Quantcast
Channel: In memoriam - LitNet
Viewing all 470 articles
Browse latest View live

In memoriam: Bertie du Plessis

$
0
0

bertie214Bertie du Plessis is op 17 Desember na ’n kort siekbed aan kanker oorlede. Dit was vir almal wat na aan hom was ’n groot skok, want hy was so aktief en suksesvol as die Chief Learning Officer van die Naspers Groep die afgelope twee en ’n half jaar. Hy het wyd rondgereis en vernuwende meesterklasse en werkswinkels met onderwerpe soos UX-ontwerp, “Big data”, Strategie deur Harvard-gevallestudies, en vele meer vir die Naspers-groep binne Suid-Afrika aangebied, sowel as wêreldwyd in stede soos São Paulo, Hongkong en Poznań, Pole, met die hulp van net die top-deskundiges in die wêreld.

Bertie was ‘n indrukwekkende mens wat jy nie maklik sou vergeet na ’n ontmoeting nie. Hy was ’n man van vele talente en het ’n onuitputlike honger na kennis gehad – sommige van die beskrywings wat mense al aan hom toegedig het, sluit filosoof, veelsydige teoloog, kommunikasiekundige, strategieadviseur en kunstenaar in. Op sy nuutste webtuiste (www.bertieduplessis.com) beskryf hy homself as “Change Agent / Educator / Artist”. Hy sê hier ook: “People often ask me if I do not regret it that I do not practice fine art fulltime. My reply: ‘I do art all the time, but instead of using paint on canvas, my canvas is the human mind and my pigment human behavior.’”

Na hy in matriek die wenner van die Nasionale Wetenskap-Olimpiade van Suid-Afrika was, het hy ’n MA (cum laude) in Afrikaans en Nederlands en ‘n DTh-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Na amper tien jaar in die bediening het hy homself gevestig as ’n strategie- en kommunikasiekundige waar hy geput het uit die kennisvelde van gedragsekonomie en skrywers soos Daniel Kahneman, BJ Fogg en  Roberto Cialdini. Hy was oor die bestek van sy lewe dosent of gasdosent in ses verskillende dissiplines by tersiêre instellings: Afrikaans en Nederlandse literatuur, die literatuur van die Griekse Nuwe Testament, joernalistiek, beeldende kunste, grafiese ontwerp en besigheidsadministrasie en -bestuur.

My persoonlike ervaring van Bertie strek oor baie jare. My pa, wat professor in teologie was, was sy promotor en Bertie was sy sterstudent. Ek was toe nog op skool. Vele jare later het ons mekaar weer raakgeloop en hy het my ingetrek om die aanlynopleidinggedeelte van die Naspers Akademie te behartig. Dit was so ‘n wonderlike ervaring om nou met Bertie saam te werk – sy helderheid van visie, energie en toewyding was vir my ’n inspirasie.

Bertie was die afgelope jare ook by LitNet Akademies en LitNet betrokke, en het saam met Etienne van Heerden die LitNet-bestuurskomitee gevorm.

Kyk gerus na van Bertie se werk by die volgende skakels: Die Naspers Akademie as Chief Learning Officer, sy ouer webtuiste, waar daar inligting is oor vorige projekte, artikels as adviseur in Entrepreneur Magazine, sy bydrae by fin24.com, aanbieding oor “digital disruption and education” op YouTube; en besoek sy outeursbladsy op Amazon en besigtig van sy kunswerke aanlyn.

Ons het sowaar ’n groot gees verloor! En so skielik en voortydig, soos goed beskryf deur die sanger Jackson Browne toe hy ‘n vriend aan die dood afgestaan het: “He stopped his singing in the middle of his song.”

Bertie, jy word ongelooflik baie gemis.

Kosie de Villiers

Van links: Bertie du Plessis, Bharat Anand (Harvard-sakeskool), Felix Oberholzer (Harvard-sakeskool), Kosie de Villiers

 

The post In memoriam: Bertie du Plessis appeared first on LitNet.


Chris Barnard 15.7.1939–28.12.2015

$
0
0

Die gevierde Afrikaanse skrywer Chris Barnard is vroeg Maandagoggend 28 Desember in Pretoria oorlede. Hy was 76 jaar oud.

Christiaan Johan Barnard is in 1939 naby Nelspruit op die plaas Mataffin gebore, waar hy die laaste jare weer gewoon het. Hy was een van die mees bekroonde Afrikaanse skrywers, wat onder meer die Hertzogprys twee keer en die CNA-prys drie keer ontvang het. In 2011 was hy die ontvanger van die Sala- (South African Literary Awards) toekenning vir ’n leeftyd se prestasie.

Hy was ook een van die veelsydigste skrywers, wat romans, jeugverhale, kortverhale, verhoog- en radiodramas asook film- en TV-draaiboeke geskryf het.

Chris Barnard was een van die Sestigers wat in die jare sestig die hele gang van die Afrikaanse letterkunde verander het met sterk tematiese en vormvernuwing.

Op 16 November is sy regterbeen afgesit weens ’n bloedklont. Hy het daarna goed verbeter, maar die afgelope twee weke het sy toestand agteruitgegaan. Hy het uiteindelik aan ’n hartaanval beswyk.

Hy word oorleef deur sy vrou, die filmregisseur Katinka Heyns, hulle seun Simon, sy seuns Johan, Stephan en Tian uit ’n vorige huwelik, sy stiefseun Reghard, en sy broer Sam.

Reëlings vir ’n geleentheid om sy lewe te vier sal weldra bekend gemaak word.

The post Chris Barnard 15.7.1939–28.12.2015 appeared first on LitNet.

Vir Randall Wicomb: 'n Huldeblyk

$
0
0

Huldeblyke is soos blomme op ’n  graf: dit voel so vals omdat jy blomme moes gegee het toe die mens nog hier tussen ons was en mooi woorde moes gesê het toe hy of sy dit nog kon hoor. Ek weet dit help vir die skok en vir die hartseer, maar dié om wie alles gaan, sien of hoor dit nie eens nie. Of weet hulle juis nou; verstaan dit miskien nou soveel beter. Dit is net dat dit vir my, soos spyt,  voel of dit te laat is. Nou moet jy agterna sê wat die mens eintlik vir ons wat agterbly, beteken het. Nogtans wil ek hiermee hulde bring aan die ikoon Randall Wicomb, want sy stem bly in my, en baie ander bewonderaars, se ore  sing.

My pad saam met Randall was ’n pad van omtrent twintig jaar, vandat hy op ’n dag uit die bloute by my huis opdaag met sy kitaar en ’n bladsytjie papier. Natuurlik het ek geweet wie hy is, maar ek het hom toe nog nie self geken nie. Toe staan hy voor my, want hy wil vir my ietsie sing. Toe sing hy sy toonsetting van die Griekwapsalm 121, ek slat my twee oge op ...  Mag hy dit toonset? Jy vra nog!

Weet jy hoe voel ’n gewone mens as so ’n groot talent skielik op jou sitkamerbank sit en net vir jou ’n uitvoering lewer wat jy nooit ooit sal vergeet nie? Die woorde, weet jy, was eens joune, maar sonder die silwer vlerke van die musiek, die interpretasie van stem en snaar. En jy weet sommer hier kom iets groter en mooier as wat jy kon gedink het. Sommer net so, sonder dat jy dit gevra het.

So was hy: jy het nooit geweet wat volg nie, al het jy geweet daar moet iets kom. Talent kondig homself mos nie oor raserige luidsprekers aan nie. Dit adverteer nie op padborde langs snelweë nie. Dit lewe vanself – as dit goed is en dit bly lewe as dit uitsonderlik goed is. Daarom sal Randall se stem nie sterf nie, dit sal voortleef, al is dit digitaal. Dankie tog vir die digitale wêreld waarin ons leef.

Ek kan nie anders nie as om by die Griekwapsalms te begin, want ek het van die begin af met die ontstaan daarvan saamgeleef en saam beleef. Van daardie eerste dag wat hy en sy kitaar my sitkamer kom betower het, het ek geweet hier is iets aan die gebeur, al is my musikale aanvoeling maar betreklik verdag.

Dit was toe ook net die begin, want in die later jare negentig het ons weer begin praat. Randall wou meer Griekwagedigte hê om te toonset. Ek het ’n klompie gehad wat nog nie gepubliseer was nie en ek het een of twee nuwes geskryf. Hy was verder aan die toonset en ek het ondertussen aan ’n bundel  Griekwagedigte begin werk. Dit verskyn in 2001 onder die titel Innie skylte vannie Jirre. Sowat ses maande na die verskyning van die bundel kom Randall by die Aardklop Nasionale Kunstefees aan met die produksie van Innie skylte vannie Jirre. ’n Ongelooflike produksie, met Randall se toonsetting van ’n vyftiental gedigte uit die bundel. Daar moes ekstra vertonings ingeruim word, want dit was ’n hoogtepunt van die fees. En van vele feeste en vertonings daarna. Die bundel het saam met die vertoning en die CD wat daaruit gespruit het, byna volksbesit geword. As dit nie die talent van Randall Wicomb bevestig nie, weet ek nie. Die musikale talent as toonsetter en as sanger is dit wat in ons wat treur se ore en harte sal bly voortleef.

Daarna volg nog twee vertonings en CD’s met Griekwagedigte uit ander bundels. Die produksies en CD’s Hie neffens my en Kalaharikrismis is musiek van gehalte.

Randall se talent het vir die Afrikaanse musiek en liriek oneindig baie beteken omdat hy die ou Afrikaanse woord uit die sand kon gaan optel en dit nuut kon maak met ’n melodie en ’n stem wat die gewone woord tot ongewone kuns kon verhef. Nie sommer net kuns nie, maar kuns wat tot in die Europese sale geklink het en waardeer is. Hy kon die tradisionele lied, wat iemand soos Pieter W Grobbelaar opgeteken het, met sy voortreflike talent as sanger, weer aan die hele gemeenskap wat Afrikaans gebruik teruggee. Daarvoor huldig ons hom.

Randall was tuis op die verhoog. Nee, die verhoog was sy tuiste en die gehoor sy huismense vir wie hy lief was. Hy het vir musiek bestaan en die kwaliteit daarvan bly slyp, want hy het byna tot aan die einde  volgehou om sangonderrig te ontvang.

En hy was ’n mens. Ek en hy is op ’n keer genooi na die Ameliana-sorgsentrum in Potchefstroom. Hulle koortjie het vir ons Randall se toonsetting van  Voete vanne gemsbok ... (Habakuk 3) gesing. En hy wat Randall is, het saam met ons gehuil oor die aangryplikheid daarvan. Omdat die reus ’n mens was.

Ons huldig ’n groot man met ’n groot stem omdat sy talent nie onder die maatemmer gebly het nie, maar omdat hy dit onselfsugtig gedeel het met enigiemand wat wou luister na die stem wat nie gou gaan stil raak nie.

Hans du Plessis

The post Vir Randall Wicomb: 'n Huldeblyk appeared first on LitNet.

