dokes net teen drie name baklei: Evander Holyfield, Donovan Ruddock en Riddick Bowe.

Al drie het hom met ’n tegniese uitklophou gestuit.

Op 23 September 1983 het Gerrie egter met ’n skoon uitklophou gewen. Dokes was so uit soos ’n kers. Ons man se bioniese regterhand het hom tot diep in droomland gestuur.

 “Seer Handjies” Coetzee was ’n wêreldkampioen.

******************

“Kyk die hanne, die twee hanne van my / waar het ek die twee hanne gekry?” het David Kramer op sy tyd gesing.

Gerrie het waarskynlik ook daai vraag gevra. Male sonder tal het hy sy hande gebreek – soos op Mike Schutte se kop, in ’n geveg wat sekerlik as een van die vuilste in boksannale tel. In ’n vertoon van vullismentaliteit het Schutte knieë en arms en elmboë en kopstampe en haashoue agter die kop en onwettige nierhoue op Coetzee laat reën, tot hy gediskwalifiseer is.

Per geleentheid het hy selfs die Boksburger omarm en van sy voete af gelig.

G’n wonder Gerrie het vir Schutte so hard probeer slaan dat albei sy hande gebreek is nie. Dit gebeur in boks. In 1985 het Tommy “The Hitman” Hearns einste sy regterhand in die eerste ronde teen Marvellous Marvin Hagler gebreek en Muhammad Ali s’n was soms so seer dat hy Novocaine-pyndoders moes vat.

Uiteindelik, in Gerrie se woorde, het die spesialiste soveel “fusions” in albei rigtings op die beentjies van sy regterhand gedoen – 15 operasies in totaal sedert 1977 tot en met die Dokes-geveg ses jaar later (en nog ’n halfdosyn daarna) – dat daar net “een groot soliede stuk been” was.

Het daai stuk been getref, en dit was merendeels dodelik.

Maar die bioniese wapen kon nie vir ewig hou nie. Voor sy eerste titelverdediging het Gerrie die duim in die einste hand gebreek. Plate is geneem en aansoek is gedoen om die Sun City-geveg teen Greg Page uit te stel, maar Suid-Afrika se eie Stan Christodoulou het glo beweer dat hy nie ’n haarlynkraak op die X-strale kon sien nie. 

Die geveg aan die stertkant van 1984 moes voortgaan. Insigself het dit in ’n uiters omstrede ontmoeting ontaard.

Eerstens het Page vir Coetzee aan die begin van die tweede ronde met ’n linker geslaan terwyl Gerrie nog na sy eie hoek gekyk het. Tweedens het Page vir Coetzee aan die einde van die sesde ronde met ’n paar houe ná die klok getref. ’n Gedisoriënteerde Gerrie is derhalwe ook in die sewende ronde platgeslaan. 

Laaste maar nie die minste nie, is Coetzee in die agtste op omstrede wyse uitgetel toe die ronde amper vir vier minute, pleks van drie, sou voortsleep.

Ná hierdie rampspoedige geveg, wat ons man darem $800 000 in die sak sou bring, het Gerrie teen James Tillis gewen voordat Frank Bruno sy loopbaan vir alle praktiese doeleindes met ’n uitklophou in die eerste ronde van hul 1986-geveg beëindig het.

******************

’n Verrassende bekentenis deur Coetzee vroeër in sy loopbaan was dat hy ’n “10-ronde-bokser” was.    

In die praktyk het dit presies so gewerk. Gerrie het vele gevegte goed begin, net om stoom in die eindrondes te verloor, spesifiek teen Weaver en Tate. As afrigters was Alan Toweel en pa Flip Coetzee waarskynlik nie bekwaam genoeg om Gerrie se potensiaal ten beste te ontwikkel nie.

’n Mens sou graag wou sien dat die linkersteekhou byvoorbeeld veel beter as ’n platform vir aanvalle ontgin moes word en dat Gerrie waarlike houekombinasies inspan.

Vir die Dokes-geveg kon Gerrie darem van die befaamde Amerikaanse afrigter, Jackie McCoy, se dienste gebruik maak. Die vraag is hoe sy loopbaan sou ontwikkel het as McCoy of afrigters soos Angelo Dundee, Eddie Futch en Emanuel Steward hom vroeg in sy loopbaan onder hande kon neem?

Of wat van Cus D’Amato?

Juis op die tydstip van die Tate-gevegte het D’Amato hom oor ’n onstuimige 13-jarige ghettoseun begin ontferm. Die jongeling is aan’t huis geneem waar Cus hom grootgemaak en leer boks het.

Uit ’n omgekrapte tiener het D’Amato ’n gedissiplineerde jong vegter gevorm wat sy professionele boksdebuut in 1985 op ouderdom 18 sou maak. Minder as twee jaar later het Mike Tyson die jongste swaargewigkampioen nog geword deur Trevor Berbick te vernietig.

