
Foto van Anita de Kock: verskaf; foto van kers: Pixabay.com
Anita bring haar grootwordjare in Windhoek (destyds Suidwes-Afrika, nou Namibië) deur en voltooi matriek in 1971 by die Hoërskool Windhoek. Sy studeer BA Kommunikasie aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein (1972–1976) en woon die laaste jare in Robertson in die Wes-Kaap.
In Maart 2005 stig Anita die Breederivier-Skrywersburo en staan nuwe en amateurskrywers by om hulle skryfvaardighede te verfyn.
Sy was joernalis by Perskor (1981–1992) as algemene verslaggewer, subredakteur en kunsredakteur, en ook werksaam oa as boekebestuurder by CNA en Exclusive Books in Pretoria en Bloemfontein (1993–2004), waar sy die boekeafdeling, die aankoop van boeke en boekbekendstellings behartig het.
Sedert haar vestiging op Robertson het sy oa by die Robertson-museum en die plaaslike koerant The Newspaper op Montagu gewerk en beginnerskursusse vir skryf aangebied, boeke gehelp skryf en geredigeer, boekpraatjies gereël en selfs boekbesprekings aangebied. Van tyd tot tyd het daar ook boekresensies en -evaluerings uit haar pen verskyn.
Anita se belangstellings was ongekend, veral ten opsigte van die uitvoerende kunste, veral teater en klassieke musiek, met ’n voorkeur vir operamusiek en ballet. Sy was ook ’n groot aanhanger van die Grand Prix-renjaers en -wedrenne!
Haar algemene kennis was bewonderenswaardig, met ’n wye belangstellig in onderwerpe soos die filosofie, die digkuns in sy breedste vorm, musiek, forensiese speurondersoeke, die menslike psige, tot selfs die erotika.
Sangers wat groot aanhang by haar geniet het, het ingesluit die Duitse tenoor Jonas Kaufmann tot selfs die rocksanger Bruce Springsteen.
Sy was bevriend met ’n wye kring kunstenaars op vele terreine, en het oa jare lange vriendskappe opgebou met skrywers soos Hennie Aucamp.
Anita het haar tyd verwyl met die invul van Sudoku-speletjies, die inkleur van mandalas en die maak van selfversierde kaartjies wat sy te koop aangebied het.
Sy het ook toesig gehou by studente wat eksamens op Robertson geskryf het.
Anita se kenmerkende uitdrukkings het ingesluit: "Hell’s bells!", "I need to say", en "Let God and let go!"
The post In memoriam: Anita de Kock (1954–2021) appeared first on LitNet.