In memoriam: Rus in vrede, Chris

$
0
0

Dit vermoed ek al lank: daar is nie iets soos die toeval nie. Dis iets anders – wát weet ek ook nog nie – waarvoor ons die verkeerd woord blý gebruik. Terwyl ek met 'n mengsel van droefheid en ongeloof ná Chris Barnard se dood probeer om gesê te kry wat stories, taal, woorde in ons jarelange vriendskap beteken het, kom hier 'n e-pos van 'n gewaardeerde boekeliefhebber, Christo Steyn. Hy wonder of "storie-mense" 'n stuk sal geniet wat hy en Elsa, sy vrou in Salman Rushdie se Luka and the Fire of Life met groot plesier gelees het.

Die aanhaling is:

"But that's just a story," said Luka faintly.

"Just a story?" echoed Nobodaddy in what sounded like genuine horror.  "Only a tale? My ears must be deceiving me. Surely, young whippersnapper, you can't have made so foolish a remark. After all, you yourself are a little Drip from the Ocean of Notions, a short Blurt from the Shah of Blah. You of all boys should know that Man is the Storytelling Animal, and that in stories are his idor hy entity, his meaning and his lifeblood. Do rats tell tales? Do porpoises have narrative purposes? Do elephants ele-phantasise? You know as well as I do that they do not. Man alone burns with books."

Ek het Chris hoor sê: "Dis nie 'n wonder die Ayatollah wou hom laat vermoor nie. Lees weer daardie laaste sin."

Die sin is 'n Rushdie-variasie op twee bekende uitsprake: "net die mens verbrand boeke" en iets soos "net die of daardie soort motor loop van/met sulke brandstof".  Vry vertaal sê hy: Dis stories wat van die mens 'n mens maak, wat menswees betekenis gee, dis sy lewensbloed ... Net die mens brand van (of met) boeke, of, net die mens se brandstof is boeke.

Romans, kortverhale, essays, filmtekste, hoorspele, dramas, Chris se oeuvre is een van die veelsydigste in Afrikaans, dis bekend. En Die Burger het gelyk: ondanks sy vele kronkels en afdraaipaaie, het die gehalte van sy werk hoog gebly.

Maar meer prakties gesproke: Chris kon 'n storie uitdink op die ingewing van die oomblik (soos 'n gewone mens 'n leuen), dis hoekom sy "Chriskrasse" nie essays is nie, dis propvol stories. Dis ook hoekom hy opdragwerke kon lewer wat dan hoog aangeprys en selfs bekroon is.

En praktieser gesproke: hy kon sinne maklik láát lees. Min lesers weet: hoe makliker iets lees, hoe moeiliker is dit soms om dit maklik te kry! Hy kon dialoog verminder tot die regtig noodsaaklike vir sowel die karakterisering as die inhoud;  hy was as mens ook nie 'n praatjiesmaker nie.

En hy het ook geweet dat net tydsverloop en woordgevoeligheid (want "woord wek woord" – Opperman) van streekgegewens verhale kan maak oor die weë en afgronde van ons menslike toestand, soos Breyten al uitgewys het.

Maar agter al dié  talent en al die vaardigheid lê een van die insigte van daardie Rushdie-sin.

Chris se laaste storie het byna 'n jaar gelede verskyn, miskien selfs langer. Dit was so uitstekend dat ek hom gebel en geluk gewens het.

"Wanneer kom die volgende een?" het ek hom later gevra oor ek gedink het die beenstorie het net 'n nuwe reeks onderbreek.

Stilte. En toe net die een woord: "Waaroor?"

Daarop het ek nie 'n antwoord gehad nie. Was dit Chris? Daar was meer verkeerd as die been wat seer gekry het toe hy by 'n ete een aand in die donker oor 'n hond se leiband wat aan die tafelpoot  vasgemaak was, geval het. (Miskien het ek die erns van die been-probleem misgekyk oor hy so lank as wat ek hom geken het normaalweg trap-in-die-gaatjie geloop het.)

Ek het nie die Noodlot se hond herken nie en selfs toe sy been geamputeer is, het ek blý hoop sy nuwe woonplek (waarvandaan hy sy geboortehuis kon sien) sou my ou maat wat so gek was oor die Laeveld as ek oor die Klein-Karoo – weer kon maak brand.

Dit het nie gebeur nie. Dit kon nie.

Rus in vrede, Chris.

The post In memoriam: Rus in vrede, Chris appeared first on LitNet.

Chris Barnard gegroet

$
0
0

Op Woensdag 6 Januarie 2016 is afskeid geneem van Chris Barnard tydens ’n gedenkgeleentheid by die huis wat hy en Katinka Heyns op Onrus gedeel het.

Hy is op 28 Desember 2015 oorlede.

’n Eenvoudige gedenktafel met skulpe, blomme en twee foto’s van hom is onder ’n noem-noemboom naby ’n voëlbadjie ingerig.

Net buite die muur is ’n boom geplant vir Chris. Almal is genooi om ’n beker water op die boom te gooi.

Oral is suurlemoene en sonneblomme neergesit.

Sy boeke is ook op verskillende plekke neergesit.

Voor die tyd het Katinka ’n aantal kerse aangesteek.

Ons is genooi om ons plekke in te neem onder sambrele wat in die tuin staangemaak is.

Katinka het gesê dat Chris se menslike stem stil is, maar sy skrywerstem sal bly voortbestaan in sy stories.

Die sambrele is aanvanklik opgesit om almal teen die versengende son te beskerm, maar teen die tyd dat met die verrigtinge begin is, het ’n ligte stuifreëntjie uitgesak.

Katinka het opgemerk dat Chris die reën sou verwelkom het.

Sy het ons vertel van Chris se liefde vir die Bosveld, veral die bome. Hier staan sy met die peul van ’n doringboom.

Die hele natuur was sy kerk, het sy gesê.

Katinka het Chris in die teater ontmoet.

Toe sy saam met Koos Roets ’n dokumentêr oor die see wou maak, het hulle vir Chris genader om die verteller te wees.

Chris het gesê hy is nie juis ’n seemens nie. Hy hou van dinge wat stilstaan, soos bome, maar Jan Rabie, hý was nou ’n seemens. So het Katinka vir Jan ontmoet.

Uiteindelik het Chris en Katinka tog liefgeraak vir die see, deels omdat Jan hulle allerlei geleer het. Chris en Katinka het later langs Jan en Marjorie ingetrek – regoor die poel wat nou bekend is as die Jan Rabie Getypoel.

Chris se hart het egter altyd teruggehunker na die Bosveld, dit is hoekom hulle huis “Hier en daar” heet. Chris was hier én daar tuis.

Katinka het ook vertel van Chris se laaste aantal dae in die hospitaal. Hy wou dat sy ’n rok vir Kersfees koop, wat sy toe gedoen het. Sy het dit op Kersdag aangetrek, maar onder die beskermende klere wat hulle in die intensiewesorgeenheid moes dra, kon hy dit nie sien nie. Toe Chris vra, het sy die plastiekoorstuk uitgetrek en vir hom gedans sodat hy die rok kon sien.

Hier wys sy vir ons: sy dra die einste rok.

Braam de Vries het daarna die woord gevoer. Braam het staaltjies van die Sestigers vertel, onder andere van ’n kaalswemmery in Chris-hulle se swembad. (Dit was darem donker én donkermaan, het Braam vinnig bygevoeg.)

Braam en Chris het saam by Die Vaderland gewerk.

Pieter Spaarwater, wat tóé al net soos Chris gelyk het, was ’n kollega by Die Burger. Pieter kon Woensdag se geleentheid bywoon. Hy lyk nog steeds soos Chris gelyk het voor hy oorlede is en Chris en Pieter is op grond hiervan soms met mekaar verwar.

Braam het ook vertel hoe Chris vir Cobus Rossouw bewonder het. Chris het Pa, maak vir my ’n vlieër, Pa daar in Die Vaderland se kantore sit en skryf en het van die begin af gesê Cobus moet die hoofrol speel, wat toe ook gebeur het.

Frederik de Jager het toe die woord gedoen. Hy het Chris leer ken as redakteur, maar het later ’n vriend geword. Frederik was die redakteur van Moerland, Oulap se blou, Boendoe en Die Wonderwerker.

Chris kon baie ernstig voorkom, vertel Frederik, maar as jy hom geken het, kon jy sien daar is altyd ’n skalkse laggie te bespeur – soos op die foto voorop die klein huldigingspamflet wat aan die gaste uitgedeel is.

Die huldigingspamflet het heelwat foto’s en baie interessante stories oor Chris bevat.

Cobus Rossouw het ook gesels oor die jare toe hy in Chris se toneelstukke gespeel het.

Pas ná Cobus klaar gepraat het, word die reën skielik harder. Katinka sê daar en dan dat sy dink Chris, wat ’n hekel aan aan lang toesprake had, hiermee vir haar probeer sê genoeg is genoeg; dus nooi sy ons om ’n kers te kom aansteek vir Chris, ’n wyntjie te drink en saam te eet.

Eduan Naudé en Katinka steek kerse aan vir Chris.

Braam de Vries steek ’n kers aan.

Pieter Fourie steek ’n kers aan. Links van hom is Marieta Nel, regs is Cobus Rossouw.

Marieta Nel, Sandra Kotzé en Cobus Rossouw

Hannie de Vries

Hannie vertel dat sy al ’n bak lasagne reg gehad het, want Chris en Katinka sou kom kuier. Toe is hy in hospitaal toe.

Almal het stories oor Chris. Hier wys Johan Barnard, Chris se seun, ’n boodskap op Facebook. Dit lees: “Die oom wat Danda geskryf het, is oorlede en my hart is seer – kinderboek oor ’n seun en sy dinge wat ek vir my seuns kon lees en wat ons almal ewe veel geniet het. Dankie Chris Barnard. Rus in vrede.”

So lyk Johan Barnard.

Chris se jongste seun, Simon, was ook daar.

Verskeie skrywers, letterkundiges, vriende en famille het die geleentheid bygewoon. Craig Chapman het gesorg vir die kos.

Petra Müller

Karina M Szczurek

Pieter Fourie

Annari van der Merwe

Marieta Nel

Estelle Spaarwater

Hannes Naudé

Gretha Naudé

Sandra Kotzé

Francis Galloway

Flick du Toit

Rebecca Koroko, Mike Kolokole, Stanley Nselema en Sharon Nselema

Gerhard Barnard

Brian Verwey

Douw Steyn

Rudi en Lynette Labuschagne

Eduan Naudé, Anneke Weidemann en Annchen Weidemann

Justa Niemand

Zahn du Toit en Morgan Hyett

Nog eens Morgan

Sami en Lana Naudé

Cobus Rossouw skryf ’n finale boodskap.

Onthou: die skrywer se stem leef voort in sy boeke, sê Katinka.

Chris Barnard se ATKV-skrywersalbum bevat ’n volledige oorsig oor sy werk.

As julle nie sy styl ken nie, klik hier om een van sy laaste gepubliseerde werke te lees. Dit is die verhaal die “Die agtuurtrein” wat in Mooiloop (LAPA Uitgewers) gepubliseer is.

Om vir Chris Barnard self oor sy romans te hoor praat, klik hier. Dit is ’n onderhoud wat ek kort na die verskyning van Boendoe met hom gevoer het.

The post Chris Barnard gegroet appeared first on LitNet.

'n Droewe dag vir die spinnekoppe van Mars

$
0
0

martia_bowie300

Fotobyskrif: "Hierdie foto is geneem min of meer op die ouderdom toe ek in die vroeë jare 70 vir Ziggy Stardust ontdek het ..."

