Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

Henry Mylne se kosbaarste herinneringe aan Franz Marx

$
0
0

Henry Mylne deel sy herinneringe aan Franz Marx wat op 26 September 2021 oorlede is. (Foto’s: Menán van Heerden en Protea Boekhuis)

 

Nooit het ek kon droom dat ek tydens my regie van die Ballade vir ’n enkeling-reekse vir TV1 vriende sou word met Franz Marx, toe op die kruin van sukses met Agter elke man nie. En toe Dulcie van den Bergh (tant Stienie) tydens ’n Artes-aand as beste aktrise bekroon is, en Siegfriedt Mynhardt as beste akteur vir sy spel in my enkeldrama Die houtbord, het ek en Franz in die ouditorium langs mekaar gesit en elmboë stamp.

Aanvanklik sou Christine Basson tant Stienie in Agter elke man gespeel het, en Wilna Snyman Marietjie Barnhoorn. Maar toe Franz uitvind Wilna het haar ook tot ’n ander produksie verbind, het hy summier vir Christine na Marietjie geskuif, en vir Dulcie nader gehark vir tant Stienie. En die res was geskiedenis!

Steve Hofmeyr is vierkantig as Bruce Beyers aan die volk bekendgestel en ’n legende is gebore. Alhoewel Franz later aan Steve gesê het: “Jy dink jy is ’n ster? Min Shaw het op die kruin van haar roem Johannesburg se Eloffstraat tot stilstand gebring deur by ’n apteek in te loop!”

Franz is opgelei by die Universiteit Stellenbosch se destydse “nuwe” dramadepartement onder die befaamde Belg Fred Engelen en sy ewe beroemde aktrisevrou, Tine Balder. Lizz Dick het die naweek van Franz se dood ’n kostelike foto van hom en Pieter Fourie (nóg ’n legende wat ons onlangs verlaat het) as studente in die Middeleeuse klug Drie dae meester op Facebook gedeel:

Foto gebruik met die vergunning van Lizz Dick.

Sy teaterloopbaan was ewe indrukwekkend, met rolle by Truk as Malvolio in Twaalfde nag teenoor Sandra Prinsloo; die debuutproduksie van Pa, maak vir my ’n vlieër, pa teenoor Kita Redelinghuys; die titelrol in Jean Anouil se Becket, ens. Self sal ek nooit sy subtiele vertolking jare later van Molière se Tartuffe vergeet nie, waar hy sonder dialoog met bloot ’n handgebaar die gehoor tot ’n lagbui kon manipuleer. Later in sy lewe tree hy ook skitterend vir die feeskringloop op in twee van Deon Opperman se pennevrugte: Magspel en Kaburu.

Ek was op hoërskool toe ek Franz in talle rolprente sien speel het: Sien jou môre (waar ek so geruk was toe sy been skielik onder hom swik as eerste teken van sy karakter se kanker); Dit was aand en dit was môre (hoe hy in Magda Beukes se oë gekyk het terwyl hy sê: “My vrou”); in Manie van Rensburg se Johnny’s in love, waarvan die hele rolprent rooi gegradeer was; Die drie Van der Merwes (gebaseer op Die drie Van der Walts) teenoor onder andere Leonora Veenemans van alle mense; Aanslag op Kariba; Dokter Kalie, en ander. En dan natuurlik die twee teenoor Min Shaw: Jy is my liefling en Die Danie Bosman-storie. Franz het my vertel dat hy en Min Shaw, op daardie stadium sekerlik een van die land se grootste sang- en rolprentsterre, per helikopter gebring moes word vir persoonlike verskynings by inryteaters vanweë die magdom motors wat tougestaan het om in te kom.

