Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

In memoriam: Lucinda Riley

$
0
0

Om 17:50 skryf my vriendin Phophi: “Izak! Oh my word”.

Ek klim op die internet. Leonie van Rensburg, daardie doyenne van Graffiti Books & Stationery, het reeds op haar Facebook-blad die amptelike berig gedeel: “Lucinda Riley’s family announce that she has died after a four year battle with cancer.”

Haar uitgewer bevestig dit

Ek het Riley nooit geken nie, maar is een van die miljoene lesers wat my verlustig het in haar reeks oor die sewe susters.

Hoekom? Ten eerste is dit uitstekende stories waarin jy vir ’n oomblik jouself kan verloor. Sy skryf onderhoudend.

Ten tweede is elke boek besonder goed nagevors, maar nooit ooit sien jy die navorsing deurskyn nie.

Ten derde het sy ou, siniese mense weer in sprokies laat glo – net vir ’n rukkie lank. Die sewe prinsesse in die kasteel daar aan die oewers van ’n Switserse meer, met ’n stinkryk pa ... En boonop: Elke prinses moet ’n geliefde vind, nie waar nie?

En tog ... Dit is juis die manier waarop Riley haar politieke aktivisme in haar sprokies ingeweef het wat my jaloers gelaat het op haar vernuf.

Hierdie ryk poppies leef nie in glasskoene nie – hulle tekkies tref die aarde soos enige ander mens s’n. Die prinsesse beleef dalk nie armoede nie, maar elke liewe een se voorgeslagte het bitter brood geëet.

Die eerste boek in die sewe susters se reeks toon reeds die armoede van die werkersklas in Parys en die donker werklikheid van Rio de Janeiro se favelas aan die voet van die massiewe Christusbeeld.

Boek twee ondersoek die verskrikking van fascisme en die vervolging van die Jode.

Boek drie is dalk die ligste van almal, maar toon tog hoe vroue in Victoriaanse Engeland aan die mans uitgelewer was. Jy was houvrou of maagd, diensmaagd of courtisane. Diegene wat die status quo uitgedaag het, soos Beatrix Potter, is na die samelewing se rande gestoot.

Boek vier lê die wreedhede teen die Aborigines in Australië bloot.

In boek vyf leer ons die Roma, beter bekend as sigeuners of Gypsies, ken.

Boek ses jukstaponeer die hedonisme van die koloniale bestel in Afrika teen die wrede werklikheid van swart wees in die VSA – selfs vandag nog. Black Lives Matter was nog nie ’n mantra toe die boek geskryf is nie, maar enigeen wat dit lees en steeds in ontkenning leef ... wel, daar was mense wat vir Trump gestem het; selfs swart mense.

In boek sewe gaan sy terug na haar eie land en praat oor die Iere se stryd teen hulle koloniale heersers, maar ook die bloedige burgeroorlog waar broers teen mekaar baklei het.

Illustrasie deur Pan Macmillan

Deur dit alles staan een ding sentraal: Vroue is sterker as wat menige man ooit sal wil erken.

Sy sê dit self op haar webruimte:

And I wanted to celebrate the achievements of women, especially in the past, where so often, their contribution to making our world the place it is today has been overshadowed by the more frequently documented achievements of men.

Die boeke bly egter sprokies, gebaseer op die mitologie van die sewe susters van die Pleiades. Sy vervleg die ou mites met harde geskiedkundige feite en moderne, hardkoppige heldinne. Sy gaan krap in die oeroorsprong van sprokies wat nie altyd soos Walt Disney geklink het nie.

Tog, geen goeie storie oor sewe prinsesse kan eindig sonder dat die prinses haar wederhelf gevind het nie. Mos. Sy sê dit self:

However, the definition of “feminism” is equality, not domination, and the women I write about, both in the past and present, accept that they want and need love in their lives, not necessarily in the traditional form of marriage and children. The Seven Sisters series unashamedly celebrates the endless search for love, and explores the devastating consequences when it is lost to us.

Tog... nog eens daag sy die stereotipe uit, want nie almal wat suksesvol na die prinses se hand vry, is prinse nie. Sommige is nie eens mans nie.

Haar eie woorde sê dit mooi:

The world is sadly still not a perfect place, and I doubt it ever will be, because there will always be a new challenge ahead. Yet I truly believe that humans – especially women – thrive on this. We are, after all, the goddesses of multi-tasking! And every day – with one hand guiding my children, and the other a manuscript – I celebrate the fact that my “freedom” to be who I am was won by thousands of generations of remarkable women, perhaps leading right back to The Seven Sisters themselves …

Ek het vir ’n oomblik gewonder hoekom ek hartseer was toe ek Leonie se bevestiging op Facebook gelees het. Ek het Riley nie eens geken nie. Toe besef ek: Riley het tog iets baie persoonlik vir my beteken. Ek en my geliefde is redelik uiteenlopende mense. Dit is dalk juis ons verskille wat ons bymekaar hou. Maar Riley is een van ons baie gedeelde kodes. So het ons een naweek weggeglip en ’n hele naweek in die berg gaan sit en lees – elkeen met ’n Lucinda Riley in die hand.

Phophi se boodskap, gedeel met haar toestemming

Phophi se boodskap sê dit ook.

Nou wil almal, waaronder Phophi en my geliefde, egter weet: Kon sy Pa Salt se storie klaar vertel voor haar dood? Of gaan ons almal, soos die sewe susters, bly wonder? Het sy, soos Pa Salt, geweet die einde is naby en toe die koördinate neergeskryf vir die (ewige) soektog om te begin?

The post In memoriam: Lucinda Riley appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>