Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

Rhoda Kadalie, ’n dapper vrou

$
0
0

...
Sy kon haar sterk uitdruk en dit het soms gelei tot skielike en onverwagse vyandskap tussen haar en verskeie partye wat nie met haar opinies saamgestem het nie. Die Kadalies in die Kaap was ’n familie van statuur soos die Sisulu’s en die Mbeki’s in die Oos-Kaap.
...

“Rhoda Kadalie sterf.” Dis hoe die media dit aangekondig het. Vir die meeste van ons wat haar vriende was, was dit uiteraard ’n reuseskok en té onverwags.

Ek en Rhoda het baie gemeen gehad. Wat besonders was, was dat ons op dieselfde dag en datum gebore is, naamlik 22 September 1953. Dit was ons gebruik die afgelope aantal jaar, voor haar verhuising na die VSA, om koek en tee op ons verjaarsdag te geniet en klein geskenkies aan mekaar uit te ruil. Dit sal ek altyd onthou, tye wanneer ons rustig met mekaar kon gesels oor alles en nog wat.

Ek het Rhoda leer ken toe ek in 1982 by die Universiteit van Wes-Kaapland ingeskryf het vir verdere studie en sy ’n lektrise in die Departement Antropologie was. Sy was ’n vrou met ’n stem vir regverdigheid – die stem vir die stemloses wat geweier het om te buig voor korrupsie en politieke arrogansie. Sy was geken as ’n dapper stryder wat haar deur niks en niemand van stryk laat kry het nie, en het ’n reusebydrae gelewer tot reg en regverdigheid, waarvoor sy wye erkenning geniet het. Haar opregtheid, eerlikheid, morele en etiese waardes en norme sal altyd onthou word.

Sy was die kleindogter van Clements Kadalie, wat swart vakbondwese in Suid-Afrika begin het met die stigting van die Industrial and Commercial Workers’ Union of Africa, en wat teen 1920 meer as ’n 100 000 lede in Suidelike Afrika gehad het. Hy was van Malawiese afkoms en het hom in die vroeë 20ste eeu in Kaapstad gevestig. Soos haar oupa was sy iemand wat haar eie weg gevolg het en wat soms met groot kontroversie belaai was, maar dit het haar nie gepla nie. Sy het nie geskroom om die ANC te kritiseer vir hul wanadministrasie en die korrupsie wat daarmee gepaard gegaan het nie. Sy is deur president Mandela as ’n menseregtekommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie aangestel – ’n taak wat sy met groot deernis en toewyding verrig het. Sy het ook ’n aandeel gehad in die daarstelling van die Gender Equity Unit aan die UWK toe genderstrydpunte nog nie as belangrik beskou is nie.

Rhoda is in 2017 as gasspreker na die personeelberaad van Fedsas genooi, en ek onthou hoe verbaas kollegas was dat ons mekaar so hartstogtelik gegroet het en gesê het hulle het nie geweet dat ons mekaar só goed ken nie. Ek onthou haar woorde aan hulle: “In die Kaap ken bruin mense almal mekaar”, tot groot vermaak van die toehoorders. Sy het nooit geskroom om dit te sê waarin sy geglo het nie. Dit het mense in politieke kringe soms ontstel, maar dit het haar nie gepla nie, juis omdat sy ’n beginselvaste persoon was. Sy was ’n intellektuele reus en was diep bekommerd oor alle Suid-Afrikaners en het nooit haar komvandaan ontken nie. Sy het ’n passie vir die onderwys gehad en was teleurgesteld dat die ANC-regering gefaal het om ’n werkbare en volhoubare onderwyssisteem daar te stel wat met die res van die wêreld kan meeding.

Franklin Sonn het in sy bydrae op WhatsApp aan my genoem dat hy vir ’n dekade lank die voorsitter van Impumelelo Centre for Social Innovation was, die organisasie waarvan Rhoda die uitvoerende hoof was. Hy noem dat hulle mekaar soms misverstaan het, maar voeg by “omdat dit Rhoda was”. Sy het haar standpunt verdedig of jy met haar saamgestem het of nie. Rhoda was ’n Godgelowige, kerkgaande Christen.

Sy kon haar sterk uitdruk en dit het soms gelei tot skielike en onverwagse vyandskap tussen haar en verskeie partye wat nie met haar opinies saamgestem het nie. Die Kadalies in die Kaap was ’n familie van statuur soos die Sisulu’s en die Mbeki’s in die Oos-Kaap. Dit is jammer dat die ANC hierdie afkoms en herkoms  heeltemal geïgnoreer het na 1994. Sy was ook uitgesproke oor die marginalisering van bruin mense deur die ANC in die postapartheid era. Dit het sy onomwonde gestel en sonder enige verskoning.

Sy het gesterf op ouderdom 68. ’n Vrou van statuur en wat haar plek sal inneem langs vroue-ikone soos Sophie de Bruyn, Helen Suzman, Winnie Mandela, Albertina Sisulu, Helen Joseph, Fatima Meer en vele ander. Ek hoop Stad Kaapstad sal dit oorweeg om ’n straat na haar te vernoem.

Rhoda laat haar dogter Julia, haar skoonseun Joel Pollack en drie kleinkinders agter.

Rhoda Kadalie, jy sal altyd onthou en geëer word. Jy was ’n dapper vrou en ons sal jou stryd voortsit. Mag God jou geliefdes omvou met sy liefde en troos. Rus sag, vriendin. Ek salueer jou en koester die mooi herinneringe tot ons eendag weersiens vier.

The post Rhoda Kadalie, ’n dapper vrou appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>