Daarna het ek sy naam as regisseur in soveel Afrikaanse films gesien wat altyd in die ou Ster 700 in Kaapstad gedraai het: Die vlindervanger (’n “whodunnit”); Netnou hoor die kinders (gebaseer op die Fransman Robert Thomas se Agt vroue, met Gé Korsten wat woordeloos as lyk in ’n bokamer gelê het); Ma skryf matriek; Jakkalsdraai se mense (Robert Mohr het, toe Wena Naudé daarvoor met die Rapport Oscar bekroon is, gesê: “Uiteindelik het Suid-Afrika ’n ster!”); Geel trui vir ’n wenner (wat Deon van Zyl as ster geloods het); Liefste Madelein (met Wilna Snyman as Madelein); Weerskant die nag (waarvoor Aletta Bezuidenhout die Rapport Oscar ontvang het); 40 Days (geskiet in die hartjie van Hillbrow); ’n Seder val in Waterkloof (PG du Plessis se verhoogtreffer); Seuns van die wolke (Johann van Heerden, een van die “seuns”, poseer destyds kaal in ’n tydskrif met ’n glad nie gelukkige Universiteit Stellenbosch waar hy drama doseer het nie), en ander.

Franz betree die TV-medium met onder andere die Karel Schoeman-blitsverkoper ’n Lug vol helder wolke, geskiet teen die skeel, blink son van die Vrystaatse lug. Hierin kon Franz sy geliefde mentor Anna Richter-Visser afstof om haar ook later as Anna in Agter elke man te gebruik. Hy wen ’n Artes vir sy teks van sy enkeldrama Die buitestaander. Afgesien van Skooldae en Familiedae (weer eens saam met Min Shaw) lewer hy die briljante minireeks Adam, oor die politieke intrige van Robey Leibbrandt, die Suid-Afrikaanse Olimpiese atleet wat tydens die Tweede Wêreldoorlog as ’n Abwehr-agent vir die Nazi’s teen die Britte in Suid-Afrika opgetree het.

Daarna volg Agter elke man. Soos met Dallas destyds moes wegneemeetplekke vir elke weeksaand se uitsending sluit. Franz se opmerking teenoor my was: “Henry, jy moet nou net nie dink dis hogere kuns nie.” Wel, Franz, vir ons almal daardie tyd wás dit!

Daarna het Franz in die VSA, Londen, Rio (grootste tuiste van die sepie-industrie in die wêreld) en Frankryk gaan kers opsteek oor die maak van sepies. Die Franse, het hy gesê, se sepies is onsuksesvol – hulle werk te stadig en loer te veel met die kamera, met blare in die voorgrond, na die spelers.

Hy is ongetwyfeld die vader en skepper van die eerste sepie in Suid-Afrika: Egoli (Plek van goud). En natuurlik, met 19 seisoene, een van die gewildstes ooit in Afrikaans. Hy het die formaat daarvan bepaal en as skrywer en uitvoerende vervaardiger geskiedenis gemaak deur sy vinger met besliste sekerheid op die pols van die volk te lê. Hy het dit van stapel gestuur met wat hy “pilare in die beroep” genoem het – spelers soos Brümilda van Rensburg, Shaleen Surtie-Richards, Sandra Prinsloo, Thoko Ntshinga, Christine Basson – sodat hulle gravitas die storielyne kon dra terwyl hy deur die jare groot name van al die nuwelinge gemaak het.

Een regisseur het na ’n paar maande die reeks verlaat. Franz het my vanuit die finale-meng-ateljee in die SAUK (waar ek in die laaste stuipe van Ballade vir ’n enkeling 2 se postproduksie was) laat kom en bevelend ’n kontrak laat teken. Hy het my na Egoli se redigeersuite geneem en van die betrokke regisseur se episodes laat speel en my van ’n kant af ingeklim asof ék die episodes geregisseer het! Hy sou skree: “Kyk die tracking shots wat ingespan word om driekwart van my storielyne te dra! Ek wil in my spelers se oë inklim om die gedagteprosesse, die teksanalises en tweede vlak van spel te lees! Dis hoekom ek jou laat kom het! Dis jóú plig om goud daaruit te toor!”

Ons vriendskap het in sy kantoor en tydens baie, baie aande om sy etenstafel gegroei. Ons albei het ’n liefde vir die geskiedenis van die teater en die filmbedryf gekoester. Ek is ontsaglik vermaak met staaltjies uit sy en Min Shaw se “Hollywood Studios’ Seven Year Contract”-dae by Kavalier Films. Verder het ons ’n liefde en respek vir die ouer spelers gedeel. Hy het hulle dan ook gereeld gebruik, byvoorbeeld in Egoli vir Hermien Dommisse, Sann de Lange, Ernst Eloff, Gé Korsten en ja, selfs Mimi Coertse.

