Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 472

George Hallett (1942–2020): Flitse van ’n fotograaf se lewe

$
0
0

Foto van George Hallett: Jimi Matthews

George Hallett, wat privaat veras word (Donderdag 9 Julie), was ’n cat met ’n kamera. Hulle word nie meer so gemaak nie. ’n Cat dra die kamera, waar hy ook al gaan, gemaklik om die skouer of om die nek; ’n cat sweefstap; ’n cat is aantreklik; en ’n cat is altyd, na die Kaapse uitdrukking, “nat geslat” – of in die Engels van Hallett se een broer, John: “He liked to dress well.”

Om dié cat se mond en in sy oë het altyd ’n ondeunde glimlag getrek waarvan jy nie sommer kon wegkyk nie; waarop jy, soos met bepaald die skoner geslag die geval was, maklik verlief kon raak. Dít, en sy kenmerkende bos donker hare. Maar wanneer ’n cat ’n fotograaf is – en dit is dalk die vernaamste karaktereienskap om van George Hallett te onthou – stel hy jou, die model, gerus voor die kamera, laat hy jou glo die kamera se lens (én die fotograaf) respekteer jou én is verlief op jóú.

Die persoon, die subjek, wat hy afneem, het hy geglo, moes nooit as ’n blote objek gehanteer word nie: “You could not photograph the subject if you didn’t understand the subject,” is wat die nuusman Jimi Matthews aan’t huis by Hallett in die suide van Frankryk geleer het.

Én dat jy foto’s máák; nie slegs maar foto’s néém nie.

“George was always conscious of the potential power of his images and that is why he spent so much time in planning his portraits,” skryf Ryland Fisher in verlede naweek se Weekend Argus.

*

Die kreatiewe vurk in die pad vir Hallett, wat in Houtbaai by sy grootouers opgegroei het, was op ’n jong ouderdom ’n keuse tussen sy twee groot belangstellings: skilderwerk en fotografie.

Hierin het die skrywer Richard Rive, destyds sy Engels-onderwyser aan South Peninsula High, ’n bepalende rol gespeel. Rive was ’n gerekende literêre figuur, bekend in kunskringe, en dié wêreld het ook uit ander cats bestaan, soos die kunstenaar Peter Clarke en die digter en kortverhaalskrywer James Matthews. Clarke is deur Rive vir sy mening oor Hallett se vroeë skilder- en fotografiepogings gepols; en Clarke se gevoel was dat Hallett meer potensiaal as ’n fotograaf eerder as ’n skilder getoon het.

Clarke, ook digter, skrywer en illustreerder van boeke, se gevoel was in die kol.

Dit was in dié soort geselskap van Rive, Clarke, Matthews en Clarence Coulson en ook die vroeë proponente van wat nou alom as Kaapse jazz bekend staan, onder wie die pianis Abdullah Ibrahim, toe nog Dollar Brand, dat Hallett se liefde vir boeke, lees, kuns en musiek ontkiem het. Ook sy politieke bewustheid, en nie net sy kulturele ontwaking nie, het sodoende gegroei.

Hierdie bewustheid en ontwaking is waarskynlik waarom ons vandag toegang het tot die waardevolle Hallett-portefeulje van die ou Distrik Ses voordat dié woongebied in 1966 wit verklaar en daarna platgestoot is. Dit was Matthews (sr) wat hom aangemoedig het om dit te doen, lees jy in More than brothers – Peter Clarke & James Matthews at 70, saamgestel deur Hein Willemse (Kwela Boeke, 2000), en waarvoor Hallett talle foto’s van die twee uiteenlopende mentors en skrywerbroers verskaf het.

Maar sy eie vyf jonger broers was van kindsbeen af reeds sterk onder die indruk van sy artistieke flair waaraan hy hulle ook mettertyd blootgestel het: in ’n donkerkamer vir die ontwikkeling van sy foto’s wat hy in die gesin se agterplaas ingerig het. Foto’s was sy skilderwerk, sy komposisies, sy poësie. En daarmee saam onthou John: “George was a restless individual, always looking for a change.”

*

Foto van George Hallett: Jimi Matthews

Hierdie “rusteloosheid” het gemaak dat Hallett, wat verlede Woensdag op 78 jaar oorlede is, in 1970 sy geboorteland vir Europa verruil het. “Sometimes the exile is self-imposed; sometimes it is enforced,” herinner Cosmo Pieterse lesers in die voorwoord van die versamelbundel Seven South African poets (Heinemann, 1971); “but it is exile, not the grand global tour.”

