
Carol Bailey, Japie Gouws en Herman Bailey (Foto: Izak de Vries)
Die man van krisante. En van wyn.
Dis hoe ek Herman sal onthou.
Herman Bailey en sy vrou Carol was geliefde mense en ware staatmakers. In Wellington kon jy nêrens ongesteurd saam met hulle beweeg nie. Almal het gegroet, blad geskud, drukkies gegee en geselsies aangeknoop.
Dit was dalk omdat hulle die eerste burgemeesterspaar van Wellington was na 1995 se plaaslike verkiesings. Maar ook oor hul intense belangstelling in en ongelooflike bydraes tot die wel en die wee van die Wellingtonse gemeenskap.
Ek het Herman die eerste keer ontmoet toe ek in 2008 vir ’n onderhoud gegaan het vir die vakante pos van besturende direkteur van die ATKV. Hy was deel van die paneel.
Alhoewel Herman ’n gerekende sakeman was en by baie ondernemings en ander instansies betrokke was, het ek veral sy kultuurkant eerstehands ervaar en het ek geweldig baie by hom geleer. Die ATKV se strategie om meer inklusiwiteit in die Afrikaanse gemeenskap te bewerkstellig en groter diversiteit te bereik, was toe aan die orde van die dag. Herman het nie net op strategiese vlak in die ATKV-direksie onmeetbare insette gelewer om dit te implementeer nie, maar ook op praktiese vlak by die ATKV se takke.
Herman was ’n stoere ondersteuner van die ATKV se uiters suksesvolle Rieldanskompetisie. Hy was baie opgewonde oor die ATKV en LAPA Uitgewers se projek om resepteboeke van die tannies van Bonteheuwel, Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, te publiseer. Hy en Carol het, as hulle kon, talle ATKV-projekte soos Musiq, Musiqanto, Crescendo, en redenaars- en debatskompetisies slaafs bygewoon.
Hy was ’n bekende krisantkweker en het aan die krisantevereniging, wat reeds sedert 1917 bestaan, behoort. Hy was oor jare op bestuursvlak by die vereniging betrokke en het verskeie pryse op skoue losgeslaan.
Herman was altyd baie trots op die Wellington Klopse, wat al sedert 1909 bestaan en wat later jare deur die ATKV geborg is. Ek onthou die feestelike atmosfeer met honderde toeskouers wat jaarliks op die Boland-rugbystadion byeengekom het en die spontane deelnemers wat die Afrikaanse moppie en die Nederlandse lied gesing het. Die musiek was uit die boonste rakke, die passies het mens se voete laat jeuk, en die kostuums was kleurvol. Die name van die troepe was almal blommename, soos die Tulips, die Coronations, die Caledonia Roses en die Disas.
Herman was ’n groot kerkman by die Wellington VGK en het talle belangrike gesprekke en byeenkomste met die NG Kerk gefasiliteer.

Foto’s: Japie Gouws
Hy was vir jare op die direksie van die Groot Constantia Landgoed. Hy het ook self wyn na China uitgevoer. Met my uittrede by die ATKV in 2017 het die direksie vir my ’n afskeidsete gereël. Tydens die geleentheid het Herman namens die direksie ’n toespraak gehou en ’n geskenk aan my oorhandig. Dit was ’n 2012-bottel Grand Constance in ’n netjiese kissie. Die wyn, wat gemaak is van Muscat de Frontignan en in eikehout beleë is, het ontstaan in die tyd van Napoleon Bonaparte, koning Louis Philippe van Frankryk en Frederik die Grote van Pruise. Hulle was almal klante van Groot Constantia.
Beste Herman, die wyn staan nog veilig en onoopgemaak op my wynrak. Ek dink die tyd het aangebreek om ’n heildronk op jou en Carol in te stel. Op die wonderlike mense wat julle was en op die belangrike rol wat julle in talle mense se lewens en gemeenskappe gespeel het.
Ons sal julle altyd onthou.
Lees ook:
The post Herman Bailey, man van krisante en wyn appeared first on LitNet.