Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

Danie van Niekerk: hulde aan die uitgewer

$
0
0

Foto van Danie van Niekerk verskaf deur Elmari Rautenbach

Danie van Niekerk word in 1975 hoof van Tafelberg, vier jaar nadat dié uitgewery met die samevoeging van Tafelberg en die algemene uitgewery van Nasionale Boekhandel die land se grootste algemene uitgewer word. Sy wye kulturele agtergrond en sewe jaar in die binnekring as hoofsekretaris van die Akademie van Wetenskap en Kuns bevestig die uitgewery se nuutverworwe status. Sy opleiding, ervaring en aanslag bring ’n nuwe dimensie en wen die vertroue van belangrike skrywers en sy personeel. Hy word een van ’n klein handvol wat in dié tyd in Suid-Afrika in Afrikaans of Engels as uitgewers van betekenis erken word.

..........

Sy opleiding, ervaring en aanslag bring ’n nuwe dimensie en wen die vertroue van belangrike skrywers en sy personeel. Hy word een van ’n klein handvol wat in dié tyd in Suid-Afrika in Afrikaans of Engels as uitgewers van betekenis erken word.

..........

Hy begin as uitgewer by ’n onderneming met ’n sterk fondslys en stabiele inkomste veral uit voorskrywing, maar dit is nietemin nie ’n maklike omgewing nie. Die Afrikaanse mark vir algemene boeke is klein. Skrywers is toenemend krities teenoor die politieke bewind, sensuur, en ook uitgewers wat lyk asof hulle hul te gemaklik in die establishment bevind. En die “nuwe” Tafelberg integreer nog die bedryfsagtergrond en geskiedenis van twee uiteenlopende ondernemings.

Voor die samevoeging met Tafelberg gee Nasionale Boekhandel dekades al digters soos NP Van Wyk Louw en DJ Opperman en ook ander literêre werk uit. In twee dekades voor die samevoeging wen hul titels tien keer die Hertzogprys, soveel as alle ander uitgewers tesame. Danksy die goeie literêre lys is Nasboek ’n leier in die verkope van voorgeskrewe werk op skole en universiteite. Die kans op voorskrywing bepaal dikwels of Nasboek ’n titel uitgee of nie. Skrywers van wie werk as gevolg hiervan afgekeur word, sluit in FA Venter, Etienne Leroux, André P Brink, Ingrid Jonker, Adam Small en Elsa Joubert.

Tafelberg, daarenteen, word in 1957 gestig rondom ligte lektuur wat as reekse verkoop, meesal met skrywers onder skuilname, soos FA Venter wat as Meiring Fouché Swart Luiperd-titels skryf. JD Pretorius, tevore ’n onderwyser en later ’n handelsrekenmeester, het nietemin as hoof ’n goeie aanvoeling vir die middelmootleser en gee weldra ook voorskryfbare titels uit, beginnende met die werk van FA Venter, sy tydgenoot op universiteit.

In 1959 neem die direksie van Nasionale Boekhandel kennis dat Tafelberg se titels al meer in die skoolmark voorgeskryf word. Boekhandel koop in dié jaar Tafelberg by Blaar Coetzee aan. In die nuwe omgewing is Pretorius steeds suksesvol, onder meer danksy streng besparing ter wille van oorlewing en ook veral met gedrewe, geesdriftige bemarking. Hy lees meesal nie manuskripte of gepubliseerde tekste nie, maar het ’n sigbare piëteit vir boeke en skrywers. Sy aanslag as hoof van die onderneming is dikwels onvoorspelbaar, maar tog minsaam uitbundig. In 1970 word Boekhandel se algemene uitgewery deel van Tafelberg, wat toe meteen ’n sterk fondslys en beduidende inkomste uit voorskrywing verkry.

Danie van Niekerk se agtergrond, ervaring en wellewende aanslag gee onmiddellik diepte aan die uitgewery. Hy lees self manuskripte, behou goeie kontak met skrywers en is ’n gelykmatige bestuurshoof met goeie oordeel. Met besteding is hy versigtig en verstandig, maar ook ruim.

.........

Danie van Niekerk se agtergrond, ervaring en wellewende aanslag gee onmiddellik diepte aan die uitgewery. Hy lees self manuskripte, behou goeie kontak met skrywers en is ’n gelykmatige bestuurshoof met goeie oordeel. Met besteding is hy versigtig en verstandig, maar ook ruim.

...........