***

Bowie is dood, teks ek Maandagoggend vir my man, so geskok soos ek lanklaas deur 'n musikant se dood was.

Toeval dat ons gister heeldag na hom geluister het? antwoord hy, in Engels.

No, antwoord ek voor ek myself kan keer. We knew. We're from Mars.

No, teks hy. You're from Venus.    

Wat toe lei tot 'n stuitige speletjie met Bowie se titels. Miskien net ons spontane manier om hulde te betoon aan 'n woordkunstenaar wat ons albei van jongs af bewonder het. En dan praat ons nie eens van sy musiek nie.

Ek: No, today I'm from Mars. A Spider.

Hy: And The Next Day?

Ek: Don't be A Lad Insane. Please buy bread.

Hy: Yes, my Thin White Duchess.

En so kon ons seker voortgaan, maar intussen het my studenteseun 'n boodskap van medelye gestuur (Dink aan Ma op hierdie hartseer dag), asof een van my vriende dood is. My seun wéét dat my hart op die ouderdom van 14 deur Ziggy Stardust verower is – en dat jy nooit die ou vergeet wat jou hart die heel eerste keer verower het nie. Dit voel inderdaad of ek 'n vriend verloor het.

Die vorige keer toe 'n musikant se onverwagse dood my so kolskoot in my hart getref het, was in Desember 1980. Ek was in 'n Kombi in Rome, besig om met 'n rugsak deur Europa te toer, toe ek hoor dat John Lennon vermoor is. Die verskil in waar ek was en wat ek gedoen het toe die nuus van David Bowie se dood vandeesweek kom, is vir my amper so hartseer soos die feit dat nóg een van my vroeë musiekhelde die verhoog verlaat het. Ek was naamlik op my oefenfiets langs die badkamer, hygend besig om my middeljarige lyf fikser te probeer trap, toe ek die aankondiging oor die radio hoor.

Van sorgelose rugsaktoere tot 'n gesukkel op 'n stilstaande fiets.

Die begrafnis van my eie jeug, het ek gedink, en vir die res van die dag, terwyl vriende al hulle gunstelingliedjies van Bowie op internet gepos het, het net één van sy liedjies deur my kop bly draai. Dit was sy weergawe van Jacques Brel se “My death” op die album Ziggy Stardust – The Motion Picture: “My death awaits me like a Bible truth/ At the funeral of my youth/ Are we proud for that and the passing time?”

Nee, hel, het ek gedink, nou word dit te erg.

My verhouding met David Bowie was meer intens, meer persoonlik en bowenal meer langdurig as my flirtasies met vele ander musikante. In die vroeë jare sewentig, vars op hoërskool, het ek met Ziggy Stardust kennis gemaak – en ek dink nie dis 'n oordrywing om te sê dit het my lewe verander nie. Nie álle tieners van die jare sewentig was gek oor Bowie nie, maar vir derduisende van ons wat soms alleen en vervreemd en uit pas met almal om ons gevoel het, was hy 'n openbaring, soos iemand van 'n ander planeet, sowaar. 'n Androgene kreatuur met oë in twee verskillende kleure, 'n man wat vroueklere dra en sy hare helder oranje kleur en 'n weerligstraal oor sy gesig verf ... nou ja, dit was 'n rare, bevrydende verskynsel in die Afrikaanse voorstede en plattelandse dorpe van my jeugjare. Hy het vir ons gewys dis OK om anders te wees.

Daarvoor alleen sou ek hom vir die res van my lewe dankbaar bly.

Maar hy het my veel méér gegee. Hy het 40 jaar lank 'n immer-veranderende klankbaan vir my lewe verskaf, elke paar jaar 'n nuwe liedjie, 'n nuwe styl, 'n nuwe voorkoms, 'n ware verkleurmannetjie aan wie ons ons elke keer opnuut kon verwonder.

En tog het daardie eerste gedaante, Ziggy Stardust, onvergeetlik gebly. Teen Maandagaand het ek so na Ziggy verlang dat ek weer na hom moes luister. Skielik was ek weer 14 jaar oud met my hele lewe wat oop voor my lê: rugsaktoere na verre lande, hartstogtelike liefdesverhoudings en hegte vriendskappe, die huise waarin ek sou woon en die kinders wat ek sou hê, die boeke wat ek wou skryf en die dinge wat ek wou doen, dit was alles reeds dáár, in daardie musiek.

Die eerste LP wat ek ooit gekoop het (langspeelplaat, moes ek verduidelik vir my kinders wat my ou vinielplate teen hulle mure plak om hulle kamers te versier), was Aladdin Sane. Ek was pas 15 en ek het dit met my eie sakgeld aangeskaf, 'n verklaring van onafhanklikheid, kon jy seker sê. Van nou af wou ek nie meer 'n soet meisiekind met blonde boksterte wees nie; van nou af sou ek 'n geheime lewe lei as 'n Spinnekop van Mars.

Kort daarna het ek my hare bo-op my kop in Ziggy se kenmerkende gerf geknip. As ek dapperder was, sou ek dit ook oranje gekleur het, maar dit sou waarskynlik 'n skorsing uit die skool beteken het. En só opstandig wou ek nou ook nie wees nie.

Ek het ander LP’s begin koop wat later legendaries sou word: Who's Next, The Dark Side of the Moon, Harvest en vele ander – maar my tienderjarige hart (en my haarstyl) het aan Ziggy behoort. Ek het nie besef Aladdin Sane is 'n woordspeling op “a lad insane” nie en ek het nie die verwysing na Jean Genet in The Jean Genie gesnap nie (ek het nog nooit eens van Jean Genet gehóór nie), maar ek was gek oor die omslag (Bowie met sy oë gesluit en die weerligstraal oor sy gesig geverf) en ek het oor en oor na elke liedjie geluister. Soos jy miskien net op só 'n ontvanklike ouderdom na jou eerste eie musiek kan luister. 

En op daardie jeugdige leeftyd was die bewussyn van tyd wat verbygaan en die dood wat naderkom ook reeds daar, in sy musiek, in sy lirieke. Die liedjie met die titel “Time” was vir my meer poëties as enige outydse gedig wat ek op skool moes lees: “Time – He's waiting in the wings/ He speaks of senseless things/ I look at my watch it says 9.25 and I think/ ‘Oh God I'm still alive.”'

Dekades later, toe ek 'n jong towenaar met die naam Harry Potter saam met my kinders ontdek, het ek gewonder of JK Rowling nie ook onbewustelik deur Bowie beïnvloed is toe sy vir haar protagonis sy kenmerkende weerligstraal-litteteken gegee het nie. Sy was immers ook 'n tiener in die jare sewentig. En vir baie van ons kinders van die sewentigs was Ziggy net so 'n verstommende towenaar as wat Potter vir 'n volgende geslag sou wees.   

In die jare tagtig, toe ek as jong joernalis in die Kaapse klub Rita's begin rondhang het, het Bowie my van nuuts af betower. Dit was die era van Let's Dance, die soort meesleurende musiek wat my vir die eerste keer aangehits het om 'n dansvloer op my eie aan te durf. Sonder om te wag tot 'n ou my kom vra, soos ek voorheen as studentemeisie op Stellenbosch veronderstel was om te wag. Soms op studentepartytjies het 'n spul van ons so in die bondel gedans, maar dit was eers in Rita's dat ek stoksielalleen en onafhanklik begin dans het. Vreesloos, asof ek onsigbaar was.

Dit was nog 'n ongelooflike bevryding, danksy David Bowie en Talking Heads, want dit het hoofsaaklik op die maat van hulle musiek gebeur.

Ek het nooit weer teruggekyk nie. Ek dans nou nog gereeld op my eie. Jy kan maar sê Let's Dance het 'n lewenslange leuse geword.

Bowie het dié album as “'n kreatiewe laagtepunt” beskryf omdat dit te gewild was, te hoofstroom, nie gewaag genoeg vir 'n musikant wat sy luisteraars altyd op nuwe paaie wou lei nie. Maar die meeste van ons het nie omgegee nie. Ons het hom al dansend gevolg, soos die kinders van Hamlin die magiese rottevanger gevolg het, waarheen hy ons ook al wou lei.

Een van die liedjies op hierdie album, “Modern love”, wat al in meer as 'n dosyn rolprente en TV-reekse gebruik is, het 'n dekade later van voor af my voete onder my uitgeslaan. Dit was toe ek in Frankryk kom woon het en Alain my na Leos Carax se Mauvais Sang (Bad Blood) laat kyk het. As jy eers één keer daardie toneel gesien het waarin die akteur Denis Lavant op die maat van “Modern love” in 'n straat begin hardloop, eers vooroor gebuig soos iemand wat geskiet is, dan sy arms begin pomp terwyl hy regop beur en al hoe vinniger hardloop tot dit 'n uitbundige hardlopende straatdans word, bly dit vir altyd in jou geheue vasgebrand.

En omdat die lewe nou eenmaal 'n kringvlug is, herontdek ek toe nóg 'n dekade later, omstreeks 2010, een van my goue gunstelinge uit die Ziggy-era in 'n Britse TV-reeks waaraan ek hier in Frankryk verslaaf geraak het. Die titel van die reeks is Life on Mars; dit speel af in die lelike bruin-en-oranje sewentigerjare, en die temalied is, natuurlik, “Life on Mars?”. Só met die vraagteken soos Ziggy dit gesing het, want selfs hy kon nie seker wees dat daar inderdaad lewe op sy verre planeet is nie, kon hy? 

Die onverwagse bonus van daardie weeklikse TV-kykery was dat my dogter, destyds nog op laerskool, ook vir Ziggy Stardust ontdek het. Dit was liefde met die eerste hoorslag. Wat my werklik verras het, want ons musieksmaak het beslis nie ooreengestem nie. Daarna het sy ander Bowie-liedjies ook begin luister – en noudat sy 16 is, is een van haar grootste gunstelinge een van sy oudste nommers, “Space oddity”, waaroor ek ook gek was op 16. Sowaar.

Terwyl ek gisteraand saam met haar na Major Tom en Ground Control luister, besef ek dis nóg iets waarvoor ek vir David Bowie kan dankie sê. Dis net 'n rare kunstenaar wat die musikale generasiegaping tussen 'n middeljarige ma en haar tienerdogter kan oorbrug. David Robert Jones alias David Bowie alias Ziggy Stardust alias The Thin White Duke was só 'n kunstenaar. Enig, anders, ewig veranderend.

Ek moet dus die versoeking weerstaan om te eindig met 'n vervelige frase soos “Rus in vrede”. Vergeet van vrede. Ek groet hom eerder in sy eie woorde: “Let's dance.”

Of soos hy dit in The Next Day gestel het, sy voorlaaste album waarna ek en Alain om een of ander rede die dag voor sy dood geluister het, in die liedjie “Dancing out in space”:

Something like religion
Dancing face to face
Something like a drowning
Dancing out in space. 

The post 'n Droewe dag vir die spinnekoppe van Mars appeared first on LitNet.

In memoriam: Pieter Herman Kapp

$
0
0

pieterkapp650

Pieter Herman Kapp is op 2 Junie 1939 in Port Elizabeth gebore. Hy behaal matriek aan die Hoërskool Cillié te Port Elizabeth, en daarna die grade BA, BA Honneurs en MA in geskiedenis (al drie cum laude) aan die Universiteit Stellenbosch. Reeds as student kom sy leierseienskappe en gemeenskapsbetrokkenheid na vore: as redakteur van Die Matie, huiskomiteelid van Dagbreekkoshuis en sekretaris en ondervoorsitter van die studenteraad. Op nasionale studentevlak was hy hoofbestuurslid en visepresident van die Afrikaanse Studentebond 1960–1962.

