Die geliefde skrywer Elsa Joubert (gebore 19 Oktober 1922) is op Sondag 14 Junie 2020 aan COVID-19 in ’n Mediclinic-hospitaal in Kaapstad oorlede. Sy was 97 jaar oud.
Haar herdenkingsgeleentheid is op Saterdag 4 Julie 2020 aanlyn aangebied. Volg die skakel om na die geleentheid te kyk: https://vimeo.com/435700573/5fa4f63659. LitNet publiseer hiermee sommige van die huldeblyke, wat elk uit eie reg ’n soort tydsdokument is.
Hier onder is Annari van der Merwe, wat ook die verwelkoming behartig het, se bydrae by die herdenkingsgeleentheid.

Verwelkoming deur Annari van der Merwe (Foto: Jomarle Botha)
Dit is vir my ’n eer om almal wat ingeskakel is, namens die Steytler-familie te verwelkom by die virtuele gedenkgeleentheid vir Elsa Steytler Joubert.
Welcome to everyone who would have wished to pay their last respects to Elsa in person, but instead must be content with a virtual experience.
During her long life, Elsa experienced and witnessed many great historical events which profoundly informed her thinking and writing. COVID-19, the most devastating world event since the Second World War, was the last such event she would experience. Her last published writing was a letter in Die Burger where, as a 97-year-old, she speaks for all old people who have been isolated from their children and loved ones and describes the effect of the forced separation, the lack of human touch, on the parents in particular. It is deeply sad that her experience of this last major historical event would have such a tragic outcome.
We find ourselves in Welgemeend, the historical Cape homestead in the grounds of Jan van Riebeeck High School, within walking distance from the three places where Elsa lived the last 50 years of her life: the two houses in Belvedere Road and the Berghof Retirement Village.
My verbintenis met Elsa Joubert strek oor 41 jaar. Ek het haar in 1978 ontmoet, die jaar waarin Die swerfjare van Poppie Nongena verskyn het en ek by Tafelberg-Uitgewers aangestel is. Klaas, haar man, was ook op die personeel, en dis eintlik deur hom dat ek haar leer ken het. Tot sy heengaan in 1998 was ek ewe goeie vriende met Klaas en Elsa. Hulle huis was die enigste waar ek vry gevoel het om in te stap sonder om vooraf ’n afspraak te maak. Trouens, waar ek ná werk – en ek het dikwels laat gewerk daardie tyd – op pad huis toe kon inval en te kenne kon gee ek is honger. Dan het Klaas ’n dik sny doodgooibrood met ’n homp cheddarkaas in die kombuis gaan haal. En ons het tot laataand gekuier.
Vriendskappe verflou of verinnig gewoonlik met tyd. Veral ná Elsa na Berghof verhuis het, het ons hegter vriende geword. Vir Elsa was die skuif besonder moeilik. Sy het Klaas uit haar wese gemis, want hy was sekerlik die mees onselfsugtige, begripvolle en ondersteunende eggenoot wat ’n vroueskrywer kon wens om te hê. Boonop was hy self ook ’n skrywer met ’n goeie literêre oordeel en dus haar betroubare klankbord.

Van links: Klaas Steytler, Linda Rode, Karel Benjamin, Annari van der Merwe en Elsa Joubert (Steytler) (Foto: © Annari van der Merwe)
Elsa se woonstel in Berghof het my gunstelingkuierplek geword, want sy was altyd gereed om gaste te ontvang, om vermaak te word, om gedagtes uit te wissel. Ironies genoeg het ek nou altyd vooraf gebel om te hoor of dit skik.
Dit is vir my wonderlik dat ná al die jare van vriendskap ons gesprekke nooit in net ditjies en datjies verval het nie. Net soos dit nooit vroeër, toe Klaas nog geleef het, gebeur het nie. Altyd het die kuier in ’n lewendige gesprek geëindig – oor sake van die dag, filosofiese kwessies, absurde menslike gedrag, jeugmodes en -giere, oor onsself, oor die stand van Afrikaans, oor boeke, die Bybel, oor die waarde van reis. Want Elsa het ’n speurende gees gehad, ’n onversadigbare drang om dinge te verstaan. ’n Avontuurlustigheid. En ’n sin vir humor.
Sy was wys en ervare, en tog het sy haar sonder vooroordeel en sonder klaar antwoorde oopgestel vir ander se menings en ervarings, met ’n merkwaardige meelewendheid en simpatie. Dit, dink ek, is die hoofrede waarom haar boeke nooit selfgesentreerd geraak het nie, selfs nie die outobiografieë nie. En hoekom sy so geliefd was by oud en jonk.
Om haar as hartsvriendin te kon hê, was ’n onverdiende voorreg. Ek kan my die Kaap nie sonder haar voorstel nie.
Afsluiting
Ter afsluiting lees ek graag ’n fragment uit ’n gedig van TS Eliot, “East Coker”, die tweede gedig in bundel Four Quartets.
Klaas het as 23-jarige die vertaling op 15 Oktober 1945 voltooi, en seker as liefdesgebaar vir Elsa op haar verjaarsdag vier dae later gegee. Ek het dit op sy begrafnis 22 jaar gelede voorgelees. Nou doen ek dit weer by sy beminde se einde.
The post Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Annari van der Merwe se bydrae appeared first on LitNet.