.......
Sy wat so lewenskragtig was. Skrywers aangemoedig het. Wat ’n naweek op hulle plaas gaan werk het met klippe en drade en Maandag met ’n verrinneweerde hand inspirerende kritiek kon skryf. Dit is wat my oortuig en gehelp het en wat ek altyd van haar sal onthou.
........
As my kollega by Tafelberg-Uitgewers was sy vir my Petra Grütter. Met haar publikasies: Petra Müller.
Petra se gedigte oor die plaaslewe spreek my aan; ook haar verhale daaroor.
My jeug was egter onder die Brandwachtberge by Worcester; wingerd- eerder as Petra se graanwêreld.
In “landmyn” herken ek ook my militêre diensplig in die jare sestig. Minus die ervaring met ’n landmyn. Die jong dienspligtige dink terug aan sy verlede. Dan maak “die aarde rooibek oop” en laat die landmyn hom die hemel inklim. Maar:
ver terug in geel moorreesburg blý
die nuutgeverfde rooi mcCormick-deerings loop
wat kos met kwartels
uit die graanland stroop
Uit die bekroonde Patria, Tafelberg, 1979
Ek het nog ’n gunsteling in die bundel. In “swartlandse lente” waardeer ek haar “bekwerk vir boeta”. Dis die lewerik wat “hoog bo samaria” sing van “sie’a sie’a” terwyl die boeta “ruglings in ’n see van sporrie lê,” en glo: “ hy sal my huis toe neem.”
Die windskerm van 1963 was my kennismaking met haar prosa. Iets magies daarin.
Toe Petra van Sarie oorgekom het na Tafelberg-Uitgewers se afdeling vir fiksie vir volwassenes (oorspronklik fiksie en belletrie genoem!), kom daar ’n belangrike verandering in die keuring van ingestuurde en afgelewerde tekste.
Teen 1972 was die beleid dat elke redakteur een teks op ’n keer uit die lang “boot” van ’n rietmandjie in ’n kluis sal gaan haal vir keuring. Vanmiddag weer gaan toesluit … iets wat gou in onbruik verval het. Die oorlaaide lessenare en boekrakke het daarvan getuig. Later was die insendings volgens afdelings op houtrakke gepak.
Sou die teks hoegenaamd nie as boek gepubliseer kon word nie, moes die terugsending vergesel wees van ’n hoflike brief. En belangrik: nie met ’n afgerolde formulebrief nie. Die seniors, soos JD Pretorius, Tonie Roux, Klaas Steytler en Berta Smit, het geglo skrywers vergelyk die afkeurbriewe onderling. Jy moet jou rig tot die skrywer en iets meedeel wat die afkeuring versag. Dit het reeds gelei tot juffrou Berta Smit se barmhartige mededelings aan die skrywers. Maar wanneer sy die teks aanbeveel vir publikasie! Dan was daar talle lieflike stelwyses en beeldspraak in haar briewe. En goeie wense: “Mag die olie op u hoof nie ontbreek nie!” Elke redakteur het in daardie tyd baie van die uitgeeproses saam met ’n skrywer en ander kollegas hanteer.
Nou het Petra die keuring gedoen tot voor redigering. Afgekeurdes het sy ook laat versend. Maar veral was haar onderhandelings daarop ingestel om aanvaarde werk nog beter te kry voordat dit na ons, die redakteurs, gekom het vir redigering, proeflees en hulp met reklame.
In haar tyd met haar uitstekende korrespondensie het ek begin dink aan ’n brieweboek met ’n keur uit haar, Berta en van ons ander se korrespondensie. Dit is (nog) nie gedoen nie.
My kantoor was langs Petra s’n. Ek kon met die verbyloop sien en agter my lessenaar hoor wanneer sy gevestigdes en debuterendes te woord staan. Met die filosoof Martin Versfeld voor haar netjiese lessenaar was daar kort voor lank dawerende gelag! As die debuterende digter Donald Riekert uit Kuruman se wêreld opgedaag het, was ’n paar van sy kindertjies ook by. Iemand het altyd saamgekom om die woelwaters by die trappe op te pas.
Soos ons ander het ook Petra nog dikwels ’n mening ingewin van ’n letterkundige of ’n gesaghebbende oor ’n tema. Hierin het haar ervaring as joernalis en verhaleredakteur baie gehelp.
Op ’n keer beland ek en Petra saam in die “moeilikheid”. Besturende direkteur Danie van Niekerk belê ’n vergadering van die bemarkers met redakteurs van een redaksie-afdeling op ’n keer. Die redakteurs moet inligting gee oor boeke wat betyds vir die Kersmark gelewer sal word. Ek begin vertel van WEG Louw se versamelde gedigte. Gaandeweg raak ek “oneerbiedig”, spot so half met die digter se outydse woorde plek-plek. Petra begin meedoen. Mnr Van Niekerk lees ons verkeerd. Vir hom kom dit voor asof ons nie werklik entoesiasties is nie. Dit terwyl ek juis al ’n lang pad met Louw geloop het en trots daarop is. Was student van hom op Stellenbosch; hom later gehelp met proewe van Standpunte.
Mnr Van Niekerk spreek ons driftig aan: “Danie! Petra! Wie betaal julle salarisse?!”
Die bundel het verskyn.
In my ruk by kinder- en jeugboeke het mnr Van Niekerk en mnr Jürgen Fomm (produksiehoof) weer saamdrukke van byvoorbeeld prenteboeke met oorsese uitgewers laat herleef. Ek het nie gehuiwer om Petra te laat vertaal nie, byvoorbeeld Kurt Baumann se Die drie konings – ’n Kerslegende in volkleur.
Ons het ’n paar ope dae gereël en die Maties kon werk vir haar instuur en dan op ’n Saterdagoggend kennis maak met haar en ander redakteurs. Ons het gesels oor uitgewerswerk en ook veral Petra se skryfleiding ontvang. Verversings is voorgesit deur Jürgen Fomm!
In dié jare kry ek sielkundige hulp met uitbranding en depressie van ’n psigiater en ’n psigoloog. Medikasie het veroorsaak dat as ’n manspersoon in my kantoordeur kom, ek dadelik sou gedreig het: “Vir jóú dôner ek!” Op ’n middag gee Petra my raad sommer in die gang, maar met haar volle aandag: “Danie, sê vir jouself: Dit gaan sleg met my. Baie sleg. Maar in die verlede het dit góéd met my gegaan en dit kán weer so gaan.” Sy voeg by dat sý al aan iets soortgelyks ontkom het.
Sy wat so lewenskragtig was. Skrywers aangemoedig het. Wat ’n naweek op hulle plaas gaan werk het met klippe en drade en Maandag met ’n verrinneweerde hand inspirerende kritiek kon skryf. Dit is wat my oortuig en gehelp het en wat ek altyd van haar sal onthou.
The post Herinneringe aan Petra appeared first on LitNet.