’n Verdere MA-graad volg in Contemporary European Studies in 1975 aan die Graduate School te Reading (Groot-Brittanje) en ’n DPhil aan sy alma mater, Universiteit Stellenbosch. Pieter Kapp het talle beurse ontvang vir studie en navorsing in die buiteland: onder meer die Abe Bailey-beurs, die van die British Council, en twee keer senior navorsingbeurse van die RGN vir studie in die VSA te Stanford Universiteit, George Washington Universiteit en in Londen by die Institute for Slavonic Studies. Hy onderneem in 1991 ’n studiereis na die eertydse kommunistiese state in Oos-Europa; hierop volg navorsing in München, Bonn, Utrecht en Antwerpen, ’n referaat in Wassenaar en twee lesingtoere na België. Tot onlangs was hy ’n navorsingsgenoot aan die Katolieke Universiteit van Leuven en besoekende navorsingsgenoot aan die Departement Geskiedenis van die Universiteit van die Vrystaat.

Sy beroepsloopbaan begin hy as geskiedenisonderwyser aan die Paul Roos-Gimnasium in Stellenbosch. Hy werk as navorser by die ATKV, as lektor by UPE, en as senior lektor en later professor aan die RAU, waar hy ook vir drie jaar studentedekaan was. In 1986 word hy professor en afwisselend voorsitter van die Departement Geskiedenis aan die US, tot 1999.

In die gemeenskapslewe is hy voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, dien hy in die bestuur van die Hugenote-Vereniging van SA, en is hy vir ’n tydperk van tien jaar tot 2011 president van die konvokasie van die US, waar hy leiding geneem het om Afrikaans uit te brei as volwaardige akademiese taal en te bevestig as onderrig- en kommunikasietaal. Hy beywer hom daarvoor om Afrikaans as taal van almal wat dit praat (wit, bruin en swart) te erken, om die beeld van Afrikaans as ’n “wit taal” te verander, en om die dikwels ongeregverdigde assosiasie van Afrikaans met negatiewe aspekte van ons land se verlede te besweer.

Pieter Kapp se lesings, artikels, boeke en geskiedskrywing was gerugsteun deur sistematiese, deeglike en noukeurige navorsing. Hy het alle vertolkings en besluite gebaseer op deeglike primêre navorsing (mikrostudies) om ’n vergelykende geheelsiening (makrovertolking) moontlik te maak.

Drie groot werke, in die laaste ses jaar van sy lewe gepubliseer, is die getuienis van ’n verstommende werkvermoë ten spyte van ’n verswakkende gesondheidstoestand. Die eerste was sy werk oor die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (Draer van ’n droom) in 2009 oor die eerste 100 jaar van die Akademie, die tweede sy goedgedokumenteerde bydrae met die titel Maties en taal in 2013, en die derde en mees onlangse werk Nalatenskappe sonder einde, oor Jan H Marais en die ontstaan van die Universiteit Stellenbosch. Dit val op dat hy oorlede is in dieselfde jaar waarin die dood, ’n eeu gelede, van Jan H Marais, ’n ander groot Stellenbosse gees, herdenk is.

Om Pieter Kapp se bydrae as historikus te waardeer het ek enkele kenners geraadpleeg en elkeen vir ’n kort bydrae gevra. Ek haal (opsommend) uit enkele bydraes aan:

Hermann Giliomee skryf:

Pieter Kapp was ’n uitstaande en baie veelsydige historikus wat ’n unieke bydrae gelewer het tot die vakgebied van geskiedenis, die universiteite waar hy werksaam was en die Afrikaanse kultuurgemeenskap.

Hy het hom reeds vroeg onderskei met sy doktorsgraad wat hy van die Universiteit Stellenbosch ontvang het op grond van ’n proefskrif wat hy by die Geskiedenis-departement ingelewer het oor een van die mees omstrede figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, te wete die sendeling John Philip. Hy toon reeds in hierdie werk sy vermoë om komplekse figure en ontwikkelinge te deurgrond.

Hy het hom as dosent toegespits op Algemene Geskiedenis en ’n groot bygedra gelewer deur in Afrikaans ’n werk oor die geskiedenis van die Westerse beskawing te lewer. Hy het indringende gesprek gestimuleer met ’n werk oor die skuldvraagstuk in die Suid-Afrikaanse verlede.

Saam beskou is Pieter Kapp se werke ’n groot en grootse nalatenskap van ’n baie besonderse mens, historikus, Afrikaner en Suid-Afrikaner. As mens, en deur sy werke, het hy ’n groot verskil ten goede gemaak.

Diko van Zyl:

Wyle Pieter Kapp kan beskou word as een van die prominentste en veelsydigste Suid-Afrikaanse historici van sy tyd – iemand wat bekend geword het vir sy gebalanseerde en vernuwende denke oor sy vakgebied. Dit het neerslag gevind in sy dosering sowel as sy geskiedskrywing tot groot bate van sy studente en sy kollegas en ander eweknieë landwyd in die dissipline geskiedenis en selfs in aanverwante dissiplines soos opvoedkunde.

Sy aanstelling aan die RAU – ’n jong universiteit wat van sy dosente vernuwende denke in alle dissiplines verwag het - het Pieter se belangstelling laat verskuif na internasionale geskiedenis, wat op daardie stadium ’n erg verwaarlooste terrein aan Suid-Afrikaanse universiteite was. Nadat hy op hierdie gebied verder gestudeer en ’n tweede meestersgraad aan die Universiteit van Reading behaal het, het hy met sy verruimde kennis en insigte hierdie rigting met groot welslae ingevoer in kursusse aan die RAU en later ook op dieselfde grondslag in kursusse van die Departement Geskiedenis aan US.

Sy opvolger as professor van geskiedenis aan die US, Albert Grundlingh:

Pieter Kapp se historiografiese oeuvre kan breedweg as ideegeskiedenis getipeer word. Hy het op ’n diepgaande wyse gepoog om te verklaar hoe idees histories vergestalting en invloed in ’n samelewing verkry. Dit blyk onder meer uit sy publikasie van 1985 oor die sendeling John Philip en liberalisme; sy werk oor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (Draer van ’n droom); sy goedgedokumenteerde bydrae Maties en taal, asook sy onlangse werk oor die Stellenbosse weldoener Jannie Marais. Hiermee het hy bakens in die historiografiese veld ingeplant wat geen verantwoordelike toekomstige historikus sal kan bekostig om te ignoreer nie.

Danie Langer, HUB van die FAK:

Pieter Kapp se verbintenis met die FAK as kultuurhistorikus strek oor etlike dekades. Tydens die vervaardiging van die televisiereeks Viertrek in die spore van die Groot Trek ter herdenking van Groot Trek 175, het die FAK vir hom ’n samevatting van die Groot Trek-filosofie gevra. Hy het die begrip “trans” gebruik:

• Trans-beweeg. Om anderkant riviere, berge en struikelblokke nuwe horisonne te ontdek.
• Trans-denke. Om anderkant die huidige impasse wat vermoëns beperk, ’n nuwe toekoms te verbeeld voordat dit deur uitnemende dade verwerklik word.
• Trans-doen. Om negatiewe omstandighede deur selfdoenaksies positief te herskep sodat volle potensiaal bereik en ideale vervul word.

Sy opsomming is nie net waar van die Voortrekkers van ouds nie, maar ook beskrywend van sy eie se lewensuitkyk en lewenswerk."

Dioné Prinsloo namens die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns:

As historikus is Pieter Kapp hoog geag. Van die Akademie ontvang hy in 2003 die erepenning vir die bevordering van geskiedenis na aanleiding van sy talle akademiese bydraes en sy redakteurskap van die onderwysblad Gister en Vandag wat leiding aan geskiedenisonderwysers gee. In 2010 ontvang hy die Stalsprys vir geskiedenis.

Hy was ’n medewerker aan publikasies oor die geskiedenis van die Westerse beskawing en oor Amerikaans-Suid-Afrikaanse betrekkinge, die skrywer van meer as 20 artikels in geakkrediteerde tydskrifte en van verskeie hoofstukke in akademiese werke, en hy het talle plaaslike en buitelandse referate gelewer. Deur radiopraatjies, toesprake voor nie-akademiese gehore, artikels in tydskrifte en dagblaaie en sy deelname aan openbare debatte het hy lewenslank geskiedenis, ook in die burgerlike samelewing, bevorder.
Pieter se heengaan laat ’n groot leemte. Namens die SA Akademie diep meegevoel aan Duporette, hulle kinders en kleinkinders.

Leopold Scholtz skryf die volgende tydens die toekenning van erelidmaatskap van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns aan Pieter Kapp:

Verreweg die meeste Suid-Afrikaanse historici hou hulle slegs met Suid-Afrikaanse en dan spesifiek met Afrikanergeskiedenis besig, sodat en dat hulle nie die breër wêreldverband raaksien nie. Pieter Kapp is een van enkele uitsonderings. Hy het hom gevestig as deskundige op die gebied van die Koue Oorlog en Amerikaanse geskiedenis, en het dié kundigheid dan ook in sy leerplanne op sowel voor- as nagraadse vlak ingeploeg. Dié belangstelling het ook meegebring dat hy talle navorsingsbesoeke aan buitelandse universiteite gebring het, onder meer aan Oxford, Londen, die Stanford-Universiteit, Washington, verskeie Sentraal-Europese state, Bonn, Leuven en Wassenaar.

Dit is duidelik dat Pieter Kapp diep spore in die Afrikaanse gemeenskap, die Akademie, die onderwys in die breë en die gemeenskap van Suid-Afrikaanse historici getrap het. 

By die toekenning van die Stalsprys vir Geskiedwetenskappe deur die Akademie skryf Fransjohan Pretorius:

Professor Kapp skryf nugter, en draai nie sy dramatis personae in watte toe nie. Daar word nie weggeskram van ongemaklikhede nie. … Draer van ’n droom grens nie aan hagiografie nie. Pieter Kapp het met deeglike navorsing, rype insig en begrip, bewonderenswaardige objektiwiteit en ’n onderhoudende skryfstyl ’n werk gelewer wat hom ’n waardige ontvanger van die Stalsprys vir Geskiedwetenskappe maak.

Ek wil afsluit met ’n minder bekende feit wat van Pieter Kapp se diepe medemenslikheid getuig. In 1999 het personeelvermindering aan die US haas elke departement geraak. Die Departement Geskiedenis moes een senior lektoraat inboet. Om te verhoed dat ’n kollega sy werk verloor, het Pieter Kapp aangebied om vroegtydig met pensioen te gaan, vier jaar voor sy verpligte aftree-ouderdom. Hy was, soos dit in Jiddiese Duits uitgedruk word, ’n mensch: ’n persoon van integriteit en eer, en soos Leo Roten, die maven (wysgeër), dit definieer in sy boek The Joys of Yiddish: "’n Mensch is iemand om te bewonder en te emuleer, iemand van edel karakter. Die sleutel tot ’n ware mensch te wees is gebaseer op karakter, onkreukbaarheid, waardigheid, ’n gevoel vir wat reg is, verantwoordelikheid, en fatsoenlikheid." Pieter Kapp was benewens gesinsmens en befaamde historikus, volledig mensch.