Cus was nie daar om die glorie te smaak nie. Hy’t ’n jaar voor die Berbick-geveg gesterf. Dit was effektiewelik die begin van Tyson se ontrafeling – maar nie voordat hy vir drie jaar lank soos ’n orkaan in die swaargewigkategorie sou woed nie.

Interessant genoeg het George Foreman, toe 38 jaar oud en 270 pond (123 kg) swaar, net mooi op daardie punt besluit om weer te begin boks. Kort ná Big George se hertoetrede tot die kryt het Iron Mike sy WBC-titel verloor. Laat in 1994, met Foreman op die drumpel van sy 46ste verjaarsdag, het hy die WBA- en IBF-kampioen, Michael Moorer (wat vir Evander Holyfield geklop het), uitgeslaan om die oudste swaargewigkampioen nog te word.

******************

Gerrie se loopbaan het aan’t einde van die Ali-era begin en effektiewelik tot by die geboorte van die Tyson-era gestrek, toe Foreman se heropstanding ook sou vlamvat.

Enigiets is in boks moontlik. Een hou kan ’n geveg verander.

Maar in die era vóór Gerrie sou hy nooit wêreldkampioen kon word nie. Daarvoor was Ali, Frazier en Foreman net te almagtig. In boks was hulle die Federer, Nadal en Djokovic van hul tyd.

Ná Coetzee het Tyson weer ’n skrikbewind begin voer. Iron Mike se krag sou te veel vir Gerrie gewees het. Selfs Big George sou die Boksburg Bomber dalk in die laat-1980’s kon ontlont.

As Groot Wit Hoop het Gerrie dus presies in die wieg tussen Ali en Tyson ingepas. En hy’t sy (derde) kans gebruik. Hy’t ’n wêreldtitel ingepalm.

Dit laat hom waarskynlik as ons land se beste bokser nog, buiten Brian Mitchell. Die gevoel is dat gebrekkige afrigting dele van sy potensiaal onder die maatemmer verberg het. ’n Plat bors en die nagevolge van erge asma as kind het ook ’n tol geëis.

En dan die swakheid in sy hande wat Gerrie gekeer het om deurgaans teen vol toere te tokkel. Soms moes hy sy houe effe terugwen.

Boks is egter nie al wat tel nie. Deurdagte waardes en ’n standvastige karakter het byvoorbeeld ’n renons vir apartheid in Gerrie gekweek wat, ironies genoeg, tot ’n episode sou lei wat iets van die jong Tyson se storie weerspieël het, behalwe dat Gerrie die Cus D’Amato-rol sou vervul. In weerwil van ’n wet wat dit sou verbied – en wat die outoriteite gebruik het om Coetzee te dagvaar – het Gerrie ’n jong, ouerlose swart bokser aan’t huis geneem en hom afgerig, voordat hy hom ook wettiglik aangeneem het.

In later jare is die Hollywood and African Prestigious Award aan Coetzee toegeken, sowel as The Order of Ikhamanga (in brons).

En sonder dat hy ooit ’n charismatiese figuur was, het Koos Roets en ander sy lewensverhaal as aangrypend genoeg beskou om ’n moewie – getiteld Against All Odds – aan te pak.

******************

Moenie skandalige onthullings verwag nie. Coetzee het ’n skoon, eenvoudige lewe gelei.

Sy kosbaarste oomblikke was altyd maar in die kryt of saam met familie en diere – asook die dag toe Nelson Mandela hom in die vroeë-1990’s na sy kantoor uitgenooi het om ’n medalje aan Gerrie te oorhandig.

“Die oomblik het my oorweldig,” het ’n aangedane Coetzee later vertel. “Ek was verbaas om te hoor dat mnr Mandela in die tronk na radio-uitsendings van my gevegte geluister het.”

Let op die aanspreekvorm met verwysing na Madiba.

Want so was hy, Gerrie. Sag. Beskeie. Ordentlik. Gemanierd. Pligsgetrou. Sout van die aarde. Met sy eie vreugdes en pyne, soos selfvertwyfeling toe hy jonk was, ’n gebrek aan selfvertroue vis-à-vis Amerikaanse boksers en selfs selfmoordgedagtes ná sy uitklopnederlaag teen Greg Page.

Die druk om die wêreld se Groot Wit Hoop te wees, moet ’n ondraaglike las wees. Nie dat die Boksburg Bomber op hierdie manier aan boks of ras gedink het nie. Die Groot G wou net ’n kampioen vir almal wees, vir “wit, bruin en swart, vir die hele land”.

Wat jy wel was, Gerrie. Jy was die “G” in die Goue Era van Suid-Afrikaanse swaargewigboks.

Maar jy was ook meer as net ’n buitengewone goeie bokser.

Jy was ook ’n buitengewone goeie mens.

En dis al wat ooit eintlik tel.

The post Die Groot Wit Hoop. Gerrie Coetzee en die siel van die swaargewig. appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>