Sy eienskappe en verhouding met spesifieke skrywers en kollegas word elders goed beskryf. Hier net ’n vlugtige verwysing na enkele aspekte.

Op universiteit in Stellenbosch studeer hy in klassieke en moderne tale, onder meer Duits en Frans, en ook in die klassieke Grieks en Latyn. Hy behou dié belangstelling lewenslank. As joernalis skryf hy oor boeke, kuns en kultuur en behartig ook ’n rubriek. Hy trou met Anneke Keyter, ’n joernalis-kollega met soortgelyke belangstellings. Later is hy kulturele attaché in New York, daarna kurator van die Rupert-kunsversameling en hoofsekretaris van die Akademie.

Annari van der Merwe se herinnering, “’n Pad met Danie van Niekerk”, is ’n uitsonderlik fyn beskrywing van ’n ruim mens met ’n verligte ingesteldheid binne ’n omgewing waarin ooreenstemming algemeen geag en dikwels ook verwag is. Frederik de Jager en Danie Botha skryf met soortgelyke bewondering en verlange oor die tyd toe hulle onder Danie van Niekerk gewerk het. Ook ek het hom oor meer as twintig jaar as ’n skerpsinnige en ondersteunende kollega waardeer en kan nie ’n enkele onaangename ervaring met hom oproep nie.

Kortom: Danie van Niekerk het as uitgewer gou die  vertroue en respek van skrywers, personeel en sy aandeelhouer gewen. Onder hom versorg ’n talentvolle span die publikasielys op hoë standaard en brei dit met verdrag uit. Danksy die inkomstevloei word goeie literêre werk, politieke en historiese ontledings en uitsonderlik geïllustreerde natuurwetenskaplike tekste ’n belangriker deel van die lys. Daar is gevestigde digters en skrywers van verskillende genres onder meer Elsa Joubert, Anna M Louw, Sheila Cussons, Petra Müller, Hennie Aucamp, Chris Barnard, PG du Plessis, Jaap Steyn, Daniel Hugo, Alexander Strachan, Rachelle Greef, Koos Prinsloo en Etienne van Heerden. Daarby ook werk in verwante genres deur Audrey Blignault, Alba Bouwer, Jan Spies, Dalene Matthee en Marita van der Vyver; standaardwerke soos woordeboeke en Groot verseboek;  literatuurwetenskap deur Merwe Scholtz en JC Kannemeyer; en politieke tekste deur Willie Esterhuyse, Clem Sunter en ander. Verder: ’n sterk lys van kinder- en jeugboeke; middelmootverkopers; niefiksie in verskeie velde en vir uiteenlopende belangstellings. ’n Verteenwoordigende lys van skrywers en velde beslaan bladsye.

Die titel waarmee Danie van Niekerk hom die sterkste vereenselwig, is Die swerfjare van Poppie Nongena, ’n sterk verhaal wat politieke gesindhede wysig en oor dekades ’n durende verkoper is.

.........

Tafelberg se aansien onder Danie van Niekerk se groeiende invloed in die establishment verhoog die politieke impak van Poppie Nongena en spesifieke politieke tekste. Die teensy van dié beeld is dat belangrike Sestigers en party jonger skrywers verkies om by uitgewerye te publiseer wat verder weg van druk vanuit die establishment geposisioneer is.

............

Tafelberg se aansien onder Danie van Niekerk se groeiende invloed in die establishment verhoog die politieke impak van Poppie Nongena en spesifieke politieke tekste. Die teensy van dié beeld is dat belangrike Sestigers en party jonger skrywers verkies om by uitgewerye te publiseer wat verder weg van druk vanuit die establishment geposisioneer is. Dit word op ’n keer versterk deur ’n aanbeveling aan Koos Prinsloo om ’n mededeling uit die mond van ’n karakter in Die hemel help ons liefs te laat.

Onder die strukturele veranderinge wat Danie van Niekerk met sukses aanvoer, is beter verteenwoordiging van plaaslike skrywers se werk vir vertaling by oorsese uitgewerye. Saam met Koos Human motiveer hy ook die stigting van Leserskring sodat daar buite die handvol boekwinkels nog ’n kanaal is om boeke in die algemene mark te  verkoop.

’n Minder sigbare, maar nietemin belangrike, besluit is om die uitgewery nie te groot te laat word nie. So ’n benadering het belangrike implikasies en raak die wese van die onderneming.