As vervaardiger was hy soms onverbiddelik. Toe Anrich Herbst weier om ’n sekere vurige liefdestoneel te speel omdat hy morele besware daarteen gehad het, het Franz my ingeroep en gevra: “Wanneer regisseer jy weer?” Ek het geantwoord: “Vrydag.” Hy het gesê: “Goed, sy karakter word Vrydag deur ’n inbreker doodgeskiet.”

Toe Philip Moolman (een van sy oorspronklike hoofakteurs) bedank, het Franz sy karakter laat ontvoer en laat doodmaak. Maar eers het hy sy karakter se oor laat afsny en in ’n klein dosie aan sy geliefde (Ilse Roos) laat stuur. Franz se rede: “Ek is bang ek raak sag en ek kry ’n Bobby-Ewing-in-Dallas-oomblik om hom onder ’n stort te laat uitklim nadat hy vir ’n seisoen dood was. As sy oor af is, kan ek dit nie doen nie.”

By Brümilda van Rensburg se werklike troue moes ek oor haar praat en hy was natuurlik ’n gas. Die troue is deur Brüms op kamera laat vasvang en toe Franz genader is vir kommentaar oor Brüms wat trou, het hy gesê: “Dit gaan inmeng met haar werk op Egoli.”

In die heel vroeë negentigerjare het Franz met die integrering van wit, bruin en swart karakters in Egoli ’n eerste vir TV daargestel. Die wyse waarop hy dit gedoen het, het polities meer vir die land se miljoene kykers gedoen as menige politikus se toespraak. ’n Voorbeeld: Toe Hannah Botha (Elsa) by die Mansions ’n woonstel soek, het sy by die eienaar van die Mansions (Shaleen Surtie-Richards as Nênna) se voordeur aangeklop. Toe die deur oopgaan, sê Hannah vir Shaleen: “Môre, ek soek die ‘missies’.” Shaleen aan Hannah: “Môre. Ek ís die ‘missies’.” En so het een van die grootste vriendskappe in ’n Suid-Afrikaanse TV-sepie ontstaan.

Toe ek Deon Coetzee se karakter se troue moes skiet, wou ek graag oom Siegie Mynhardt as die dominee hê. Ek het geweet oom Siegie het nie meer ’n lang tyd oor nie. Die verbete lynvervaardiger het geweier, want Siegie sou te duur wees. Franz het ingespring: “As Henry vir Siegie wil hê, dan kry hy hom!” Dit was dan ook oom Siegie se laaste verskyning ooit as akteur. Hy kon nie meer ’n woord dialoog onthou nie; ek het hom net buite die kameraskote voorgesê. Toe ek hom van die grimeerkamer stel toe lei, het hy geprewel: “I’ve come home.” Dit was Franz Marx se toedoen.

Hy het aan Hermien Dommisse (Monica) toestemming gegee vir haar soveelste “face lift” met volle salaris vir die herstelperiode. Mimi Coertse se karakternaam in Egoli was Isabeau, natuurlik uitgespreek as “Isabou”. Maar as gevolg van die onlangse “face lift” kon die liewe Hermien net “Isabe” sê. Ek is na Franz se kantoor en het gesê: “Franz, as jy nog één face lift van Hermien toelaat, verloor ons die a-klank ook!”

Franz het een van die vervaardigers van The bold and the beautiful na Egoli genooi. Op ’n dag sit John Zak saam met Franz in die opnameboks terwyl ek ’n paar tonele opneem. Na ’n ruk roep Zak uit: “What you guys do here, we wouldn’t be able to crack in the States. By Jove, you are not shooting soap! You are putting a full TV series episode a day in the can! If you guys were in the US, you’d be so well paid, you’d be living in apartments in New York overlooking Central Park!” Dit was Franz se resep. Dit was 12-uur-dae van skiet, maar nooit het enige akteur, kameraman, regisseur of enigiemand op die stel ongewaardeer deur Franz gevoel nie.

