...
Ons is uiteindelik drie ministers wat die kabinet in die onderhandelings verteenwoordig: Dawie, Leon Wessels en ek. Soms is die stryd moeisaam en alleen, maar Dawie bly die spanman wat meehelp om andere wat sukkel om te verstaan saam te neem op die pad van verandering.
...
Dawie was een van my mentors in die politiek.
Maar dit het nie daar begin nie. Ek het hom van skooldae gevolg as rugbyspeler, deur universiteit. Die dag op Loftus in 1970 toe hy die Springbokke op die veld gelei en ons koshuismaat Joggie Jansen kort na die afskop vir Wayne Cottrell van die All Blacks van die veld geduik het, sal ek nooit vergeet nie. Joggie het agterna gesê dit is oor Dawie hulle in die kleedkamer so opgesweep het.
’n Paar jaar later word hy parlementslid vir die Johannesburg-Wes-kiesafdeling en hier volg ek hom op in 1979 toe hy aangestel is as Suid-Afrikaanse ambassadeur in Londen. Die mense van die kiesafdeling was steeds hartseer toe ek in sy skoene moes instap. Die volgende jaar kom hy terug om minister te word en in die tyd wat volg, leer ek hom van naby ken. In die uiters moeilike tye van die 1980’s is hy een van die leiers wat die veranderingstoon aangee. In 1990 lei dit tot die vrylating van Nelson Mandela.
Die groot veranderinge in die land begin en Dawie is op die voorpunt om die proses te help bestuur. Dit is dae en nagte se knaende werk wat voorlê. Ons is uiteindelik drie ministers wat die kabinet in die onderhandelings verteenwoordig: Dawie, Leon Wessels en ek. Soms is die stryd moeisaam en alleen, maar Dawie bly die spanman wat meehelp om andere wat sukkel om te verstaan saam te neem op die pad van verandering. Hy het gesê die oorgang na die demokrasie was vir hom die hoogtepunt van sy politieke loopbaan en die vervulling van baie ideale.
Die oorgang kom in 1994 en Dawie is weer saam in die span. Dit is nou die Mandela-span. Ons trek saam om die demokratiese bedeling te vestig. Dit is nuwe werklikhede. Nasiebou en versoening is twee doelwitte wat Dawie goed verstaan en help om beslag aan te gee. Mandela het vir hom ’n sagte plek gehad. Hy skryf vir Dawie op 26 September 1995: “Best wishes to a highly competent and experienced South African who is making an excellent contribution to the unity of our nation.”
Dawie se lag was aansteeklik en sy humor sonder ophou. Maar ook sy energie en persoonlike gesondheidsbeoefening was voorbeeldig. Dawie was te alle tye ’n ware leier wat niks vir homself gevra het nie.
Ek eer jou, Dawie, vir die voorbeeld wat jy vir my en ontelbare ander Suid-Afrikaners was.
The post ’n Boodskap oor Dawie de Villiers se heengaan appeared first on LitNet.