
Foto van Shaleen Surtie-Richards: https://www.litnet.co.za/clover-aardklop-2015-woema-van-n-windgat-wyfie/
Dit was ’n eer om vir Shaleen te ken en haar as vriendin te kon hê. Ek het Shaleen in 1980 ontmoet toe ek nog ’n jong onderwyser in Oudtshoorn was. Sy was deel van die dramagroep van die destydse Departement van Onderwys: Huis van Verteenwoordigers, wat voorgeskrewe werke van matrieks gedramatiseer het. Ek was op daardie stadium betrokke by die dramaklub Oedipus in Oudtshoorn en ons het jaarliks aan die nasionale dramakompetisie deelgeneem. Sy het ’n groot rol gespeel in die vestiging van hierdie kompetisie met persone soos Goliath Davids en Anthony "Speedo" Wilson. Hulle het almal later professionele akteurs geword en het ek hul loopbane met groot belangstelling gevolg.
Shaleen was ’n persoon wat haar by alle omstandighede kon aanpas. Gedurende daardie tyd was dit moeilik vir akteurs van kleur om ’n deurbraak te maak, omdat baie deure vir hulle nog gesluit was. Dit het egter gaandeweg verbeter en almal kon kennis neem van haar vele talente. Haar ikoniese rol as Fiela in Fiela se kind, asook Nenna en Shirley Valentine sal ons altyd by bly. Sy het geen formele drama-opleiding gehad nie, maar ’n natuurlike talent wat sy ontwikkel het. Sy was ’n geliefde aktrise wat ons almal se verbeelding aangegryp het. Shaleen het elke geleentheid benut wat na haar kant toe gekom het. Sy was altyd sprankelend, vrolik en opgewonde. Haar lag was aansteeklik en sy kon vir ure onophoudelik gesels. Sy was trots op haar komvandaan en het Upington gereeld besoek. Sy was Upington se trots.
Nooit het ons kon dink dat die einde so gou vir haar sou aanbreek nie.
Shaleen, jy het met oorgawe geleef en ons almal se lewens op een of ander manier geraak. Die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf het iemand groots verloor. Die gordyn het finaal en vir oulaas gesak. Rus sag, liefste Shaleen, tot ons eendag weer ontmoet.
Danie van Wyk, Uitvoerende voorsitter, DAK Netwerk
Lees ook:
Terug weens populêre navraag: Shaleen Surtie-Richards as Shirley Valentine
The post In memoriam: Shaleen Surtie-Richards appeared first on LitNet.