Christo Viljoen
2016-01-16

The post In memoriam: Pieter Herman Kapp appeared first on LitNet.

Liewer begrafnis as troue

$
0
0

casbakkes650

Die Bakkesse gaan eerder na ’n begrafnis as na ’n troue toe, want troues is tog so finaal, het die avontuurskrywer Johan C Bakkes verlede Saterdag vertel tydens ’n huldigingsdiens om sy pa, die bekende historikus Cas Bakkes, wat verlede maand oorlede is se lewe te vier.

Die Bakkes-familie is bekend vir die ink wat in hulle are vloei. Verskeie boeke is deur pa, ma en twee van hulle seuns geskryf. Margaret Bakkes is die bekende skrywer van tientalle boeke, waarvan ’n paar romans ook oor die radio voorgelees is.

Die twee Bakkes-broers Johannes en Christiaan is albei avontuurskrywers en die middelste seun, Marius, is ’n joernalis. Hulle pa, Cas Bakkes, was die skrywer van die boek Boskroniek (April–Junie 1977): Dagverhaal van ’n grenssoldaat. Hy was bekend as dosent, akademikus, navorser en krygskundige.

Tydens die viering van Cas Bakkes se lewe die afgelope naweek in die Paarl het sy oudste seun, Johan, verskeie anekdotes uit die Bakkes-familie se geskiedenis vertel.

Hy het gesê daar is nie traktaatjies by die deure van die kerk nie, “want ’n traktaatjie is een ou se onthou. Elkeen van ons het ’n traktaatjie in sy eie kop. Gaan lees hom weer as jy vanaand by die huis kom as jy wil – ten minste kan jy hom nie weggooi nie.”

Johan het onder meer vertel van sy ouma wat laat was vir haar eie begrafnis. Die diens was in Pretoria en die teraardebestelling in Braamfontein, Johannesburg. Maar die lykswa het verdwaal.

“Daar staan haar hele nageslag toe voor ’n oop leë graf. Tot sy oom Jack Theron ’n knerts te voorskyn bring. Die Bakkesse en Theronne het van daar glad nie teruggekyk nie.”

Die einste oom Jack se begrafnis was net so 'n feestelikheid. Die rand van die graf het ingegee en sy seun Jacques en die dominee was onder in die gat voor die kis kon sak. Sy tannie Retha, weer, is amper verkeerdelik in Marjorie Wallace of Jan Rabie se gat laat sak.

Pleks van traktaatjies het Johan vir die mense wat daar was, elkeen een van sy pa se boeke gegee.

Na die diens sê Johan daar is twee goed wat hy sy pa voor sy dood beloof het. Een: dat hulle almal in die Hervormde Kerk sal bymekaar kom.

En tweedens dat hy vir hom die volgende Duitse liedjie as bedevaartslied sal speel. Cas was ’n soldaat. Dis ’n liedjie geskryf in 1809 deur die Duitse digter Ludwig Uhland gedurende die Trioolse rebellie van Andreas Hofer: "Ich hatt’ einen Kameraden".

In Afrikaans vry vertaal klink die lied se woorde so:

Ek het eendag ’n kameraad gehad
’n betere sou jy nie vind nie.
Die dromme kondig die oorlog aan
En met hom aan my sy
het ons saam gemarsjeer.
’n Koeël kom aangevlieg
Is dit vir my of jou bedoel?
Maar dit was jy wat weggeruk is
Jy lê aan my voete
’n Stuk van my.
Jy reik jou hand uit na my
Maar ek is besig om te herlaai
Ek kan my hand nie uitsteek nie
Bly jy in die ewige lewe
My goeie kameraad.

Terwyl die lied se klanke in Duits deur die kerk weergalm het, staan vier van Cas Bakkes se oudkamerade penorent op aandag. Toe die lied se laaste klanke wegsterf, het oudgeneraal Chris Thirion tot voor die kansel gestap en sy kameraad gesalueer.

Johan vertel sy ma het eendag gesê: “Niks en niemand verdwyn werklik uit jou lewe nie, want daar is altyd die onthou.”

Een van Cas Bakkes se skrywes is tydens die diens deur sy oudste seun voorgelees:

... En dan, om vyfuur, hoor ek God deur die bos kom. Die geruis van die blare word harder en ek hoor hoe hy verbygaan. Sy beroering vee koel oor my gesig en boomtak vir boomtak groet hom en hy kuier oor die krale en dan begin die hane kraai ... en soos ’n man eens in ’n binneplaas, staan ook ek langs die gloed van die vuur van ’n kraal en die vroue sê: “Was dit nie God wat pas gegroet het nie?”

En ek bly stil. Ek sê nie “ja” nie, ek sê nie “nee” nie. Ek bly net stil.

– Kmdt Cas Bakkes, 18 Julie 1977, iewers op die grens

Foto's

Hier sit die Bakkesse en hulle mense op die stoep van 'n kroegie in Saldanhabaai na die strooiing van Cas Bakkes se as.

Hier sit die Bakkesse en hulle mense op die stoep van 'n kroegie in Saldanhabaai na die strooiing van Cas Bakkes se as.

Die diens is in die Hervormde Kerk in die Paarl gehou.

Die diens is in die Hervormde Kerk in die Paarl gehou.

Van die gaste wat Cas Bakkes se lewensviering by di Zomerlust gastehuis in die Paarl bygewoon het.

Van die gaste wat Cas Bakkes se lewensviering by die Zomerlust-gastehuis in die Paarl bygewoon het.

Jean Oosthuizen, Marius Bakkes en Karin Brynard

Jean Oosthuizen, Marius Bakkes en Karin Brynard

 

The post Liewer begrafnis as troue appeared first on LitNet.


ATKV bring hulde aan Anton Prinsloo

$
0
0

Die ATKV neem met leedwese kennis van die afsterwe van die bekende taalkundige dr Anton Prinsloo.  Hy het bekendheid verwerf as senior mederedakteur van die WAT en was hooftaaladviseur en hoof van die Taalburo van die destydse SAUK.  Dr Prinsloo was ook op sy dag  spesialisomroeper by RSG verantwoordelik vir taal- en  klassiekemusiekprogramme en by kykNet as aanbieder van taalprogramme. Hy was ook vir ’n paar jaar voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie en het verskeie toekennings ontvang vir oa sy bekende kontreiwoordeboek, Annerlike Afrikaans.

Hy was dan ook die skrywer van 11 boeke oor taalkundige sake wat gewissel het van onderwerpe oor spreekwoorde tot bygelowe.

Volgens Evelyn Ferreira, senior bestuurder van die ATKV se taalafdeling, het dr Prinsloo ’n noue verbintenis met die taalwerksaamhede van die ATKV gehad. In 2005 het hy drie ATKV-Woordwystoekennings vir taalpublikasies tussen 1994 en 2005 ontvang en tot met sy dood het hy ’n  taalrubriek in die taalafdeling se nuusbrief, -TALIG, behartig. Hy was ook nog onlangs betrokke as beoordelaar by die ATKV se nasionale spelkompetisie vir skole, bekend as ATKV-Spelathon.

Volgens Ferreira was Anton Prinsloo iemand met ’n skerp intellek, fyn humorsin, ’n “lopende woordeboek” en een van die veelsydigste taalkundiges van sy tyd in Suid-Afrika. Sy dood laat ’n groot leemte in die Afrikaanse woordwêreld waarin daar, volgens kenners, ’n toenemende behoefte aan opgeleide taalkundiges is. Die ATKV betuig sy simpatie met Anton se vrou, Fida, hul kinders en kleinkinders.

“Ons eer die nagedagtenis van iemand wie se lewenstaak dit was om nie net die hoëfunksies van Afrikaans in stand te hou en uit te bou nie, maar ook die vreugdes, humor en interessanthede van die taal vir elke liefhebber van die Afrikaanse taal laat leef het,” aldus Ferreira. 

The post ATKV bring hulde aan Anton Prinsloo appeared first on LitNet.

In memoriam: Anton Prinsloo

$
0
0

Anton Prinsloo (foto: WAT)

Ons drie, almal oud-Taalkommissiekollegas van Anton, betreur die heengaan van ons vriend en kollega.

Ernst Kotzé

Frikkie Lombard

Tom McLachlan


  • Ernst Kotzé skryf:

Anton Prinsloo se afsterwe is ʼn terugslag vir die Afrikaanse taalgemeenskap, wat oor baie jare die voordeel van sy kundigheid kon benut. Ons taalpad saam het begin in Junie 1992, toe hy reeds lid was van die Taalkommissie, en ek as groentjie my eerste TK-sitting in die Raadskantoor van die SAUK bygewoon het. Où sont les neiges d’antan? Nadat Johan Combrink, die taalreus van sy tyd, ons ontval het, het hy met onderskeiding as voorsitter leiding geneem, en ʼn kleurryke tradisie voortgesit, onder andere ook deur doelbewus beslag te gee aan die diversiteit van taalmense in die Afrikaanse taalgemeenskap, in sowel die teorie as die praktyk. Daar sal nog veel oor Anton se reusebydrae tot die optekening van die ryke verskeidenheid van Afrikaans gesê (kan) word, maar hier wil ek maar eers net my hoed lig vir ʼn grote wat verbygaan. Sy nalatenskap is kosbaar vir almal wat die taal liefhet en erns maak daarmee.

  • Frikkie Lombard reageer so, ook namens die WAT:

Ek en die personeel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) betreur die afsterwe van Anton Prinsloo. Anton het ’n paar jaar lank by die WAT gewerk voordat hy landwyd as hooftaaladviseur van die SAUK, omroeper en radioman bekend geword het.

Anton is op 1 April 1985 as senior mederedakteur by die WAT aangestel en het die pos tot 31 Augustus 1987 beklee. Tydens sy jare in Stellenbosch het hy sy doktorsgraad aan Unisa verwerf. As kollega het ’n mens algaande bewus geword van sy breë algemene kennis, sy suiwer taalaanvoeling en sy kenmerkende sin vir humor. Anton was baie goed onderlê in die teoretiese en toegepaste taalkunde. Hy het ook die WAT se taalnavrae gehanteer en het gesaghebbende taalvoorligting aan navraers gegee. Anton het ook skakelwerk vir die WAT gedoen, en met sy afgeronde menslikheid en gemaklike omgang het hy baie vriende vir die WAT gewen.

Nadat Anton by die SAUK begin werk het, het hy die Afrikaanse taal op ’n wye front gedien. Die ervaring wat hy as leksikograaf opgedoen het, was duidelik sigbaar in baie publikasies wat oor die jare verskyn het, onder andere die grootse werk Annerlike Afrikaans. Anton was ook as outeur betrokke by een van die WAT se satellietpublikasies, die Etimologiewoordeboek van Afrikaans Supplement, en het tot sy afsterwe opgetree as redakteur van die nuwe, bygewerkte Etimologiewoordeboek, wat binnekort sou verskyn. Daarbenewens het ook boeke soos Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom; Sleng: Woorde, uitdrukkings en hul herkoms; ʼn Dief aan die kers: Skelm woorde deur die eeue; Die aap in jou koffie: Afrikaanse eponieme van A tot Z en Feite, flaters en fiksie: ʼn Opgaaf van die ware, die onware en die onwaarskynlike uit sy pen verskyn, asook die outobiografiese 13 klutse kwyt: Van Saambou tot die SAUK.

