Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

Sondagoggend en nege Post-Its van Petra

$
0
0

Jacobsbaai. Dis wat uitspring ná ek hoor jou asem het opgeraak. Jacobsbaai toe te ver vir ’n onbeplande heen-en-weer. Dan maar Kalkbaai. Ingeryg soos krale van hout lê tien werkskuite wat poskaartskuite geword het, maar steeds uitgaan op hoop vir brood van onder die water.

Twyfel of jy my hoor bo die klettery van die koffiekafee met die ruite van vloer tot dak oorkant die hawe. Ek skryf eerder: Dankie vir die aandag van jóú oë.

Petra Müller afgeneem tydens ’n besoek van Rachelle Greeff aan Petra by Die Plaas in Piketberg. (Foto’s: Louis de Villiers)

’n Kakofonie tussen borde bikers fietsers koppies koffiemakers kelners en iemand bring boonop twee keffers aan band in.

Jy knip nie ’n oog nie. Elke skuit in die hawe omtower jy tot ’n Post It-plakker.

Post-It 1

As jy elke oggend in dieselle oliepak klim, weer van die kant van die kaai oortrap op die dek, weer jou boeg draai na die diepsee, mag jou werkbote dalk, dálk, ééndag poskaartbote word.

Jirre, Petra kan tog so pedanties wees, het sommige gemoan. Daai krom vinger. Jy het my ook ou testamenties ondervra:

Post-It 2

Jý ’n román? En later: Gaan dit nou nét toneel wees? Asof ek my kinders verdrink het en veld in is agter ’n mannetjiesmaanhaar aan.

Dit was niks. Alles was in die oomblik toe jy iets kloppends, die omvang van my vuis, uit my lig, op jou handpalm hou en jou fletsblou oë sê:

Post-It 3

Kyk stip, so klop jóú hart.

As ’n pasgebore skrywer gelukkig is, strek so ’n hand onvoorsiens en vlietend net een keer uit na haar. ’n Geskenk van ’n leeftyd.

In die twee jaar voor my eerste storiebundel Die rugkant van die bruid het jy drie briefies op dun papier met die hand geskryf en gepos na St Thomasweg 21, Nuweland. Ek het die inhoud meestal al vergeet, maar grepe dobber taks boontoe soos nodig:

Post-It 4, 5, 6, 7 & 8

Moenie bekommerd wees nie, die lewe bring stories soos dit bybies bring.

Gaan die onkoste aan en kry ’n nuwe tiklint. Die meeste redakteurs lees saans by die huis na ’n heeldag lees op kantoor.

Moet jou nou nie steur aan wat ander om jou skryf nie. Lees mites, poësie, sprokies, verse, mitologieë, legendes, gedigte & wynetikette.

Skryf ook oor die vreemdeling in die hoekhuis.

Maar ook oor die liefde. As ons die liefde vergeet, vrek ons soos hoenders in die hitte.

In “Luiperd”, die storie oor die tier van Botrivier waar jy in die polisiehuis grootgeword het, skryf jy:

Post-It 9

Iewers neem ’n verhaal sy eie loop en glip onder jou uit, op sy eie koerse. Hy maak sy draaie en miskien kom hy, soos ’n hond wat op jag gegaan het, na jou terug en bring sy prooi saam: Die nóg warm liggaam van ’n wese wat jy glad nie herken nie. Jy bekyk dit. Dit is ’n openbaring. Waar kom dit vandaan, en wat sal jy dit noem?

En toe móét jy my, eerste paarseltjie stories pas uit, aan Marie Tredoux gaan voorstel. Ons ry op die Weskuspad Jacobsbaai toe. Jy en skrywer EM (Sussie) Kotze voor in die kar. Agter tel ek tande.

Ons eet bredie met veldkool. Die broodsnye, soos die hand van ’n boer, lê Marie se blommetjiekleinbordjies toe. Jy en Marie en Sussie is skunnig om die tafel. Van allerlei aardige mense, lewend en dood, vertel julle. Leedvermaakloos, maar verskriklik vermaaklik. Marie se mond pruimrooi. Sy sit haar mes en vurk neer. En meteens soeter as die huiskonfyt oor die middagetebredie: Klim oor die duin as die son gaan kooi soek, klim deur die seelaventel

Sou jy toe kon raai “Jacobsbaai se aandlied” van Marie sal dekades later in die nuwe FAK opgeneem word? En dat ons agter ons skryftafels kan sit en dit uit ’n skerm kan luister op YouTube? En dat jou heel mooiste poësie eers vorentoe sal volg op die afsterwe van jou hartsmense, maar nie Marie nie, sy sing steeds op 92.

Voor ek dié begin skryf, haal ek al jou boeke uit. ’n Gevoude A4 glip uit. En dit?

A! Die laaste van Kalkbaai se tien visserskuitplakkers.

Enkele maande voor jy dit geskryf het, het Desembers verskyn. Registreer ek nou eers jy het die laaste agt woorde onderstreep of het dit maar net in die omtes van vergeet verdwaal?

Jou ouma, “die beroemde Annie Skilpad, weduwee van mooi-Arend Dippenaar … Dis sý wat gesê het: Ek sal lank dood wees, dan sal julle nog van my praat”.

Soos die duisend-en-een stories van haar kleindogter.

“As my hond doodgaan, breek ek middeldeur.” Petra was baie lief vir haar honde. Die bokser Jemima verskyn op die foto’s bo. (Foto’s: Louis de Villiers)

* Petra Müller van Tafelberg Uitgewers was die eerste leser en keurder van Rachelle Greeff se eerste stories in die laat tagtigs. Baie jare later het Petra en die uitgewer gevra dat Rachelle ’n keur uit haar verhale saamstel. So het Desembers in 2007 gebeur.

 

The post Sondagoggend en nege Post-Its van Petra appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>