Selfopgelegde ballingskap was egter goed vir Hallett, het hom tot ikoniese status as fotograaf verhef, met aansien soortgelyk aan die aansien wat ander fotograwe plaaslik geniet, onder andere Peter Magubane, Jürgen Schadeberg, Omar Badsha, David Goldblatt. Dit was grootliks te danke aan die feit dat sy paaie in Londen met die uitgewer James Currey van Heinemann gekruis het, ’n geleentheid waarvoor ’n ou vriend en Suid-Afrikaanse uitgewekene, Isaiah Stein, die aanvoorwerk gedoen het.

“We met in a beautiful traditional pub with ornate mirrors and dark wooden interiors,” beskryf Hallett met die gedetailleerde oog van ’n fotograaf die ontmoeting in Currey se boek Africa writes back – The African Writers Series & the launch of African literature (2008).

Die atmosfeer was plesierig en gemoedelik, vertel hy voorts; ander direkteure van Heinemann was ook teenwoordig, “enjoying a tankard of bitter”, terwyl Currey geanimeerd gepraat het oor die African Writers Series (AWS) en hoedat hy die omslae wou aanpas van die “akademiese” gebruikstyl van tekeninge voorop na ’n meer kontemporêre gebruik van foto’s. (Wat die AWS toe reeds in die uitgewerswêreld onderskei het, sê Willemse, was die gebruik van sagtebanduitgawes eerder as die standaardgebruik van hardeband eerste.) Het hy al enige omslae in Suid-Afrika gedoen? wou die uitgewer Currey van die fotograaf Hallett weet. Um, natuurlik, ja; ja, het die fotograaf geantwoord ... behalwe dat hy nie enige voorbeelde saamgebring het nie, maar as Currey hom ’n geleentheid sou gun, sou hy hom wys waartoe hy in staat is.

Boekomslag voorsien deur Dickie & Bugler Narratives

’n Afskrif van die manuskrip van Dominic Mulaisho se The tongue of the dumb is dié dag saam met Hallett huis toe en nadat hy tot omtrent middernag daaraan gelees het, het hy sy gedagtes laat gaan oor moontlike illustrasies vir die voorblad. Dit is toe dat hy onthou van die foto wat hy van ’n houtbeeld van Frank Brown, familie van Clarke, geneem het; dié foto het hy in repe opgesny, herrangskik en ’n nuwe illustrasie daaruit geskep.

Currey kon die volgende oggend sy oë nie glo nie – en só is die weg gebaan vir ’n kreatiewe verhouding met Heinemann Educational Books wat langer as ’n dekade geduur het. Modelle vir die omslae het bestaan uit lede van die Suid-Afrikaanse gemeenskap van politieke bannelinge – Pallo Jordan (later onder meer minister van kuns en kultuur), Gavin Jantjes, Louis Moholo, Lorna de Smit en ander, terwyl artefakte en uniforms uit die Britse museum en ’n massiewe pakhuis, asook Afrika-maskers uit plaaslike galerye, gesorg het dat tonele herskep kon word asof die fotosessie in Nigerië, Gabon, of selfs Distrik Ses plaasgevind het.

“Dit was veral die intellektuele binding tussen sy fotografie en die teks van die boeke wat die AWS ’n spesifieke identiteit gegee het,” sê Willemse vir die doel van hierdie huldeblyk.

Maar Hallett het sy rol nie beperk tot net die skep van kreatiewe voorblaaie nie; die skrywersfoto’s wat op die agterblaaie gebruik is, aanvanklik meestal van die paspoorttipe, moes ook ’n omwenteling ondergaan, het hy hom voorgeneem. Wanneer hy dan gehoor het een van Heinemann se Afrika-skrywers was op besoek aan Londen, het hy ’n afspraak gereël om ordentlike portretfoto’s van die skrywer te neem.

Ook die Afrika-skrywerskonferensies in 1979 in Berlyn en in 1980 in Frankfurt, asook die Culture & Resistance-konferensie in 1982 in Gabarone, Botswana, het hom die gulde geleentheid gebied om hierdie skrywers op film vas te lê.

Jy kan dié foto’s op die voorblad van Currey se Africa writes back sien. Dit stel die room van die pioniers van Afrika-letterkunde in Engels ten toon: Chinua Achebe, Ngũgĩ wa Thiong'o, Bessie Head, Alex la Guma, Wole Soyinka, Dennis Brutus, Dambudzo Marechera, Nuruddin Farah.

Hallett se fotografie “is ’n rekord van ’n periode”, sê Willemse, professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. “En het jy die omslag van Maru van Bessie Head gesien?” vra hy. Die voorblad is ’n illustrasie van ’n opmerking oor sy werk deur Hallett self in Currey se boek: “I had to create my covers with real people and objects.” In dié geval is ’n jonger weergawe van die nou ook befaamde Suid-Afrikaanse skrywer Zoë Wicomb as model gebruik.