Sy standaarde was hoog, sy verwagtinge van ons was hoog, maar nooit het sy humorsin hom verlaat nie. M-Net het Joan Collins net na haar befaamde uitbeelding van Alexis in Dynasty ingevoer. In ’n toneel teenoor Brümilda het Franz op die ateljeevloer kom kuier en langs my by die podium met die TV-monitor gestaan. Ek wou hê Brüms moes Joan twee reëls toesnou, na die deur loop en net voor sy dit oopmaak om uit te storm, moes Joan haar “top” met die slotreël sodat Brüms in haar spore kan omdraai vir ’n “finalé”.

Brüms snou Joan toe, loop ritmies perfek op die deur af, steek haar hand na die deurknop uit, en Joan kom nie in met haar dialoog nie. Brüms swaai om en in suiwer Afrikaans sê sy in die opname vir die “internasionale” Joan Collins: “Ag nee wat, liefie, jy moet nou inkom met daai ou lyntjie, man!” Ek en Franz het op die vloer gekruip van die lag.

Franz Marx was ’n legende en ’n ikoon wat in baie van ons se geheues sal bly voorleef. Hy het my so baie geleer in daardie dae: Jy vertel nooit ’n seepstorielyn in die verlede nie; ’n storielyn moet proaktief deur ’n held of heldin vertel word. Hy het altyd insake ’n toneel vir my gevra: “Sien jy dieselfde waarheid? Of gee jy om oor dieselfde waarheid as ek?”

Ek het altyd gevoel dat ek as vriend en regisseur en hy as vriend en vervaardiger nooit trotserend van aangesig tot aangesig geloop het nie, maar sy aan sy. Werksgewys was ons oë altyd op die taak voor ons gerig. Franz het soveel van sy visie met my gedeel. En dan het dit gevoel ons staan saam in ’n geweldige eensaamheid. Ons was op soveel gebiede verwante siele in die skep van die visuele in Egoli, geabsorbeer in ’n gemeenskaplike belangstelling.

Eenkeer het hy skertsend gesê: “Weet jy hoekom is ons in hierdie bedryf? Want ons is te onnosel om in ’n ander een te wees.” Sy kennis het hy altyd vryelik met my gedeel: “Laat jou lei deur wat in die toneel gebeur. Vertel elke karakter se reis met jou skote, al is daar een wat geen dialoog het nie. ’n Regisseur en sy kameraskote moet nooit op die storie inbreuk maak nie. Moenie ’n klomp slim voetwerk as regisseur uithaal nie. Ek dink jy sal dan die storie seermaak.”

Franz het daarin geglo om baie jong onervarenes van die straat af te gebruik vir hul uiterlike voorkoms of “looks” (’n voorvereiste vir die sepiegenre). “Jy moenie ná jou regie by my inhardloop en jou hande in die lug gooi nie, Henry. Jy moet hulle, terwyl jy regisseer, léér, soos ek in die verlede in my reekse en films gedoen het, want ons het die knack daarvoor.” Maar te alle tye het hy spelers wat die beroepsetiek wat hy gehad het, gerespekteer en verstaan het, in watte toegevou.

Hy het sy drie toesighoudende “box”-vervaardigers, Sandra Kotzé, June Seymour en Louis van Niekerk, as goud werd gesien. Sy lojaliteit was, soos hulle in Engels sê, ’n “byword”. So het die twee mense wat ál 19 seisoene van Egoli by hom gebly het (ek was toe al by 7de laan), saam met hom die ateljeedeure toegetrek toe die tyd aanbreek: Christine Basson en Brümilda van Rensburg.

Franz Marx is nie deur die beroep gedra nie. Hý het die beroep gedra.

 

Lees ook:

Amanda Strydom se huldeblyk aan Franz Marx: Franz Marx: Hoeveel mense het jou “mentor” genoem?

Nic de Jager se herinneringe aan Franz Marx: Franz Marx – swáár afskeid van ’n geliefde korrelkop

 

The post Henry Mylne se kosbaarste herinneringe aan Franz Marx appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>