
Foto van Jacques van der Elst: verskaf
..........
Die Suid-Afrika Akademie vir Wetenskap en Kuns het met diepe leedwese verneem van die afsterwe op 25 Maart van ’n geliefde erelid, Jacques van der Elst. Sy heengaan, in die ouderdom van 82 jaar, is ’n reuseverlies vir die Akademie, maar ook vir die ganse Afrikaanse taalgemeenskap vir sy opbouende arbeid op die taalakker van ons soetste taal.
...........
Die Suid-Afrika Akademie vir Wetenskap en Kuns het met diepe leedwese verneem van die afsterwe op 25 Maart van ’n geliefde erelid, Jacques van der Elst. Sy heengaan, in die ouderdom van 82 jaar, is ’n reuseverlies vir die Akademie, maar ook vir die ganse Afrikaanse taalgemeenskap vir sy opbouende arbeid op die taalakker van ons soetste taal.
Tekenend van die agting wat Jacques van der Elst in sy lewe verdien het, is die erelidmaatskap wat die Akademie in 2020 aan hom toegeken het. Erelidmaatskap is die hoogste eerbewys wat die Akademie toeken aan diegene wat uitsonderlike diens aan die Afrikaanse taal en die Akademie lewer, in die besonder wat die bevordering van die wetenskap, die tegnologie en die literatuur in Afrikaans en die kunste, asook die gebruik en die gehalte van Afrikaans betref.
Jacques van der Elst, vlymskerp intellektueel en passievolle Afrikaansspreker, het oor jare sy geliefde taal op verskillende terreine gedien. Hy het diep spore by die PU vir CHO (nou die Noordwes-Universiteit) getrap as hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands, waar hy ’n aandeel gehad het in die stigting van die bekende ATKV-skryfskool in 1990 en die instelling en vestiging van skryfkuns as voor- en nagraadse vakrigting. Hy dien verder as dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte en later ook as hoof van dié universiteit se Kantoor vir Internasionale Betrekkinge. Na sy aftrede aanvaar hy in 2005 ’n betrekking as die Akademie se uitvoerende hoof, waar hy die benarde finansiële posisie waarin hierdie instelling destyds verkeer het, omkeer en op sterker voet laat by sy aftrede in 2012.
Jacques se betrokkenheid word op deeltydse grondslag voortgesit as die leier van die Akademie se navorsings- en publikasieprojekte, waar hy tot met sy heengaan stewige akademies-gerigte publikasies die lig help sien het. Sy bydrae in hierdie verband is besonder beduidend in die lig van kommersiële uitgewers se huiwering om akademiese publikasies met ’n beperkte oplaag uit te gee. Soos met alles wat hy aanpak, blyk sy onvermoeide toewyding aan die taak voor hande met die toonaangewende Hertzogpryswennerreeks wat in 2017 onder sy leiding ingestel word. In hierdie reeks, wat die kroon span op sy werk, verskyn nege akademiese boeke. Die reeks, wat op wetenskaplike maar ook ontvanklike wyse die lig laat val op die lewe en werk van Hertzogpryswenners, word goed ontvang en ontlok gunstige reaksie van resensente. Sy keuse vir die heel eerste bundel in hierdie reeks handel gepas oor die digter en dramaturg Adam Small, wat ná lange jare uiteindelik in 2012, tydens Jacques se laaste jaar as uitvoerende hoof, deur die Akademie met die Hertzogprys bekroon word vir sy drama-oeuvre en spesifiek vir Kanna hy kô hystoe (1965). Verdere bundels, oor PG du Plessis, Pieter Fourie, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Reza de Wet, NP Van Wyk Louw, Anna M Louw en Elsa Joubert, volg hierna. Slegs enkele dae voor sy oorlye handel hy die manuskrip oor die dramaturg Bartho Smit vir publikasie af. Tot die laaste in die tuig.
Jacques van der Elst se visioenêre leierskap en toegewyde institusionele ywer blyk ook uit die leidende rol wat hy sedert 2003 gespeel het in die stigting van die Afrikaanse Taalraad (ATR) in 2008, waarna hy ook optree as die Taalraad se eerste uitvoerende hoof, te midde van al sy ander verpligtinge op die Afrikaanse taalakker. Hy ontvang die FAK se Prestige-prys in 2012 vir sy bydrae in belang van Afrikaans en as uitvoerende hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook uitvoerende hoof van die ATR.
Jacques van der Elst arriveer as 13-jarige saam met sy gesin uit Nederland in Suid-Afrika en matrikuleer aan die Hoërskool Cillié in Port Elizabeth. Hy word lid van die redaksie van Die Oosterlig in Port Elizabeth, waar hy en die vermaarde joernalis Ton Vosloo se paaie as kollegas kruis. Hy behaal in 1960 die BA-graad met hoofvakke Afrikaans en Nederlands en filosofie aan die PU vir CHO, waar hy die liefde van sy lewe, Betsie Coetzee, ontmoet. Hy keer terug na Die Oosterlig en verwerf vervolgens deur deeltydse studie ’n honneursgraad by die Universiteit Rhodes en ’n meestersgraad by die Universiteit van Port Elizabeth (nou NMU). In 1970 voltooi hy die doktoraal in moderne Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Utrecht en vervolgens ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Natal. Na 'n dienstydperk by die Universiteit van Natal, Pietermaritzburg, sluit hy in 1973 aan by die Departement Afrikaans en Nederlands by die PU vir CHO, waar hy uiteindelik sy akademiese loopbaan drie dekades later afsluit.
Die jong immigranteseun uit Nederland omarm volledig sy nuwe tuiste, en Afrikaans word sy eerste en ’n geliefde taal. So sou die mooi vrugbare pad wat hierdie besonderse man op die taallandskap stap, ’n omarming vergestalt van beide die Afrikaanse en Nederlandse geestesgoedere. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns eer die nagedagtenis van ’n fyn kultuurmens en brugbouer se lewe met groot dankbaarheid dat hy sovele taal- en kultuurinstellings met sy innemende menswees en vlymskerp intellek verryk het.
Rus in vrede.
Lees ook:
The post Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns huldig Jacques van der Elst (30 Januarie 1940 – 25 Maart 2022) appeared first on LitNet.