*

Portretstudies is waardeur hy hom onderskei het, ofskoon dit vir nuusfoto’s was dat hy sy grootste internasionale erkenning ontvang het, naamlik ’n Golden Eye-toekenning van die World Press Photo-vereniging in Amsterdam. Dit was vir die opdragwerk van die ANC (moontlik gemaak deur Jordan) om Nelson Mandela in die aanloop tot die geskiedkundige 1994-verkiesing op film vas te lê; om dié onlangs vrygelate vryheidsvegter, onderweg na sy reïnkarnasie as eerste staatshoof van ’n demokratiese Suid-Afrika, “aan die wêreld te wys” (in Neelika Jayawardane se woorde op die webwerf Africa is a Country).

Ongetwyfeld is dit hierdie werk wat later ook aan Hallett die rol as amptelike fotograaf van die Waarheid-en-versoeningskommissie besorg het. (Meer volledige inligting oor sy lewenslange werk, tentoonstellings en publikasies kan onder meer op die SA History Online-webwerf gevind word: https://www.sahistory.org.za/people/george-hallett.)

“Wat jou die meeste van sy portraiture getref het, was die stille wyse waarop hy die persoon of die toneel kon vasvang – en dit is opvallend in die [pryswenner-]reeks met Nelson Mandela,” sê sy vriend Rashid Lombard, self ’n legendariese fotograaf. “En ook die feit dat hy, jy weet, ’n konneksie maak met die persoon wat hy afneem; dat hy seker maak die persoon is bewús van hom.”

Om dit te kon vermag, verduidelik Lombard, moes hy homself eers instudeer in die persoon en in die onderwerp en in die omstandighede en in die politiek en, uiteindelik en vernaamlik, in die lewe. Hierby voeg Matthews (jr) ’n belangrike les wat hy by Hallett geleer het toe hy vir sowat agt maande by hom in die suide van Frankryk gewoon het: “Indien die persoon nie afgeneem wil word nie, dan doen jy dit nie.” Maar veral die volgende les van ’n leermeester aan sy leerling (wat ook as model vir van die Heinemann-omslae diens moes verrig): “Fotografie is die uitdrukking van ’n idee of iets wat jy wil sê.”

Dit waaraan George Hallett onomwonde in sy fotografie uitdrukking wou gee, wat hy wou beklemtoon, was die léwe van ’n individu en ’n samelewing en ’n land – en sy eie passie daarvoor en belangstelling én geloof daarin, hetsy dit die memorialisering van Distrik Ses was voor hy land-uit is of ná sy terugkeer, ’n kwarteeu later, die land se eerste demokratiese verkiesings en die WVK-proses. Soos Zaza Hlalethwa op Arts24 skryf: “As South Africa goes through another cycle of addressing the legacies left by colonialism [and apartheid], Hallett’s ability to capture pockets of pride and joy in the midst of perpetual turmoil continues to serve as a pertinent part of the country’s visual archive.”

Die woord joy kom ook voor in sy dogter Maymoena se huldeblyk: “Nobody can doubt his artistry in capturing beauty and joy in everything he saw through his eyes and his lens (...)”, toe sy verlede Woensdag op Facebook sy dood bekend gemaak het – vreedsaam in sy slaap, ná ’n lang siekbed. Gedurende hierdie tydperk, omtrent vier jaar lank, wou hy nie werklik mense sien nie. Miskien wou hy hê almal wat hom geken het, moes hom onthou soos wat die foto’s deur Matthews (jr) en ander hom uitbeeld en soos wat Lombard hom in ’n onderhoud op eNCA en Mymoena hom op Facebook beskryf het: “We will always remember him for his light, his laughter, his boisterous personality, his outrageous jokes and being the life and soul of many a party.”

Oor die kunstenaar Beauford Delaney het James Baldwin in 1965 geskryf: “Perhaps I should not say, flatly, what I believe – that he is a great painter, among the very greatest; but I do know that great art can only be created out of love, and that no greater lover has ever held a brush.”

Oor die fotograaf George Hallett word daar gesê dat hy sonder twyfel een van Suid-Afrika se grootstes was; en as dit waar is wat Baldwin oor Delaney geskryf het, dat gróót kuns slegs uit liefde geskep kan word, dan het geen groter minnaar al ooit ’n kamera vasgehou as die cat George Hallett nie.

The post George Hallett (1942–2020): Flitse van ’n fotograaf se lewe appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 472


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>