Ek, en ons, eer sy gedagtenis en onthou hom as ’n wonderlike kollega en ’n groot gees. Ons gedagtes en gebede is by Fieda en die kinders.

  • Tom McLachlan skryf:

My oud-TK-kollega en, bowenal, my vriend Anton Prinsloo sou geweet het hoekom ek sê hy’t geaf, hy’t witbeentjies gemaak, hy’t losgegespe, hy’t afgegespe, want danksy sy ondernemingsgees is hierdie annerlik Afrikaanse juweeltjies vir die nageslag te boek gestel – ʼn klein deeltjie van hierdie merkwaardige mens se nalatenskap.

Ek het die groot voorreg gehad om baie jare saam met Anton in die Taalkommissie te dien. Hy was reeds ʼn senior lid toe ek as groentjie ingekom het; later was hy ondervoorsitter en toe voorsitter. Daar het nie een sitting verbygegaan waarop ek my nie verstom het aan die breedte van die man se kennis nie, veral van Afrikaans in al sy vorme, maar ook sy verstommende algemene kennis. Daarvan getuig ook die publikasies wat uit sy pen verskyn het.

Anton het ʼn mens nooit laat voel dat jy sy mindere is nie, maar ek kon nie anders as om ietwat klein te voel voor wat die man alles geweet het nie. Hy was taalpraktisyn, radioman, leksikograaf, optekenaar van die vreemde en die eienaardige, etimoloog, delwer in die taalgeskiedenis, kenner van die letterkunde, die kunste, die musiek. En by dit alles ʼn raconteur van formaat. En so vlymskerp soos ʼn goedgeslypte Josef Rooigjert. Hy kon nie net oor omtrent enige onderwerp sinvol saampraat nie, maar kon ook ʼn geselskap ure lank ophelder met sy stories.

Anton was, by my wete, die eerste Taalkommissie-voorsitter wat nie voltyds in die akademie gestaan het nie. Ná Johan Combrink se ontydige dood het Anton naatloos oorgeneem en onder sy leiding het die 9de uitgawe van die AWS – wat ons die Bont Boek genoem het – verskyn, ʼn uitgawe wat vele vernuwings ingevoer het. Dit was ʼn voorreg om onder sy voorsitterskap te werk.

Ek hoop nie ouderdom of Alzheimers ontneem my ooit die herinneringe aan Anton nie, want my lewe is breed verryk deur sy kollegialiteit en kennis, sy vriendskap – trouens, sy hele menswees. Hy kon waarlik mooi Afrikaans praat.

Requiem aeternam dona ei, Domine, et lux perpetua luceat ei.

The post In memoriam: Anton Prinsloo appeared first on LitNet.

In memoriam: Koos Human onthou Leon Rousseau

$
0
0

Koos Human en Leon Rousseau (foto: Naomi Bruwer, LitNet-argief)

Lees: die ATKV-Skrywersalbum van Leon Rousseau (1931–2016)

Lees ook, uit LitNet se argief: Toespraak deur Leon Rousseau by Human & Rousseau se vyftigste verjaarsdag

Ek en Leon het in 1955 kennis gemaak en was dus 60 jaar lank vriende. Daarvan het ons 18 jaar saam die boekbedryf ervaar. Ons het  in 1959 begin met 'n ambisieuse en – vir destyds – unieke projek wat in 1977 vir Leon 'n einde bereik het. Ons jare saam was produktief en vervullend: ons het bereik wat ons oorspronklik wou gehad het. Na 18 jaar as vennote het ons weë geskei, maar tot sy dood in Februarie 2016 het ons goeie vriende gebly. Die storie van Human & Rousseau is bekend – besonderhede kan deur andere voltooi word – maar vir my was ons samewerking en vriendskap vervullend en betekenisvol. Ons gedagtes is by sy familie.

Gegroet, Leon Rousseau.

Leon Rousseau (foto: Naomi Bruwer, LitNet-argief)

Koos Human (foto: Naomi Bruwer, LitNet-argief)

Lees ook: Human & Rousseau vier 50

The post In memoriam: Koos Human onthou Leon Rousseau appeared first on LitNet.

Dene Smuts: ook die joernalis wat ‘n verskil wou maak

$
0
0

Dene Smuts (foto: SABC News, YouTube)

My eerste indrukke Vrydag met die nuus van Dene Smuts se dood was een van skok. Skok oor die skielikheid van haar heengaan, maar ook die skok van ‘n geweldige verlies van iemand wat onwetend lank gelede ‘n inspirerende en deurslaggewende rol in my loopbaan gespeel het.

Ek kan my nie uitlaat oor Dene Smuts se politieke loopbaan nie, maar as joernalis van die tagtigerjare besef ek nou weer hoe maklik mens in hierdie tyd van Guptaïsme kan vergeet hoe onstuimig dit toe was en hoe die politiek van die dag gelei het tot ‘n onhoudbare posisie vir baie Afrikaanse joernaliste en redakteurs.

As mens nou terugkyk na die laat tagtigerjare is dit interessant om te sien daar was in die jare voor 1994, spesifiek in die tydperk van 1986 en daarna, amper ‘n “kultuur” van verset onder Afrikaanse joernaliste en redakteurs wat geëindig het met PW Botha se beroerte in Januarie 1989 en sy bedanking kort daarna. Dene Smuts was een van daardie joernaliste wat ‘n verskil probeer maak het.

Die groot joernalistieke gebeurtenis wat natuurlik in mens se geheue vassteek, is die stigting van Vrye Weekblad en sy dappere groep joernaliste onder leiding van Max du Preez en Elsabe Wessels op 4 November 1988.

Maar daar’s baie dinge wat dit voorafgegaan het, soos Harald Pakendorf (redakteur) en Karin Brynard (politieke beriggewer) wat in 1986 weg is by Die Vaderland nadat Pakendorf Brynard se onderhoud met Winnie Mandela gepubliseer het. En Willem de Klerk wat in Maart 1987 om politieke redes by Rapport in die pad gesteek is, gevolg deur Dene Smuts se sensasionele bedanking by Fairlady ‘n maand later en kort voor die 1987-verkiesing.

Twee belangrike regeringsoptredes in hierdie tyd het die meeste denkende mense met ‘n donker gevoel van pessimisme oor die toekoms gelaat: PW Botha se abortiewe Rubicon-toespraak op 15 Augustus 1985 in Durban en die landwye noodtoestand in 1986 met sy strenge inperking van vryheid van spraak en spesifieke verbod oor wat joernaliste oor die onluste in die townships mag skryf en wat nie.

Afrikaanse joernaliste en redakteurs wat dit al hoe moeiliker vind om in te val by hul direksies en bestuur se ondersteuning van die Botha-regime begin op ander maniere uiting gee daaraan om die onregverdighede van apartheid bloot te stel.

Smuts, wat in 1984 vir Jane Raphaely as die tweede redakteur van Fairlady opgevolg het, het toe reeds bekend geword en ‘n aanhang opgebou onder lesers vir die soort artikels wat sy gepubliseer het. Onder meer het sy ‘n groot joernalistieke prys gewen vir ‘n onderhoud met ‘n nuwe geslag “pioniers” soos die kunstenaar Fats Dike, onthou Raphaely (Sunday Times, 24 April).

Dene (weliswaar redakteur van ‘n Engelstalige vrouetydskrif, maar afkomstig van ‘n adellike Vrystaatse familie) bedank in April 1987 toe die bestuur van Naspers haar verbied om ‘n onderhoud te plaas met Denis Worrall, opposisiekandidaat in Somerset-Wes teen die minister van grondwetlike ontwikkeling, Chris Heunis. Worrall het as ambassadeur uit Londen teruggekeer om as onafhanklike in die verkiesing te staan.

Worrall verloor op die ou einde met 39 stemme teen Heunis, maar word daarna een van drie medeleiers van die Demokratiese Party.

In Junie 1987 vind die opspraakwekkende Dakar-gesprek met die verbanne ANC plaas waaroor onder meer Die Suid-Afrikaan en De Kat, ‘n onafhanklike glanspublikasie onder redakteurskap van Johan van Rooyen, indringend berig het.

Die politieke joernalis Jan-Jan Joubert se inskrywing op Facebook ná die aanvanklike byna terloopse nuus Vrydagoggend oor Dene se dood vat raak: “’n Reus onder die vroue en die verpersoonliking van die Suid-Afrikaanse liberale ideaal.”

Iemand anders noem haar die inspirasie vir ‘n hele geslag, en nog iemand anders sê op Facebook: “For an entire generation she modelled what it meant to be a thinking, engaged woman in public life.”

Ann Donald, ook ‘n oudredakteur van Fairlady, skryf: “As an editor she was a major inspiration for my own career”, terwyl die redakteur van Glamour, Pnina Fenster, vertel hoe sy deur Dene aangestel is en altyd hierdie kritiese briefies van haar ontvang het. Maar dat dit afgesluit is met ‘n vriendelike: “All things considered, you’re doing fine.”

Pnina skryf: “ I so admired and appreciated her as an editor that I treasured every one of those words. Warm, strong, inspiring and what a mind.”

Karin Brynard, politieke beriggewer van Rapport in die negentigerjare en nou misdaadskrywer van formaat, onthou Dene as ‘n formidabele vrou. “Sy het vreeslik vinnig haar stempel afgedruk en ‘n presens in die politiek geword.” Sy vertel sy het haar onlangs op ‘n kunsuitstalling op Stellenbosch raakgeloop en hoe dit haar weer eens getref het dat wanneer Dene ‘n vertrek binnestap, mens onmiddellik bewus geword het van haar teenwoordigheid.

Baie berigte praat van Dene se bydrae tot die Menseregtehandves waaraan sy help skryf het en hoe die DA, danksy haar bydrae, eintlik ‘n veel belangriker rol in die skryf van die Grondwet gespeel het as wat die grootte van die party veronderstel het.

In die laat negentigerjare het ek by ‘n werksete langs Piet Cillié, my oudprofessor in joernalistiek en oudredakteur van Die Burger en oudvoorsitter van Naspers, beland. Ek kan nie meer onthou hoe dit gekom het nie, maar op een of ander manier het die gesprek gelei tot ‘n opmerking van Cillié oor Dene.

Hy het iets gesê soos dat sy nooit die joernalistiek moes verlaat het nie. Dat dit “dwaas” was van haar, want nou is sy net ‘n “minor” politikus. As mens vandag kyk na hoeveel lofbetuigings daar is oor haar 25 jaar in die parlement, dink ek Piet Cillié het die bal ver misgeslaan. Die manier waarop Smuts die joernalistiek verlaat het, was juis ‘n voorbeeld vir andere en ‘n voorloper van groter openheid en verset, ook broodnodig in die Afrikaanse joernalistiek.

* Irna van Zyl is ‘n oudredakteur van De Kat en Insig en ‘n skrywer. Haar eerste misdaadroman, Moordvis, verskyn middel-Julie.

Lees ook: Partypolitieke polemiek moet vermy word

The post Dene Smuts: ook die joernalis wat ‘n verskil wou maak appeared first on LitNet.