Grappenderwys verduidelik hy groter kantore is ’n versoeking vir uitgewerye. Hy behou die kantore in die Waalburg op die hoek van Waalstraat en Burgstraat in Kaapstad eerder as om nader aan sy aandeelhouer groter ruimte te neem.

In so ’n ligte opmerking skuil ook erns, ’n wens om as uitgewer sigbaar ’n eie adres te behou en veral om eerder minder boeke goed uit te gee en terselfdertyd op die bestaande skaal die wins in klein stappe inkrementeel te verbeter.

Dit was nie Danie van Niekerk se instink om oral en ten alle koste met ander mee te ding nie. Hy het ook intuïtief verstaan uitgewerye is in ‘n belangrike mate ’n soort tuisbedryf. Skrywers verwag ’n professionele diens, maar wil terselfdertyd tuis en gekoester voel by die uitgewery van hul keuse. Hoe groter die uitgewery, hoe groter die waarskynlikheid dat die verhouding met skrywers afstandelik en onpersoonlik word.

Daar was ’n verdere rede om die versoeking om ongebreideld te groei, te weerstaan. Oral in die wêreld het uitgewerye in dié tyd oorleef wanneer minstens een uit elke tien titels ’n reusesukses is. As die mark, sowel die algemene mark as verkope vanuit voorskrywing, nie só is dat elke tiende titel groot winste skep nie, is dit ’n risiko om te oorleef.

In die jare tagtig en vroeë negentigs van die vorige eeu is daar vanuit ander hoeke druk dat Tafelberg sterk moet groei. Die finansiële en bestuursargument was toe dat ’n uitgewery spesifieke nismarkte moet kies en dan met voortdurende groei en voldoende titels daardie segmente so oorheers dat mededingers nie kans het om daarin ’n houvas te kry nie.

Danie van Niekerk het besluit om bepaalde segmente vir ’n nuwe te stigte uitgewery te laat, eerder as om Tafelberg op so ’n trapmeul te plaas. Hiervoor kry hy vanuit dele van die bestuur van sy aandeelhouer kritiek en nog groter druk. Dit bots met sy siening van wat ’n uitgewery moet wees. Eindelik verduidelik en verdedig hy sy siening in ’n dapper toespraak voor ’n konferensie van bestuurders.

Hoewel hy in sy rede nie na Pierre Bourdieu verwys nie, sluit sy uiteensetting aan by die Franse ontleder se verstaan van die kragte wat oral by kulturele produksie inwerk. Kortom en vereenvoudig is dit ’n keuse tussen die bou van óf finansiële óf kulturele kapitaal. Ondernemings oorleef as die onderliggende waardestelsel ’n duidelike keuse ten gunste van die een of die ander behels. Daar is verskuilde kragte in spel, soos die verwagte siklus vir die draaityd van kapitaal: kort wanneer finansiële kapitaal die oogmerk is, en langer as kulturele kapitaal gebou word.

........

Danie van Niekerk se keuse is vir die bou van kulturele kapitaal.

.........

Danie van Niekerk se keuse is vir die bou van kulturele kapitaal. Hy kritiseer in sy rede oordadige simbole van groei en sukses. Hy verkies ’n bestendige opbrengs bo die versoeking om te groei. Met ’n klein span en lae oorhoofse koste wil hy ’n omgewing skep waarin hy ’n vryer keuse het vir kruissubsidiëring van titels wat op die lange duur kulturele kapitaal bou en nog later inkomste inbring. In sy tyd, en vóórdat groter kragte die groter omgewing algeheel ontwrig, is dit ’n verstandige dapper standpunt waarmee hy die wese van sy werk as ’n kulturele en sosiale verantwoordelikheid beskryf. Dié funksie, sê hy, moet ’n uitgewer eerlik met skrywers in die breër samelewing uitbou.

Danie van Niekerk het die werk van uitgewer moeiteloos laat lyk. Maar sy beeld as gedistingeerde gentleman publisher is onderlê deur noulettende aandag aan die kritieke aspekte van sy bedryf en was volhoubaar danksy versigtige bestuur van die kontant wat die fondslys genereer.

Sy rol as uitgewer is oplaas ook dié van ’n uitsonderlike mens met goeie insig in sake van die dag en ruim aandag aan skrywers, medewerkers en sy gesin.

Lees ook:

’n Sinvolle lewe: herinneringe aan Danie van Niekerk

Huldigingsgeleentheid: Danie van Niekerk

DJ van Niekerk: 1928–2022

’n Pad met Danie van Niekerk

The post Danie van Niekerk: hulde aan die uitgewer appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>