In memoriam: Winnie Rust (14 April 1939 – 11 Mei 2016)

$
0
0

Winnie Rust (foto: Naomi Bruwer)

Winnie was ’n voorvrou. Van Wellington, spesifiek. Bolandse Boereadel. En sy was ’n scholar, in die outydse sin van die woord. Haar pa, die eerbiedwaardige CP van der Merwe, indertyd hoof van die Hugenote-kollege, was die broer van die digter Boerneef en self ’n gepubliseerde skrywer, en Winnie en haar broer, Chris van der Merwe, sou in hul pa se voetspore volg (Chris ook as akademikus).

Winnie se debuutroman, Martha (2004), is relatief laat in haar lewe gepubliseer, toe sy al in haar sestigs was, en was die uitvloeisel van ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit Stellenbosch. Met dié verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford, is Winnie se uitgebreide navorsing oor die geskiedenis van haar geliefde dorp – “het lieve Wellington” waaroor PH Nortjé ook geskryf het – aan ’n wyer gehoor bekend gemaak. (In 2008 het Richard van der Ross The Black Countess oor hierdie merkwaardige vrou van slaweherkoms gepubliseer; sy was onder meer die stigter van die skooltjie in Wynberg wat later ontwikkel het tot die Battswood Onderwyskollege.)

Juis deur Martha, uitgegee deur Petrovna Metelerkamp van Hemel & See Boeke, het ek Winnie leer ken. Ons kennismaking was per e-pos, toe ek die geredigeerde teks aan haar stuur met die gebruiklike lysie vrae daarby. Een vraag het gegaan oor datums wat nie klop nie, waarvolgens Martha sewe maande swanger was pleks van nege maande. Waarop Winnie enigsins krapperig antwoord dat maande tel nie haar sterk punt is nie. Maande later by ’n boekgeleentheid op Stellenbosch nader ’n mooi gryskopvrou my en ontmoet ons vir die eerste keer persoonlik. Sy skuld my ’n dankie, sê Winnie, oor daai lysie vrae wat haar van ’n paar flaters gered het. En dit het die res van ons verhouding as skrywer en redakteur gekenmerk: haar erkentlikheid en waardering.   

By dieselfde geleentheid gesels ons oor die skryfwerk waarmee sy besig is. Sy wil verder ingaan op die lewe van Celestine Schoch, die bejaarde vrou wat haar in die 1870’s saam met die Wederdopers op Wellington gevestig het, vertel Winnie. En Miss Abbie van die Seminary ook, sê ek, ek kon in Martha sien jou hart lê by haar. Winnie se volgende boek, Margie van die Seminary en ander verhale (Human & Rousseau, 2011), bevat dan ook die verhaal van Abbie Ferguson, die jong Amerikaanse onderwyseres en talentvole sterrekundige wat deur Andrew Murray gewerf is vir sy nuutgestigte meisieskool. Dié bundel oor merkwaardige vroue van Wellington bied ’n wonderlike blik op Winnie self: deur die ingewing van haar uitgewer, Janita Holtzhausen, word die ses verhale saamgebind deur stukkies vertelling uit haar persoonlike lewe terwyl sy daaraan geskryf het.

Winnie Rust kon die innerlike lewe, die binnewêreld van ’n karakter, uitbeeld soos min ander - haar taalgebruik fyn, haar beskrywings ontroerend. Dít is ook wat haar beweeg om te skryf, het sy gesê: dat sy ontroer moet wees deur iets. Haar laaste boek, Trek (2013), wys ten beste hoe sy haar kon indink en inlééf in ander se omstandighede. Sy was haar lewe lank nou betrokke by die Wellington Museum, en elke jaar met Vrouedag het sy ’n program aangebied om ’n besonderse vrou van die dorp te vereer. Deur haar vriendskap met die onderwyseres Charlotte Cupido (die karakter Miss Girlie in Trek), het Winnie die geskiedenis van Wellington se bruin gemeenskap leer ken. Haar skreiende uitbeelding van die gedwonge verskuiwings uit die middedorp in die 1960’s, waardeur die bruin mense selfs hul kerkgebou verloor het, het ’n onuitwisbare indruk op my gemaak.

trek300Winnie was by uitstek ’n meelewende mens en ’n gemeenskapsmens. Ná die gruwelike moord op Lisbé Smuts-Smith in 2005 het sy intens betrokke geraak by Alexa (Fuff) Kirsten, die buurvrou wat Lisbé wou help en wat toe vermink is. Winnie het ’n eenbedryf oor Fuff geskryf, ’n Venster vol son, wat in 2007 met Paasfees opgevoer is (dit het in 2010 in Engels verskyn as Colours of Hope). Die karakter Miss Pat in Trek is ook op Fuff se lewe geskoei.

Wat ’n bitter ironie dat Winnie in soortgelyke omstandighede moes sterf, watter ontsettende verlies. Haar plek in haar huis en haar dorp en in ons literêre wêreld is leeg, maar die herinneringe en haar boeke – dit bly.

The post In memoriam: Winnie Rust (14 April 1939 – 11 Mei 2016) appeared first on LitNet.

Winnie Rust se dood dompel literêre gemeenskap in rou

$
0
0

Winnie Rust (foto verskaf)

Winnie Rust

(1939–2016)

Die dood van die Wellingtonse skrywer Winnie Rust het die literêre gemeenskap in rou gedompel, sê Marga Stoffer, uitgewersbestuurder by NB-Uitgewers.

"Ons is geskok en verslae oor die moord op Winnie op Woensdag 11 Mei, en ons harte gaan uit na haar man, familie en die gemeenskap van Wellington waar sy so 'n groot rol gespeel het," sê Stoffer.

Die volgende boeke deur Rust het verskyn: haar debuut, Martha, gravin van Stamford (Hemel & See Boeke), wat in 2005 die kortlys vir die Jan Rabie-Rapportprys gehaal het; Margie van die seminary en ander verhale (2011), 'n kortverhaalbundel oor ses vroue wat hulle op die een of ander tyd op Wellington bevind het; en Trek (2012), 'n verhaal oor die verweefdheid van die bruin en die wit gemeenskap op Wellington. Laasgenoemde twee titels het by Human & Rousseau verskyn. Rust was ook 'n bekende kortverhaalskrywer.

"Sy het 'n groot liefde vir die geskiedenis - veral van die Wellington-omgewing - gehad, en dit op 'n baie spesiale manier as bronmateriaal gebruik," sê Stoffer. "Met haar dood verloor Suid-Afrika en die Afrikaanse letterkunde 'n unieke stem."

"Haar romans en verhale is gevul met fyn, genuanseerde sketse van veral die vroue wat deel was van haar geliefde Wellington se geskiedenis," sê Janita Holtzhausen, haar oudredakteur by Human & Rousseau.

"Haar menslikheid en stille wysheid is wat opgeval het in haar skeppende werk," sê Alida Potgieter, haar ouduitgewer by dieselfde uitgewer. "Winnie was ook altyd oop vir enige vrae en voorstelle wat ons gehad het, en was altyd bereid om verder te skaaf aan 'n teks as dit nodig was."

Holtzhausen en Potgieter onthou haar albei as 'n saggeaarde mens met deernis en respek vir mense, ongeag ras, stand of agtergrond. 

Suzette Kotzé-Myburgh het deur die jare dikwels met Rust gewerk. "Onder ons skrywers is sy die grande dame van Wellington, nes Elsa Joubert van die Paarl is. Nou is hierdie fyn vrou met die pragtige blou oë en gemoduleerde stem weg, en ek wil my nie haar laaste oomblikke in daardie groot ou huis in Derdelaan indink nie," merk sy op.

Winnie Rust is op 14 April 1939 gebore en het meer as sestig jaar op Wellington gewoon. Deur die jare is haar verhale in populêre en literêre tydskrifte gepubliseer, en het sy bydraes vir tiener- en vrouedagboeke sowel as werke oor Wellington geskryf. Sedert 2000 het sy die rubriek "Post Scriptum" in die Paarl Post-gemeenskapskoerant behartig. Sy was altyd baie betrokke by lees- en poësiekringe en het ook van tyd tot tyd poësieprogramme vir die radio opgestel en boekbesprekings gehou.

Rust word oorleef deur haar man Manie, hul vier kinders en ses kleinkinders.

The post Winnie Rust se dood dompel literêre gemeenskap in rou appeared first on LitNet.

By die afskeid van Winnie Rust

$
0
0

Winnie Rust (foto: Naomi Bruwer)

"Ek het my voorgeneem om nie vandag namens iemand te praat nie," sê Chris van der Merwe, Winnie Rust se broer, toe hy aan die woord is. "Ek wil eerder almal vandag hier uitnooi om te dink aan persoonlike herinneringe wat julle van haar het. So word dit dan waarlik 'n gedenkdiens."

Almal wat hier is, het hy gesê. En die grootste deel van Wellington wás daar. Die dorp, vir wie Winnie Rust goed was, het gekom om Winnie Rust – skrywer, betrokkene by die kunste en bekende van die omgewing – te groet. Tussen algemene dorpsbewoners van die groter omgewing word letterkundiges en kunsgalerybestuurders opgemerk, asook kinders geklee in die drag van die skole waarin Rust se kleinkinders is: Rhenish en Laerskool Stellenbosch.  

Voor Chris van der Merwe was Eugenia Wiggens, 'n gemeenskapslid van Wellington en 'n vriendin van Rust, aan die woord. Sy het gepraat oor hierdie "eerste vrou van die dorp". Dis haar beskrywing van wie Winnie Rust was. Sy noem ook ander dinge: Rust was op skool hoofmeisie, later sameroeper, organiseerder, betrokkene by die kunste en by die musiek. Weldoener. Skrywer. En vrou, ma, ouma. Maar wat die heel meeste saakgemaak het, is nie al haar prestasies en toekennings nie, maar die mens wat sy was.

Sy was 'n liefhebber van Eybers en van Breytenbach, sê Wiggens. En daarop lees sy 'n uittreksel voor uit ‘n gedig deur een van Rust se ander gunstelingdigters, Emily Dickinson.

Because I could not stop for Death

Because I could not stop for Death
He kindly stopped for me
The Carriage held but just Ourselves
And Immortality.

We slowly drove – He knew no haste
And I had put away
My labor and my leisure too,
For His Civility. 

Wiggens sluit haar huldeblyk af met die woorde wat sigbaar met die skare resoneer: "Met liefde, van ons almal."

Hierna is Chris van der Merwe aan die woord. Sy woorde is aanvanklik aanprysings vir sy suster die skrywer. Hy noem haar drie werke: Martha, ‘n verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stanford (2004), Margie van die Seminary (2011) en Trek (2013). Martha het in 2005 die kortlys vir die Rapport/Jan Rabie-prys gehaal.

Toe sy huldeblyk persoonlik raak, en hy na die verlies van haar kinders en veral haar kleinkinders verwys, oorweldig sy emosie hom.

Die Hoërskool Hugenoot sing hierna die volgende lied:

Ngob' umthathile umntwana wakho
Uhthate nathli ...

Because You have taken away your son,
please abide with us ...

Hier is 'n opname van die volledige lied:

Ds Lettie Buchner het uit Johannes 20:11 gepreek, 'n gedeelte waaroor Winnie Rust onlangs nog baie met haar kinders gesels het.

Buchner het droogweg opgemerk dat as Winnie Rust vandag kon kies wie by haar begrafnis moes preek, dink sy dat sy dit self sou wou doen. "Winnie het daarvan gehou om te preek, maar, anders as soveel dominees, sonder verwyte."

Ná afloop van die diens is die kis onder geklank van die kerkklok by die kerk uitgedra. Begrafnisgangers, wat in 'n erewag gestaan het, het blombare gestrooi.

Winnie Rust laat 'n sigbare leemte, maar sy laat 'n veel groter nalatenskap. Sy sal nie vergeet word nie.

The post By die afskeid van Winnie Rust appeared first on LitNet.


Rouwbetuiging: Winnie Rust

$
0
0

Charles Ducal (foto: Naomi Bruwer)

Lees ook: In memoriam: Winnie Rust (14 April 1939 – 11 Mei 2016)

Lees ook: By die afskeid van Winnie Rust


Met verbijstering hebben wij kennis genomen van de gewelddadige dood van de Zuidafrikaanse  schrijfster Winnie Rust. 

Vanuit Nederland en België wensen wij haar familie, vrienden en collega’s heel veel sterkte. 

Anne Vegter, Dichteres des Vaderlands van Nederland

Charles Ducal, (v/h) Dichter des Vaderlands van België

Anne Vegter (foto: Naomi Bruwer)

The post Rouwbetuiging: Winnie Rust appeared first on LitNet.

ATKV: Adam Small is oorlede

$
0
0

Foto: Izak de Vries

“Jy het my hart teen hulle van die haat ontdaan
en al hul bitter strewes het in ons vergaan.”

Met hierdie twee reëls open Adam Small se eerste digbundel, Verse van die liefde.

Sy ware krag as digter sou later kom: Die bundel sê sjibolet is nie net tegnies veel beter nie, dit is ook ’n harde, politieke bundel wat teen die vergrype van die magshebbers geprotesteer het. Meer nog, sê sjibolet was ’n bundel wat skaamteloos Kaaps gebruik het as medium. Nooit meer sou enige een kon beweer dat Kaaps ’n mindere taalvariant was nie, want Small het, soos in sy dramas, gewys dat hierdie variant hoër funksies kon omarm op dieselfde wyse as die sogenaamde Standaardafrikaans.

Ons onthou ook Adam Small as die man wat later stil geword het, wat teruggetrek het. Vir baie jare het Small nooit in die openbaar verskyn nie.

Dalk was dit die “bitter strewes” van ander wat hom so seergemaak het dat stilte sy enigste antwoord was, maar Adam Small was te alle tye “van die haat ontdaan”.

Toe hy uiteindelik sy stilte verbreek het, was daar weer ’n vriendelike, gryskopman wat amper verbaas was dat hy nog onthou word. Vir jonk en oud was daar ’n glimlag en ’n tyd vir ’n geselsie.

Dit was vir die ATKV ’n groot voorreg om deel te kon hê aan Kô laat ons sing, ’n huldiging van Small as digter, wat op Donderdagaand 10 Maart by die US Woordfees opgevoer is onder leiding van die Delta Soetstemme en die Delta Langbroeke. By hierdie geleentheid is Small genooi om self die verhoog te betree. Hy het ’n gedig voorgelees, nie ’n lang toespraak nie. (Foto’s van die geleentheid is hier, op ’n onafhanklike webwerf, beskikbaar.)

Die ATKV dink veral aan sy vrou Rosalie en familie in hierdie tye.  

 

The post ATKV: Adam Small is oorlede appeared first on LitNet.

SA Akademie: Adam Small se skielike heengaan

$
0
0

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns bring hulde aan die digter-akademikus , Adam Small, wat vandag (Saterdag 25 Junie 2016) oorlede is. Hy sou op 7 Oktober vanjaar die erelidmaatskap van die SA Akademie ontvang het, het die uitvoerende hoof van die Akademie, dr Dionē Prinsloo, gesê. Dit is die hoogste erkenning wat ’n lid van die Akademie te beurt kan val. Op grond van sy literêre bydrae, by name vir sy skitterende drama Kanna hy kô huis toe, is die Hertzogprys in 2012 aan hom oorhandig. Sy oorlye is ’n groot verlies vir die Afrikaanse literêre en vir Afrikaans as taal, het dr Prinsloo gesê.

’n Huldigingsbundel word tans op versoek van die Akademie onder redaksie  van prof Jacques van der Elst saamgestel vir 2017. Medewerkers aan hierdie bundel is onder andere Hein Willemse, Marisa Keuris, Steward van Wyk, Bernard Odendaal en Michael le Cordeur. Breyten Breytenbach is eweneens gevra om ’n bydrae te lewer.

 

The post SA Akademie: Adam Small se skielike heengaan appeared first on LitNet.

PEN Afrikaans: Huldeblyk aan Adam Small

$
0
0

Foto: Izak de Vries

PEN Afrikaans groet vandag met groot weemoed die literêre reus, Adam Small. Mag hy sag slaap en sy geliefdes troos vind in die wete dat hy hierdie wêreld beslis nie onaangeraak gelaat het nie.

PEN Afrikaans groet vandag met groot weemoed die literêre reus, Adam Small. Mag hy sag slaap en sy geliefdes troos vind in die wete dat hy hierdie wêreld beslis nie onaangeraak gelaat het nie.

Kerneels Breytenbach, PEN Afrikaans se voorsitter:
Adam Small is naas Breyten Breytenbach die laaste van die geslag van Sestig wat nog aktief was as woordkunstenaar. Sy afsterwe laat nie alleen 'n groot leemte nie, maar ontneem ons literêre toneel van 'n minsame, trotse figuur. Iemand wat, soos hy dit self gestel het, met sy verse sy gehoor "singend" gelei het. Sy skryfwerk in die Kaapse tongval het 'n sleutelrol gespeel om die waardering vir alle Afrikaanssprekers se bydraes tot ons kultuurerfenis gevestig te kry. Daarbenewens het hy enduit die kruis vir die kunste gedra met sy "dienende digterskap", om JC Kannemeyer aan te haal. Almal wat hom deur die jare leer ken het, sal nooit kan vergeet hoe innemend as mens, en ferm as kunstenaar hy was nie – veral in tye waarin sy siening nie altyd met die modes van die tyd geklop het nie.

Bettina Wyngaard, PEN Afrikaans se ondervoorsitter:
Dis maklik om Adam Small te beskryf as die baanbreker wat Kaaps toeganklik gemaak het as kreatiewe skryftaal. Maklik, en waar. En onvoldoende. Hy was veel meer. Vir baie mense was hy die simboliese pen wat magtiger as die swaard is. My eerste kennismaking met sy werk was as jong kind, omdat my pa gaande was oor sy gedigte, oor die stille verset daarin, oor die waardigheid waarmee hy soveel indignities wat mense moes deurgaan, verwoord het. Vir baie mense was sy woorde die enigste bewys dat hulle nie alleen is in wat hulle deurmaak nie. Vandag is nie net 'n hartseer dag vir Afrikaans nie, dis 'n hartseer dag vir my. 'n Seder het geval.

Danie Marais, PEN Afrikaans se bestuurder:
Adam Small was 'n skrywer wat literêre grense verskuif het, en ook vir lank 'n stil, waardige herinnering aan die skreiende onreg wat apartheid binne die Afrikaanse taalgemeenskap meegebring het. Sy werk het die krag gehad om mense te oortuig dat hulle moreel verplig is om anders te dink en te lewe. My ma het by verskeie geleenthede vertel in watter toestand sy was nadat sy "Kanna hy kô hystoe" die eerste keer gesien het. Familie en vriende het haar tot bedaring probeer bring, maar sy kon nie en wou nie daarna tot bedaring kom nie. Small se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde kan moeilik oorskat word.

 

 

The post PEN Afrikaans: Huldeblyk aan Adam Small appeared first on LitNet.

Adam Small kô hystoe

$
0
0

Adam Small (foto: Amanda Botha, Tuin van Digters 2013)

Die nuus van Adam Small se dood het my pas bereik. Ek het dadelik met Rosalie (Rosalie Small, sy eggenote) gepraat. Sy en die kinders is so sterk. Ek gaan "Prof Adam" (soos ek hom genoem het) so baie, baie mis. Ek gaan ons etes saam mis, daar in Tokai; ek gaan sy gereelde e-posse aan my mis, sy mees onlangse toe hy sy laaste artikel in die Cape Times met my gedeel het. Hy het elke e-pos afgesluit met: “Mooi wense aan Sonja.”

Dit was Adam Small, die ewige gentleman, wat elke brief afgesluit het met “Hoogagtend die uwe, Adam." Hy wou net Adam wees (let wel: die Afrikaanse Adam, het hy menige mense tereggewys). Onlangs het hy my raad gevra (kan julle glo?) oor die Taalbeleid van die UP - waarheen hy inderhaas ontbied was om te kom help. Dit was hy. Altyd besig met Afrikaans.

In meer as een opsig was hy vir my die verpersoonliking van Afrikaans. Drie dinge staan vir my uit:

  1. Hy was ʼn baanbreker wat sy mense, die bruin mense, taalkundig bemagtig het deur nie net in Kaaps te skryf en te dig nie, maar danksy hom is die taal van bruin mense via sy werke in skole en universiteite bestudeer;
  2. Soos ek in die commendatio tydens sy ontvangs van ʼn eredoktorsgraad van die US gesê het, was dit hy wat Kaaps verhef het tot ʼn letterkundetaal;
  3. En in die dae van apartheid waaronder hyself gely het, was sy werk (dramas en gedigte) ʼn uitlaatklep vir bruin mense se frustrasies en woede jeens apartheid. Danksy sy werk kon ons ons eie verset ten die onreg laat hoor.

Sy drama Kanna hy kô hystoe is deur baie letterkundiges, insluitend JC Kannemeyer en Andre P Brink, aangeslaan as die grootste drama nog in Afrikaans.

Nog so onlangs soos 30 Mei het ek – toe ek gevra is om ʼn gebed te doen by die oorhandiging van die eerste JH Marais-Afrikaans-prys op die kampus van die US – sy gebed vir Afrikaans en Kaaps aangehaal.  Hy was die inspirasie vir so baie digters en akademici, onderwysers en studente (insluitend myself). Vir my moet die naam van Adam Small in dieselfde asem genoem word as Van Wyk Louw (aan wie se voete hy dikwels gesit het) en DJ Opperman.

Ek dink nie hy het die erkenning gekry wat hy verdien het nie; ʼn profeet ver voor sy tyd, maar ʼn profeet selde in sy eie land geëer. Juis daarom was ek so geëerd toe hy my naam noem tydens die ontvangs van die Hertzogprys in 2012. Juis daarom was dit vir my so ʼn eer om die commendatio te lewer tydens die oorhandiging van die eredoktorsgraad deur die US aan hom verlede Desember.

Hy was inderdaad een van die drie grotes. Hy was my mentor. Suid-Afrika en Afrikaans het een van sy grootste seuns verloor. Adam Small is dood. Lank lewe Adam. Lank lewe Afrikaans.

Michael le Cordeur

Hoof: Departement Kurrikulumstudie en Afrikaansdosent, Universiteit Stellenbosch

The post Adam Small kô hystoe appeared first on LitNet.

Viewing all 470 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>